• No results found

3.2 Ronelda Kamfer en bell hooks

3.2.2 Die Afrikaanse literêre sisteem

Een van kontekste wat vir hierdie studie gekarteer kan word, is die Afrikaanse literêre sis-teem in terme van die breër Suid-Afrikaanse literêre landskap én met verwysing na bepaalde subsisteme wat in Afrikaans bestaan. Soos te wagte kan wees, verander hierdie sisteem mettertyd aansienlik, gegewe die sosio-politiese konteks van die land. Aangesien verskeie ander studies die sisteem en veral kanonisering bestudeer (sien Bonthuys 2016, Van Coller 2015, Foster 2015, Willemse 2015 Kleyn 2013, Odendaal 2010, Adendorff 2002, Van Coller 2001), word hier slegs opsommend te werk gegaan.

3.2.2.1 Die kanon

In die sentrum van die Afrikaanse sisteem is die sogenaamde “Literatuur” met ’n hoofletter ‘L’ en die “Kanon” met ’n hoofletter ‘K’ (vergelyk Kleyn 2013:25 en Bonthuys 2016:60). Peri-tekstuele gegewens soos herskrywings, uitgewerspraktyke, mediapraktyke, prystoeken-nings en institusionele praktyke sowel as tekstuele gegewens soos intertekstualiteit, paro-diëring (van ander skrywers en tekste), verwysings en aanhalings en die aansluiting by ’n tradisie word deur Van Coller (2001:67-69) as faktore geïdentifiseer wat die kanonisering van tekste beïnvloed. Histories gesproke voldoen die tekste wat tot die kanon hoort, aan bepaalde vereistes: dit voldoen aan bepaalde estetiese maatstawwe, soos die “beste” of die “mooiste” Afrikaanse gedigte, dié van “suiwer skoonheid” (vergelyk Willemse 2015:76-77); dit belig veral die heteroseksuele, manlike, patriargale perspektief (Bonthuys 2016:27 in ’n opmerking oor Loftus Marais se uitdaging van die kanon) en is deur blanke-beheerde uitge-wers en hekwagters bestuur (Kleyn 2013:52; Foster 2015:6). Van Coller (2011) bevestig dat sowel herskrywers (kritici én skrywers) en hekwagters as kanoniseerders optree en daarom die “beskermers van die kanon én van die sisteemkern” is.Indien bruin/swart skrywers hul werk aan hierdie uitgewers sou voorlê, is dit dikwels afgekeur omdat dit nie aan die estetiese maatstawwe van die gekanoniseerde literatuur voldoen nie, verduidelik Foster (2015:7) in ’n referaat getiteld “Swart Afrikaanse poësie” gelewer by die Letterkunde Ondersteunings-komitee se jaarlikse simposium.

Willemse (2015:73) voer in “’n Inleiding tot die buitekanonieke Afrikaanse kulturele praktyke” in Perspektief en profiel (2016) aan dat daar gevolglik in Afrikaans (net soos in alle letterkundes) ’n aantal buitekanonieke sfere bestaan wat nie aan, onder meer, die “politieke en literêr-tegniese sensuur” van die kanoniseringsproses voldoen nie. Hy dui aan dat dié proses regstreeks verband hou met sosiale beheer, mag en kulturele (re-)produksie

55

(Willemse 2015: 73-75). Volgens Willemse (2015:73) dra die buitekanonieke korpus ook by tot die begrensing van die kanon en erken ’n ondersoek na die buitekanonieke praktyke die meerstemmigheid van die Afrikaanse literêre sisteem. Drie buitekanonieke afdelings word deur Willemse (2015:80) identifiseer: Die literatuur van die gemarginaliseerdes (veral met verwysing na die werke van swart/bruin skrywers), die populêre literatuur en die orale tradisie. Foster en Viljoen (1997) en Cochrane (2007) verbreed dié spektrum deur gay en werkers-klasliteratuur as gemarginaliseerd te ag. Van Niekerk (2015:3) voer ook aan dat die vroueskrywer “dikwels gemarginaliseer of onbevredigend gekanoniseer is”. hooks (1990) dui aan dat swart vroue in die VSA dubbeld gemarginaliseerd is weens hul gender en hul ras.

Met die opkoms van die postmodernisme en die gepaardgaande belangstelling in gemargi-naliseerde tekste is hierdie werke toenemend besig om na die sentrum te skuif (Foster en Viljoen 1997). Ook die verandering in die sosio-politieke klimaat sedert demokratisering be-ïnvloed die samestelling van die Afrikaanse kanon (Van Coller 2016). Kleyn (2013:33) ver-wys na Rigney (2006) se “kompartemente van die kanon” om die voortdurende wisselwerk-ing tussen die sentrum, die sogenaamde oorgangsone en die periferie uit te beeld. Tekste wat voorheen op die periferie van een sisteem was, kan byvoorbeeld na die sentrum van daardie sisteem of na ’n ander sisteem skuif – dit sluit aan by Even-Zohar (1990:14) se waarneming dat daar nie slegs een sentrum en periferie bestaan nie.

