• No results found

AMPSDRAER IN DIE GEMEENTE

3. NOODSAAKLIKHEID VAN DIE STUDIE

4.4 Geografiese ligging

Geografiese ligging kan beskou word as die tyd-ruimtelike aspek van ‘n spesifieke goed gedefinieerde area, asook die aktiwiteite wat voorkom binne hierdie afgebakende omgewing, tesame met die groeiende invloed daarvan op die samelewing, aldus Henslin (2007).

5. LITERATUUROORSIG

Houdings en wilshandeling wat te kenne gee dat een geslag inherent meerderwaardig en die ander inherent minderwaardig is, word in kerklike kringe geregverdig deur Skrifgegewens oor die plek van vroue in die

gemeente-opset. Derhalwe word eerstens aandag geskenk aan die term, houding, waarna Skrifgegewens oor laasgenoemde onder die loep kom.

5.1 Houdings

Uit die literatuur blyk dit dat daar verskillende definisies vir die term houding bestaan (Nel, 2008), wat ’n aanduiding is van die onmisbare rol wat hierdie term in hedendaagse sosiale sielkunde speel (Jonck, 2005). Hoewel die definisies in ’n groot mate ooreenstem, verskil die interpretasies daarvan (Nel, 2008). Gevolglik word die term houding vanuit die literatuur gekonsepsualiseer soos dit verband hou met die onderhawige navorsingstudie.

5.1.1 Definiëring van die term ‘houding’

Cronje (2000) definieer ‘n houding aan die hand van ‘n evaluasie ingevolge waarvan ‘n houding beskou word as ‘n geneigdheid om ‘n entiteit met ‘n mate van goedkeuring of afkeuring te evalueer. Aldus Taylor, Peplau en Sears (2006) behels evalueringsresponse kognitiewe, affektiewe en konatiewe komponente. Die kognitiewe dimensie behels intellektuele beredenering en dus die oortuiging dat die houdingsobjek oor bepaalde karaktereienskappe beskik. Gedrag wat verband hou met die houdingsobjek sal derhalwe tot spesifieke uitkomste lei. Houdings integreer ook herinnerings aan gebeure wat met die houdingsobjek verband hou, psigiese voorstellings daarvan, en ander fasette van kognisies (Cronje, 2000; Jonck et al., 2007b). Die affektiewe dimensie van ’n houding bestaan uit die individu se emosies en affek teenoor die stimulus, veral positiewe en negatiewe evaluerings (Nel, 2008). ’n Houding behels egter ook ’n bestaande ontvanklikheid om te reageer op sosiale objekte, wat, in interaksie met ontvanklikheidsveranderlikes gedrag rig. Dit verwys na die konatiewe dimensie (Van Rooyen, 2002). Die neiging van ’n individu om ’n spesifieke handeling, wat tot nadeel van die houdingsobjek of teikengroep strek, uit te voer, word op sy beurt as diskriminasie gedefinieer (Taylor et al., 2006). Diskriminasie kan derhalwe beskou word as die konatiewe dimensie van ’n ongunstige houding. Derhalwe word die bestudering van houdings in die onderhawige navorsingstudie gebaseer op die kognitief-affektief- konatiewe model (Taylor et al., 2006).

5.1.1.1 Diskriminasie

Diskriminasie, aldus Veldtman (2001), behels die daarstelling van standaarde wat ’n negatiewe impak op lede van die buitegroep het. Gronde vir diskriminasie sluit in geslag, ras, ouderdom, geloof, seksuele oriëntasie en andere. Geslagsdiskriminasie as sulks het betrekking op die sosiaal-gekonstrueerde verskille tussen mans en vroue, asook die daaropvolgende ongelyke magsverhouding (Kirk-Duggan, 2003). Geslagsdiskriminasie kan manifesteer in verskeie vorme waarvan toegangs- en behandelingsdiskriminasie twee hoofkategorieë

verteenwoordig. Toegangsdiskriminasie behels beperkte werksgeleenthede vir vroue, asook die aanstel van vroue in ondergeskikte poste. Diskriminasie in die behandeling van vrouewerknemers sluit ’n gebrek aan bevorderingsgeleenthede, asook salarisverskille in (Matlin, 2004). Teen die begin van die negentigerjare was daar ’n 10% gaping in die vergoeding tussen mans en vroue op die vlak van geskoolde en halfgeskoolde werkers. Hierdie verskil het tot 5% verklein (Erasmus, 2001).

