• No results found

Graad 11 – graad 12 Tersiêr N X ¯

8.2.4 Onderhoude, koerantberigte en briewe

Onderhoude met sleutelrolspelers, asook die bestudering van dokumentasie soos koerantberigte het die volgende opgelewer: dr. Elsje Büchner, vroulike leraar werksaam in die Nederduits-Gereformeerde kerkdenominasie (NGK), is die mening toegedaan dat hoewel vroue tot die amp van predikant verkies word, vroue steeds in 'n mindere mate afgevaardig word in besluitnemingstrukture of leierskapsposisies (Die Kerkbode, 12 Augustus 2005:11). Dr. Niemandt, assessor van die Algemene Sinode van die NGK, het in 'n persoonlike e- pos vermeld dat hy geen aanduiding in sy gemeente vind dat die feit dat daar 'n vroulike leraar is, negatiewe oordeel oor haar bediening tot gevolg het nie. Prof. Piet Strauss, moderator van die NGK, het 'n oproep gedoen dat die kerk bewaar moet word in 'n oorgangstyd van regstellende aksies (in Büchner, 2007).

Dominee PA Coetzee, leraar van die Gereformeerde Kerk Potchefstroom, het in 'n geskrewe brief aanduiding gegee dat die kwessie rondom die verordening van vroulike leraars en ouderlinge 'n komplekse saak is en het verwys na die Sinode se besluit van 2009 dat in die lig van die behandeling van die rapport rondom vroue- aangeleenthede, tot die oortuiging gekom is dat die kwessie rondom vroulike ampsdraers verdere ondersoek noodsaak, hoewel geen verdere besluite geneem is nie, derhalwe kan vroue steeds nie in die besondere dienste van predikant en ouderling dien nie. Volgens Bonaventure Hinderwood van Pretoria het pous Johannes Paulus II verklaar dat die Rooms-Katolieke Kerk nie die bevoegdheid het om vroue in die priestersamp aan te stel nie (Burger, 18 Januarie 2003:3).

9. BESPREKING VAN RESULTATE

In hierdie studie is ondersoek ingestel na kerklidmate se houding teenoor vroulike ampsdraers, asook die impak van akademiese kwalifikasie, maandelikse inkomste en gemeentelike betrokkenheid op die houding van kerklidmate. In die huidige ondersoek het die meerderheid respondente ‘n positiewe houding gehuldig teenoor vroulike ampsdraers. Ten spyte hiervan word vroue in verskeie kerke insluitende die Rooms-Katolieke Kerk (Power, 2008), asook die Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika (Meijer, 2009), steeds verhoed om bepaalde ampte te beklee. Tesame hiermee sluit die leraarskorps van die Nederduits-Gereformeerde Kerk slegs 2,58% vroulike leraars in, aldus Büchner (2007). Die resultate van die bogenoemde empiriese ondersoek is dus teenstrydig met die kliniese beeld wat in die praktyk voorkom. In dié verband het ‘n studie deur Nesbitt (1997) getoon dat hoewel respondente van verskeie denominasies in Amerika ‘n positiewe houding teenoor vroulike leraars vermeld, is teenstrydighede aanwesig wat gereflekteer word in onder andere die aanstelling van vroue in poste met ondergeskikte status en salarisse, terwyl beter betaalde poste uitsluitlik vir die manlike leraars gereserveer word. Ten spyte daarvan dat dié bevindinge van die onderhawige studie teenstrydig is met die stand van sake soos dit verband hou met vroulike leraars stem dit ooreen met navorsingstudies wat in Amerika onderneem is (Konieczny & Chaves, 2000; Lummis & Nesbitt, 2000).

Die resultate toon ook dat akademiese kwalifikasie, inkomste (slegs subskaal B), sowel as gemeentelike betrokkenheid ‘n statisties-beduidende invloed op kerklidmate se houding aangaande vroulike ampsdraers uitgeoefen het. Dit beteken die volgende:

ƒ Diegene wat oor ‘n kwalifikasie laer as graad 10 beskik het, het ‘n beduidende laer gemiddelde telling as die ander opleidingsvlakke behaal. Hierdie bevindinge strook met navorsing wat onderneem is in Amerika wat getoon het dat respondente wat oor ‘n hoër akademiese kwalifikasie beskik het, die neiging getoon het om meer positief gesind te wees teenoor vroulike ampsdraers (Barnes, 2006).

ƒ Maandelikse inkomste toon ‘n soortgelyke tendens, maar slegs op Subskaal B. Diegene wat minder as R999 per maand verdien het toon ‘n beduidende laer gemiddelde telling as die ander inkomstegroepe. Volgens Barnes (2006), wat ook die siening van Lincoln en Mamiya (1997) insluit, is die tendens dat maandelikse inkomste positief korreleer met ‘n positiewe houding teenoor vroulike ampsdraers. Die bevindinge van die onderhawige studie bevestig dus hierdie tendens gedeeltelik.

