• No results found

HOOFSTUK 3: NARRATOLOGIESE ANALISE VAN SWARTSKAAP DEUR ODETTE

3.7 Algemene opmerkings ten opsigte van die verhale

Swartskaap lees maklik wat daartoe sal bydra dat die meeste lesers die boek maklik sal verstaan en daarom volgens die navorser meer van die boek sal hou. Dit vereis nie baie inspanning of werk van die leser nie en die meeste oop plekke word deur die skrywer self gevul. Die storie word omtrent volledig en uitvoerig aan die leser vertel en boonop nog vanuit een perspektief en liniêr. Daarom sal die lesers waarskynlik slegs sy normale kognitiewe vermoë en raamwerke gebruik om ’n tweede wêreld te skep en aspekte van plek, tyd en karakter in sy/haar eie verbeelding voor te stel.

Claudie kan net soos Henk en Tante Zan as 'n liminale karakter beskou word, en al drie karakters groei deur die loop van die verhaal en kan daarom as karakters wat hulself in liminale fases bevind beskryf word. Die karakters word verander deur hul omstandighede en moet aanpas by dit wat met hulle gebeur. Die karakters gaan deur ʼn selfondersoek en ontwikkel tot ander weergawes van hulself.

Wat ook na vore kom, is dat Claudie nie noodwendig in alle opsigte ten goede verander nie. Die meeste lesers sal dit moontlik so lees omdat Claudie haar matriek onder moeilike omstandighede voltooi, maar tog dra sy die invloede van haar ma steeds met haar saam. Sy ry in haar BMW en ignoreer haar broer; net soos haar ma haar rug op haar gekeer het, keer Claudie ook haar rug op daardie lede van haar familie van wie sy nie hou nie. Sy en haar broer rook steeds saam dagga en sy verkwalik steeds haar ouers. Sy sê wel in die loop van die verhaal sy het hulle vergewe, maar die letsels is steeds merkbaar in haar optrede as volwasse mens soos blyk uit die inleidende gedeelte van die roman.

30 Nagte in Amsterdam is volgens die navorser ’n boek wat as ’n postmodernistiese en postkoloniale teks beskou kan word. Die teks is postmodernisties omdat verskeie grense oorskry word, soos politieke, ideologiese, godsdienstige en sosiale grense en ook die grense tussen die lewe en die dood, byvoorbeeld in Henk se obsessie met die kindergraf in sy kantoor. Daar is ook die grens wat die karakters oorskry in terme van binne en buite, soos Tante Zan wat buite die familiekring tree en die ruimtes van die tronk en lokasie betree,

Hoofstuk 3 Verhaalanalise

62

asook haar betrokkenheid by die vryheidsbeweging. Henk moet nuwe ruimtes betree wanneer hy die plaas vir die dorp moet verruil, of Suid-Afrika vir Nederland, en sy pa moet 'n grens oorsteek wanneer hy hospitaal toe moet gaan vir depressie, iets wat nie algemeen aanvaar is of oor gepraat is in so 'n tradisionele klein dorpie nie.

Hierdie grense wat oorskry word, gaan nie net oor die fisiese grense wat die karakters oorsteek nie, maar ook oor die emosionele grense wat die karakters oorskry wanneer die karakters teen hulself en hulle verlede oortree. Die karakters moet telkens die grense van hulle identiteit ondersoek wanneer hul hulself met die onbekende konfronteer.

Hierdie roman word gekenmerk deur ’n gefragmenteerde aanbieding van die gebeure wat vanuit afwissellende perspektiewe vertel word. Die hede en verlede, feit en fiksie, lewe en die dood loop deurmekaar en dit word aan die leser oorgelaat om die legkaart aan mekaar te sit. Die komplekse styl en struktuur word ook verder versterk deurdat daar geen spesifieke weergawe van die waarheid/werklikheid gegee word nie, maar verskillende sienings wat teenoor mekaar gestel word vanuit die herlewing van talle insidente. Die leser moet daarom ’n aktiewe rol speel in die herordening van nie-chronologiese vertelde gebeure waarvan die skrywer nie die finale antwoord aan die leser verskaf nie.

Die verhaal kan as postkoloniaal beskou word omdat die vryheidstryd so 'n prominente rol speel. Die kolonialiseerder word onttroon in die verhaal en die gekolonialiseerde se stryd om bevry te word, word vertel. Die leser word gekonfronteer met die konsep van onderdrukking in die belewenis van die karakters.

Van Heerden speel baie met die taal en laat die taal die storie vertel. Die prominente gebruik van die bewussynstroomtegniek laat die leser deel voel van die verhaal en die karakters se omstandighede. Dit is egter duidelik dat die karakters van die dominee, skoolhoof, predikant, selfs Ma Olivier en ander gesagsfigure gestereotipeer is. Die karakters kom plat voor en word uitgebeeld as konserwatiewe mense wat nog vasgeval is in die verouderde lewenstyl. Daar is geen diepte aan hierdie karakters nie, alhoewel dit vir die navorser verstaanbaar is vanuit die vertelling en fokalisasie van Tante Zan, omdat sy nie altyd volwasse en by haar volle positiewe voorkom nie, en ook geneig is tot radikale reaksies op ander mense.

Skuld speel ’n duidelike en belangrike rol in die verhaal. Tante Zan het skuld aan haar broer en minnaar se dood en voel dat sy haar ma teleurgestel het. Henk het skuldgevoelens oor die klein oortreding van die glaskas, die knopiespinnekop wat veroorsaak het dat Tante Zan ’n deel van haar vinger verloor het en ook 'n skuldgevoel dat hy teenoor sy ouers en ouma

Hoofstuk 3 Verhaalanalise

63

gefaal het en nie aan hul eise voldoen het nie. Hy sien homself as ’n gemiddelde persoon en daarom skryf hy oor die lewens van onbelangrike historiese figure, juis omdat hy met daardie persone kan identifiseer.

Van Heerden gebruik, soos in baie van sy ander boeke, die plaas en platteland as verteenwoordigend van globale aspekte van Suid-Afrika. So ook kom die konflik van rasseverskille na vore. Alhoewel die politieke tematiek ironies aangebied word en nie aan die leser opgedring word nie, is die leser regdeur die verhaal bewus daarvan. Die uitbeelding van ʼn familie wat oënskynlik 'n tipiese en vooraanstaande Afrikaanse familie is, word in die roman betrek in die vryheidstryd en daarmee word aannames oor Afrikaners omvergewerp.

Wat ook duidelik in die verhaal na vore kom, is die hibriditeit van subkulture wat uitgebeeld word. Nie net is daar ’n vermenging van Afrikaner en Nederlander nie, maar ook van Afrikaner en Xhosa in die geval van Tante Zan, die Oosterse meisies waarna Henk soek, die Franse erfenis wat deur die Napoleonborde ingebring word en so ook die subkultuur van die straatmense in Amsterdam. Dit is asof die verhaal die konsep van verskillende soorte vermenging uitbeeld en so die karakters, en lesers, tot selfondersoek dwing. Die hibriditeit in die verhaal simboliseer die moderne wêreld, waarin wit Afrikaners hulleself moet heroriënteer, waarin baie mense soms sonder tuiste voel en waarin migrasie 'n algemene verskynsel is.

Die roman het eintlik 'n oop slot en die afloop word aan die leser se interpretasie oorgelaat. Of die karakters vrede gevind het en of hul steeds deur hul eie identiteit, skuld en verlede gejaag word, word nie met 'n finale of duidelike afloop aangedui nie. Dit is ook deel van die postmodernistiese oopeindige siening van die wêreld.