Navorsing deur Nesbitt (1997) het getoon dat hoewel verskeie denominasies ’n positiewe houding teenoor vroulike leraars vermeld, vroue dikwels in poste met ondergeskikte status en salarisse aangestel word, terwyl beter betaalde poste uitsluitlik vir die manlike leraars gereserveer word. ’n Studie deur Lummis en Nesbitt (2000) met spesifieke verwysing na vroulike predikante het bevind dat passiewe diskriminasie aan die orde van die dag is waar belangrike inligting weerhou word of vroue aangestel word in poste waar hulle nie langer ’n bedreiging is nie of waar die kanse op mislukking buitengewoon groot is. Voorts het Konieczny en Chaves (2000) bevind dat indien ‘n vroulike leraar wel aangestel word, daardie gemeentes blyk om kleiner te wees, asook om minder organisatoriese ondersteuning te verkry as gemeentes waar daar ‘n manlike leraar werksaam is. Die Kerkbode (10 Augustus 2002:4) het berig dat slegs enkele vroue na hulle teologiese studies beroep word. Die wat wel beroep word, word aangestel in tydelike of deeltydse poste teen swak betaling en min vooruitsigte.

Diskriminasie word egter voorafgegaan deur stereotipering en vooroordeel. Die aangeleerde predisposisie dat lede van ’n bepaalde groep oor afkeurenswaardige karaktereienskappe beskik, lei daartoe dat lede van die binnegroep antipatie oftewel ’n onberedeneerde hewige gevoel van afkeer ontwikkel teenoor lede van die buitegroep en derhalwe die neiging toon om te diskrimineer (Brown, 2006). Die aangeleerde predisposisie dat lede van ’n bepaalde groep oor afkeurenswaardige karaktereienskappe beskik, verwys na stereotipering en behels die kognitiewe dimensie van ’n negatiewe houding. Die voorgenome kognitiewe dimensie hou verband met dit wat aangaande die houdingsobjek geglo word, insluitende die evaluering daarvan wat deur intellektuele beredenering plaasvind (Van Rooyen, 2002).

5.1.1.2 Stereotipering

Stereotipering behels ’n kognitiewe proses waar spesifieke gedragseienskappe toegeken word aan ’n individu gebaseer op sy of haar lidmaatskap aan ’n bepaalde groep (Barker, 2000). Stereotipering kan dus beskou word as dit wat aangaande ’n persoon of persone geglo word (Matlin, 2004). Die grondslag van alle stereotipering behels die differensiële persepsie van groepe. Ten einde die wêreld te organiseer en te klassifiseer om sodoende ’n groot verskeidenheid van prikkels te kontroleer, plaas individue ander en hulself in bepaalde groepe. Karaktereienskappe word dan aan die verskillende groepe toegeken. Oor die algemeen word positiewe

eienskappe toegeken aan lede van die groep waaraan die individu behoort (die binnegroep) en word oordrewe negatiewe eienskappe toegeskryf aan lede van die buitegroep (Worchel, Cooper, Goethals & Olson, 2000). Stereotipering verminder die behoefte aan die prosessering van inligting aangaande ander en voorgenome sosiale skemas verskaf riglyne wat gedrag lei wanneer die verskillende groepe in interaksie tree.

Laastens korreleer die affektiewe dimensie van ’n houding met die antipatie of die onberedeneerde hewige gevoel van afkeer wat lede van die binnegroep teenoor lede van die buitegroep koester. Die affektiewe dimensie van ’n ongunstige houding word in vooroordeel gereflekteer (Brown, 2006; Jonck et al., 2007a, Matlin, 2004).

5.1.1.3 Vooroordeel

Vooroordeel verwys na houdingsgebaseerde partydigheid en behels om iemand vooraf, gebaseer op ’n bepaalde kenmerk, te oordeel (Barker, 2000). Vooroordeel is ’n destruktiewe aspek van sosiale gedrag en gee dikwels aanleiding tot verontregting wat gebaseer word op ras, geslag en seksuele oriëntasie (Taylor et al., 2006). Groepvoorkeur is ’n vorm van attribusie-vooroordeel. Attribusie-vooroordeel is die neiging om negatiewe gedrag van die buitegroep en positiewe gedrag van die binnegroep aan interne faktore toe te skryf. Die teenoorgestelde is egter ook waar (Hogg & Vaughan, 2005).

