• No results found

SINOPTIESE OORSIG VAN DIE STUDIE

HOOFSTUK 5 BETEKENISVOLHEID EN IMPLIKASIES VAN DIE STUDIE

5.2 SINOPTIESE OORSIG VAN DIE STUDIE

Die onderhawige navorsing het gefokus op vlak 2 Primêre Landboustudente aan die Taleso VOO-Kollege in Noordwes Provinsie wat vir die kursus ingeskryf het. Daar is gepoog om te verstaan watter onderrig-leerfaktore moontlik tot studenteslytasie kan bydra. In Hoofstuk 1 is beredeneerde grondredes en motivering gekonstrueer rakende die invloed van onderrig- leerfaktore wat moontlik tot studenteslytasie kan bydra. Voortspruitend uit voorafgaande beredenering was die hoofoogmerk met die onderhawige studie gevolglik om vas te stel watter onderrig-leerfaktore aanleiding kan gee tot studenteslytasie. Die oogmerk/doel met die onderhawige studie is om slegs te probeer verklaar watter bydraende onderrigleer-faktore tot studenteslytasie van vlak 2 Primêre Landboustudente aan Taletso VOO-Kollege aanleiding kan gee. As navorser sal ek poog, om aan die hand van die ingesamelde data, verklaringsgronde vir hierdie probleem te formuleer en om, voortvloeiend uit hierdie verklaringsgronde, kortliks aanbevelings daar te stel. Die hoofdoel van die onderhawige studie was om verklaringsgronde vir die persepsies van vlak 2 Primêre Landboustudente rakende die moontlike onderrig-leerfaktore tot studenteslytasie in Taletso VOO-Kollege, te verklaar. Sub-navorsingsdoelwitte wat hierdie studie ook gelei het, was soos volg:

Navorsingsdoelwit 1: om ʼn teoretiese agtergrond te verskaf rakende onderrig- leerfaktore wat tot studenteslytasie kan bydra.

Navorsingsdoelwit 2: om deur middel van ʼn empiriese ondersoek te bepaal wat die persepsies is van vlak 2 Primêre Landboustudente rakende die moontlike onderrig-leerfaktore wat kan bydra tot studenteslytasie in Taletso VOO-Kollege.

Die inligting waarop die bevindings van Navorsingsdoelwit 1 gemaak is, is uit die literatuurstudie, Hoofstuk 2, verkry. Hoofstuk 2 het gehandel oor die ondersoek van verwante literatuur wat gebruik is om hierdie bespreking wat gehandel het oor die beantwoording van Navorsingsdoelwit 1 (vgl. Hoofstuk 1), te wete om deur ʼn literatuurondersoek die moontlike onderrig-leerfaktore wat tot studenteslytasie in VOO-Kolleges bydra, te bepaal. Binne hierdie literatuur is daar onder andere inligting verskaf oor karaktereienskappe van studente wat moontlik aan studenteslytasie blootgestel is asook ʼn teoretiese agtergrond oor akademies verwante, en meer spesifiek, onderrig-leerfaktore binne die klaskamer wat moontlik aanleiding kon gee tot studenteslytasie. Talle bronne wat die aard van studenteslytasie uitgelig het, is geraadpleeg en binne die literatuurhoofstuk is ook literatuur gesoek wat op die teoretiese raamwerk, naamlik die raamwerk van Tinto, sentreer. Daar is ook besluit om slegs op die onderrig-leerfaktore-aspek/gedeelte van Tinto se raamwerk te fokus en daarom dan die besluit om die studie slegs op moontlike onderrig-leerfaktore te fokus wat aanleiding kan gee tot studenteslytasie, en ook om empiries slegs met betrekking tot hierdie aspek, inligting te bekom.

