• No results found

3.3 Bundelbesprekings aan die hand van Genette se konsep paratekstualiteit

3.3.2 Paratekstualiteit in grond/Santekraam

Kamfer se tweede bundel, grond/Santekraam, verskyn in 2011 – ook by Kwela Boeke – en word beskou as die teks wat haar en haar plek in die Afrikaanse kanon verseker (Brümmer 2011). Daar is opmerklike verskille tussen Kamfer se eerste twee bundels. Anders as haar debuut, het die tweede bundel ’n hegter struktuur bestaande uit gedigreekse met verbandhoudende titels en temas. Literêre invloede uit haar akademiese studies en vanaf haar mentor, Antjie Krog, sorg, aldus Brümmer (2011), vir ’n meer “deurwinterde digter”. Alhoewel die bundel geen pryse gewen het nie, is Kamfer in 2012 bekroon met ’n ABSA Kanna vir vernuwing in Afrikaans (Kamfer 2016). grond/Santekraam is deur Alfred Schaffer na Nederlands vertaal en verskyn by die uitgewery Podium in 2012 onder die Nederlands-talige titel Santenkraam. Dit is ’n parallelle aanbieding met die Afrikaanse gedigte naas die Nederlandse vertalings afgedruk, en dit bevat ’n woordelys wat terme, die Arabiese woorde en vreemde konsepte verklaar.

3.3.2.1 Die periteks: Titel, omslag en bundelstruktuur

grond/Santekraam is ’n bundel wat in terme van tematiek en inhoud uit die staanspoor

óf-86

konstruksie van die titel waarneembaar: “grond” en/of “Santekraam”, die eerste woord met ’n kleinletter in wit geskryf en die tweede ’n hoofletter in ’n sandkleurige goud. Die goud van die helfte van die titel word herhaal in die rimpelings wat op die omslag uitkring. Die goud, wat dalk sonlig kaats, staan uit teenoor diep bottelgroen agtergrondkleur met donkerder kringe en kolke wat ongetwyfeld herinner aan die kleur van diep en donker waters. Die gebruik van groen eerder as blou sluit myns insiens aan by die aardsheid van die titel. Net soos in die debuutbundel, sprei die motief van die voorplat ook na die agterplat en vorm die omslag ’n geheelbeeld. Die ontwerp is eenvoudig. Naas die belangrike inligting soos die uitgewer en streepkode op die agterplat en die bundeltitel, naam van die digter en genre-aanduiding op die voorplat, is daar geen ander teks of illustrasie nie. Die ontwerp word herhaal op die titelblad van die bundel. Die rimpelende water en die kontrasterende titelbewoording is daarom juis meer opvallend.

Cirlot (1982:364) dui aan dat water reeds sedert die vroegste tye as lewegewend en deur assosiasie ook as moederlike element beskou is. In die moderne sielkunde word water as ’n simbool van die onbewuste beskou – Cirlot (1982:364-365) beskryf dit as die “non-formal, dynamic, motivating, female side of the personality.” ’n Tweede konnotasie is dié van intuï-tiewe wysheid, deur die Mesopotamiese bevolking as “a symbol of the unfathomable, imper-sonal Wisdom” (Cirlot 1982:365) beskou. Ook dui Cirlot (1982:365) op die Christelike prak-tyke van die doop, waarin water ’n proses van wedergeboorte fasiliteer. Cirlot (1982:365) verduidelik dat water hierteenoor ook tot vernietiging in staat is en daarom geag kan word as “mediator between life and death, with a two-way positive and negative flow of creation and destruction”. Volgens Cirlot (1982:366) is daar talle sekondêre simboliese waardes wat aan dié element gekoppel kan word, afhangend van die vorm waarin die water voorkom, die diepte daarvan, die helderheid ensovoorts.

Op grond/Santekraam se omslag skep die kolkende donker skakerings van groen die indruk dat daar onder die wateroppervlak malende strome is. Dít is in teenstelling met die goue waterkringe, dalk goud weens die glans van die son, wat gewoonlik net veroorsaak word wanneer ’n gladde wateroppervlak deur ’n enkele element versteur word, soos wanneer ’n klippie in ’n poel stilstaande water gegooi word. Op die oppervlak is die water dus stil en word dit slegs versteur deur enkele bewegings, maar onderlangs maal en kolk dit baie duidelik. Die visuele beeld herinner aan die uitdrukking “stille waters, diepe grond, onder draai die duiwel rond” – gesê van “skynbaar stil mense wat agteraf allerhande (slegte) dinge doen” (Verklarende Afrikaanse Woordeboek) – en skakel sodoende ook met die titel. In die

87

geval van grond/Santekraam verwys die uitdrukking nie na ’n stil individu nie, maar myns insiens dalk na die stiller, onvertelde geskiedenisse van ons land – vertellings wat jare on-aangeroer gelaat is, maar steeds aanhou maal en kolk het, en wat nou deur die digter-spreker in die “oorvertel”-siklus aangewakker word.