Stereotipering, vooroordeel en diskriminasie is onderling verbandhoudende elemente van groep-antagonisme (Taylor et al., 2006). Groep-antagonisme op grond van geslag het diepliggende steun in ’n ideologiese stelsel waar mans meer mag en voorregte geniet as vroue. Hierdie ideologiese denkrigting word patriargie genoem en was in die verlede ’n integrale deel van kerklike dogma (Büchner, 2007), ingevolge waarvan mans godsdienstige dogma koöpteer om hul magsposisies in patriargale gemeenskappe te regverdig en te behou (Beeld, 9 Junie 2004:13).

5.1.2 Houdingsteorieë

Houdings ontwikkel in ooreenstemming met houdingsteorieë, waarvan die leerteoretiese benadering, die kognitief-konsekwente en die verwagte waardeteorie kortliks bespreek gaan word.

5.1.2.1 Leerteoretiese benadering

Volgens die leerteoretiese benadering word houdings bekom deur die aanleer van inligting en feite rakende houdingsobjekte, asook die gevoelens, waardes en kognisies wat daarmee gepaardgaan (Taylor et al., 2006; Van Rooyen, 2002). Dié leerproses vind plaas deur assosiasie, versterking of straf, asook modellering (Taylor et al., 2006). Assosiasie kom voor wanneer ‘n onbekende stimulus op dieselfde tyd en plek aangebied word, sodat

dit geassosieer word met ‘n reeds bekende respons (Nel 2008). Versterking of straf in wese behels dat gedrag beheer word deur die stimuli wat daarop volg, hetsy positiewe of negatiewe versterking of straf (Jonck, 2005). Modellering behels dat die gedrag van betekenisvolle ander waargeneem en dan nageboots word (Baker, 2000). 5.1.2.2 Kognitief-konsekwente teorieë

Die kognitief-konsekwente teorieë veronderstel dat die mens streef na koherensie wat kognisies betref, derhalwe gee inkonsekwentheid aanleiding tot psigiese ongemak (Taylor et al., 2006). Verskeie kognitief-konsekwente teorieë word aangetref insluitende die balansteorie van Heider (1958), asook die dissonansieteorie van Festinger (Boshof, 2007; Jonck, 2005).

Die balansteorie van Heider (1958) stel kognitiewe konsekwentheid voor as ‘n balans wat nagestreef word, aldus Van Rooyen (2002). ‘n Gebalanseerde sisteem word verkry wanneer ‘n individu saamstem met diegene waarvan hy of sy hou en verskil met dié waarvan hy of sy nie hou nie. ‘n Wanbalans kom voor wanneer ‘n individu verskil van diegene waarvan hy of sy hou en saamstem, met diegene waarvan hy of sy nie hou nie (Boshoff, 2007). Dié teorie konstateer dat ‘n sisteem wat in ‘n staat van wanbalans verkeer neig om te verander ten einde ‘n toestand van balans te verwesentlik (Taylor et al., 2006).

Die kognitiewe dissonansieteorie van Festinger neem aan dat die mens streef na konsekwentheid wat kognisies en gedrag betref (Cronje, 2000). Dissonansie kom voor wanneer ‘n individu ‘n wilshandeling uitvoer wat teenstrydig is met sy of haar houdings (Nel, 2008). Inkonsekwentheid tussen houdings en gedrag gee aanleiding tot psigiese ongemak en gevolglike spanning om die dissonansie te verminder (Jonck, 2005). Hierdie neiging tot ekwilibruim word verwesentlik op een van drie wyses. Eerstens kan die wilshandeling verander word, tweedens kan die dissonansie onderbeklemtoon word en in die laaste instansie kan die houding aangepas word ten einde die dissonansie te vermy (Breckler, Olson & Wiggins, 2006).

5.1.2.3 Verwagte waardeteorie

Die verwagte waadeteorie handhaaf dat die waarskynlikheid dat ‘n houding sal voorkom, gebaseer word op die waarde wat aan die uitkomste geheg word, asook die waarskynlikheid dat hierdie uitkomste sal realiseer (Nel, 2008). Dus word houdingsvorming en verandering beskou as ‘n proses waar die voordele en nadele oorweeg word waarna die beste opsie aanvaar word (Boshoff, 2007; Ramabele, 2004).

In hierdie afdeling is gepoog om die term houding, asook die verband tussen houdings en diskriminasie te konseptualiseer vanuit bestaande literatuur. Kortliks word aandag geskenk aan Openbaringshistoriese Skrifgegewens oor die plek en rol van vroue in die gemeente.