• No results found

2.4 Kinderhuise in Suid-Afrika

2.4.5 Die personeel by kinderhuise

Die personeel speel ‘n belangrike rol in ‘n kinderhuis. Die personeel van ‘n kinderhuis bepaal of die kinderhuis doeltreffend is en of hy sy doelwit bereik. Binne ‘n kinderhuis is daar ‘n hoof, administratiewe personeel, huishoudelike/ toesighoudende personeel, kombuispersoneel, maatskaplike werkers, verpleegsters, huisouers en matrones (Van Niekerk, 2006).

Vir die doeleindes van hierdie studie gaan daar gefokus word op die hoof, huisouers (kinderversorgers) en maatskaplike werkers, aangesien hulle regstreeks by die kinders betrokke is. Die multi-professionele span en die professionaliteit van die kinderhuispersoneel sal ook bespreek word.

2.4.5.1 Die rol van die huisouer (kinderversorger)

Dit is belangrik dat die huisouer goed toegerus is met kennis en gesag om sodoende die leefreëls, kultuur en sosiale vaardighede aan die kind te kan oordra. Die verlangde kennis, vaardighede en gesindhede ten opsigte van sosiale norme, waardes, sedes en gewoontes moet deur die huisouer aan die kinders oorgedra word. Die volgende aspekte speel ‘n balangrike rol in die oordra van bogenoemde: Die huisouers stel ‘n voorbeeld aan die kinders en die kinders leer die huisouers se gedrag aan; sinvolle kommunikasie deur die huisouer aan die etenstafel, tydens ‘n uitstappie of voor die televisie dra by tot die sosiale vorming van die kind; die toepassing van nodige positiewe dissipline en tug en die skep van ‘n gesonde huislike atmosfeer wat gekenmerk word deur liefde, aanvaarding en geborgenheid. Die kinderversorger kan ook betrek word by die gevallewerkintervensie wat benut kan word met die gedragsmoeilike kind in die kinderhuis. Ten einde die gedrags- en emosionele probleme van die kinderhuiskind aan te spreek sal daar in Hoofstuk 4 gefokus word op die gebruik van speltegnieke as gevallewerkintervensie met die kinderhuiskind. Die kinderversorger kan betrek word deurdat die versorger gebruik maak van positiewe erkenning en die straf- en beloningstelsel (Vos, 1997:13).

2.4.5.2 Die rol van die hoof van die kinderhuis

Die taak van die hoof van ‘n kinderhuis val dikwels op ‘n maatskaplike werker, aangesien ‘n maatskaplike werker oor die algemeen oor goeie mense- en

bestuursvaardighede besit (Van Niekerk, 2006). Dit is belangrik dat die hoof van ‘n kinderhuis hom/haarself eerstens bekend maak met die plek, mense, probleme en die behandelingsprosesse. Die hoof se hooftake is hoofsaaklik gerig op al die bestuurstake, naamlik; beplanning, organisering, leidinggewing, toesig en beheer asook evaluering. Die werksomskrywing van die hoof sluit dus in die bestuur van die administrasie proses, personeelbestuur en ander professionele funksies. Die administratiewe funksie dek ‘n groot deel van die hoof se take, in sommige gevalle is dit die belangrikste taak wat die hoof vervul. Die personeelbestuur sluit die werwing, seleksie en aanstelling van personeel in, sowel as opleiding, ontwikkeling en supervisie en ook die kontrolering van die personeel. Die professionele funksies behels dat die hoof ‘n goeie insig moet hê in die terapeutiese aard van kindersorgwerk en die dienste wat binne die kinderhuis gelewer word (Theron, 2005:4-6). Die take en rolle van die maatskaplike werker word vervolgens omskryf vir doeleindes van die studie.

2.4.5.3 Die rol van die maatskaplike werker

Die maatskaplike werker speel volgens Fourie (2004:42-43) ‘n beduidende rol in die lewe van die kinderhuiskind. Die rol begin vanaf die inisiële verwydering van die kind, die assesseringsproses en die daaropvolgende plasing van die sorgbehoewende kind. Die rol en verantwoordelikheid van die maatskaplike werker sluit die volgende aspekte in, naamlik om:

• die aanvanklike aanmelding op te volg

• die huislike omstandighede van die kind te monitor en te evalueer • die verwyderingsproses deur te voer

• te bepaal of die geïdentifiseerde plasing geskik is vir die kind • alle bronne wat betrokke is by die proses te koördineer • as ‘n mediator op tree tussen verskillende partye • deurlopend in die beste belang van die kind op te tree.

In terme van genoemde aspekte word die afleiding gemaak dat die maatskaplike werker ‘n groot taak het om te vervul met die proses van plasing by die kind.

Wanneer die kind by die kinderhuis aankom, het hy/sy reeds ‘n agtergrond wat ‘n negatiewe invloed op hom/haar uitgeoefen het. Dit is vanuit hierdie geskiedenis waar hy/sy moontlik antisosiale gedrag aangeleer het. Dit is van uiterste belang dat die

kind blootgestel sal word aan ‘n omgewing waar stabiliteit deurlopend verskaf word. Die maatskaplike werker is verantwoordelik daarvoor dat die aanpassing van die kind in sy/haar nuwe omgewing deurlopend geëvalueer en gemonitor word.