ƒ Daar is ook bevind dat daar hoogs beduidende verskille bestaan tussen kerklidmate met betrekking tot die verskillende vlakke van gemeentelike betrokkenheid soos van toepassing op houding teenoor vroulike ampsdraers. Leraars het oor die algemeen ‘n meer positiewe houding geopenbaar en hierdie houding verskil beduidend van dié van kerklidmate. ‘n Studie deur Swart-Russel (1988) het bevind dat 36% van diegene wat ‘n bepaalde amp beklee het in die gemeente van mening was dat vroue nooit verordineer moet word nie. Dienooreenkomstig het 20% van kerklidmate wat geen bepaalde amp beklee het nie, dieselfde neiging getoon, terwyl 23% van leraars gekant was teen vroue in die amp van leraar of biskop. Hierdie tendens blyk gedeeltelik waar te wees in die onderhawige navorsingstudie. Volgens Cohen se d-waarde het beide opleidingsvlak, asook gemeentelike betrokkenheid ‘n hoogs beduidende praktiese invloed getoon vir die totale skaal, terwyl inkomste ‘n matige praktiese effek op subskaal B getoon het. In die lig van bogenoemde kan die navorsingshipotese gedeeltelik aanvaar word. Hierin is gepostuleer dat kerklidmate statisties-beduidend verskil ten opsigte van demografiese veranderlikes, soos akademiese kwalifikasie, maandelikse inkomste, asook gemeentelike betrokkenheid.

Uit die kwalitatiewe response is bevind dat meer as ‘n kwart van die respondente gevoel het dat vroulike ampsdraers in ‘n mindere mate beroep word weens Skriftuurlike beginsels, terwyl ‘n kwart van die groep gedink het dat partydigheid van die verlede die oorsaaklike rede is hoekom vroulike ampsdraers in ‘n mindere mate beroep word. ‘n Klein minderheid van die proefpersone het geslagsdiskriminasie as die hoofrede beskou hoekom vroue in ‘n mindere mate beroep word, terwyl kulturele voorskrifte as minder belangrik beskou is deur ‘n beperkte aantal respondente. Die minste aantal respondente het die beperkte beroeping van vroue aan die voete van persoonlike tekortkominge van vroulike ampsdraers gelê.

Beide die kwantitatiewe en kwalitatiewe resultate toon dat kerklidmate oor die algemeen ‘n positiewe houding teenoor vroulike ampsdraers huldig. Die geldigheid van die studie, asook van die vraelys wat verwys na ‘n akkurate refleksie van die konstruk onder bespreking, dus houdings, verhoog wanneer beide die kwantitatiewe en kwalitatiewe resultate ooreenstem. Gevolglik word deur die onderhawige navorsingstudie daartoe bygedrae om ‘n meer algemene beskrywende beeld aan die houding van kerklidmate te voorsien. Die resultate van die

onderhawige studie sluit ook aan by reeds bestaande kennis aangaande die teoretiese denkraamwerk waarop die konsep houding gebaseer word. Derhalwe het die studie bygedra om die betroubaarheid van bestaande wetenskaplike kennis te bevestig.

Die meetinstrument wat ontwikkel is, het ten doel gehad om die onderliggende geïntegreerde houdings, wat aanleiding gee tot ‘n spesifieke opinie, te probeer bepaal (Pretorius, 1993). Dit was gebaseer op die kognitief- affektief-konatiewe-model wat bespreek is in die literatuuroorsig. Afdeling D van die meetinstrument se insluiting is gebaseer op die kognitief-konsekwente teorie. Volgens dié teorie word nuwe kognisies op so ‘n wyse geïntegreer dat dit ooreenstem met reeds bestaande houdings (Taylor et al., 2006). Voorts het die onderhawige studie, gebaseer op die ontwikkeling van ‘n geldige en betroubare kwantitatiewe en kwalitatiewe meetinstrument, bygedra tot die uitbreiding van Suid-Afrikaanse wetenskaplike kennis soos van toepassing op die konstruk houdings. Tesame hiermee word die bevindinge van houdingstudies merendeels gebaseer op gegewens bekom deur middel van ‘n semantiese differensiaalskaal bestaande uit enkele bipolêre items. Hierteenoor is ‘n dertig- item Likert-skaal as hoofmeetinstrument in die onderhawige studie gebruik, wat nie net lidmate se kognitiewe- affektiewe-konatiewe response meet nie, maar ook lidmate se houding teenoor vroue in posisies van gesag in die algemeen en spesifiek met betrekking tot gemeentelike aktiwiteite soos prediking. Derhalwe kon die onderhawige studie fynere onderskeid tref tussen lidmate se houding teenoor vroue in posisies van gesag in die algemeen en meer spesifiek teenoor vroulike ampsdraers in die gemeente-opset.

