• No results found

HOOFSTUK 2: TEORETIESE AGTERGROND

2.2 Hans Robert Jauss

Jauss se naam, soos dié van Iser, het bykans sinoniem geraak met die resepsie-estetika. In Jauss se intreerede, Literaturgeschichte als Provokation der Literaturwissenschaft (1970), het Jauss sy oortuiging gestel dat die literatuurgeskiedenis, wat in daardie stadium die literêre gegewe bloot as ‟n geslote kring van produksie- en aanbiedingsestetika beskou het, nie die belangrike aspek van die resepsie en werking van die leser voldoende verreken nie. Jauss het verder gestel dat die leser die geskiedenisvormende energie van die literêre werk is, dat die literêre werk nie ‟n objek is wat op sigself bestaan nie en vir enige leser op enige tyd dieselfde lyk nie. Interpretasie verskil in tyd, omdat die leser verander soos wat tyd verloop. Die literêre werk is eerder ‟n volledige notering wat bedoel is om altyd ‟n hernude

1

Resepsie-estetika: Die vertakking van die literatuurwetenskap wat die wisselwerking tussen leser en teks bestudeer (Malan, 1983:xxiii).

Hoofstuk 2 Teoretiese agtergrond

17

ooreenkoms in die lees van die literêre werk te vind, ooreenkomste wat bepaal word deur die tydperk waarin die leser leef.

Jauss is van mening dat die leser nie ‟n passiewe rol speel wanneer ‟n teks gelees word nie, maar dat die historiese lewe van die teks nie sonder die aktiewe bydrae van die leser sal realiseer nie. Die geskiedenis van ‟n werk se resepsie deur die lesers speel ‟n belangrike rol om status aan die werk te gee deur middel van die betekenis wat hulle aan die werk toedig (Jauss, 1982:19). Hiermee word bedoel dat sekere werke met verloop van tyd moontlik verskillend deur lesers gelees sal word en dat die ontvangs van die teks beïnvloed kan word deur bepaalde uitgangspunte van die lesers binne ‟n bepaalde tydperk.

Die siening van die leser as ‟n geskiedenisvormende energie is gebaseer op die uitgangspunt dat die leser van ‟n literêre teks nie noodwendig ten alle tye dieselfde lyk nie. Die leser moet sy/haar vooroordele oorkom voordat daar van die vooruitsig uitgegaan kan word dat die geskiedenis van die literatuur op literêre feite gebaseer kan word. Vir Jauss is ‟n teks nie ‟n voorwerp wat op sy eie staan (of absoluut outonoom is nie), dit ontlok ook nie by elke leser uit verskillende geskiedkundige eras dieselfde betekenis nie. Dit is nie ‟n monument wat ‟n tydlose beeld sal verskaf nie, maar ‟n dialoog tussen die teks en die leser wat verander oor tyd. Aangesien literatuur en daarom ‟n teks nie ‟n voorwerp is nie, maar ‟n gebeurtenis, kan dit ‟n voortgaande effek hê indien lesers aanhou om ‟n sekere respons daarop te hê.

Jauss (1982:23) maak verder gebruik van die term verwagtingshorison. Die konsep verwagtingshorison is afkomstig van die hermeneuties filosofiese term, „horison van verwagtinge‟. Dit gaan om die raamwerk van verwagtinge en aannames wat die wêreld van die leser en die outeur saambring in die interpretasie van die bepaalde teks. Die respons van die leser vind nie plaas in ‟n vakuum nie, maar geskied op grond van die horison van verwagtinge waarmee die leser die teks lees (Jauss, 1982:23). Jauss kyk na die opname en werking van ‟n werk in die objektiveerbare sisteem van verhoudings of verwagtinge. Dit gaan vir Jauss nie net om die kennis en ervaring wat die leser in sy/haar persoonlike lewe sou ervaar nie, maar ook die leser se kennis en ervaring met betrekking tot literatuur self. Hieronder is veral die volgende belangrik:

a) die bekende norme van die genre waartoe die teks behoort;

b) die implisiete verhouding tussen die werk en die literêr-historiese omgewing, en; c) die kontras tussen die fiktiewe wêreld en die werklikheid, tussen die poëtiese en

Hoofstuk 2 Teoretiese agtergrond

18

Hiermee bedoel Jauss dat die leser ‟n literêre werk binne sy kleiner horison beskou en deur die wyer horison van werklike ondervindings, soos die leser dit ervaar in die werklike lewe, beïnvloed word. As die verwagtingshorison van ‟n werk so geformuleer word, kan ons die kunstige karakter van die werk in sy oorspronklike vorm neem en dit uitbrei tot die impak wat dit het op die beplande gehoor.