In Hoofstuk 3 is besonderhede rakende die navorsingsontwerp, asook die teoretiese begronding daarvan, verstrek. Die epistemologiese raamwerk vir hierdie ondersoek val dan ook onder die Interpretivisme, met die gebruik van ʼn gevallestudie. Die keuse ten gunste van ʼn gevallestudie binne die interpretivistiese epistemologiese navorsingsonderwerp is ook gemotiveer. Voorts is ʼn volledige beskrywing van die gepaste navorsingstrategieë en deelnemers gegee, en met ʼn siening van die navorser se persoonlike rol in die navorsingsgebeure afgesluit. Daarop het ʼn verslag oor die instrumentasie en die data- insamelingsgebeure gevolg, wat ʼn aanvang geneem het met die voer van die semigestruktureerde individuele onderhoude. Hierdie studie het slegs oor ʼn enkele gevallestudie gerapporteer; dus was die statistiese veralgemeenbaarheid na ander studente, kursusformate en opleidingsinstansies nie moontlik of redelik haalbaar nie. Weens die aard van die studie was die veralgemeenbaarheid van die resultate nooit een van die primêre oorwegings nie, aangesien dit ook nie die doel van ʼn kwalitatiewe studie is om bevindings te veralgemeen nie. Daar is ook besluit om dit eerder aan die leser oor te laat om die veralgemening vanuit sy/haar ondervindinge in die verlede te doen (Onwuegbuzie et al., 2009). Die navorser handhaaf die mening dat die resultate ʼn soort vae vorm van veralgemening (Ekiz,2006) volg in die sin dat iets wat in een kollege en kampus gebeur, waarskynlik ook in ʼn ander kollege en kampus sou kon gebeur.

Die inligting oor die bevindinge oor Navorsingsdoelwit 2 ontstaan uit die semigestruktureerde onderhoude wat vir die empiriese studie gebruik is. In Hoofstuk 4 is die navorsingsresultate

van die kwalitatiewe ondersoek aangebied. Die aanbieding van die resultate van die ondersoek is met behulp van die studieleier ontleed. Vanuit die ontleding van die semigestruktureerde individuele onderhoude is die verskillende bevindinge en kodes in dertien (13) temas gekategoriseer, te wete akademiese motivering deur akademiese betrokkenheid, dosent-toeganklikheid, student-dosentinteraksie, student-inhoudinteraksie, positiewe klaskamerklimaat en -omgewing, akademiese vaardighede van student, die skep van ʼn leerkultuur, akademiese doeltreffendheid van dosent, akademiese ondersteuning en advies deur die dosent, akademiese standaarde van die student, sosio-ekonomiese agtergrond van die student, familie- en gemeenskapsondersteuning, karaktereienskappe van die student en laastens die karaktereienskappe van die dosent. ʼn Geïntegreerde interpretasie van die sleutelbevindinge is aangebied, en die gevolgtrekking kan gemaak word dat moontlike onderrig-leerfaktore wat ook moontlik aanleiding kan gee tot studenteslytasie nie deur ʼn enkele, geïsoleerde faktor beïnvloed word nie, maar wel deur samehangende en logiese verbandhoudende faktore. Maar, vir die doel van hierdie studie is daar slegs op onderrig-leerfaktore gekonsenteer en nie op ander faktore soos ondersteuningstelsels, bestuur, beleid van kolleges, omgewingsfaktore, kultuur en so meer.

In Hoofstuk 5 word ʼn geïntegreerde interpretasie van die sleutelbevindinge aangebied. Daar is tot die gevolgtrekking geraak dat onderrig-leerfaktore wat moontlik aanleiding tot studenteslytasie by vlak 2 Primêre Landboustudente by Taletso VOO-Kollege kan gee, nie deur ʼn enkele, geïsoleerde faktor of rede beïnvloed word nie, maar wel deur ʼn samehangende en logiese kombinasie van ʼn aantal verbandhoudende onderrig-leerfaktore. In hierdie hoofstuk is daar op die ontwikkeling van gevolgtrekkings en hoe hierdie studente ondersteun kan word, gefokus. Laasgenoemde is gebaseer op die literatuurstudie (vgl. Hoofstuk 2) asook die inligting soos dit verkry is uit die verwerkte en geïnterpreteerde data (vgl. Hoofstuk 4 asmede Navorsingsdoelwit 3 van hierdie studie).