• No results found

Populasie verwys na al die elemente van ‘n gegewe domein (Polit & Beck, 2004:289), wat aan die insluitingskriteria voldoen (Burns & Grove, 2005:342), terwyl steekproef na ‘n geselekteerde gedeelte van die populasie verwys (Polit & Beck, 2004:291; Burns & Grove, 2005:342). Die populasie en steekproef soos van toepassing by elke navorsingstegniek sal vervolgens beskryf word.

FASE I: DIE BEGRIP “PROFESSIONELE PRAKTYK”

1.11.1 FASE I, stap 1 (substap 1.2): opname van onprofessionele gedrag (vir

volledige beskrywing, vergelyk bl 42 - 76).

Populasie: In die opname van inligting ten opsigte van onprofessionele gedrag, soos

wat dit voorgekom het in dissiplinêre sake, sal alle dissiplinêre sake wat by die SARV gedien het, die populasie uitmaak.

Steekproef: Die steekproef sal deur middel van ‘n doelgerigte seleksie gedoen word. ‘n

Doelgerigte seleksie word gedoen wanneer sekere elemente uit die populasie doelbewus in die steekproef opgeneem word (Polit & Beck, 2004:294; Burns & Grove, 2005:352). Die steekproefseleksie sal doelgerig wees aangesien alle beskikbare, volledige verbatim verslae van dissiplinêre sake wat gedurende die tydperk 1996-2001 by die SARV gedien het, as steekproef geneem gaan word.

Met navraag van die navorser aan die SARV het dit geblyk dat die meeste volledige, verbatim verslae van dissiplinêre sake, oor hierdie tydperk beskikbaar is en daarom is daar op hierdie tydperk besluit.

Enige dokument wat nie volledig ten opsigte van bladsye of volumes is nie, sal by die studie uitgesluit word. Die rede hiervoor is dat alle inligting nie uit onvolledige dokumente bekom kan word nie.

1.11.2 FASE I, stap 2 (substap 2.1) Fokusgroeponderhoude (vir volledige

beskrywing, vergelyk bl 77 - 168.)

Drie (3) fokusgroeponderhoude sal gevoer word. Twee sal met plaaslike professionele verpleegkundiges werksaam in die kliniese praktyk en een met professionele verpleegkundiges, betrokke by Verplegingsonderrig op nasionale vlak, gevoer word. Die populasies en steekproewe van die fokusgroepe sal dus van mekaar verskil.

Populasie:

Fokusgroepe 1 en 2: Alle geregistreerde verpleegkundiges werksaam in hospitale in Bloemfontein, sal die populasie uitmaak.

Fokusgroep 3: Alle geregistreerde verpleegkundiges wat die “Forum for University Nursing Departments in South Africa” (FUNDISA)-vergadering in Mei 2003 bywoon, vorm die populasie. Aanvanklik was die forum slegs vir verpleegkundiges verbonde aan universiteite, maar verpleegkundiges van Verplegingskolleges woon dit ook nou by.

Steekproef:

Fokusgroepe 1 en 2 (seleksie van die hospitale vir insluiting):

Daar is plaaslik drie (3) Staats- en twee (2) Privaathospitale. Een van die Staatshospitale sal vir die verkenningsgesprek (loodsstudie) gebruik word, terwyl die grootste van die oorblywende twee hospitale gebruik sal word om fokusgroep- deelnemers by te werf. ‘n Doelgerigte seleksie sal dus in dié geval gedoen word.

Ten opsigte van die Privaathospitale, sal ‘n gerieflikheidseleksie gedoen word omdat die navorser met een van die Eenheidsbestuurders bekend is en haar as aanvanklike kontakpunt kan gebruik om persone vir die fokusgroep te werf (Polit & Beck, 2004:292).

Fokusgroep 1 en 2: (Seleksie van die deelnemers)

Professionele Verpleegkundiges uit die plaaslike privaat- en Staatshospitale sal op ‘n eenvoudige ewekansige wyse geselekteer word.

Verkiesing van ‘n groep deur middel van ewekansige trekking verminder die kans op partydigheid (Polit & Beck, 2004:296; Krueger & Casey, 2000:83) en dit behoort dus tot voordeel van die studie te wees om ‘n ewekansige seleksie te doen.

