• No results found

HOOFSTUK 5 – GEVOLGTREKKING EN SAMEVATTING

5.3 Interpretasie van lesersinterpretasies volgens kognitiewe konsepte in 'n kwalitatiewe

5.3.3 Toepassing van die kognitiewe paradigma op die literatuur soos deur David Herman

5.3.3.4 Koppelvlakke tussen die narratief en intellek-brein

Daar kom duidelike koppelvlakke voor tussen die narratief en die intellek-brein van die leser met betrekking tot identifisering met karakters of die empatie wat die leser mag hê met situasies en karakters. Herman (2009:6) noem dit die kognitiewe resepsie-teorie. Lesers

1 Sien Hoofstuk 4, bl. 141-147 vir lesers se response aangaande karakterassosiasie en karakters waarvan hulle

Hoofstuk 5 Gevolgtrekking en samevatting

167

dink oor karakters in terme van hulle omstandighede en identifiseer moontlik daarmee. Lesers het empatie met sekere karakters en situasies op grond van en na aanleiding van eie ervarings en omstandighede.

Net so was daar ʼn duidelike kognitiewe proses betrokke by die lesers se herskepping van die tydruimtelike aspekte van die romans. Ses lesers was van mening dat die tydruimtelike aspekte in die verhale, wat voor die hand liggend verskil, geen invloed gehad het op die wyse waarop hulle die verhale konstrueer het nie.

Die navorser wil egter van die stelling verskil. Die twee lesers wat duidelik gesê het dat hul nie-chronologiese tyd verkies omdat dit meer intellektueel stimulerend is, was die twee lesers wat veral van 30 Nagte in Amsterdam gehou het. Hulle het dit geniet om die verhaal te moet uitpluis. Dié vyf lesers wat gesê het tydspatrone speel geen rol in hulle interpretasie nie, was ook van mening dat die boek moeilik en deurmekaar is. Die tydruimtelike aspekte speel daarom duidelik wel ʼn rol in hulle kognitiewe prosesse, omdat die lesers sukkel om hierdie verhaal te konstrueer, maar hulle besef nie dat dit hierdie aspek van die roman is wat hulle interpretasie van die roman kompliseer nie. Hulle ondersoek nie die rede vir hulle negatiewe beoordeling van die roman nie. Daar was slegs een leser wat direk erken het dat sy ʼn chronologiese vertelling verkies en daarom meer van Swartskaap gehou het (vgl. Hoofstuk 4, bl. 142).

Die manier waarop lesers lees, word verder bepaal deur die tekseienskappe, die vermoë van die leser om hierdie strukturele en tegniese eienskappe raak te sien en die effek wat dit op die leser het. Die struktuur van die twee boeke is uiteenlopend: Swartskaap het duidelik ʼn baie makliker struktuur as 30 Nagte in Amsterdam, veral ten opsigte van verteltegnieke wat gebruik word. In Swartskaap word daar byvoorbeeld gebruik gemaak van ʼn karaktergebonde ek-verteller. Al die lesers het in breë trekke van Swartskaap gehou en die verhaal oortuigend gevind en dan het hulle motivering verwys na die karaktergebonde ek-verteller. Die lesers het die verhaal maklik gevolg en voel dat daar nie gepoog word om enige iets weg te steek nie. Dit was nie die geval met 30 Nagte in Amsterdam nie. Sommige lesers kon nie vir hulself uitsorteer wie die verteller is nie en het daarom die boek verwarrend gevind.

Dit is duidelik dat die meerderheid lesers nie gehou het van die hoër kognitiewe vereistes wat 30 Nagte in Amsterdam aan hulle gestel het nie, maar meer van die herkenbare verteller en eenvoudige vertelstrategieë wat gebruik word in Swartskaap.

Uit bogenoemde kom dit duidelik na vore dat daar beduidende verskille is tussen die manier waarop lesers ʼn populêre teks soos Swartskaap van Odette Schoeman interpreteer en die

Hoofstuk 5 Gevolgtrekking en samevatting

168

wyse waarop die meeste lesers 30 Nagte in Amsterdam van Etienne van Heerden, wat as literêre werk beskou word, interpreteer.

Alhoewel beide boeke sosiale kommentaar lewer, is die probleme wat in Swartskaap uitgebeeld is, makliker verstaanbaar vir die lesers. Dit wil voorkom of die wyse waarop Swartskaap vertel word, die deurslaggewende faktor is om die lesers met die dilemmas van die karakters te laat meeleef. Die lesers het gemaklik gevoel met die beskrywings, karakters en taal omdat die storie aan die lesers vertel word van A tot Z. Daar is geen onverwagte tydspronge of duistere vertelstrategieë nie en die leser word geïnteresseerd gehou omdat hulle die boeiende verhaalverloop volg. Die meeste lesers het betrokke gevoel by die verhaal en die verhaal relevant gevind, veral in die hedendaagse Suid-Afrikaanse konteks. Dit was vir die lesers ontspannend en lekker, nie 'n verhaal waaroor hulle heeltyd moes nadink om dit te verstaan nie, maar wat hulle gemaklik kon lees en waarvoor die interpretasie natuurlik en vanself gekom het.

