• No results found

5.2 BETEKENIS VAN ‘N TRANSENDENTALE BENADERING

5.2.2 OORSKRYDING VAN GRENSE EN DIE ONMIDDELLIKE ERVARING

Afgesien van die voorafgaande betekenis van transendentaal beteken die begrip ook “...transcending human experience”; “Beyond experience” [Manser et al. 1984: 405]. Dit impliseer dat iets die grense van die menslike ervaring kan oorskry of te bowe gaan. Volgens Fowler [1952: 892] beteken transendentaal “...not based on experience.” In terme van transformasie kan hierdie begrip die denk en ervaringsveld van rolspelers oorskry. Eerstens omdat dit byvoorbeeld nie voorheen in ‘n spesifieke gedaante verwesenlik moes word nie. Tweedens weens die toekomsgerigtheid daarvan.

Volgens Lekota in [(Nieman 1995: 1)] is transformasie toekomsgerig om ‘n veranderende toekoms te skep. Gevolglik is rolspelers dikwels onseker wat die konsep beteken en wat daarmee bereik wil word [Reinecke 1996: 9]. Die doel van ‘n transendentale benadering is om ‘n gedaanteverandering binne die denk en ervaringsveld van rolspelers soos staatsamptenare, te bring. Dit is vir rolspelers noodsaaklik om hulself onder meer te

vergewis wat die aard, omvang en noodsaaklikheid van transformasie is wat verwesenlik wil word.

Die aard van transformasie vereis van openbare funksionarisse om bewustelik buite hulle denk en ervaringsveld daarna uit te reik. Die doel is om te bepaal wat die proses behels, deel daarvan te vorm en ‘n konstruktiewe bydrae daartoe te lewer. Die oorskryding van grense van die onmiddellike ervaring vereis terselfdertyd van rolspelers om vir wedersydse samewerking na mekaar uit te reik [Naude in (van Zyl 1995: 30)]. Dit vereis ook van openbare funksionarisse om institusionele- en grense van afdelings in openbare instellings te oorskry en met veranderende tendense in ‘n eksterne omgewing tred te hou [van Zyl in (van Eeden 2000: 15)]. Dit is ook noodsaaklik vir die vorming van ‘n geheelbeeld van werksaamhede, wat oor grense van afdelings strek om die agtergrond en globale funksionering van die verskillende komponente van ‘n openbare instelling in verhouding tot ‘n veranderende omgewing te begryp [Guest & Hersey 1997: 21]. Die implikasie is dat indien grense nie oorskry sou word nie, kan met ‘n veranderende omgewing tred verloor word.

Met ‘n transendentale benadering word daarop gewys dat institusionele grense vir die hantering va n vraagstukke in ‘n transformasieproses oorskry behoort te word. Dit is noodsaaklik om onder meer oorsake van probleme te identifiseer, wat nie noodwendig in dieselfde afdelings as die gevolge daarvan voorkom nie [Gericke 2002: 1].

Die uitgangspunt van ‘n transendentale benadering is dat op die minderheid oorsake gefokus behoort te word, wat tot die meerderheid gevolge in ‘n transformasieproses aanleiding gee. In hierdie opsig is die benadering op drie beginsels gebaseer. Volgens Pasmore [1994: 156] is die eerste beginsel dat die minderheid oorsake tot die meerderheid gevolge aanleiding kan gee. Die tweede verbandhoudende beginsel is dat ‘n verandering van die minderheid oorsake, transformasie van die meerderheid gevolge kan meebring. Die derde beginsel, wat uit die tweede beginsel voortspruit is dat slegs die minderheid oorsake, wat tot drastiese gevolge aanleiding kan gee, geidentifiseer behoort te word. Oorsake met enkele en geringe gevolge is van mindere belang, omdat hierdie

benadering op fundamentele oorsake van die meerderheid gevolge gerig is, waarmee ‘n drastiese verskil deur transformasie verkry wil word.

‘n Praktykvoorbeeld hiervan is waar dienslewering aan die gemeenskap by ‘n staatshospitaal tot stilstand gekom het, aangesien teaters tydelik moes sluit omdat operasies weens die nie-beskikbaarheid van chirurgiese handskoene nie uitgevoer kon word nie [Gericke 2002: 1]. Volgens laasgenoemde outeur kon oorsake tot die logistieke afdeling herlei word. Hierdie afdeling het ondoeltreffende dienslewering in die meerderheid afdelings tot gevolg gehad, wat weens onvoldoende voorraadvoorsiening nie doeltreffend kon funksioneer nie. Afgesien van pligsversuim, is redes toegeskryf aan die verandering van ‘n logistieke handstelel na ‘n gerekenariseerde stelsel om die doeltreffendheid van voorraadvoorsiening te verbeter.

Volgens Pasmore [1994: 76] is dit so dat“(n)ew technology may effect every level of a

system...” In die onderhewige geval was rekenaarongeletterdheid en onkunde oorsake

van die probleem. Die implikasie was dat bestellings vir vooraad nie betyds geplaas is nie. Laat bestellings het veroorsaak dat voorraadtekorte ontstaan het. Dit het drastiese gevolge vir doeltreffende dienslewering in die meerderheid afdelings van die hospitaal meegebring [Gericke 2002: 1]. Met “..(a) result (that caused) frustration and conflict in

the whole enterprise” [Dimock & Dimock 1969: 398].

Intergroep konflik weens onvoldoende dienslewering aan ander afdelings, benadeel samewerking tussen afdelings. Dit dra by tot doelwitblokkering van afdelings wat ‘n direkte diens aan die gemeenskap lewer en veroorsaak dat doeltreffende dienslewering aan die gemeenskap nie kan plaasvind nie [Swanda 1979: 479]. In hierdie opsig kan ‘n transendentale benadering tot die transformasie va n dienslewering bydra deur die vernaamste grondliggende oorsake te identifiseer, wat tot die verbetering van dienslewering in die meerderheid afdelings tot gevolg behoort te hê. By implikasie kan samewerking tussen afdelings doeltreffende dienslewering verseker.

In terme van bogenoemde voorbeeld wys ‘n transendentale benadering op ‘n kenmerkende verskynsel van transformasie. Die verskynsel is dat teenoorgestelde resultate, as wat verkry wil word, deur die proses tydelik te weeg gebring kan word. In plaas daarvan dat tegnologiese transformasie byvoorbeeld deur die rekenarisering van ‘n logistieke stelsel die doeltreffendheid van interne dienslewering aan afdelings verbeter het, was die teenoorgestelde die gevolg. In stede daarvan dat dienslewering aan die gemeenskap verbeter het, het dit weens die genoemde faktore tydelik tot stilstand gekom. Met hierdie benadering word uitgelug, waarom teenoorgestelde resultate, as wat verkry wil word, deur ‘n transformasieproses tydelik te weeg gebring kan word. Dit is ‘n normale verskynsel van transformasie en behoort deel van transformasiebestuur van openbare bestuurders in staatsinstellings te vorm [Kyk paragraaf 5.5.2].

Met ’n transendentale benadering kan daar ook vasgestel word dat grense in die denkraamwerke van rolspelers kan voorkom. Hierdie grense behoort oorkom te word, want dit kan byvoorbeeld daartoe bydra dat daar nie met ‘n transformasieproses begin word nie. Daarom is ‘n transendentale benadering op moontlikhede gerig, waarop belemmerende grense moontlik oorkom kan word [Kyk paragraaf 5.3].