• No results found

AMPSDRAER IN DIE GEMEENTE

6. DEMOGRAFIESE VERANDERLIKES WAT MOONTLIK ’N INVLOED OP LIDMATE SE HOUDING TEENOOR VROULIKE AMPSDRAERS UITOEFEN

7.3 Die ondersoekgroep

‘n Lys van gemeentes is van die verskillende denominasies verkry waarna individuele gemeentes gekontak is met ‘n uitnodiging om deel te neem aan die studie. Vir sommige gemeentes was die tyd en omstandighede nie geleë vir deelname aan die ondersoek nie. In ander gevalle moes die navorser kerkrade toespreek om toestemming te verkry. In elke geval is ‘n voorbeeld van die meetinstrumente, tesame met ‘n begeleidende brief van die Universiteit van die Vrystaat aan die gemeentes verskaf. Individuele gemeentes in dorpe en stede is ook volgens hul rangorde op die verskillende denominasies se amptelike telefoniese lys gekontak. Die ondersoekgroep het uiteindelik bestaan uit kerklidmate afkomstig van 36 individuele gemeentes wat deel uitmaak van vier kerkdenominasies. Hiervolgens is die individuele kerkgemeentes dus saamgestel volgens ‘n toevallige steekproeftrekking.

Waar moontlik het die navorser persoonlik vraelyste beskikbaar gestel aan kerklidmate tydens oggend- eredienste (vraelyste is uitgedeel by die deur na afloop van die erediens). Kerklidmate kon die vraelys tuis voltooi

en die voltooide vraelys die daaropvolgende Sondag tydens oggend-eredienste terug besorg of by die kerkkantoor aflewer. Kerklidmate is volgens ‘n beskikbaarheidsteekproef geselekteer. Daar is van veldwerkers afkomstig van die Universiteit van die Vrystaat gebruik maak waar die navorser nie self individuele gemeentes kon besoek nie.

Deelname aan die ondersoek het vrywillig en anoniem plaasgevind en respondente kon vraelyste anoniem in houers terug besorg. Alle vraelyste is as vertoulik beskou. Kerklidmate is tydens die oggend-eretienste, waartydens die vraelyste uitgedeel is, deur die leraar van die gemeente ingelig oor die inhoud, uitkoms en doel van die navorsing. Waar moontlik sal resultate aan die verskillende denominasies en individuele gemeentes beskikbaargestel word.

Die populasie, wat verwys na die totale groep elemente waarheen die navorser die bevindinge wil veralgemeen (Heiman, 2004), sluit kerklidmate van die Rooms-Katolieke Kerk, lede van die Nederduits-Gereformeerde Kerkfamilie, wat bestaan uit die Nederduits-Gereformeerde Kerk in Afrika, Gereformeerde Kerk in Afrika en Verenigende Gereformeerde Kerk, asook die Gereformeerde kerk en die Christelike Herlewingskerk in. ’n Steekproef bestaande uit 1 052 kerklidmate afkomstig uit al nege provinsies in Suid-Afrika, is betrek. Hierdie nasionale studie het die volgende stede en dorpe ingesluit: Bloemfontein, Cradock, Durban, Ellisras, George, Gonubie, Johannesburg, Kimberley, Middelburg, Potchefstroom en Stellenbosch. In vyf streke is die hoofstede, wat die Vrystaat (Bloemfontein), KwaZulu-Natal (Durban), Gauteng (Johannesburg), Noord-Wes (Potchefstroom) en die Noord-Kaap (Kimberley) geselekteer. In die Oos-Kaap, Wes-Kaap, Limpopo en Mpumalanga is plattelandse dorpe in die steekproef ingesluit. Weens die grootte van hierdie plattelandse dorpe is daar in sommige gevalle van twee dorpe gebruik gemaak (Stellenbosch en George in die Wes-Kaap; Cradock en Gonubie in die Oos-Kaap).

Van die 4 500 vraelyste wat vir verspreiding aangebied is, is 1 052 ingevorder en gekodeer vir ontleding. Die totaal van 1 052 vraelyste het bestaan uit 326 (31%) van die Nederduits-Gereformeerde Kerkfamilie, 311 (29%) van die Christelike Herlewingskerk, 217 (21%) van die Gereformeerde Kerk, asook 198 (19%) van die Rooms- Katolieke Kerk.

7.4 Meetinstrument

Na deeglike bestudering van beskikbare literatuur is drie hoofaspekte geïdentifiseer te wete lidmate se houding teenoor vroue in posisies van gesag in die algemeen, asook spesifiek in die gemeente-opset en die elemente waaruit hierdie houdings bestaan. Ten einde hierdie aspekte te meet is vrae saamgestel deur die navorser. Vier

afsonderlike loodstudies is uitgevoer onder studente van die Universiteit van die Vrystaat waarna die meetinstrument in ieder geval hersien is.

Ten einde die empiriese doelwitte te verwesentlik is gebruik gemaak van ‘n gestruktureerde vraelys wat vervolgens onder die loep kom, tesame met die betroubaarheid en geldigheid daarvan.

