• No results found

4.7 ANASTATIESE BENADERING TOT VERNUWING VAN

4.7.2 AARD EN OMVANG VAN TRANSFORMASIE

Die omvorming van die ongewenste toestand tot die gewenste toestand vereis dat die aard en omvang van transformasie vernuwe behoort te word. Transformasie in die algemeen is nie ‘n nuwe begrip nie. ‘n Arabiese filosoof Ibn Khaldun (1332-1406) het reeds in die dertiende eeu daarna verwys [Issawi 1955: 30]. Volgens Smit [1998: 15] behoort die aard van transformasie in die gemeenskap te vergestalt omdat dit op die ongewenste toestand van ‘n gemeenskap betrekking het. Alhoewel transformasie ‘n alledaagse begrip is, verg die aard en omvang daarvan vernuwing in die denke van rolspelers, want by sommige van hulle heers dikwels verwarring oor die bedoeling daarvan [Reinecke 1996: 9]; [Kyk Hoofstuk twee].

In hierdie verband vermeld Schlemmer [1996: 15] dat een van die redes vir die verwarring is dat ‘n gedaanteverandering in die algemeen, geen besondere inhoud aantoon, nie, want dit is nie voorskrywend of beskrywend, wat die aard en omvang daarvan behoort te wees nie. Volgens Coetzee [1999: 4] is ‘n rede waarom verskille oor transformasie tussen rolspelers bestaan, in die aard daarvan geleë. Voorbeelde van die verskillende aard van transformasie is breedvoerig in Hoofstuk twee bespreek.

Alhoewel die aard van transformasie in ‘n anastatiese konteks nie verander nie omdat ‘n ideale toestand in oorkoepelende verband nie verander nie, bestaan daar steeds verskillende soorte transformasie, omdat dit op verskillende gebiede van toepassing kan wees. Om hierdie rede behoort op die aard van transformasie gefokus te word, wat op ‘n spesifieke gebied soos byvoorbeeld ekonomiese bemagtiging of gelyke werksgeleenthede in openbare instellings en die gemeenskap betrekking het.

Die aard en omvang van transformasie is bepalend vir operasionele bedrywighede van openbare funksionarisse [Fourie 1978: 10]. Daarom behoort oor die aard van ‘n gedaanteverandering besin en toepaslik vernuwe te word. Dit is noodsaaklik vir bestaande rolspelers en nuwe toetreders tot ‘n transformasieproses om te weet, wat die aard en omvang daarvan behels.

Alhoewel die omvang van transformasie weens die oorkoepelende aard van ‘n ideale toestand, op alle openbare instellings van toepassing is, behoort die mate wat transformasie in ‘n gemeenskap geverg word die omvang daarvan in ‘n spesifieke konteks te bepaal. In die lig hiervan kan die ana-element van ‘n anastatiese benadering benut word om op die omvang van transformasie te fokus, wat op ‘n spesifieke openbare instelling betrekking het. Dit is ook noodsaaklik om die aard van transformasie met ‘n spesifieke instelling of gemeenskap in verband te bring, omdat die mate wat daar vanaf die ideale toestand afgewyk word, kan bepaal in watter mate transformasie in verhouding tot die ideale toestand noodsaaklik is. Die aard van transformasie verander nie, maar die mate waarin getransformeer behoort te word, verskil van instelling tot instelling. In

paragraaf 4.5 is daar na die veranderende posisies van instellings en die gemeenskap in verhouding tot die ideale toestand verwys.

Volgens Smit [1998: 15] vergestalt die aard van transformasie in die gemeenskap. Dit is waarskynlik so omdat die ongewenste toestand op die gemeenskap betrekking het, waarop die aard en omvang van transformasie van toepassing is. In die lig hiervan behoort vernuwing van transformasie by die ongewenste en gewenste toestand te begin. Die doel daarmee is om te bepaal wat die aard en omvang van transformasie behoort te wees om eersgenoemde- tot laasgenoemde toestand te omvorm.

Met die ana-element van anastaties kan rolspelers op grond van die aard van transformasie, ook die omvang daarvan in ‘n spesifieke instelling bepaal. Dit is ook noodsaaklik om hierdie omvang te vernuwe, deur te bepaal by watter instellings en gemeenskappe transformasie- inisiatiewe uitgevoer gaan word.

Die vernuwing van die aard van transformasie word ook deur die bewegings-element van ‘n anastatiese benadering vereis. Die rede hiervoor is dat die aard daarvan bekend behoort te wees om te bepaal in watter mate transformasie gerealiseer het of nie. Die aard en omvang van transformasie verg vernuwing om te bepaal wat dit behels en onder meer die doel, redes, noodsaaklikheid, sin, betekenis en waarde daarvan te begryp. Die doel van transformasie met ‘n spesifieke aard is om ‘n ongewenste toestand tot ‘n gewenste toestand te omvorm. Gevolglik bepaal die aard van transformasie hoe die ideale toestand bereik sal word.

Dit is noodsaaklik om te verstaan, waarom transformasie van ‘n spesifieke aard in bepaalde gevalle toegepas moet word. Anders kan dit daartoe lei dat rolspelers nie begryp waarom transformasie vir die bereiking van die ideale toestand nagestreef behoort te word nie. In die lig hiervan kan die redes vir die aard en omvang van transformasie op beide die ongewenste toestand en gewenste toestand gebaseer word.