Die gaping tussen die leser se bestaande verwagtingshorison en die teks word deur Jauss gesien as die plek waar die estetiese werking van die teks intree. Die teks sal die bestaande verwagtingshorison bevestig en versterk, of dit totaal verskuif of verander (Jauss, 1982:25). Hierdie leemte kan vir latere lesers heeltemal onbelangrik raak, omdat die werk nou ‟n alternatiewe horison oproep en die werk beter verstaan word deur die lesers. Jauss (1982:23) beskryf die verwagtingshorison soos volg:

A literary work, even when it appears to be new, does not present itself as something absolutely new in an informational vacuum, but predisposes its audience to a very specific kind of reception by announcements, overt and covert signals, familiar characteristics, or implicit allusions. It awakens memories of that which was already read, bring the reader to a specific emotional attitude, and with its beginning arouses expectations for the ‘middle and end,’ which can then be maintained intact or altered, reoriented, or even fulfilled ironically in the course of the reading according to specific rules of genre or type of text.

Wanneer ‟n leser ‟n teks ontvang, het die leser 'n bepaalde verwagtingshorison. Die leser het bepaalde verwagtings na aanleiding van verskeie aspekte van die teks, soos onder meer sy kennis van die skrywer, wat hy/sy van prosa verwag en dan ook die raamwerk waarin die leser gemaklik voel. Geen leser sal ʼn teks onbeïnvloed kan lees nie, maar sal altyd sy eie verwagtingshorison en uitkyk tot die interpretasie toevoeg. Jauss is van mening dat wanneer die leser se verwagtingshorison en die betrokke teks baie ooreenstem met mekaar so 'n teks moontlik beskou kan word as populêre leesstof, juis omdat die leser nie met verandering van sy/haar eie opvattings gekonfronteer word nie.

Jauss onderskei tussen twee hoofverwagtingshorisonne; die eerste verwagtingshorison is in die teks self. Die tweede verwagtingshorison waarna Jauss verwys, is die verwagtingshorison van die leser se eie lewenservaring. Jauss (1982:30) is van mening dat die verwagtingshorison deur die leser se lewenservaring opgebou word, sy gebruike en die manier waarop hy/sy die wêreld verstaan en hoe hierdie aspekte die leser se sosiale gedrag beïnvloed. Geskiedenis word daarom duidelik as ʼn belangrike aspek van die verwagtingshorison beskou.

Hoofstuk 2 Teoretiese agtergrond

19

Senekal (1982:8) is van mening dat die interaksie van hierdie twee horisonne ‟n estetiese ervaring konstitueer wat ‟n aanduiding is dat daar onderskei kan word tussen die werksisteem2 en ‟n interpretasiesisteem3 wat faktore soos lesersosiologie en leserpsigologie insluit.

Volgens Senekal (1983:7) is twee aspekte belangrik in die resepsie-teorie van Jauss:

a) Die verwagtingshorison word aanhoudend gevorm en verander. Die verwagtingshorison van die leser word deur ‟n verskeidenheid aspekte beïnvloed. Tekste wat ‟n leser voor die bepaalde teks gelees het, kan die verwagtingshorison laat afwissel, verander of selfs herskep. Senekal is van mening dat die proses ontstaan uit die spanning tussen die werk en die bestaande en aanvaarde norm, tussen die reeks veranderde norme of instellings van die leser en die historiese reeks literêre werke wat die norm daarstel.

b) Die ontvangs van ‟n teks is nie ‟n willekeurige reeks indrukke nie, maar die saambring van spesifieke aanwysings in ‟n proses van doelgerigte waarnemings. Volgens Jauss (1982:30) is die analise van ‟n literêre werk nie iets wat buite die geskiedenis geskied nie. Ons het nie toegang tot die oorspronklike horison nie, omdat die geskiedkundige horison reeds opgeneem is in die huidige horison. Om ‟n literêre werk te verstaan, vind daar ‟n proses van samevoeging plaas tussen hierdie horisonne wat ons aanvaar afhanklik van mekaar bestaan. Die sosiale funksie van literatuur tree in werking wanneer die literêre ondervinding van die leser in die verwagtingshorison van die leser se lewensondervinding die leser se lewensbeskouing en sosiale gedrag beïnvloed (Habib, 2008:723).

Jauss se intreerede het as belangrike vertrekpunt gedien vir die resepsie-estetika, maar hy was nie alleen in sy denkwyse oor literêre interpretasie vanuit die leser se oogpunt nie. Wolfgang Iser publiseer in 1972 Die Appelstruktur der Texte wat net soos Jauss se werk sinoniem gesien word met resepsie-estetika.