Vir fokusgroep 1 sal die navorser die eenheidsbestuurder wat aan haar bekend is en wie positief teenoor navorsing is, kontak. Die doel en proses van die fokusgroeponderhoud sal aan haar verduidelik word en sy sal gevra word om ‘n naamlys van verpleegkundiges wat 3 jaar of langer praktiseer en wie moontlik aan die fokusgroep sou wou deelneem te voorsien. Hierdie persone se name sal in ‘n houer geplaas word en 6 (ses) name sal getrek word. Dié 6 (ses) persone sal dan indiwidueel om insluiting in die studie genader word (vergelyk bylae C). Die doel en verloop van die fokusgroeponderhoud sal aan hulle verduidelik word sodat hulle ‘n ingeligte besluit ten opsigte van deelname kan maak. Indien een nie kan deelneem nie, of nie bereikbaar is nie, sal ‘n ander naam uit die houer getrek word en so sal daar voortgegaan word totdat ‘n minimum van 6 (ses) persone inwillig om aan die studie deel te neem.

Vir fokusgroep 2 sal die Assistent-direkteur van die betrokke Staatshospitaal gekontak en gevra word om ‘n lys van name van persone wat 3 jaar of langer praktiseer en wie moontlik aan die fokusgroep sou wou deelneem, te voorsien (vergelyk bylae D). Die persone sal dan soos, in geval van fokusgroep 1, om deelname genader word totdat 6 (ses) persone hulself vir deelname beskikbaar stel.

Fokusgroep 3: ‘n Gerieflikheid steekproef-seleksie sal gebruik word om die persone vir dié fokusgroeponderhoud te selekteer uit ‘n groep verpleegkundiges wat vir ‘n FUNDISA-vergadering byeen sal wees.

Alhoewel ‘n gerieflikheid steekproef -seleksie die nadeel het dat dit moontlik sou wees om deelnemers op partydige wyse te selekteer (Polit & Beck, 2004:295; Burns & Grove, 2005:352) skryf laasgenoemde outeurs dat sodanige partydigheid, in geval van

‘n Naamlys van persone wat die FUNDISA-vergadering gaan bywoon, sal vanaf die sekretariaat bekom word. Persone sal dan op die lys af gekontak word, die doel en proses van die fokusgroeponderhoud sal verduidelik word en persone sal om deelname gevra word. Indien ‘n persoon nie beskikbaar is nie of nie wil deelneem nie, sal die volgende persoon op die lys gekontak word totdat daar ‘n minimum van 6 (ses) persone tot deelname toegestem het.

FASE II: DIE HUIDIGE ONDERRIG VAN [ETOS EN] PROFESSIONELE PRAKTYK

1.11.3 FASE II, stap 5: Telefoniese onderhoude (vir volledige beskrywing,

vergelyk bl 256 - 269).

Populasie: Al die onderrigpersoneel, verbonde aan Verpleegonderriginstansies in Suid-

Afrika, wat by die onderrig of fasilitering van die module [Etos en] Professionele Praktyk, in die geïntegreerde vierjaar verpleegkundeprogram, betrokke is, sal die populasie uitmaak. Waar [Etos en] Professionele Praktyk geïntegreerd aangebied word, sal die onderrigpersoneel, wat na die mening van die Hoof van die instansie die meeste daarby betrokke is, deel van die populasie uitmaak.

Steekproef: ‘n Lys van Verpleegonderriginstansies is vanaf die SARV bekom. Volgens

die lys blyk dit dat daar 44 Verpleegonderriginstansies is wat die geïntegreerde vierjaar verpleegkundeprogram aanbied. ‘n Aanname word gemaak dat daar minstens een (1) persoon by elke instansie by die onderrig van Etos en Professionele Praktyk betrokke sal wees. Na oorlegpleging met ‘n biostatikus, is besluit dat, omdat die populasie klein is, een persoon by elke onderriginstansie om deelname genader sal word. Daar sal dus nie ‘n steekproeftrekking gedoen word nie en alle instansies sal om deelname aan die studie genader word.