Ten spyte van die opdatering van afdelings uit Perspektief en profiel, is die resepsie van resente tekste wat voorheen as buitekanoniek beskou kon word, nie bygewerk in Willemse (2015) se opstel nie. Hy sou kon argumenteer dat die gunstige ontvangs van Kamfer se debuut toegeskryf kan word aan die elastisiteit van die kanon. Dit sou ook geïnterpreteer kon word as die verruiming van die kanon om die nuwe generasie – die “rockster-digter” – soos deur Bonthuys (2016:64-65) beskryf, in te sluit. Hierdie term, ontleen aan ’n artikel van Nieuwoudt (2009) met verwysing na Ronelda Kamfer en die aansluiting by Loftus Marais se gedig “Die digter as rockstar”, dui reeds op die vervaging van die vorige grense tussen sogenaamde hoë en lae kultuur of die populêre en hoë letterkunde (vergelyk Bonthuys 2016:27; Kleyn 2013:29).

56 3.2.2.2 Uitgewers

Een van die groot rolspelers in die Afrikaanse literêre sisteem is die uitgewers wat tot ’n mate as hekwagters dien. Ter illustrasie van hoofstroomuitgewerye se pre-1994 invloed as hekwagters, kan Foster (2015:6-7) se voorbeeld van Tafelberg-uitgewers betrek word. Struggle-poësie is by geleentheid deur Tafelberg-uitgewers se redakteur Charles Fryer as “sonbesiepoësie” afgemaak omdat dit “inhoudelik te eentonig of eenselwig was en dus es-teties onaanvaarbaar”. Onder leiding van die struggle-digter en predikantskrywer Patrick Petersen het swart digters alternatiewe publikasiemoontlikhede gesoek en gevolglik is talle klein en/of alternatiewe uitgewerye soos onder meer Prog, Domestica, Blac Publishers en Kampen gestig (Foster 2015). Bewegings soos die swart Skrywersimposium, waarvan die eerste byeenkoms in 1985 gehou is, is ook ’n uitvloeisel van dié skrywers se weerstand teen ’n onderdrukkende bestel (Willemse 2007:205; Foster 2015:7).

In enkele artikels ondersoek Cochrane (2001), Barnard (2007) asook Galloway en Venter (2005) onderskeidelik die tendense en veranderings in die plaaslike en internasionale uitge-wersbedryf. Galloway en Venter (2005:58) bevestig dat die sosio-politieke klimaat ná 1994 ’n invloed op die Afrikaanse boekebedryf gehad het. Te midde van die inperking van Afri-kaans as ampstaal en gepaardgaande verkleining van sy formele funksies, ondersteun die Afrikaanse leser die boekemark en styg verkope. Die algehele insinking van die boekebedryf kon egter nie hierdeur gestuit word nie (Klein 2013:45).

Cochrane (2001) voer ook aan dat die Suid-Afrikaanse uitgewersbedryf deel is van en beïnvloed word deur die breër Suid-Afrikaanse sosio-politieke en ekonomiese kontekste. In sy studie stel hy swart en gay skrywers as minderheidsgroepe voor en ondersoek hy as gevallestudies die uitgewers Kwela en Homeros wat geskep is om publikasiegeleenthede vir hierdie groepe te bewerkstellig. Dit word onderstreep dat hierdie uitgewerye nie politieke agendas propageer nie, maar bloot ’n platform is wat gerig is op spesifieke (gemarginali-seerde) groepe met die doel om aan hulle ’n stem te gee (Cochrane 2001:8). Myns insiens sal die bestaan van hierdie uitgewershuise volgens hooks ’n sinvolle bydrae kan lewer tot die opheffing van die kulturele onderskeid tussen die sentrum en marge en bestaan die potensiaal dat die gemarginaliseerde se skryfwerk en ongehoorde stem tot volle reg sal kom, aangesien dit nie deur hekwagters gevorm word om by ’n gestandaardiseerde, wit hoofdiskoers in te pas nie. In hierdie opsig verskil die hedendaagse Suid-Afrika se viering

57

en omarming van diversiteit op kulturele en literêre vlak daadwerklik van die VSA-konteks wat hooks (1990) in haar essays uiteensit23.