Die titel bestaan uit die samestelling van die konkrete gegewe “grond” en die argaïes-Afrikaanse (en Nederlandse) woord “santekraam”, wat “die hele kaboedel” beteken (Groot

woordeboek Afrikaans en Nederlands). Dit lees dus soos volg: “grond en die hele kaboedel”,

grond en alles wat daarmee gepaard gaan. Dít tesame met die omslagontwerp wat water ook by die kaboedel betrek, ontsluit die groot motiewe wat in die bundel klink, onder meer kolonialisering, die kwessies rondom grondbesit en -onteiening asook taalbesit en -ont-eiening.

Die hoofletter en kleinlettergebruik is uiters opvallend in die titelkonstruksie. Die gebruik van ’n hoofletter-‘S’ by Santekraam beklemtoon myns insiens die belangrikheid van hierdie hele kaboedel – al die ander kwessies (soos bo genoem) tree tot die voorgrond. Daar sou ook geargumenteer kon word dat die kleinletter ‘g’ van grond juis hierdie tema onderbeklemtoon. Dit is eerstens ironies aangesien “grond” die hooffokus van die bundel is en volgens Anker (2011) bevat die “grond”-reeks ook tematies die sterkste gedigte. Tweedens is die onderbe-klemtoning ook ironies aangesien die grondonteiening wat by Skipskop plaasgevind het, ’n groot inspirasie vir hierdie bundel was. As ’n geheel beskou, sou ’n mens kon argumenteer dat “die hele kaboedel” swaarder weeg as die grond, want die geaffekteerde mense is van hul grond ontneem en moet nou vir ’n leeftyd lank met hierdie kaboedel saamleef. Die posisionering van die titelgedigte “grond” (10) en “santekraam” (46) gaan egter weer hierdie aanname teen – deur “grond” reeds vroeg in die bundel te plaas, word dit beklemtoon, terwyl die gedig “santekraam” as ’n nagedagtenis voorkom omdat dit so laat in die bundel geplaas is (bladsy 46 van 59, om presies te wees). Hierdie voortdurende verskuiwing van klem sou dalk as ’n spel met die leser geïnterpreteer kon word.

grond/Santekraam is ’n eenheidsbundel gekonstrueer uit verskeie reekse gedigte, soos

on-derstreep deur Anker (2011). Die bundel het ’n selferkende “begin, middel en einde” (Brüm-mer 2011) en Kamfer het skynbaar reeds geweet watter gedigte waar gaan kom, selfs nog voordat hulle geskryf is (Bezuidenhout 2011). Die bundel sentreer rondom die fiktiewe dor-pie Klippenkust en sy inwoners. Alhoewel Kamfer volhou dat Klippenkust “enige plek kon gewees het waar mense vandaan kom” (Brümmer 2011), is dit heel waarskynlik geskoei op

88

die Overbergse kusdorpie Skipskop. Naas die kontekstuele gegewens, bedank Kamfer im-mers in die periteks, spesifiek by die “erkennings”, haar Overbergse familie en Skipskop by name. Dié vissersdorpie, wat ook ’n aktiewe boeregemeenskap gehuisves het, is in die mid-del tagtigerjare ontruim om as weermagbasis en missieltoetsbaan gebruik te word. Onder die destydse groepsgebiedewet is die bevolkingsgroepe van die gemeenskap na verskillen-de areas in die nabygeleë Bredasdorp en omgewing verplaas (Ekermans 2004). Hierdie historiese gegewe gee aanleiding tot David Kramer se bekende liedjie “So long Skipskop”, wat ook in die bundel aan bod kom, en Marius Swart se gedig “Skipskop” (opgeneem in

Nuwe Stemme 4).

Die bundel se fiktiewe karakters is nie net inwoners van Klippenkust nie, maar strek ook tot in die leefwêreld van die see met singende meerminne, hardkoppige haaie en vergane ske-pe. Die ondersese gedigte is volgens Anker (2011) nie ’n baie sterk reeks nie en die lengte van die verse ondermyn soms die humor daarvan. Die “gaan”-reeks word ook deur Anker (2011) as van die swakker verse beskryf, so ook die verse met woordspeletjies. Hierteenoor het Anker (2011) groot lof vir die reeks wat aansluit by die titel “grond” en meen hy “Kamfer span die woord ‘grond’ so styf en wyd deur die bundel dat dit oral begin vibreer en resoneer” (Anker 2011).

3.3.2.2 Taalsituasie

In grond/Santekraam verbreed die taalsituasie aansienlik. Naas Kamfer se eie teen-taal of mengelmoes bestaande uit Standaardafrikaans, die gesproke taal en die Kaapse elemente van Noudat slapende honde, brei die taalspektrum in haar tweede bundel uit na Nederlands, Arabies, die Overbergse streeksdialek en selfs populêre Afrikaanse musieklirieke wat spottenderwys ingesluit word. Dié verruiming het natuurlik sterk kulturele en politieke ondertone.

