• No results found

‘N ANALISE VAN DIE WERKLIKHEIDSERVARING VAN DIE RESPONDENTE

6.2 Response van skoolbestuur

Die onderstaande bied ’n oorsig oor die wyse waarop die skoolbesture tydens die gestruktureerde onderhoude gereageer het.

6.2.1 Vrae aan Skoolhoofde

• Hoe lyk die historiese agtergrond van die skool ten opsigte van die toelating van leerders van ander agtergronde, en wat is die invloed van die veranderinge op die skool?

• Bestaan daar beleidstukke en, indien wel, het dit voorsiening gemaak vir die akkommodasie van rasse-integrasie en tale bo en behalwe Engels en Afrikaans? • Was daar al konflik of misverstande tussen leerders van verskillende rasse of

kulturele agtergronde of tussen leerders en onderwysers, en indien wel, hoe is dit gehanteer?

• Hoe ervaar skole leerderimmigrasie en -migrasie en watter probleme word geassosieer met die bewegings en hoe is dit gehanteer?

• Is skole, onderwysers en leerders ondersteun ten opsigte van diversiteit en op watter wyses?

• Wat is die skool se siening omtrent geslagsgelykheid met verwysing na die personeelsamestelling, rassisme en opleiding en ontwikkeling?

6.2.2 Beleid

Sommige van die skoolhoofde het aangedui dat hulle wel oor beleid beskik wat handel oor die hantering van diverse leerders. Later is vasgestel dat hulle na die gedragskode van hulle skole verwys. Hierdie dokumente maak egter nie voorsiening vir die hantering van ras of religieuse konflik deur onderwysers en leerders nie. Ander het gevoel dat dit nie vir so ’n beleid nodig is nie aangesien alle leerders dieselfde behandel word. Een skoolhoof het gemeen dat die gedragskode, gebaseer op die beginsels van geregtigheid en regverdigheid, aanvaarbaarder is as ’n beleid wat negatiewe terme soos rassisme bevat. Dit is duidelik dat rasseaangeleenthede negatief ontvang word en daarom nie die hoof gebied word nie.

Religie is ’n kontroversiële aangeleentheid aangesien vier van die vyf skole verklaar het dat hulle Christenskole is. Leerders van ander religieuse agtergronde word wel toegelaat, maar die skole glo dat reëls nie verbreek kan word om hulle te akkommodeer en toe te laat om te domineer nie. Ander redeneer dat, as leerders toegelaat kan word om by Moslemskole hulle geloof uit te leef, behoort hulle dit by Christenskole ook te kan doen. Die konteks van toleransie en menseregte bevestig dat skole verskeie dilemmas in die gesig staar wat betref die erkenning en begrip van die verskillende kulture, bv. Rastafariërs.

Tale bo en behalwe Afrikaans en Engels word minimaal aangebied en waar Xhosa wel aangebied word, is dit slegs as ’n verrykingskursus gedurende buitemuurse aktiwiteite. Skoolhoofde voer aan dat daar geen addisionele befondsing beskikbaar gestel word vir die aanbieding van tale nie.

6.2.3 Insidente, konflikte of misverstande

Ten spyte van wye mediadekking oor rassekonflik, ontken skoolhoofde dat hulle skole daardeur geraak word. Tog word “klein” insidente vermeld waar “seuns mekaar “so ’n bietjie bykom” as gevolg van rassekonflik.

6.2.4 Ondersteuningstelsels

Al die skole was dit eens dat die provinsiale asook plaaslike kantore van die Onderwys- en Bestuur-ontwikkelingsentrums (OBOS) geen ondersteuning aan die skole bied om hierdie veranderinge te hanteer nie. Die rede vir die gebrek aan ondersteuning kan toegeskryf word aan gebrekkige kundigheid of ervaring om die probleem die hoof te bied en ’n moontlike inherente gebrek aan kapasiteit. Hierdie reaksie stem ooreen met die bevindings van die kwantitatiewe data dat onderwysers hierdie ondersteuning van universiteite en uit eie studies verkry. Hier is ’n groot uitdaging vir die regering om daadwerklik betrokke te raak by die bevordering van toleransie en rasseharmonie.

6.2.5 Leerdermigrasie

Die skoolhoofde bevestig die toename van leerders uit ander residensiële areas as waar die skole geleë is. Hulle bevestig ook gevalle van laatkommery en beperkte deelname aan buitemuurse aktiwiteite deur leerders wat ver moet reis. Die meerderheid skoolhoofde meld dat hulle geen laatkommery of enige ander probleme duld nie, “… want hulle het gekies om hier te wees, anders moet hulle terugkeer na hulle oorspronklike skole”.

Hierdie stelling dat leerders moet terugkeer na skole naby hulle huise, moet geanaliseer word in die konteks van beperkte keuses wat leerders en hulle ouers het in hulle eie residensiële gebiede, veral die informele nedersettings en townships aangesien die meerderheid migrerende leerders daarvandaan kom. Skoolhoofde moet kennis neem dat die keuse van ’n skool ’n komplekse proses is en dat dit nie net op gelyke toegang tot geleenthede gebaseer is nie en daarom word die billikheid van keuses in die geval van persone wat in areas met ontoereikende hulpbronne woon, bevraagteken.

6.2.6 Personeelsamestelling

Ten spyte van die toename in die leerdertal uit verskillende rassegroepe, het die personeelkomponent grootliks wit gebly. Die respons van die meeste wit skoolhoofde was gerig teen die werwing van onderwysers uit ander bevolkingsgroepe. Hierdie siening is teenstrydig met wetgewing wat daarop gemik is om die ongeregtighede van die verlede uit te wis. Opmerkings het die onderstaande ingesluit:

• Swart onderwysers se standaard is laer

• Hulle (swart onderwysers) moet bereid wees om agter te bly vir buitemuurse bedrywighede

• Hulle is nie opgelei om sport af te rig nie

• Indien hulle gekwalifiseerd is, sal ons hulle oorweeg

• Sê hulle moet eers bruin onderwysers by hulle skole aanstel, dan gesels ons weer

6.2.7 Algemene opmerkings

Skoolhoofde is ook gevra of hulle ontvanklik is vir riglyne vanaf die onderwysministerie oor die hantering van diversiteit, en die antwoorde was uiteenlopend. Een skoolhoof het genoem dat dit nie die beleid moet wees wat moet verander nie, maar die harte van die mense. Skoolhoofde as bestuurders moet die proses van rasse-integrasie dryf en nie die proses saboteer soos dit die geval by sommige skole is nie.