10. GEVOLGTREKKINGS

Daar is met hierdie studie gepoog om ‘n relatiewe onbekende terrein te verken, te wete kerklidmate in Suid-Afrika se houding teenoor vroue as ampsdraers in die gemeente. Die spesifieke doelwit hou verband met ‘n ondersoek na die demografiese veranderlikes wat lidmate se houding teenoor vroulike ampsdraers beïnvloed. Hierdie ondersoek is enig in sy soort in soverre dit die enigste studie is wat vanuit ‘n sosiaal-psigologiese paradigma ondersoek ingestel het na kerklidmate se houding teenoor vroulike ampsdraers. Die noodsaaklikheid van ‘n sosiaal-psigologiese paradigma is geleë in die aanname dat individue oor ‘n stelsel van houdings en waardes beskik waarvolgens hulle gedrag, idees en resultate beoordeel (Jonck et al., 2007). Dus word die kwessie rondom vroulike ampsdraers teen die agtergrond van individuele verwysingsraamwerke ondersoek. Derhalwe is daar aandag geskenk aan die terms houdings, asook waardes vanuit die genoemde paradigma, waarna hierdie twee sosiaal-psigologiese konstrukte belig is vanuit ‘n teologiese benadering.

Die resultate van beide die kwantitatiewe, asook kwalitatiewe meetinstrumente het getoon dat kerklidmate oor die algemeen ‘n positiewe houding huldig aangaande vroulike ampsdraers. Voorts het demografiese

veranderlikes, akademiese kwalifikasie, inkomste, asook gemeentelike betokkenheid lidmate se houdings in dié verband beïnvloed. Betreffende die navorsingsdoelstellings en –hipotese blyk dit dus dat die gestelde doelstellings tot ‘n groot mate bereik is en die hipotese grootliks deur die resultate ondersteun word.

Vir die sosiale psigologie om relevant te wees, moet psigologiese navorsing, teorieë en praktyk aan die samelewing waarin dit beoefen word ‘n diens lewer en veral poog om die fundamentele behoeftes van die samelewing aan te spreek (Viljoen, 1997). Derhalwe moet sosiaal-psigologiese navorsing in ‘n Afrika-konteks relevant wees, aldus Johnson (2006). In hierdie opsig het die onderhawige studie ‘n bydrae gelewer tot die ontwikkeling en navorsing van die konsep houdings op Suid-Afrikaanse bodem, ten einde bestaande wetenskaplike kennis in dié verband aan te vul. Houdings dra veral by tot die ontwikkeling van ‘n verwysingsraamwerk op grond waarvan die individuele kerklidmaat die kwessie rondom vroulike ampsdraers beoordeel. So ook speel houdings ‘n rol in die fasilitering van intrapsigiese konflik wat moontlik kan voortspruit uit die brandpunt rondom vroulike ampsdraers, tesame met die bemiddeling van sosiale interaksie tussen gemeente-lede (Cronje, 2000).

Vanaf 1994 speel regstellende aksie ‘n belangrike rol in die Suid-Afrikaanse gemeenskap. Regstellende aksie sluit pogings in om die werkersmag in Suid-Afrika breedweg verteenwoordigend van die land se bevolking te maak en is veral gerig op vroue (De Beer, 2007). Die posisie van vroue is dus een van die fundamentele behoeftes van die samelewing. In die lig hiervan het die onderhawige studie ook ‘n bydrae gelewer tot bestaande wetenskaplike kennis aangaande die rol van vroue in die geloofsgemeenskap. So ook kan die verordinering van vroulike ampsdraers, met spesifieke verwysiging na vroulike leraars, bydra tot die bekamping van HIV/Vigs, aldus Biskop Purity Malinga, een van Suid-Afrika se invloedrykste vroulike religieuse leiers (City Press, 16 Februarie 2003:8). Aangesien vroue veral kwesbaar is, kan die opheffing van vroue ‘n wesentlike bydrae lewer tot die bekamping van hierdie pandemie. Tesame hiermee is vroulike ampsdraers in sommige gevalle meer geskik om ‘n helpende hand te bied, soos in die geval van verkragting wat ook ‘n fundamentele behoefte van die Suid-Afrikaanse gemeenskap is en ‘n noue verband toon met HIV/Vigs (“Rape Statistics”, 2010). Laastens het die onderhawige studie ook ‘n bydrae gelewer tot die sosiale psigologie se relevansie in die Suid-Afrikaanse gemeenskap.