• No results found

‘N ANALISE VAN DIE WERKLIKHEIDSERVARING VAN DIE RESPONDENTE

6.6 Ouers se kommentaar

Ek het hoofsaaklik gefokus op die ouers van leerders wat afstande van 10 km moet aflê om die skool te bereik. Ongeveer tien ouers, uit ander residensiële areas as waar die

skool geleë is, is geselekteer. Die meeste ouers is ná werk gespreek en sommige wanneer die leerders ná skool opgelaai is. Daar is op die onderstaande gefokus:

6.6.1 Keuse van ’n skool

Soos in die geval van die response van leerders oor die redes waarom hulle skole in die onmiddellike omgewing verlaat vir ander, is die hoofoorsaak hier ook as die soeke na beter onderwys aangevoer. Hoë standaard van onderwys, onderrigtaal, fasiliteite en ’n skool se reputasie wat betref matriekuitslae asook die handhawing van dissipline, het die ouers se besluitneming beïnvloed.

6.6.2 Skool se beleid

Die bevinding is dat nie alle ouers betrokke is by die ontwikkeling van beleidstukke vir die skool nie; die deelname word oorgelaat aan die SBL. Die oorgrote meerderheid ouers kan beskryf word as ontvangers van inligting en nie as beleidmakers nie. Daar heers ongelukkigheid oor die versuim om Afrikatale te akkommodeer en frustrasie weens die hulpeloosheid om iets aan die situasie te doen, is merkbaar. Die gebruik van slegs Afrikaans gedurende ouer-onderwyser-vergaderings is ’n probleem, veral by voorheen Afrikaanse skole.

Soos die leerders, is die ouers verdeel oor die aanstelling van onderwysers uit verskillende rasse-agtergronde. Die ouers wat gekant is teen die aanstelling van sodanige onderwysers, veral swart onderwysers, het dit onomwonde gestel dat dié onderwysers in die townships hoort. Een ouer het soos volg gereageer: “If they numbered more, they

might influence one another negatively and toyi-toyi, which might influence the school’s performance”. Diegene ten gunste van verteenwoordiging beroep hulle op die wet wat

voorsiening maak vir gelykheid en glo dat die aanstellings van onderwysers op meriete, bevoegdheid, ervaring moet geskied. Oor die algemeen aanvaar die ouers wat aan die gebeur is in die skole, aangesien dit beter is vir die skole in hulle eie omgewing.

6.6.3 Verhoudings tussen leerders en onderwysers

Soos die leerders, aanvaar baie ouers dat daar gevalle van rassekonflik of misverstande is. Die meerderheid was nie bereid om voorbeelde te gee nie. Een ouer het gesê: “Ek is nie

bereid om vir my seun enige moeilikheid te gee nie; daarom dat ek swyg”. Die ouers

aanvaar dat daar “goeie” en “slegte” onderwysers is, maar die goeie werk wat die skool doen word aanvaar. Dit is belangrik dat die klein insidente aandag behoort te kry sodat die goeie werk wat skole lewer, nie in die gedrang kom nie.

6.6.4 Algemene opmerking

Die meeste ouers met wie onderhoude gevoer is, het aangedui dat hulle hulpeloos is om die proses van verandering in die skole te beïnvloed. Hulle sien hulleself nie as deel van die skoolgemeenskap nie en voel ook nie deel van die ontwikkeling van die skool nie, nieteenstaande dat die wit leerders in die minderheid is. Die gebrek aan positiewe, proaktiewe en konstruktiewe betrokkenheid van ouers om die skool se beleid te beïnvloed, is kommerwekkend.

6.7 Waarnemings

Tydens my geskeduleerde en ongeskeduleerde besoeke het ek waargeneem hoe dissipline, sekuriteit en die interaksie tussen leerders, personeel asook administratiewe personeel bestuur word. Hierdie bevindinge is ondersteun deur die kwantitatiewe bevindinge oor skole wat geselekteer word op grond van hulle dissipline. Dit wil voorkom asof die skole streng reëls en regulasies toepas, soos gesien kon word aan die skooluniforms wat deur alle leerders gedra word; geen klasse was onbeman nie en geen gedrentel op die stoepe is opgemerk nie. In die klasse is dissipline ook tydens lesaanbiedings gehandhaaf. Al die skole het ’n leerklimaat geskep wat bevorderlik is vir leer en onderrig, met beperkte sekuriteitrisiko’s. Sekere kommerwekkende faktore is tydens lesaanbiedings bemerk:

• Die ongelyke gebruik van Engels en Afrikaans in die dubbelmediumklasse is waargeneem. Afrikaans geniet voorkeur en dit was slegs toe onderwysers vra of leerders verstaan dat ’n verduideliking in Engels verskaf is.

• Die groepering in sommige skole van leerders volgens rassegroepe, is ’n aanduiding dat alle leerders nie gelyke aandag kry nie. ’n Onderwyser het die groepering verdedig deur te noem “I want to monitor their progress”. Die vraag ontstaan of so ’n stelling pedagogies verdedigbaar en verantwoordbaar is?

6.8 Samevatting

Skole reageer verskillend op veranderinge. Die geskiedenis, ondervinding en bestuurstyl van skole het ’n invloed op die wyse waarop opgetree word ten opsigte van die uitskakeling van rasgebondenheid, immigrering asook migrering van leerders. Soos vroeër aangedui, die response in dié verband deur die voormalige Model C-skole verskil van die vorige Model B-skole.

’n Voormalige Model C-skool hanteer die integrasie baie goed. Probleme wat ontstaan, word effektief die hoof gebied. Die meerderheid leerders, met inbegrip van dié met wie onderhoude gevoer is, is baie gelukkig en positief by die skool. Die personeel is behulpsaam en die skoolhoof probeer die skool na die beste van sy/haar vermoë bestuur. Die ouers slaan die skool hoog aan en glo dat die skool ’n beter toekoms vir hulle kinders kan verseker. Die indruk wat ek kry van die hoërskool (voormalige Model C-skool) is dat die uitskakeling van rassisme en die aanvaarding van immigrante-leerders die beste gefasiliteer word deur die primêre voederskole wat vry is van rassebewustheid. Indien leerders reeds op laerskool opgevoed word om mekaar se menswaardigheid te respekteer, sal dit ongewoon wees om op hoërskool rassekonflik te hê. Die teenoorgestelde is ook waar: as skeidsmure tussen wit en swart leerders op laerskool opgerig word, sal dit moeilik wees om dit later af te breek.

Die bedoeling van hierdie verslag is nie om aan te dui dat hierdie skole probleemvry is nie. Dit is die openheid tot veranderinge wat die geneigdheid om te verander bespoedig. Daar is ’n groot mate van verset en weerstand teen verandering by sekere skole waargeneem, veral waar sodanige skole voortgaan om slegs Afrikaans as onderrigmedium te gebruik. Die uitdaging aan die WKOD is om daadwerklike maniere te vind om die ingesteldheid en bewussyn van skole en gemeenskappe te verander en ’n

uniforme strategie van sosiale geregtigheid na te streef. Die volgende hoofstuk bevat die uitdagings, implikasies en aanbevelings van migrasie en immigrering en die uitskakeling van rassisme, aangesien migrasie en rassisme in die Suid-Afrikaanse konteks sinoniem geword het.

HOOFSTUK 7