• No results found

3.2 Ronelda Kamfer en bell hooks

3.2.3 Die swart Afrikaanse letterkunde

Van Wyk (2008) vind elemente van Valda Jansen se poësie en Adam Small se werk in Kamfer se debuut en plaas haar met hierdie waarnemings in die tradisie van die swart Afrikaanse letterkunde. Ook Hans Ester (2009) plaas in die resensie “Ronelda S. Kamfer: een nieuw dichterlijk geluid” vir Kamfer vierkantig in die swart Afrikaanse skrywerstradisie met die stelling: “een onmiskenbaar nieuw poëtisch geluid in het Kaaps, de in de Kaap gesproken variant van het Afrikaans, komt nu en echter uit de pen van de dichteres Ronelda S. Kamfer.” Hoewel daar ook ander sfere is waarin Kamfer se werk bestudeer kan word, is die mees voor die handliggende subsisteem waarskynlik dié van die swart Afrikaanse let-terkunde.

Enkele lesings is al deur gevestigde akademici onderneem waarin die Suid-Afrikaanse kon-teks met Kamfer se werk verbind word (of omgekeerd). Louise Viljoen het ’n gaslesing by die Universiteit Leiden aangebied getiteld “Ronelda Kamfer: Die teks binne die konteks”

59

(2011). In ’n lesing getiteld “Purity and creolisation in post-apartheid Afrikaans culture and identity” vir die Universiteit Stellenbosch se Stellenbosch Forum het Van der Waal (2012) die veranderende konsepte “Afrikaanse kultuur en identiteit” aan die hand van ’n gedig van Kamfer geïllustreer. Botes (2012) onderneem ook ’n analise van Kamfer se werk binne die kader van die swart Afrikaanse poësie en plaas dit in die Deleuze-Guattariaanse mineur-letterkunde.

Hein Willemse se Aan die ander kant (2007), asook Foster (2015), Coetzee (2002) en enkele ander studies word betrek in hierdie kort oorsig van swart Afrikaanse skryfwerk. Alhoewel dié tradisie skynbaar begin met die digdebuut van S.V. Petersen in 1944, wys Willemse (2007:12) daarop dat dit ’n “mistasting (is) om te dink dat swart Afrikaanssprekers nie van vroeg af aan hulle verhouding tot die Afrikaans, die opkomende Afrikaner-kultuur en Afrikaanse letterkunde geformuleer het nie”. As voorbeeld noem hy die rubriekskrywer Piet Uithalder met sy “Straatpraatjes” wat in die tydskrif Afrikaansche Politieke Organisatie (A.P.O.) van 1909-1922 verskyn het (Willemse 2007:66). Uit Willemse (2007) se artikel kan daar myns insiens afgelei word dat bruin/swart Afrikaanse skrywers al sedert die vroegste publikasies as gemarginaliseerdes vanuit ’n marginale ruimte skryf. Die straat is ’n marginale ruimte van waar Uithalder in ’n teen-taal oor marginale onderwerpe soos sogenaamde straatstories skryf.

Dit wil voorkom S.V. Petersen en later P.J. Philander aanvanklik slegs deur een literêre kritikus, Rob Antonissen, sonder voorbehoud tot die Afrikaanse kanon gereken is, terwyl ander kritici ’n “subtiele afstand” handhaaf (Willemse 2007:44). Met die toetrede van Adam Small in 1957 is Antonissen egter minder ingenome, aangesien sy verse in ’n sogenaamde “Kaapse werkersklasregister” geskryf is en waarvan, in die woorde van Antonissen (soos aangehaal deur Willemse), die “sprekers in die meeste gevalle kleurling-‘skollies’ [is] en dié se idioom is ’n Afrikaans deurspek met Engels” (Antonissen 1964, aangehaal in Willemse 2007:45). Willemse (2007:45) meen dat hierdie negatiwiteit jeens Small daartoe gelei het dat Small met sy derde en vierde bundels, Kitaar my kruis (1961) en Sê sjibbolet (1963), nie soos sy voorgangers assimilerend (om hooks se terminologie te betrek) te werk gaan en “knus in die heersende Afrikaanse literêre diskoers” inpas nie. Gegewe die tydsgees is dié publikasies in die Kaapse spreektaal volgens my ’n doelbewuste gebruik van ’n teen-taal om in ’n weerstandsdiskoers kritiek te lewer teen die heersende (wit) bestel. Dit is dus te verstane dat kritici soos Antonissen in ’n tyd van taalpurisme en Afrikanernasionalisme ont-luister sou voel deur ’n kritiese stem uit die marges wat in ’n teen-taal skryf oor onderwerpe