Die ontstaansgeskiedenis van Afrikaans word betrek met die insluit van twee belangrike taalinvloede soos Nederlands en Arabies. Naas Nederlands is taalkundiges dit eens dat tale soos Maleis, Portugees, inheemse tale, Arabies, Duits en Frans bygedra het tot die ontstaan van Afrikaans as spreektaal (vergelyk Carstens 2013 en Odendaal 2012). Die kontaktale het nie net bygedra tot die uitbreiding van die Afrikaanse woordeskat nie, maar ook die vereenvoudiging van die Nederlandse grammatika ter wille van verstaanbaarheid (Carstens 1992:100). Carstens (1993:131) meld dat Arnoldus Pannevis op 7 September 1872 met sy

89

brief aan die publikasie De Zuid-Afrikaan gepleit het om die vertaling van die Bybel na “Afri-kaansch” ter wille van “het geestelijk heil van de gekleurde bevolking van dit land” en bewerkstellig sodoende skynbaar die begin van Afrikaans as skryftaal. Gesien in die lig van die latere uitsluitende instrument wat Afrikaans in en met die oploop tot apartheid geword het, is dit ironies dat die taal as geskrewe vorm (wat dus ’n groter status geniet, vergelyk Carstens 1993:131) juis ter wille van die bruin/swart sprekers ontstaan het. Ander studies dui egter aan dat die eerste vorm van geskrewe Afrikaans eintlik aan die eertydse bruin gemeenskap aan die Kaap toegeskryf kan word. Kotzé (2007) toon aan dat daar ’n verband tussen die klank- en uitspraakverskynsels van Arabiese tekste – geskryf tussen 1850 en 1900 – en gesproke Afrikaans bestaan. Die vroegste geskrewe Afrikaanse tekste wat in Arabies verskyn het, is die “Betroubare woord van Isjmoeni” (in Arabies Alqauli l-matin, skrywer onbekend) asook Sjeg Abu Bakr se “Uiteensetting van die godsdiens” (in Arabies

Bayanu ddin), albei geskryf in 1856 en onderskeidelik in 1952 en 1979 na die Romeinse

alfabet getranslitereer deur Van Selms (Kotzé 2007:112). Carstens korrigeer later bogenoemde stelling van hom en dui aan dat geskrifte in Arabies-Afrikaans in der waarheid die eerste geskrewe vorm van Afrikaans was (Carstens 2013:28). Ook Davids (1987) is van mening dat Afrikaans as omgangstaal en sogenaamde “kombuistaal” al sedert so vroeg as die sewentiende eeu onder “nie-blankes” aan die Kaap gebruik is. Afrikaans word gevolglik sedert die vroegste tye met die bruin sprekersgemeenskap geassosieer, alhoewel dit nie histories aan hul ‘toegeken’ is nie.

Deur geskrewe Arabies en Nederlands in die bundel te kombineer, ontsluit Kamfer eintlik allerlei taal- en identiteitsdebatte. Dit spreek veral tot die tema van onteiening – deur histories die blanke ontstaansgeskiedenis van Afrikaans te belig, is die bruin Afrikaanse gemeenskap eintlik van hul stem, hul seggenskap en deels van hul identiteit ontneem.

3.3.2.3 Vertaling na Nederlands

Gegewe Anker (2011) se uitspraak omtrent die belangrikheid van ‘grond’ as tematiek in hierdie bundel, is dit vreemd dat die Nederlandse vertaling die woord “grond” uit die titel weggelaat het en slegs die Nederlandse vorm “Santenkraam” gebruik het. Dit kan myns insiens waarskynlik toegeskryf word aan die Nederlandse vertaling van die tweede gedig, getiteld “grond” (12), na “land” (13). Die verknogtheid aan die aarde en die stryd om grond-gebied, ’n belangrike tema in die bundel, word moontlik nie bevredigend deur die woord

90

“land” uitgebeeld nie en is daarom weggelaat, óf is dalk nie ’n konsep waarmee ’n Neder-landse lesersmark op dieselfde vlak kan identifiseer as Afrikaanse lesers nie. Verder het die Nederlandse vertaling op die voorplat ’n afdruk van ’n brander wat op indrukwekkende wyse teen ’n rotsagtige kus breek – dit beeld die fiktiewe pleknaam Klippenkust uit. Dit is egter nie rotse (of klippe) waarteen die brander breek nie, maar dolosse. Met die gebruik van hierdie kunsmatige breekwatertegniek in plaas van werklike rotse, word die kunsmatigheid van die Nederlandse fokus op enkele, minder sterk, temas in die bundel myns insiens onbe-doeld verder versterk. Net soos met die titel, vind daar met die wysiging van die omslag ’n klemverskuiwing en betekenisvernouing van die bundel se interpretasiemoontlikhede plaas. Die lokteks op die agterplat sonder die gedigte oor die “verjaagde inwoners” van Skipskop en die “persoonlijke gedichten” van die bundel uit en skuif ook daarmee die grond-tema opsy. Hierdie wysigings sou vanuit ’n hooks-benadering as die redigering en versagting van gemarginaliseerde kuns sodat dit knusser by die sentrum se lesersmark inpas, geïnterpre-teer kon word. Alhoewel daar toegegee moet word dat daar by vertaling dikwels groot afwyk-ings van die bronteks kan voorkom, dink ek dat ’n ingeligte Nederlandse leser wat belangstel om Kamfer se bundel te koop, juis dié leemte sou opmerk.