Barnard (2007) toon aan dat die internasionale boekemark besig is om te krimp weens ’n kwynende leserspubliek en remmende ekonomiese omstandighede. Suid-Afrika se lae op-voedingspeil, hoë werkloosheidsyfer en klein lesersmarkte plaas uitgewers in die Afrikaanse nismark in ’n moeilik posisie. Die waarde van uitgewers soos Kwela en Homeros word dus op prys gestel omdat hul teenwoordigheid aanleiding gee tot meer publikasiegeleenthede in Afrikaans, ongeag die uitdagende omstandighede (Cochrane 2001). Daar sou myns insiens gespekuleer kon word of die sosio-maatskaplike tematiek en die sogenaamde andersheid van die voorheen gemarginaliseerde stemme wat nou by hierdie uitgewershuise publiseer, dalk bydra tot die behoud van hierdie huise ten spyte van toenemende ekonomiese uitdagings. Alhoewel die insluiting van bruin/swart skrywers nie noodwendig tot regstreekse finansiële sukses lei nie, beskik hierdie uitgewershuise oor sogenaamde sosiale/simboliese kapitaal weens hul skrywers.

Ten spyte van die verkleining van die boekemark argumenteer Kleyn (2008:101) in haar studie “’n Ander bestekopname van die Afrikaanse poësie, 2004-2007” dat dit sedert 2004 “besonder goed gegaan het met die Afrikaanse poësie, vergeleke met die benarde posisie waarin dit ’n paar jaar tevore was”. Sowat 182 digbundels is in dié tydperk (2004-2007) gepubliseer, 76 daarvan deur hoofstroomuitgewers (Kleyn 2008:101). Naas ’n hernude be-langstelling in ouer digters en talle heruitgawes van werke van byvoorbeeld Eugène Marais, NP van Wyk Louw en Ingrid Jonker, verskyn daar ook enkele versamelbundels, bloemle-sings en digdebute (Kleyn 2008:102, 108-109). Talle selfpublikasies of debute by kleiner en/of nuut gestigte uitgewers sien ook die lig, alhoewel die kwaliteit van hierdie werke soms bedenklik is (Kleyn 2008:102, 107). Die Nuwe stemme-bloemlesings (1997; 2001; 2005; 2010; 2012; 2017) wat ten doel het om aan jonger, ongepubliseerde digters ’n publikasie-geleentheid te bied, word as ’n interessante verskynsel beskou – alhoewel daar debute uit hierdie projek spruit, is daar meer debutante wat nie aan dié projek gekoppel word nie (Kleyn 2008:109-110). ’n Projek met ’n soortgelyke oogmerk, is die Versindaba-bundels wat jaarliks van 2005 tot 2010 deur Protea Boekhuis uitgegee is. In ’n resensie oor Versindaba 2010 vergelyk Crous (2011) hierdie versamelbundel met die voorprente wat in ’n filmteater draai.

23 hooks se filosofie vertak in die laat-1990’s organies in die rigting van die pedagogiese filosofie. Sy skryf nie verder oor rasse-ongelykheid anders as in hierdie konteks nie en daarom is meer resente uitsprake nie beskikbaar nie.

58

Die Versindaba-samestellers plaas gewoonlik een of twee nuwe gedigte van gevestigde digters (dus verse wat binnekort in hul eie bundels gaan verskyn) naas die gedigte van nuwe digters. Aangesien die kombinasie nie heeltemal suksesvol is nie, stel hy voor dat ongepu-bliseerde werke van sowel nuwe as gevestigde digters eerder opgeneem moet word om “die bundel nog meer van ’n versamelstuk” te maak (Crous 2011).

Viljoen (2011:32) beaam dat Afrikaanse digters steeds volop publikasiegeleenthede het. Volgens Viljoen (2011:32) is daar naas die toeganklike uitgewersmark ook ’n “robust literary system in which their work will be reviewed, discussed, awarded, canonised and introduced into the school and university syllabuses”. Dit wil voorkom of digters hierdie geleenthede benut. Die poësiepublikasies tussen 2000 en 2009 toon ’n ryke diversiteit en word as ’n “vibrant body of work” beskryf (Viljoen 2011:32). Sy erken wel dat die Afrikaanse poësie steeds meer geïsoleerd is en tot ’n mindere mate kan skakel met die breër Suid-Afrikaanse en internasionale sisteme as byvoorbeeld die Afrikaanse roman, maar voer aan dat digters op innoverende wyse hierdie gaping oorbrug (Viljoen 2011:32). Naas skakels met die Lae Lande (vanweë taalooreenkomste) bewerkstellig digters bande met ander letterkundes met behulp van intertekstuele verwysings (Viljoen 2011:31, 32). Hiermee word hulle deel van ’n breër skrywersgemeenskap, put hulle inspirasie uit meer oorde en word daar aangetoon dat die digter wyer lees as nét Afrikaans (Viljoen 2011:31).