7.4.1. Samestelling van die meetinstrument

Die meetinstrument het bestaan uit ‘n biografiese vraelys, tesame met ‘n kwantitatiewe en kwalitatiewe vraelys. 7.4.1.1 Biografiese vraelys

Die biografiese vraelys (sien Bylaag A), soos vervat in Afdeling A, bevat die volgende inligting wat deur die proefpersone voltooi moes word: geslag, huwelikstatus, ouderdom, hoogste akademiese kwalifikasie, maandelikse inkomste, gemeentlike betrokkenheid, huistaal, bevolkingsgroep, denominasie, asook godsdienstige oriëntasie. Vir doeleindes van hierdie artikel is slegs geografiese ligging, geslag, ouderdom en huwelikstatus statisties verwerk.

7.4.1.2 Kwantitatiewe vraelys

’n Likert-tipe vraelys is aangewend om die verlangde data in te samel. Aangesien daar tans nie ’n meetinstrument is wat lidmate se houding teenoor vroulike ampsdaers meet nie, is een saamgestel deur die navorser, wat bestaan uit die volgende vier afdelings (sien Bylaag B): Afdeling B handel oor algemene vrae en bevat 10 stellings om die proefpersoon se houding teenoor vroue wat posisies van gesag beklee, te ondersoek. Afdeling C, bestaande uit 10 vrae, meet respondente se houding met betrekking tot vroue as ampsdraers in die gemeente met spesifieke verwysing na prediking. In Afdeling D word die respons wat die houding by die proefpersoon ontlok, gemeet ten einde te bepaal of die houding ooreenstem met reeds bestaande houdings. Hierdie afdeling is gebaseer op die kognitief-affektief-konatiewe model en behels 10 items, terwyl die insluiting van hierdie afdeling ooreenkomstig die kognitiewe dissonansieteorie geskoei was.

Vir elke item in die bogenoemde afdelings moes die proefpersoon op ’n vierpuntskaal aantoon in watter mate met die stelling saamgestem of verskil word. Waardes van vier tot een is aan elke responskategorie toegeken, waar vier daarop dui dat die proefpersoon in ’n baie groot mate saamstem met elke stelling. Indien die proefpersoon in ’n groot mate saamstem, word ’n drie gemerk. Dienooreenkomstig word ’n twee of ’n een gemerk indien die proefpersoon in ’n geringe mate saamstem of geensins saamstem nie.

Beide Afdeling B, asook Afdeling D bestaan uit vyf positief- en vyf negatief-geformuleerde vrae. Die negatief- geformuleerde items se skaalwaardes is omgedraai alvorens totale bereken is. Die maksimum-telling wat vir elke

afdeling behaal kon word, is 40 en die minimum-telling 10 met ’n teoretiese gemiddelde van 25. Waardes bokant 25 dui op ’n positiewe houding en waardes laer as 25 op ’n negatiewe houding. Vir die totale skaal is die maksimum-telling wat behaal kon word 120 en die minimum-telling 30, met ‘n teoretiese gemiddelde van 75. 7.4.1.3 Kwalitatiewe vraelys

Volgens Strauss en Corbin (1998) kan kwalitatiewe data bekom word deur middel van onder andere semi- gestruktureerde oop-einde vrae, onderhoude, waarneming, asook dokumentasie soos koerantberigte. Die kwalitatiewe data is bekom deur vyf semi-gestruktureerde oop vrae te stel waar daar van respondente verwag word om kommentaar te lewer. Afdeling E sluit onder andere vrae in soos: “Wat dink u het Paulus bedoel toe hy die volgende in 1 Korintiërs 14: 34 gesê het: ‘Julle vroue moet in die gemeente swyg, want dit is hulle nie toegelaat om te spreek nie,’ waarop daar van die respondent verwag word om hierdie stelling te verduidelik. Onderhoude is ook met sleutelrolspelers gevoer, tesame met die bestudering van koerantberigte.

Beide die ranglys– asook ’n rangordemetode is tydens die opstel van die vraelys aangewend. Die verskil in rangorde– en ranglysvrae behels dat by ’n ranglys-vraag daar van ’n respondent verwag word om verskillende items van 1 tot ’n spesifieke nommer te rangskik, terwyl by ’n rangordevraag die respondent se gevoel fluktueer op ’n kontinuum van 1 tot 4 in samehang met die responskategorieë (Reis & Judd, 2000). Afdeling B tot Afdeling D, wat altesaam uit 30 vrae bestaan, maak gebruik van ’n rangordemetode, terwyl daar in Afdeling E ’n ranglysvraag ingesluit is.

7.4.2 Psigometriese eienskappe

Ten einde die betroubaarheid van die houdingskale vas te stel, is Cronbach se alfakoëffisiënt toegepas. Die interne metingskonsekwentheid van die houdingskale, oftewel Cronbach se alfakoëffisiënt is hoogs betroubaar, met ’n gesamentlike koëffisiënt van 0,86. Tydens die loodsstudie wat onder studente van die Universiteit van die Vrystaat uitgevoer is, is die gesamentlike alfakoëffisiënt van al drie houdingskale op 0,831 bereken, wat op goeie betroubaarheid dui.

Om konstrukgeldigheid te toets, is ‘n metode soortgelyk aan dié aangetoon in Raubenheimer (2004) gebruik. Die vereiste vir konstrukgeldigheid is dat die items in die betrokke skaal beide konvergente en divergente geldigheid moet toon. Elke individuele faktor moet dus uitsluitlik sy eie faktor aandui en nie tergelykertyd ander faktore aandui nie. Vervolgens is ‘n tweefaktor-ontleding gedoen ten einde die drie subskale se gedigheid vas te stel. Die twee-faktor-ontleding het getoon dat 24 van die 30 items oor goeie konvergente en divergente geldigheid beskik.