• No results found

Kenmerke van Gesins-/familie-agtergrond, insluitend Opvoedkundige

HOOFSTUK 2 AARD EN REDES VIR STUDENTESLYTASIE

2.6 KARAKTEREIENSKAPPE VAN STUDENTE GERAAK DEUR

2.6.5 Kenmerke van Gesins-/familie-agtergrond, insluitend Opvoedkundige

Literatuur oor etnisiteit en hoe bogenoemde individuele voor-kollegefaktore studentesukses in Hoër Onderwys beïnvloed, dui daarop dat inkomste beslis ook ʼn impak het op volharding op kollege (Rodgers, 2013). Rodgers (2013) beweer dat ʼn student se sosio-ekonomiese status (SES) die waarskynlikheid van die voortsetting van studie tot op nagraadse vlak beïnvloed. Dit wil voorkom of daar soms ʼn verband bestaan tussen ʼn student se finansiële situasie en geslags- en rasagtergrond (Letseka et al., 2008; Moeketsi et al., 2014). Rodgers (2013) sê ook dat vroulike studente meer geneig is om finansiële probleme aan te meld tydens hul studies op Kollege, en ook dat beide manlike en vroulike studente wat vrywillig onttrek, erken dat hulle in die een of ander stadium tydens hul studies geldelike probleme ondervind het. Manlike studente van ʼn lae inkomste-agtergrond ervaar volgens Harrison (2006) meer dikwels “financial issues” en is geneig om ʼn akademiese instelling te kies vir die

ligging daarvan omdat geldelike steun van hul gesin/familie ʼn belangrik rol speel. Sodanige finansiële probleme kan ook lei tot onttrekking, en gevolglik die retensie van hierdie populasie beïnvloed (Moeketsi & Mgutshini, 2014; Shepherd, 2016).

Baie studente sal nie eens een jaar se kollege-studies kan bekostig sonder finansiële bystand nie, wat nog te sê vier tot vyf jaar om ʼn Baccalaureusgraad te verwerf. Wanneer studente besluit om by ʼn kollege in te skryf mag hulle dalk voldoende finansiële hulp bekom het vir die eerste jaar. Die student sal waarskynlik elke jaar sy/haar finansiële situasie weer in oënskou moet neem ten einde elke jaar weer in te skryf en te slaag (Moeketsi & Mgutshini, 2014; Harrison, 2006). Indien ʼn instansie sy volhardingsyfer wil verbeter, kan dit gedoen word indien daar meer finansiële bystand aan studente voorsien word. Indien akademiese instellings op die ratio-indeks van die regering se behoeftegebaseerde finansiële bystand en onderrigkostes fokus, kan studenteslytasie ook verbeter. In ʼn studie oor finansiële bystand en studente-uitval wat gemik was daarop om te bepaal of die inkomste van ouers ʼn effek het op studente-uitval, het Chen en DesJardins (2008: 10) gevind dat 38% van studente met ʼn lae inkomste uitgeval het van akademiese instellings, terwyl studente met hoër inkomstes minder geneig was om hulle aan ʼn kollege te onttrek. Hierdie bevinding van Chen en Des Jardins se studie is ook van toepassing op die Suid-Afrikaanse konteks (Letseka & Breier, 2008; Breier, 2010; Bokana, 2010; Pilay & Ngcobo, 2010; Manik, 2014).

Nog ʼn faktor wat studente blootstel aan studenteslytasie is die terugbetaling van nagraadse studentelenings. Terugbetaling van nagraadse studentelenings is ʼn groot bron van kommer vir studente. Sommige ouers voorsien nie finansiële hulp nie, hetsy deur hul keuse of omdat hul gesinne dit nie kan bekostig om hul kinders te laat studeer nie (Curtis, 2007; Callender, 2008). Volgens Kulm en Cramer (2006) beloop studenteskuld 85% meer as tien jaar gelede. Dit word van studente ui die laer sosiale vlakke vereis om te werk terwyl hulle studeer om vir hul studies te betaal (Curtis, 2007). Studente-indiensneming kan as positief beskou word, maar oor die algemeen kan daar ook negatiwiteit daaraan verbind wees (Broadbridge & Swanson, 2005). Joo et al. (2009) het bevind dat sommige studente finansieel verplig is om te werk, maar dat hulle onder groot werksdruk verkeer, wat dan ook lei tot studenteslytasie. Hierdie werksdruk veroorsaak stres wat negatiewe gevolge het vir die student in die sin dat (a) die student finansieel verplig is om te werk; (b) die student werk, en (c) omdat werkslading tyd verg, verminder die student se prestasie in die klas, wat tot studenteslytasie kan bydra.

Finansiële faktore soos gesinsinkomste word ook hier in oënskou geneem. Volgens LeCompte en Dworkin (1991) is enkel-ouergesinne meer geneig om in armoede te lewe, en

byna 20% van uitvalle kom by gesinne voor wat in armoede leef of afhanklik is van welsynstoelae (Hahn & Danzberger, 1987; Letseka & Maile, 2008). Die finansiële vermoë van die student of sy/haar gesin om vir studies te betaal is dus beperk, en deurdat die student nie die finansiële verpligtinge teenoor die hoëronderwysinstelling kan nakom nie, kan hierdie situasie ondermeer tot slytasie bydra (Goldschmidt & Wang, 1999; Orthner & Randolph, 1999).

Nog ʼn faktor wat gesinsinkomste aan studentevolharding koppel, is die opvoedkundige vlak van die ouers en familie van die student. Ondersoek is ingestel daarna om die invloed van ouers se opvoedkundige vlak op die vermoë van studente om hul studies voort te sit en te voltooi te bepaal (Ishitani, 2006; Chen & DesJardins, 2008; Letseka & Maile, 2008; Lowery- Hart & Pacheco, 2011). Hoe meer geleerd die ouers is, hoe groter is die kans dat die student sal volhard en ʼn graad/kwalifikasie sal behaal (Chen & DesJardins, 2008; Letseka & Maile, 2008). Navorsers gebruik verskillende verduidelikings in die literatuur vir eerstegeslag- kollegestudente, en dit is belangrik om in op te let na hoe elke navorser sodanige groep definieer ten einde die ervaringe van die student en gesins-/familielede beter te begryp. ʼn Ander studie het gefokus op eerstegeslag-studente se vermoë om sukses op kollege te behaal. Lowery-Hart en Pacheco (2011) het bevind dat hierdie minderheidsgroep spanning beleef tussen hul persoonlike identiteit en sosiale verwagtinge om by die kollege-omgewing aan te pas (Letseka & Maile, 2008). Deelnemers het vertel hoedat hul gesins-/familie- agtergrond of lewenswyse verskil het van ander in die kollege, en dat hulle dikwels bang en onseker was in akademiese en sosiale situasies. Hierdie studente mag dit ook vermy om by ondersteuningsprogramme in te skakel omdat hulle bang is om as “anders” beskou te word of om nie verstaan te word nie. Eerstegeslag-studente erken dat dit moeilik is om te integreer in ʼn kollege- of hoofstroom-omgewing, maar hulle erken wel dat dit belangrik is. Hierdie studie sluit aan by Tinto se teoretiese model waarvolgens sosiale integrasie ʼn integrale deel uitmaak van studente se volharding deur kollege. Indien eerstegeslag-studente dit moeilik vind om aan te pas of in te skakel by die kollege-omgewing, kan hulle ontuis voel en hulle waarskynlik aan die kollege onttrek.