Sommige lesers het die opmerking gemaak dat hul saam met die karakters kon lag en huil. Die lesers het deel gevoel van die hoofkarakter se reis. Al die lesers, behalwe een beskou Swartskaap deurgaans as goeie skryfwerk, omdat dit "tot die werklikheid spreek" en dinge sê soos dit is en nie die inligting wat begrip vir die verloop van die verhaal kweek, probeer wegsteek agter mooi woorde en tegnieke nie. Die enigste leser wat dit nie as goeie skryfwerk beskou het nie, was leser vier, wat juis meer hou van die intellektuele boek, iets wat haar laat dink en nie net vir genot gelees word nie.

Daar kan wel ondersoek word of die lesers besef dat hulle die romans aan die werklikheid meet. Die lesers sien dit nie as fiksie nie, maar meet dit aan wat werklik moontlik is. Eintlik lees hulle die boek maklik omdat die boek baie tradisioneel is, tog lyk die verhaal nie regtig "soos" die werklikheid nie, dit is immers logies nie moontlik nie, maar soos 'n tradisionele eenvoudige verhaal. Die frases "soos dit is" en "tot die werklikheid spreek" toon dat die lesers nie begryp dat 'n boek 'n storie kan vertel oor een onderwerp, maar ander betekenisse daaruit wil aantoon nie. Die lesers maak nie ʼn onderskeid tussen die werklikheid en die fiktiewe wêreld van die boeke nie. Die lesers interpreteer dus die verhale asof dit direk na die werklikheid verwys. Die onderskeid tussen die teks, “waarheid” en werklikheid is baie vaag by die lesers.

In 30 Nagte in Amsterdam, wat as literêre teks beskou kan word, is dit egter ʼn ander saak. Die lesers besef dat hul meer intellektueel na die verhaal moet kyk, maar daar is gevind dat die lesers nie regtig wou nie en daarom die boek in baie gevalle as ʼn wroeging beskou het. Verskeie lesers beskou die boek as goeie skryfwerk, maar is van mening dat dit net gerig is

Hoofstuk 5 Gevolgtrekking en samevatting

169

op die literêre gemeenskap. Dit was vir die lesers nodig om baie meer te dink oor die boek om die boek te verstaan en sodoende ʼn interpretasie van die boek te maak. Die lesers het dit in sommige gevalle moeilik gevind om die dieper interpretasie van die boek te maak wat klaarblyklik nodig is om die boek te begryp, daarom het hulle maklik moed opgegee. Die lesers het die moeilike aard van die boek as "onnodig" beskou en aangetoon dat die verhaal op ʼn baie eenvoudiger manier vertel kon word. Sommige lesers was van mening dat indien die boek makliker was, die boek meer genotvol sou wees.

Duidelik begryp sulke lesers nie dat dit in kunswerke daaroor gaan dat die kunstenaar iets nuuts wil maak nie. Dit is nie dat hulle verkeerd is nie, maar hulle is onbewus van daardie dimensie in verhale wat die vertelling van die verhaal kuns maak. Dit gaan nie net oor die onderwerp en die storie nie, maar deur die kunstige manier van vertel word die gebeure en die karakters in 'n nuwe lig gestel. Deur die manier van vertel word daar ander betekenisse gegenereer. Al hou bepaalde lesers nie daarvan nie, is dit die aard van ernstige literatuur en daarom bly die onderskeid tussen ernstige en populêre literatuur voortbestaan.

Daar was slegs drie lesers wat daarvan gehou het dat die boek intellektueel is met baie woordryke beskrywings. Hierdie lesers lees die teks vanuit ander en meer gekompliseerde kognitiewe raamwerke om die verhaal te verstaan en sodoende die verhaal te interpreteer. Daar is daarom duidelike verskille in die wyse waarop lesers die onderskeie tekste lees: sommige lesers lees 'n roman bloot as 'n verhaal wat van A tot Z afloop en spandeer nie regtig tyd daaraan om dieper na te dink oor die verhaal nie, waar ander lesers die dieper betekenis van 'n roman wil ontdek en daarom die verhaal interpreteer en deurdink totdat hulle die boek verstaan. Dit wil voorkom of die meeste lesers in die studie skaamteloos vir eie bevrediging lees. Alhoewel sommige lesers se eie raamwerk wel miskien vergroot, word die maatstawwe hiervoor bepaal deur hulle eie ervaring en verwysingsveld. Die lesers rekonstrueer dus betekenis volgens bestaande rame en skripte.

Vanuit die bostaande uiteensetting kan daar tot die gevolgtrekking gekom word dat die resepsie-estetika en veral die kognitiewe paradigma gebruik kan word om die lesers se interpretasies van boeke te verstaan. Die lesers se interpretasies kan dus geïnterpreteer word en met behulp van die kognitiewe paradigma kan die prosesse agter die interpretasie van die leser ontleed word.

Daar kan verder vanuit die data wat versamel is, sekere probleemareas geïdentifiseer word wat lesers ondervind.

Hoofstuk 5 Gevolgtrekking en samevatting

170