• No results found

4.5 Die benutting van speltegnieke tydens gevallewerk intervensie met die

4.5.2 Spelvorme

4.5.2.3 Gedramatiseerde (simboliese) spel

Kinders gebruik dikwels gedramatiseerde verbeeldingspel om deur emosies te werk en ook om moontlike hanteringswyses van die emosies te eksploreer. Verbeeldingspel gee aan die kind ‘n geleentheid om sy/haar omgewing te beheer. Kinders kan ook eksperimenteer, verbeel en maniere uitoefen oor hoe om situasies te hanteer en emosies te beleef. Maatskaplike werkers kan die situasie skep, maar dit is egter van uiterse belang dat die kind leiding moet neem. Indien die maatskaplike werker te veel insette lewer, plaas dit ‘n beperking op die kind se verbeelding (Roffey, 2006:72-73).

Gedramatiseerde spel sluit dikwels geweldadige spel in wat moeilik is vir die maatskaplike werker om te hanteer. Die maatskaplike werker moet dit nie onmiddellik eindig nie, maar eerder kommentaar lewer en indien moontlik ‘n nie- beoordelende en probleemoplossende gesprek ontwikkel (Roffey, 2006:73).

(a) Poppe

Poppe word gebruik om lewenssituasies uit te beeld waarbinne die verlede herleef kan word, die hede besoek kan word en die toekoms geantisipeer kan word om beter hanteringsmeganismes deur middel van die poppe in te oefen (Timberlake & Cutler, 2001:67). Die gebruik van poppe berus op die aannames dat die kind sal identifiseer met die pop, sy/haar gevoelens projekteer op die pop, en sy/haar konflikte na die pop oorplaas. Poppespel stel die kind en maatskaplike werker in staat om te praat oor gevoelens en gedagtes wat aan die pop behoort, en die kind hoef dit dus nie as sy/haar eie te erken nie. Poppespel gee die geleentheid om sekere ervarings en hul verskillende uitkomste oor en oor te herhaal. Die kind kan deur middel van poppespel ‘n ander persoon skep wat gedagtes en gevoelens wat die kind self nie direk kan uitdruk nie, vrylik kan uitdruk. Die maatskaplike werker moedig deur middel van deelname aan die poppespel die kind aan om gevoelens uit te druk en help ook die kind om konstruktiewe wyses van probleemoplossing te vind (Webb, 1991:33-34).

Poppe kom voor in die vorm van handpoppe, gewone poppe en anatomies korrekte poppe. Handpoppe kan gebruik word om emosies uit te druk wat moeilik is om uit te druk as persoon. Die storielyn wat gebruik word kan deur die maatskaplike werker beheer word terwyl die indirekte wyse van die interaksie dit vir die kind moontlik maak om sy/haar verbeelding te gebruik. Die kind kry die geleentheid om sy/haar gevoelens en emosies uit te druk deur middel van die handpop wat praat. Die kind bly dus anoniem agter die skerm en kan vrylik praat sonder om gevoelens van skuld en angs te koester. Dit maak dit vir die kind makliker aangesien dit nie vir die kind voel of hy/sy oor homself/haarself praat nie, maar eerder die pop is wat daardie gevoelens en emosies ervaar. Handpoppe kan ook gebruik word om te help met probleemoplossing aangesien verskillende wyses van probleemoplossing ge- eksploreer kan word tydens die interaksie (Roffey, 2006:70; Timberlake & Cutler, 2001:69).

Gewone poppe kan op verskeie metodes benut word. Miniatuur buigbare familiepoppe bied aan die kind die geleentheid om interaksie wat waargeneem is tussen sy/haar familielede uit te speel. Die maatskaplike werker kan baie van die kind se geskiedenis leer deur te luister en te kyk hoe die kind met die familie poppe speel. Jong kinders sal dikwels die poppe vernoem na die familielede of ‘n pop kies

wat ‘n spesifieke persoon die beste voorstel. Die maatskaplike werker kan ‘n pophuis aan die kind gee en die kind dan vra om poppe te kies wat sy/haar gesin voorstel. Die kind kan dan self besluit wie saam met hom/haar in die pophuis mag woon. Die kind kan ook ‘n spesifieke gebeurtenis laat afspeel binne die veilige omgewing van die pophuis (McMahon, 1993:111).

Anatomies korrekte poppe word hoofsaaklik benut wanneer seksuele mishandeling voorkom of vermoed word. Die kind kan die poppe gebruik om te illustreer wat is positiewe aanrakings en wat is negatiewe aanrakings. Die maatskaplike werker kan ook die poppe gebruik om aan te dui watter dele van die liggaam privaat is en nie deur ander mense aangeraak mag word nie. Die maatskaplike werker kan ook sekere vrae vra wat die kind aanmoedig om ervarings wat met hom/haar gebeur het met behulp van die poppe te demonstreer (McMahon, 1993:179).

(b) Rollespel

Rollespel vorm ook deel van verbeeldingspel. Die kinders kan deur middel van klere en bykomstighede aantrek soos die persoon wat hulle voorstel. Indien die maatskaplike werker struktuur aan die rollespel wil gee kan die maatskaplike werker aktiwiteite aan die kind gee om uit te voer en/of emosies om uit te druk op ‘n “verkeerde manier” en dan op die “korrekte manier”. Kinders vind dit baie snaaks om te sien hoe ‘n volwasse persoon soos ‘n “stout” kind optree. Dié pretelement tesame met die rollespel van die “korrekte wyse” versterk watter tipe gedrag aanvaarbaar is (Roffey, 2006:74).

(c) Telefoonspel

Telefoonspel kan benut word indien daar twee telefone in verskillende kamers is. Die voordeel hieraan verbonde is dat die kind oor moeilike onderwerpe kan praat sonder om oogkontak met die maatskaplike werker te maak en dit ruim ook die magswanbelans tussen die werker en die kind uit die weg. Die kind het dan volle beheer oor wanneer hy/sy ‘n gesprek wil beëindig deur bloot die telefoon neer te sit (McMahon, 1993:111).