Die aard van transformasie behoort ook vernuwe te word om te fokus op die verskil, wat daarmee in die gemeenskap te weeg gebring wil word. Dit impliseer dat die verskil tussen ‘n ongewenste en gewenste toestand waargeneem behoort te word. Daar behoort ‘n duidelike verskil tussen hierdie toestande te wees, anders kan rolspelers moontlik nie die noodsaaklikheid van ‘n transformasie- inisiatief verstaan nie. Die implikasie hiervan is dat daar moontlik nagelaat word om tot aksie vir die implementering daarvan oorge gaan kan word [Kyk Hoofstuk vyf].

Rolspelers behoort op die essensiële aspekte van die aard van transformasie te fokus, sodat vasgestel kan word in watter mate vordering reeds met die proses gemaak kon word. Daarom behoort daar nie op fasette van mindere belang ten koste van noodsaaklike fasette van die aard en omvang van transformasie gefokus te word nie. Volgens Banning [1959: 101] “(m)en bekommert them zo over het kleinigheden dat they de groten dingen

uit het zigt heef verloren.”

Openbare bestuurders kan die aard van transformasie in hulle denkraamwerke vernuwe omdat die aard daarvan van tyd tot tyd vervaag. Dit kan gebeur indien die proses nie in stand gehou word nie. Volgens Murphy [1981: 183] kan beide ‘n fundamentele en inkrementele benadering gevolg word om die aard van transformasie te vernuwe. ‘n Anastatiese benadering vereis ‘n fundamentele benadering om ‘n oorsigtelike geheelbeeld van die ongewenste en ideale toestand te verkry. Die doel daarvan is om die aard van transformasie met ‘n spesifieke openbare instelling in verband te bring.

‘n Inkrementele benadering kan gevolg word om op gedetailleerde gegewens tydens ‘n indiepte ontleding van die aard van transformasie te fokus. Waar ‘n fundamentele benadering openbare funksionarisse in staat stel om die ondersoekveld oor die aard van ‘n gedaanteverandering te verbreed en terselfdertyd globale leemtes te identifiseer, is die inkrementele benadering van waarde omdat dit ‘n dieperliggende ontleding vereis, in teenstelling met ‘n oppervlakkige benadering [Murphy1981: 183].

Rolspelers behoort ook vir die vernuwing van die aard en omvang van transformasie op die sin, betekenis en waarde daarvan te fokus. Die sin, betekenis en waarde van transformasie behoort begryp te word. Hierdie fasette van die vernuwingsproses vereis dat rolspelers eers behoort te bepaal wat die aard van transformasie behels, voordat op die sin, betekenis en waarde daarvan gefokus kan word. Deur te weet wat die aard van transformasie behels, beteken nie vanselfsprekend dat die sin, betekenis en waarde daarvan vir die gemeenskap duidelik is nie.

Volgens Spier [1972: 26] kan dit gebeur dat indien die verband tussen ‘n onmiddellike werksomgewing nie met ‘n transformasie- inisiatief in verband gebring kan word nie, kan die sin daarvan in terme van ‘n gedaanteverandering na alle waarskynlikheid nie begryp word nie. Gevolglik kan daar nie van ondergeskiktes, verwag word om die sin van ‘n gedaanteverandering te begryp, indien openbare bestuurders dit opsigself nie verstaan nie. In hierdie opsig kan die onmiddellike werksomgewing met die aard en omvang van ‘n transformasie-inisiatief in verband gebring word sodat beide die ongewenste toestand en gewenste toestand asook die aard van transformasie by spesifieke openbare instelling(s) en gemeenskappe duidelik is.

Volgens Frankl [1980: 11] vereis die sin van transformasie met ‘n spesifieke aard, ‘n verandering van lewensingesteldheid van openbare funksionarisse. Dit handel nie slegs oor wat van die gemeenskap vir die realisering daarvan verwag kan word nie, maar hang ook af van wat die gemeenskap van openbare funksionarisse kan vereis. Daarom handel die sin van die aard van transformasie, nie oor wat transformasie persoonlik vir amptenare bied nie, maar ook oor wat die proses van hulself vereis om ‘n bydrae tot die proses te lewer [Frankl 1980: 11].

Deur die sin van die aard en omvang van transformasie in te sien, verstaan mense waarom die proses byvoorbeeld noodsaaklik is. Die sin van die aard van transformasie is relatief. Volgens Giliomee [1998: 11] is dit ondenkbaar om byvoorbeeld behuising aan armes te verskaf om hulle lewensomstandighede te verbeter en terselfdertyd te verwag dat hulle daarvoor moet betaal.

Die aard en omvang van transformasie behoort van betekenis en waarde vir die gemeenskap te wees. Anders dien dit geen doel om die proses in ‘n betrokke gemeenskap na te streef nie. Volgens Canetti in [Small 1995: 15] hang die betekenis en waarde van die aard van transformasie nie van die kompleksiteit of eenvoud daarvan af nie. Die betekenis en waarde van die aard van transformasie is nie eksak nie. Dit is relatief omdat staatsamptenare as individue verskillende waardes aan werksaamhede heg [Du Brin 1984: 199].

Gevolglik kan die betekenis en waarde van die aard van ‘n gedaanteverandering deur rolspelers verskillend interpreteer word. Verskille oor die betekenis en waarde daarvan is egter van mindere belang, solank dit in ‘n toepaslike konteks gesamentlik as dieselfde beskou word. Indien hierdie aspekte nie ingesien word nie, kan vordering in die rigting van ‘n ideale toestand gekortwiek word. Deur betekenis en waarde aan die aard van transformasie te heg, kan hoop vir die nastrewing van die proses laat ontstaan om opnuut in daardie rigting te vorder [Le Roux 1997: 6]. Sodoende kan die posisie van instellings in die rigting van die ideale toestand verbeter word, deur opnuut daarheen te transformeer.