• No results found

‘N ANALISE VAN DIE WERKLIKHEIDSERVARING VAN DIE RESPONDENTE

6.3 Reaksie van onderwysers

Die onderwysers wat die vraelyste voltooi het, het aangedui dat rasse-integrasie eers “uitputtend” was, maar dat dit nou die norm is en hulle sien geen kleur meer raak nie. Hierdie siening is in kontras met ouers wat meld dat immigrante-leerders nog steeds beoordeel word volgens hulle kleur.

6.3.1 Onderrig en professionele ondervinding

Die onderwysers is ook gevra oor hulle ondervinding in onderwys, vakke en leerareas wat hulle aanbied en opleiding wat ’n bydrae kan lewer tot die bestuur van leerderdiversiteit. Dit was duidelik dat die meeste onderwysers nie bereid was om tydens

hulle opleiding blootgestel te word aan leerders met diverse agtergronde nie; die uitsondering was die onderwysers wat hulle kwalifikasies in die tagtigerjare verwerf het.

6.3.2 Skool se beleid

Die onderwysers is voorts gevra of hulle beleidstukke vir skole sal help ontwikkel om rasse-integrasie te bespoedig. Die meerderheid onderwysers het die belang van sodanige beleidstukke bevestig, terwyl ander genoem het dat dit onnodig was. Die argument van die onderwysers was dat, indien skole oor sodanige beleide beskik, sou leerders nie onregverdig behandel word nie. Hierdie persepsie verskans die gedagte dat “alle leerders dieselfde”is.

6.3.3 Konflik of misverstande

Die erkenning van konflik of misverstande tussen leerders en onderwysers, blyk ’n probleem te wees vir menige opvoeder. Ek het tydens die onderhoudvoering ’n onderwyser herinner aan ’n geval waar hy ’n aanbeveling gemaak het dat ’n leerder geskors moes word omdat dié na bewering ’n wit leerder aangerand het. Ek was die gesin se verteenwoordiger by `n dissiplinêre verhoor en die bevinding van die saak was dat die seun homself net verdedig het. Alhoewel daar erken word dat daar konflik of insidente plaasgevind het, is die onderwysers nie geneë om dit as rassekonflik te bestempel nie. Hierdie houding is ’n groot struikelblok in die hantering van rasseprobleme. Die huiwering van onderwysers om rasseaangeleenthede te hanteer, kan toegeskryf word aan die vrees vir viktimisasie, moontlike vooroordeel en ’n laissez faire- houding.

6.3.4 Besprekings tussen personeellede oor rasseaangeleenthede

Talle onderwysers (60%) het aangedui dat hulle slegs leerders van diverse kulturele en residensiële agtergronde onder mekaar bespreek. Daar is ’n behoefte om ’n kultuur van gesprekvoering oor diversiteit in skole te bevorder deur debatte en kulturele aktiwiteite soos drama. ’n Nuwe program op televisie, Re a Bua SeSotho – ’n frase wat beteken “ons praat” – poog om die kultuur van geen gesprekvoering nie, die hoof te bied. Die

media kan funksioneel aangewend word, maar weens die sensitiewe aard van die saak glo ek dat persoonlike gesprekvoering en debattering ’n baie belangrike meganisme is.

6.3.5 Personeelsamestelling

Daar heers tans gemengde gevoelens oor die aanstelling van onderwysers uit verskillende rasse-agtergronde. Slegs een voormalige Model C-skool het ’n bruin onderwyser in ’n beheerliggaampos. Drie uit die vyf skole se skoolbesture ondersteun nie’n toename in verteenwoordiging by hulle skole nie, terwyl ander ontken dat daar sodanige behoefte is. ’n Bruin onderwyser het hom soos volg uitgedruk: “… ekwivalente getal onderwysers van ander rassegroepe sal die probleem aanspreek van wit oorheersing”.

Net soos in die geval van die skoolhoofde, is daar onderwysers wat die werwing van anderskleurige onderwysers op sekere voorwaardes steun. Sommige noem dat dit slegs noodsaaklik is by die onderrig van Afrikatale en solank onderwysers in sodanige aanstellings se kwalifikasies goed is. Dit is te verstane dat sekere onderwysers voel dat die wetgewing ten opsigte van gelykheid afgedwing moet word.

6.3.6 Antirassisme en antidiskriminerende strategieë

Daar is aan onderwysers gevra of dit noodsaaklik is dat daar gedurende opleiding voor diensaanvaarding blootstelling aan diversiteitsbestuur en opleiding daarin sal wees. Weereens was daar gemengde reaksies. Een opvoeder het gesê: “Dit sal toleransie en

verstaning tussen onderwysers en leerders versterk”. ’n Ander een meen dat “… jy nie opleiding nodig het om met mense saam te leef en te werk nie, dit moet uit die hart kom”.

Dit is belangrik om daarop te let dat diversiteit soms “meganies” bestuur word. Dit is nie in alle gevalle so dat dit uit die hart kom nie – dit kan later in iets oppervlakkigs en kosmeties ontaard.

6.3.7 Algemene opmerkings

Die kleurblinde houding wat deur baie onderwysers ingeneem word, moet deeglik nagevors word sodat bepaal kan word of dit onkunde is of bloot moedswillige pogings om die werklikhede in die skole te ignoreer en voort te gaan asof niks verander het nie.

6.4 Leerderresponse

Ek het veral gefokus op leerders wat meer as 10 km moet aflê om die skool te bereik. Dit was vir my belangrik om hulle aantal jare by die skool, huistaal en vakke of leerareas vas te stel sodat ek hulle insette teen daardie agtergrond kon verstaan en verwerk. Dit was ook interessant om te verneem hoekom hulle nie die skole in hulle onmiddellike omgewing bywoon nie. Die betrokkenheid van die leerders is uiters belangrik vir die ondersoek, want die migrering en uitskakeling van rasse-agtergronde raak hulle direk. Leerders is dit eens dat daar pogings aangewend moet word om ’n klimaat van aanvaarding en respek vir die verskillende kulture by die skole te skep. Hulle is van mening dat, indien hulle in hulle huistaal onderrig kan word, hulle makliker sal kan vorder.

6.5 Kwessies met betrekking tot die skool self