Ander take van die maatskaplike werker in die kinderhuis sluit die verantwoordelikheid in om aansoek te doen vir die verlenging van die hofbevel wat oorspronklik die kind in die kinderhuis geplaas het. Die hofbevel is slegs geldig vir twee jaar en ‘n Artikel 16-aansoek moet elke twee jaar hof toe gestuur word om heraansoek te doen vir ‘n tweejaar verlenging. Indien die kind agtien jaar oud is en steeds skool bywoon kan die maatskaplike werker aansoek doen deur middel van ‘n Artikel 33-aansoek sodat die bevel vir ‘n verdere een jaar verleng word totdat die kind skool voltooi. Die maatskaplike werkers moet ook Artikel 34-oorplasing en Artikel 35-verlengde vakansieverlof verslae voltooi. Verder is die maatskaplike werkers verantwoordelik vir ‘n sorgplan en individuele ontwikkelingsplan (IDP) wat van elke kind opgestel moet word waarin die sterkpunte en ontwikkelingsareas van die kind uiteengesit word. Alle paneelsittings en familekonferensies wat plaasvind, vakansie- en naweekuitplasings wat gereël word, die hantering van enige probleme rondom die skool of familie wat ontstaan en gevalle-, groep- en gemeenskapswerk moet gedoen word (Van Niekerk, 2006).

Volgens Nghonyama (2004:7) moet daar terapeutiese programme (intervensie) deur maatskaplike werkers in die kinderhuis aangebied word ten einde die kinders met hul probleme vanuit die verlede sowel as hul daaglikse probleme te help. Aangesien die kind ‘n behoefte het om as ‘n individu beskou te word, is gevallewerk die mees toepaslike metode om te benut (Jonas, 2008).

Die maatskaplike werker vorm deel van die multi-professionele span wat werksaam is by die kinderhuis en werk saam met dié span om verskeie fisiese-, psigiese- en emosionele aspekte van die kinderhuiskind aan te spreek.

2.4.5.4 Die multi-professionele span van kinderhuise

Volgens Van Niekerk (2006) speel die multi-professionele span ‘n belangrike rol in

die kinderhuis. Die multi-professionele span kan uit enige van die volgende lede bestaan: die betrokke maatskaplike werkers, sielkundiges, onderwysers, verpleegsters, psigiaters, fisioterapeute, en dieëtkundiges. Die multi-professionele span is verantwoordelik vir die versorging, assessering en evaluering van die

kinderhuiskind en kom op ‘n gereelde basis bymekaar om ‘n sekere kind te bespreek en te besluit op die mees toepaslike intervensiestrategieë. Sirmongpong (2008) stel dit dat die professionele span, wat nie amptelik by ‘n kinderhuis aangestel is nie, op ‘n vrywillige basis hul dienste aan die kinderhuis beskikbaar stel.

2.4.5.5 Professionaliteit van die kinderhuispersoneel

Theron (1948:68) het reeds in 1948 gesê dat daar nie genoeg klem gelê word op die belangrike rol wat die kinderhuispersoneel speel nie, veral dié wat met die kinders werk. Hulle moet goed opgelei wees vir wat hulle doen. Daarom is dit belangrik dat die personeel professionele persone is. ‘n Professionele persoon beskik oor ‘n kwalifikasie sowel as die regte houding, ‘n verantwoordelikheidsin en outoriteit. Dit is belangrik dat ‘n professionele persoon oor die volgende kennis en vaardighede beskik: fyn kennis van ‘n normale kind en adolessent se sielkundige-, fisiese- en emosionele ontwikkeling; vaardighede in versorging, voeding, rekreasie, gesondheid en opvoeding met inagneming van etnisiteit, kultuur en spiritualiteit; kennis oor gesinsdinamieka en kinders in armoede, moeilikheid, gestremdheid en familiestres; kennis oor die versorgingsisteem en kennis oor die vraagstukke in die praktyk (Lindsay, 2005:12-14). Die professionele persoon moet dus oor die nodige kennis en ‘n verskeidenheid vaardighede beskik om ‘n effektiewe diens aan die kinderhuiskind te lewer.

Die kennis en vaardighede van alle personeel in die kinderhuis behoort volgens Morgan (2005:49) deurlopend geassesseer te word. Toepaslike opleiding vir die hantering en/of versorging van die kind behoort ook aan personeel verskaf te word. Maatskaplike werkers moet oor ‘n toepaslike graad of diploma beskik om ‘n professionele diens aan die kind te lewer. Die kinderversorgers wat baie nou saam met die kinders werk moet oor ‘n basiese kwalifikasie in kinder- en jeugsorg beskik (Sirmongpong, 2008). Skelton en Ramaldi (2005:22) beklemtoon dat die kinderhuispersoneel se motivering om met kinders te werk ook hoog moet wees ten einde hierdie noodsaaklike diens te lewer.