60

wat skynbaar ook tot die marges hoort. Willemse (2007:45) betoog verder: “In die hiërargie van die ‘Afrikaanse letterkunde’ word swart Afrikaanse skrywers gemarginaliseer, en dan nie altyd net op grond van die literêr-tegniese samehang van hulle tekste nie.” Willemse (2007) se mening dat die bydrae van die swart skrywer tot die Afrikaanse literatuur histories gesproke geringskat word weens ’n verskeidenheid faktore, sluit myns insiens aan by hooks se waarnemings dat die sisteem die sogenaamde Ander in terme van die wit-beheerde sisteem definieer. Gevolglik sal tekste wat deur die gemarginaliseerde Ander geproduseer word en waarvan die taal en styl afwyk van die sentrum se norm, noodwendig deur die sentrum geredigeer en gewysig word totdat dit geassimileer, óf opsygeskuif word tot die marges. Willemse (2007:45) is van mening dat swart skrywers histories gemarginaliseer is as gevolg van “beperkte opvattings oor genre- en kunsskepping [en dus is] die aandeel van swart mense as volwaardige kunsskeppers gelegeer tot die marge.”

Met verwysing na die tydperk 1944-1982 beaam Coetzee (2002:149) dat die swart Afri-kaanse letterkunde histories gesproke nie saam met hoofstroom-letterkunde gelees of geklassifiseer is nie, hoofsaaklik weens die geloof dat daar by die beoordeling van “hierdie soort skryfwerk ander kriteria [sou] geld”. Alhoewel dit ’n uitvloeisel van dié sisteem is, was die bedoeling skynbaar nooit dat daar twee aparte letterkundes moes bestaan nie (Coetzee 2002:149). Hierdie histories waarneembare ontstaan van ’n sogenaamde aparte letterkunde in die Afrikaanse sisteem stem ooreen met hooks se waarneming dat die kuns van die marge dikwels nie volgens die (wit) hekwagters gelykwaardig is aan die kuns van die sisteem nie en daarom gemarginaliseer word.

In sy ondersoek na die buitekanonieke Afrikaanse letterkunde, rig Willemse (1999:3-21) hom veral op die bespreking van die Afrikaanse kanon aan die hand van prominente poësie-bloemlesings. Weens sensuur en ander wetlike en sosiale beperkinge wat met die apart-heidstydperk in Suid-Afrika saamhang, ontstaan daar ’n geselekteerde Afrikaanse poësie-kanon wat werke deur bepaalde groepe (onder meer swart Afrikaanse skrywers) uitsluit (Willemse 1999:5). Dié tekste word gevolglik as buitekanoniek geklassifiseer. Hierdie buite-kanonieke werke het as hoofkenmerk dat dit in ’n “aktiewe verhouding met die eietydse sosiale omgewing gestel” is en dat “sosiaal-politieke aangeleenthede voorrang geniet” (Willemse 1999:11). Die gedigte is hoofsaaklik deur swart skrywers van die Kaapse Skier-eiland geskryf in die tydperk 1977-1990 in weerwil van die verswarende politieke omstan-dighede in Suid-Afrika (Willemse 1999:11). Faktore soos die Soweto-jeugoptogte van 1976,

61

die invloed van die swartbewussynsbeweging en vergrote politieke bewustheid lei waar-skynlik tot hierdie bloeitydperk (Willemse 1999:11; Coetzee 2002:152). Ook sluit ander be-namings vir die buitekanonieke tekste geproduseer deur die groep swart skrywers in die tydperk 1977-1990, in: strydpoësie, struggle-literatuur, politieke weerstandpoësie en Kaap-se Vlakte-(struggle)-poësie (Foster 2015:3).

