• No results found

Die herhaalde herskryf van die roman is eerstens gedoen om die verhaal se struktuur en plot, asook die karakterisering te verfyn, maar ook ter wille van myself sodat ek as skrywer 'n stewige greep op die verhaal kon behou. Wat herskryf in die konteks beteken, is dat daar voortdurend oorgeskryf word.

Sinne en paragrawe word op 'n gereelde basis hersien. Herskryf is myns insiens 'n onontbeerlike voorloper van redigering self omdat volledige redigering eers aan die einde, wanneer die manuskrip voltooi is, gedoen word.

Weideman (2000:41) meen "een saak staan vas: sonder herskrywing is skryf nie moontlik nie". Redigering begin by die begin - daar waar die eerste woord geskryf word. Die skryf- sowel as die redigeringsproses van die roman Dieper

water het ongeveer drie en 'n half jaar geduur — vanaf Januarie 2003 tot die

einde van Junie 2006. Ek het aanvanklik pogings aangewend om terwyl ek geskryf het, aantekeninge te maak van die skryfproses self — maar het inderdaad gevind dat dit stremmend en inhiberend inwerk op die spontane'i'teit van die skeppingsproses.

In 'n poging om momentum te behou, het ek slegs op die skryfproses gekonsentreer en gevind dat die skryfdaad self meer sekerheid bring oor die roman en dus ook oor die besinning agterna. Dit het ek gedoen op aanbeveling van dr. Franci Greyling (2005c). Volgens haar (2005c) is dit 'n belangrike waameming dat dit stremmend is om midde in die skryffase indringend oor die proses te besin en aantekeninge te maak. 'n Skrywer moet te veel ingestem wees op sy eie teks om nog tegelykertyd 'n ander teks tot stand te bring wat die proses vasvang. Dis myns insiens beter om heel eerste na jou eie teks te luister en die aanduidings wat dit jou gee, eers te volg. "(I)f we listen to our emerging text, it will teach us to write... The text will establish its directions, its voice, its own meaning" (Eudora Welty in Smuts, 1992:77).

3.5.2 Verskillende variasies van die roman

Alhoewel daar dikwels en aanhoudend geredigeer is dwarsdeur die skryffase, was daar nie werklik verskillende variasies wat betref die vorm en inhoud van die roman Dieper water nie. Vorm en inhoud word oor die algemeen beskryf as die komposisie (vorm) van 'n werk en ook die stof waaroor 'n werk handel (inhoud) (Johl, 1992b:576). Die vorm en inhoud van die drie verhaallyne in die

roman Dieper water, het gedurende die werklike skryffase nie veel verander nie. Dit is my ervaring van my eie skryfwerk dat ek so herhalend herskryf dat die manuskrip as't ware in wording as geheel geredigeer word en daar dus nie ander variasies ontstaan nie. Ek het dus die drie verhaallyne so deeglik moontlik probeer klaar skryf voordat dit met mekaar vervleg is om hopelik 'n naatlose geheel te vorm.

Dit is moontlik juis as gevolg van die feit dat ek daagliks terugskouend aan die manuskrip (eers die drie verhaallyne en toe die vervlegting daarvan), gewerk het, dat daar nie ander variasies van vorm en struktuur ontstaan het nie. Dit is ook moontlik dat ek die skryfproses tydens die skryffase doelbewus so streng probeer beheer het weens die kompleksiteit van die drie verskillende verhaallyne, dat die roman as geheel onder my hand gegroei het sonder enige noemenswaardige afwykings van die struktuur van die genoemde roman. "Die essensiele vorm van aksies word in en deur die deur die skeppingsproses ontdek" (Johl, 1992b:577).

Wat vorm en inhoud betref, het die roman Dieper water taamlik stabiel gebly dwarsdeur die werklike skryffase en wanneer daar 'n ander idee of karakter of insigte opgeduik het, is dit terstond aangebring of verander sonder om die drie verhaallyne in hul geheel te veel te be'i'nvloed.

3.5.3 Makro- en mikroredigering

Die uiteindelike, finale makro- en mikroredigering van die roman Dieper water het ongeveer ses weke geduur, want dit is 'n roman van ongeveer 175,000 woorde. Dit het nie beteken dat die roman bloot net verkort is toe dit persklaar gemaak is nie. "Redigering beteken ook vervanging: een woord met 'n ander een, wat die sfeer en bedoeling van jou stuk nou beter uitdruk as jou oorspronklike keuse, een leesteken met 'n ander, ens." (Aucamp, 1994:138). Soos reeds genoem, was die redigering aan die einde van die skryfproses ook nie al redigering wat plaasgevind het nie.

