• No results found

KONTEKSTUALISERING VAN IMMIGRASIE NA SUID-AFRIKA VIR SKOLE IN WORCESTER

3.8 Die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel in ’n neutedop 1 Inleiding

3.8.6 Norme en standaarde vir die befondsing van skole

Die nasionale norme en minimum standaarde vir die befondsing van skole word ingevolge die Suid-Afrikaanse Skolewet, 1996 (Wet No. 84 van 1996) uiteengesit. Die Handves van Regte in die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 (Wet No. 108 van 1996, artikel 29[1]) bevestig die reg tot onderwys soos volg:

“Elkeen het die reg –

(a) op basiese onderwys, met inbegrip van basiese onderwys vir volwassenes; en

(b) op verdere onderwys, wat die staat, deur middel van redelike maatreëls, in toenemende mate beskikbaar en toeganklik moet maak”

Die Suid-Afrikaanse Skolewet, 1996 het op 1 Januarie 1997 in werking getree. Die hoofoogmerk van die Wet is om ’n uniforme stelsel vir die organisering, beheer en befondsing van skole te vestig. Ingevolge dié Wet dek skole leerprogramme van graad R tot graad 12. Die Suid-Afrikaanse Skolewet maak voorsiening vir verpligte bywoning van leerders tussen die ouderdomme sewe en vyftien jaar of die voltooiing van graad 9. Die Wet skryf baie belangrike verantwoordelikhede aan die staat voor met verwysing na befondsing van openbare skole. Die basiese beginsel van staatsbefondsing vloei voort uit die grondwetlike waarborg van gelykheid en die erkenning van die reg op regstelling. Die Wet maak voorsiening daarvoor dat:

“Die Staat finansier openbare skole uit openbare inkomste op ’n billike basis ten einde die behoorlike uitoefening van die regte van leerders op onderwys en die regstelling van ongelykhede van die verlede in die voorsiening van onderwys te verseker (Artikel 34(1)).”

“… hierdie land ’n behoefte het aan ’n nuwe nasionale stelsel vir skole wat die onregte in onderwysvoorsiening van die verlede sal regstel, onderwys van progressief hoë gehalte aan leerders sal voorsien en op hierdie wyse ’n hegte fondament vir die ontwikkeling van al ons mense se talente en bekwaamhede sal lë …”

Om genoemde oogmerke geleidelik te verwesenlik, vereis nuwe stelsels met betrekking tot begroting en besteding deur skole. Ingevolge die Grondwet en die regering se begrotingsprosedure is dit nie die Minister van Onderwys wat besluit oor die jaarlikse toekenning aan die provinsiale onderwys-departement nie. Dit is die verantwoordelikheid van die provinsiale regerings en die wetgewers. Elke provinsie bepaal sy eie vlak van besteding vir onderwys, met inagneming van die algehele assessering van behoeftes en hulpbronne.

Die Suid-Afrikaanse Skolewet plaas ’n verantwoordelikheid op die beheerliggame van openbare skole om die gehalte van onderwys in hulle skole te verbeter deur die beskikbaarstelling van addisionele hulpbronne om sodoende dit wat die staat bied, aan te vul. Alle ouers, in die besonder diegene wat minder arm is of ’n goeie inkomste het, word aangemoedig om direkte finansiële bydraes ter bevordering van gehalteonderrig te maak.

Dit is ironies dat die strewe na regstelling en gelykheid die befondsing deur die provinsies ook middelklas- en ryk ouers van openbare skole bevoordeel. Die apartheidsregering het gemeenskappe met hoëgehaltefasiliteite, toerusting en hulpbronne bevoordeel. Kragtige fondsinsamelings deur beheerliggame, met inbegrip van kommersiële borgskappe en inskrywingsgeld, het baie skole in staat gestel om hulle fasiliteite, toerusting en studiebronne asook hulle sport- en kulturele aktiwiteite verder uit te brei. Sedert 1995 is sodanige skole versoek om personeellede te verminder, maar hulle het addisionele personeel in beheerliggaamposte aangestel en vergoed hulle uit die skoolfonds.

Arm mense wend ook ’n gedeelte van hulle inkomste aan om skole te verbeter en stel selfs ook handearbeid beskikbaar. Te veel skole op die plattelandse en in stedelike werkersklasgemeenskappe ly onder die erfenis van oorgroot klasse, betreurenswaardige fisiese geriewe en die afwesigheid van leermateriaal. Daar word nogtans van leerders in arm skole verwag om dieselfde resultate te lewer as dié in sogenaamde “ryk” skole. Sodanige teenstrydighede in een en dieselfde openbare skoolstelsel weerspieël die verlede se diskriminerende beleggings in onderrig asook die huidige dispariteite in die persoonlike inkomste van ouers. Norme en standaarde vir die befondsing van gewone openbare skole poog om die ongelykhede die hoof te bied soos vervat in die Suid- Afrikaanse Skole Wet (1996).

Dit is ook belangrik om te verwys na die subsidies wat die staat aan onafhanklike skole beskikbaar stel, aangesien dié skole ook by die ondersoek betrek is. Onafhanklike skole verskil wesenlik in grootte, ligging, sosio-ekonomiese status, fasiliteite, personeel, missie, beheer, verteenwoordiging, godsdienstige of sekulêre identiteit, gemeenskapsdienste, kostestruktuur, skenkings, finansiële lewensvatbaarheid, fooie en die gehalte van leer en onderrig. Baie van dié skole lewer waardevolle opvoedkundige dienste, terwyl ander dienste van swak gehalte lewer en die ouers uitbuit.

Die subsidiëring van geregistreerde onafhanklike skole (voorheen private skole) is goed gevestig in Suid-Afrika. Voor 1994 is daar van onafhanklike skole verwag dat hulle sal registreer by die onderskeie onderwysdepartemente van die staat (Tabel 3.14). Subsidies aan hierdie skole het die patroon van rasgebaseerde ongelykhede in die openbare skoolstelsel gereflekteer. Rasgebaseerde ongelykhede ten opsigte van subsidies aan onafhanklike skole is egter sedert 1994 uitgeskakel. Die nasionale Minister van Onderwys kan nie subsidievlakke vasstel nie, omdat begrotingsbesluite van dié aard ingevolge die Grondwet deur provinsiale regerings gedoen word. Die Minister van Onderwys baseer sy subsidie-beleid op fiskale argument en op sosiale gronde. Die staat het ’n grondwetlike en statutêre verantwoordelikheid om opvoeding aan alle leerders te voorsien. Onafhanklike skole lewer ’n diens aan hulle leerders wat andersyds deur die provinsiale departemente gelewer sou word. Openbare subsidies aan sulke skole kos die

staat aansienlik minder per leerder as wanneer die leerders ingeskryf sou word by openbare skole. Dit is dus koste-effektief vir die staat om aan dié skole ’n subsidie te gee. Die toekenning van subsidies sal voorkeur geniet by onafhanklike skole wat goed bestuur word, goeie onderrig lewer, arm gemeenskappe bedien en nie op winsbejag ingestel is nie (Sien tabel 3.13).