• No results found

HOOFSTUK 5 – GEVOLGTREKKING EN SAMEVATTING

5.2 Kognitiewe aspekte van die resepsie-teorie as interpreteringsmetode

5.2.4 Die invul van oop plekke deur die lesers

Daar is verder gepoog om te ondersoek hoe die boeke ontvang, verstaan en geïnterpreteer word spesifiek ten opsigte van die invulling van die oop plekke in die teks.

In die geval van Swartskaap is daar nie werklik oop plekke wat die lesers self moes invul nie. Wat die lesers wel vir hulself ontsluit het, is dat die verhaal nie slegs fiksie is nie, maar dat daar dele in die verhaal is wat voorkom asof dit die skrywer se verhaal is en nie bloot die karakter se verhaal nie. Nie een van die lesers het voorheen van die skrywer gehoor nie, en daarom het geen leser vooropgestelde idees gehad oor die tipe boek wat dit sal wees nie. Die interpretasie berus daarom suiwer op die skryfwerk en nie op enige geskiedenis wat die leser met die skrywer se skryfwerk het nie. Sommige lesers het opgemerk dat die taalgebruik saam met die karakter ontwikkel. Dit dien as bewys dat die lesers nie bloot agter die storie aan lees nie, maar wel 'n kognitiewe beeld van die karakter opbou en daardie karakter assosieer met haar werklikheid en daardeur die skrywer se vermoë om dit weer te gee. Dit is nie ʼn tradisionele oop plek in die verhaal nie, en is moontlik nie intensioneel deur die skrywer gedoen nie, maar die lesers het hierdie subtiele aspek raakgelees en waardeer hoe dit bydra tot die beeld van die karakter.

Op die vraag, doelbewus as oop vraag geformuleer, of Claudie groei as karakter is die lesers verdeel. Alhoewel ses lesers voel dat sy verander in ʼn sterker mens, dink die navorser dat dit juis die naïewe leser is wat van die standpunt uitgaan. Hierdie ses lesers was nog nie werklik gekonfronteer met die slegte kant van die wêreld nie en voel daarom dat die karakter merkwaardig verander. Die vier lesers wat om verskeie redes swaarder grootgeword het, voel nie dat die karakters so merkwaardig verander nie, maar dat dit meer ʼn natuurlike grootwordproses is. Die antwoord wat die lesers op die vraag gee, kan ʼn aanduiding wees hoe hulle die oop plek vul. Die ontwikkeling van die karakters word nie definitief opgelos deur die skrywer nie, die besluit word aan die leser gelaat of hy/sy voel die karakter groei en ontwikkel.

Hoofstuk 5 Gevolgtrekking en samevatting

160

In 30 Nagte in Amsterdam is daar egter heelwat meer oop plekke, sekerlik die belangrikste is of die karakters Henk en Tante Zan verander en groei deur die verhaal. Alhoewel slegs 2 lesers van mening is dat Tante Zan verander, is die meeste lesers van mening dat Henk verander. Sewe lesers voel dat Henk verander en groei en glo dat hy as ʼn sterker en interessanter mens uit die situasie sal stap. Dit is in die geval van 30 Nagte in Amsterdam weer die lesers wat die ander kant van die lewe al leer ken het wat voel dat Henk nie verander nie, en in sommige gevalle selfs nou nog meer pateties sal wees as wat hy oorspronklik was.

Nie twee lesers vul oop plekke op dieselfde wyse nie en oop plekke op sigself is nie vir alle lesers oop plekke nie. Vir sommige lesers was die band tussen Tante Zan en Henk ʼn onverklaarde element wat hulle gevul het deurdat hulle dit as ongewoon beskryf en fout daarmee te vind. Twee lesers wat vanuit die mediese veld kom het die medikasie en Tante Zan se epilepsie bevraagteken. Hulle is dus besig met 'n realiteitstoets op die teks. Waarom het Tante Zan nie die nodige hulp ontvang nie? ʼn Ander leser het Tante Zan se obsessie met patetiese mense bevraagteken en gevra waarom sy juis die swakker persone uitsoek. Is dit om haarself beter te laat voel?

Vir leser vier is die monografie wat Henk oor die onbekende Van Gogh-broer skryf ʼn oop plek. Die leser het genoem dat sy graag meer oor die aspek wou lees, veral omdat sy daarmee identifiseer vanuit haar agtergrond.

Die lesers sien hierdie oop plekke hoofsaaklik as vrae wat onbeantwoord bly, selfs in hulle eie interpretasie. Sommige lesers aanvaar dit as vrae en daar was ook ʼn leser wat gevoel het dat daar ʼn opvolgboek geskryf moet word om hierdie oop plekke te vul. Dit wil voorkom asof lesers in baie gevalle slegs die oop plekke raaklees, maar nie noodwendig die oop plekke vul vanuit hul agtergrond nie. Hul dink daaroor en dink hoe hul sou wou gehad het dit moet eindig, maar hul vul nie hierdie plekke definitief na aanleiding van ander gegewens elders in die roman nie.

In ander gevalle lees die lesers bloot net oor die oop plekke heen omdat daardie spesifieke oop plek geen waarde vir die spesifieke leser het nie, soos in die geval van Henk se ma en ouma. Wat gebeur met hierdie karakters wat so 'n groot aandeel in Henk se lewe het? Wie is die persoon wat die beursies steel en waarom het hierdie persoon so 'n obsessie met Henk? Daar is nog baie meer oop plekke in die boek, maar hierdie oop plekke het nie vir die lesers saak gemaak nie, omdat dit nie vir hulle betekenis tot die verhaal bygevoeg het nie.

Hoofstuk 5 Gevolgtrekking en samevatting

161