’n Verdere kenmerk van die struggle-poësie is dat dit dikwels nie in Standaardafrikaans geskryf is nie, maar in die taalvariant Kaaps. Anders as die feit dat die geskrewe vorm afgelei word van die gesproke vorm en foneties geskryf word om die uitspraakvariasie te akkommodeer, blyk die redes vir die gebruik van Kaaps volgens die kenners hoofsaaklik polities van aard te wees. Enersyds is Standaardafrikaans as die taal van die onderdrukker geïdentifiseer en is Kaaps dus as alternatiewe taalvorm en as verset ingespan; andersyds kan die gebruik van Kaaps ook as ’n herappropriëring van Afrikaans gesien word (Coetzee 2002: 152; Willemse 1995:197-198). Die nosie van Kaaps as ’n weerstandtaal wat verset teen die hoofdiskoers aandui en eie is aan ’n gemarginaliseerde groepering, sou ook myns insiens in die lig van hooks se teoretisering gelees kon word – Kaaps is duidelik in hierdie konteks as teen-taal ingespan om die Standaardafrikaanse hoofdiskoers te ontluister. ’n Skrywer wat veral bewus was van taal as ’n veeldoelige instrument, is struggle-digter Patrick Petersen. Naas sy aktiewe bydrae tot alternatiewe uitgewerye soos Prog en Domes-tica (soos reeds genoem), was Petersen ook te vinde vir die gebruik van alternatiewe taalvorme as merker van swartheid en die gepaardgaande aparte hantering van die werk van swart digters. Hy is veral gekant teen die idee dat swart ’n “duplikaat” van wit moet wees en kontrasteer gevolglik swart Afrikaanse poësie en die gekanoniseerde Afrikaanse werke (Foster 2015:7). In die voorwoord tot sy debuutbundel Amandla ngawetu (1985) verduidelik Petersen dat “die afrikaans wat in hierdie bundel bedryf word, word ’n krag van afrika tot bevryding. in hierdie sin behoort die mag aan ons.”24 Die alternatiewe uitgewerye waarby Petersen onder meer betrokke was, het veral gefokus op die uitgee van versamelbundels waarin versetgedigte opgeneem is (Foster 2015:6). Titels sluit in Optog (1988), Aankoms

uit die skemer (1988) en Ons kom van ver af (1995).

In die tydperk ná 1994 verander die Afrikaanse literêre sisteem aansienlik. Die afskaffing van apartheid bring verskeie veranderinge teweeg, meen Willemse (2007:201-215), met

62

enkeles wat op hierdie studie van toepassing is: eerstens word Afrikaans deel van ’n groter meertalige sisteem en moet dit met die nege ander inheemse ampstale meeding, met En-gels wat toenemend as lingua franca ingespan word; tweedens is daar ruimer publikasie-geleenthede by hoofstroomuitgewers vir bruin/swart Afrikaanse skrywers, die verkleinde uit-gewersmark ten spyt; en derdens bring die nuwe politieke klimaat ’n herbesinning van iden-titeit tot stand, veral met betrekking tot ras (Willemse 2007:201-215).

Enkele punte van kritiek kan egter teen Willemse (2007) se sieninge geopper word. Die publikasie Aan die ander kant steun hoofsaaklik op sy doktorale proefskrif en ander publi-kasies uit die jare tagtig en vroeë jare negentig. Die taalpolitieke klimaat en posisie van swart Afrikaanse skrywers post-1994 kom eers in die finale hoofstuk aan bod, getiteld “Same-vatting en slot” (bestaande uit bladsye 201-215, terwyl die post-1992-tydperk eers op pagina 205 begin). Die gevolg is dat daar min aandag aan die meer resente swart Afrikaanse poësie geskenk word. Hy sluit slegs ’n bestekopname van publikasies post-94 by die slothoofstuk in, maar geen verdere bespreking van meer onlangse swart Afrikaanse [dig]debute nie. Aangesien Aan die anderkant in 2007 gepubliseer is, is debute soos dié van Kamfer en haar man, Nathan Trantraal (Chockers en survivors, 2013) nie ingesluit nie, maar Willemse se insigte oor onder meer hulle opspraakwekkende publikasies, sou ’n waardevolle bydrae gelewer het tot die diskoers omtrent die bruin/swart Afrikaanse letterkunde. Ook in die heruitgawe van Perspektief en profiel (2016) is Willemse se hoofstuk oor buitekanonieke werke nie opgedateer om die veranderde Suid-Afrikaanse konteks in ag te neem nie. Vir verdere kontekstualisering van die Afrikaanse literêre sisteem ná 1994 moet daar dus na ander bronne gekyk word. Louise Viljoen publiseer in 2001 die artikel “The contestation and renegotiation of gendered space in Afrikaans women’s poetry” in Stilet 13(2), waarin sy aandui dat daar teen 2001 nog geen volledige digbundel deur ’n swart Afrikaanse vroue-skrywer gepubliseer is nie. Hierdie leemte in die Afrikaans poësie duur voort totdat Kamfer in 2005 haar toetrede tot die Afrikaanse literêre sisteem maak en haar debuutbundel in 2008 verskyn. Met die artikel “Swart Afrikaanse vroueskrywers (1995-2007): Nog steeds ’n literêre minderheid binne ’n demokratiese bestel?” ondersoek Neil Cochrane (2008) die posisie van die swart Afrikaanse vroueskrywer in die Afrikaanse literêre sisteem. Ook hierdie artikel dek nie die publikasie van Kamfer se debuut nie, aangesien sy navorsingstydperk van 1995-2007 strek. Cochrane (2008:46) bevind wel dat swart Afrikaanse vroueskrywers in ’n “gun-stiger posisie binne die Afrikaanse literêre sisteem as voorheen” is en dat ’n “navolgbare publikasietradisie” geskep is, maar dat “multidimensionele perspektiewe” nog ontbreek by

63

huidige publikasies. Hy meen ook dat die tyd ryp is vir “die swart vroueskrywer om haar meerduidige stem te laat opklink” (Cochrane 2008:47).