Namate die skryfproses gevorder het, het ek soos alle ander skrywers, nuwe insigte verkry soos wat die intrige en ook die verlewendiging van die karakters my gelei het. Sean O'Faolain (soos aangehaal deur Aucamp, 1994:106) het gese : "When I got down to the business of writing I found that half the art of writing is rewriting...". Dus het ek kort-kort die roman van voor af deurgelees tot by die punt waar ek laas opgehou skryf het om sodoende dele of passasies te herskryf of uit te brei. "Redigering kan ook beteken dat sekere passasies in jou werk hersien en uitgebrei moet word" (Aucamp, 1994:137).

Daar moet dus met oorleg geredigeer word en 'n holistiese indruk van die werk moet deurgaans behou word, sodat 'n skrywer so objektief moontlik kan werk. "(S)elfkritiek en ambagmanskap" (Aucamp, 1994:121) is egter noodsaaklik tydens herskryf aangesien die skrywer werklik die heel eerste redigeerder van die teks moet wees. Indien dit nie die geval is nie, laat 'n skrywer 'n kardinale fase van die skryfproses uit tot nadeel van die teks.

Die proses van redigering is myns insiens absoluut ge'i'ntegreer met die skryfproses self, waarsonder daar nie 'n afgewerkte, werklik voltooide roman kan wees nie. Voortdurende sowel as holisties oorsigtelike redigering is onmisbaar by die skryf van 'n roman. Ambagtelikheid is noodsaaklik omdat kreatiewe impulse aan 'n kritiese en korrigerende oog onderwerp moet word (Dorrestein, 2001:70). Dit is wat ek gepoog het om dwarsdeur die werklike skryffase te doen.

Dit is vir enige skrywer moeilik om te weet wanneer redigering gestaak moet word. De Vries (2002) se onomwonde "om op te hou oorskryf aan die verhaal, dis die ding". Tog is dit so dat die punt wel bereik moet word tydens die redigering van 'n manuskrip. Aucamp (1994:129) waarsku dat "die skrywer as redakteur redigering ook te ver kan voer". Daar is iets binne enige teks wat beskerm moet word en dit is die skrywer se eie visie (Aucamp, 1994:129). Die

teks moet nie dermate deur die skrywer gestroop word dat die lewe daaruit verdwyn nie. "Elke skrywer weet byvoorbeeld intu'i'tief dat die spanning en energie van sy teks met ritme saamgaan", (Aucamp, 1994:129) juis die ritme wat onder 'n te gestroopte teks ly, want sodra daar te veel geredigeer word en al die onvolmaakthede uitgestryk word, verdwyn die energie ook daaruit.

3.6 Publisering

Na voltooiing en redigering van die manuskrip van die roman Dieper water, het ek dr. Etienne Bloemhof, redakteur by NB-Uitgewers genader, en die manuskrip is aan horn gestuur vir oorweging vir publikasie. Na 'n paar maande het Bloemhof my laat weet dat die roman vir publikasie aanvaar is. Human & Rousseau (Edms) Bpk het dit uitgegee. Die datum van publikasie was Oktober 2007.

Die publisering van die roman, Dieper water, was 'n lang proses waartydens ek onder andere aan die roman moes werk om aan die einde van die derde verhaallyn meer op Rachel en Hektor te fokus. Daar is ook deur Bloemhof aanbeveel dat ek die eerste verhaallyn effens moet inkort, maar aangesien dit 'n sage is, moes ek nie te veel sny nie want 'n sage het genoeg verteltyd nodig (Bloemhof, 2006). Ek het toe inderdaad baie min uit die eerste brief van Ouma Ragie uitgehaal, aangesien die inligting vir die verhaallyn nodig was en dit is so deur Bloemhof aanvaar.

Verder is die roman, soos wat altyd die prosedure is, deur nog 'n redakteur van NB-Uitgewers, Madri Victor, asook deur die uitgewery se taalkundige redakteur, Riette Botma, geredigeer. Daarna is die roman in elektroniese formaat aan my teruggestuur, sodat ek na taalkundige veranderings kon kyk en plek-plek ook terugverander na die oorspronklike toe indien nodig. 'n Volledige besinning oor die publikasieproses van die genoemde roman volg in hoofstuk 4.