Kamfer se debuut, Noudat slapende honde, verskyn in 2008 en word onmiddellik deur re-sensente en kritici as belangrik geag weens die meerduidige en unieke toevoeging wat dit tot die Afrikaanse sisteem is. In die swart literêre subsisteem word Kamfer daarmee die eerste swart vroueskrywer wat by ’n hoofstroomuitgewer in Afrikaans debuteer. Sy word gevolglik ook ingesluit in ’n latere artikel deur Viljoen, naamlik “Of chisels and jackhammers: Afrikaans poetry, 2000-2009” wat in Current Writing: Text and Reception in Southern Africa 23(1) verskyn. Volgens Viljoen (2011) is dit die bedrieglike eenvoud van die verse, asook die lakoniese, byna uitdrukkinglose digterstem, wat bydra tot die narratiewe inslag en Kamfer by die korpus narratiewe poësie inlyf. Myns insiens word Kamfer se poësie met Viljoen (2011) se uitspraak oopgestel om ook buite die sfeer van die bruin/swart Afrikaanse skrywers gelees te word. Daardeur word die sogenaamde “ander standaarde” (vergelyk Coetzee 2002 se opmerking) wat vir tekste deur bruin/swart Afrikaanse skrywers sou geld, opgehef en kan Kamfer tot die groep digters gereken word wat vertel- of praatpoësie bedryf. Alhoewel dit belangrik is om kennis te dra van Kamfer se belangrikheid in die swart Afri-kaanse poësiesisteem en dit lonend is om Kamfer in hierdie skrywerstradisie te beskou, wil ek in hierdie studie nie myself beperk tot so ’n enkele lees nie – Kamfer wyk immers af van en brei uit op hierdie tradisie. Met haar waarnemersoog en die neerskryf van ander se ver-hale oor die Kaapse Vlakte en (in die tweede bundel) die Overbergse omgewing, meen ek Kamfer sorg vir die “multidimensionele perspektiewe” wat Cochrane (2008) voel ontbreek. Kamfer se werk kan ook vanuit verskeie ander literêre strominge benader word. In ’n para-graaf gewy aan Kamfer se werk, lees Odendaal (2015:324-325) in Perspektief en profiel vir Kamfer as deel van die korpus narratiewe Afrikaanse poësie. Eep Francken (2013) onder-neem ’n postkoloniale analise van Kamfer se gedig “evection notice” (uit grond/Santekraam 2011) en toon daarmee aan dat haar werk ook vanuit hierdie hoek beskou kan word. In ’n honneursskripsie getiteld “’n Feministiese oorsig van die posisie van die bruin vrou na Apartheid soos dit na vore kom in die werk van Ronelda Kamfer” (Hendricks 2014) word ’n feministiese lees van Kamfer onderneem, spesifiek vanuit die hoek van die swart feminisme, soos deur onder meer Monica Coleman, Angela Davis, bell hooks, Audre Lorde en Barbara Smith uiteengesit. In die swart feminisme word kwessies soos ras en klas met genderkwes-sies geïntegreer (vergelyk hooks 1990:160; 163 en Hendricks 2014:17). Die fokus stem dus

64

breedweg ooreen met kwessies wat histories deur swart Afrikaanse digters aangeraak is en in jonger digters soos Kamfer en Trantaal se werk aangespreek word (sien Foster 2015). Net soos Viljoen (2011) toon Botes (2012:251) aan dat Kamfer tot die “nuwe stemme” in die Afrikaanse poësie gereken kan word. By geleentheid noem prominente Afrikaanse poësie-navorsers Kamfer se debuut naas haar wit, manlike (Afrikaanse) eweknieë en word die ver-se ver-selfs gunstig met mekaar vergelyk (sien Crous 2009, Viljoen 2011, Bonthuys 2016:328). In terme van hooks se teoretisering is dit ongehoord dat swart vroue en wit mans op gelyke voet deur die akademie geag kan word. Die feit dat Kamfer saam met Loftus Marais die Eugène Marais-prys vir letterkunde ontvang het, bied ’n ernstige uitdaging tot hooks se argumente omtrent ras en taal.