• No results found

Jy kan lief wees vir wie en wat jy is, sonder om te haat wie en wat jy nie is nie

In document My regte! Jou regte? / Leon Wessels (pagina 139-144)

Om te wees wie en wat jy is, die kultuur van jou keuse te geniet, saam met kultuurgenote te kuier en om kulturele geleenthede of feeste te organiseer, is jou grondwetlike reg.2Die bekende kwalifikasie, naamlik solank dit nie

met ander bepalings van die Grondwet bots nie, laat die hare van kul- tuurdrywers, hier en elders in die wêreld, egter altyd orent staan.

My kulturele regte beteken dan mos net mooi niks nie, want dit word ondergeskik gestel aan die “transformasie”-agenda van die regering, of argumenteer ander weer, hierdie Grondwet bevat te veel Westerse waardes wat niks met ons Afrikane te doen het nie.

’n Man kan glad nie verstaan hoekom hy daarvan verdink word dat hy iets verkeerds gedoen het toe die Kommissie hom voor die hof sleep vir verkragting nie. Hy het ’n 14-jarige meisie ge-twala, dit wil sê, met haar ouers se medewerking ontvoer om met hom te trou. Sy is dikwels deur haar vermeende eggenoot aangerand en verkrag. Sy is later na haar ouers teruggestuur om haar maniere te leer. Die ouers het haar die nodige “be- handeling” gegee en haar toe teruggestuur na haar man toe. Toe sy steeds geen belangstelling in sy seksuele aansprake toon nie, het hy haar na ’n spirituele leier gestuur wat haar na ’n dokter geneem het wat op sy beurt ’n klag by die Kommissie ingedien het.

Die latere skuldigbevinding aan statutêre verkragting het ’n groot op- skudding in die gemeenskap veroorsaak, want die gebruik is vir geslagte lank reeds deel van hul kultuur. Die Kommissie moes bontstaan en ’n spesiale poging aanwend om te verduidelik dat die Grondwet nou die

1 Kofi Annan, Sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies. 2 Artikel 30, 31.

hoogste reg in die land is en baie dinge sedert die aanvaarding van die Grondwet verander het, ook die twala-gebruik.

Die kelner haal die argwaan van sy werkgewer op die hals omdat hy weier om die isipandla, ’n stuk beesvel met hare en al wat om sy gewrig gespan is, te verwyder. Die isipandla is deel van sy kulturele tradisie en beskerm hom.

Terwyl die Kommissie die saak oorweeg, maak ’n paar van ons ’n draai by die Konstitusionele Hof. Was ons verbasing groot toe ons almal, nou baie bewus van die isipandla, opgewonde teenoor mekaar opmerk dat een van die eerbiedwaardige regters self die draer van ’n isipandla is. Dié van ons wat nie vertroud is met die gebruik nie, besef toe dat hierdie nie ’n stukkie randeierkultuur is nie, maar dat dit in sekere gemeenskappe baie diep gesetel is.

Aangevuur deur hierdie ervaring, vra ons die werkgewer wat nou eintlik die probleem is? “Kyk, hierdie rou ding stink terwyl dit besig is om so aan die man se arm droog te word. Buitendien, dit is besig om hare te verloor. Besoekers aan my restaurant sal nie tevrede wees met die toedrag van sake nie en buitendien druis dit in teen gesondheidsregulasies. Ek het niks teen swartmense nie, maar hy moet die beesvel verwyder of die pad vat.”

Gedagtig daaraan dat regeringsmense en regters die isipandla as deel van hul kulturele tradisie dra, moet hy sy posisie heroorweeg en die man dalk elders ontplooi totdat die isipandla droog geword het en nie meer hare verloor nie. Dikmond aanvaar die werkgewer die voorstel.

Is menseregte in Afrika geskoei op ’n Westerse lees?

Suid-Afrika en Afrika is nie die enigste plekke waar mense glo dat hul situasie uniek is en dat internasionale menseregte, soos dit in die geskrifte van internasionale menseregtekonvensies vervat word, nie net voor die voet op tuisgebied oorgeplant kan word nie.

Tydens ’n internasionale konferensie in China waaraan menseregte- praktisyns afkomstig van die vyf vastelande deelgeneem het, is die tema “Universaliteit van Menseregte en Kulturele diversiteit” snuif getrap. Hierdie debatte het ’n mens sterk herinner aan die grondwetlike onderhandelings in Suid-Afrika. Mense neig na die bekende en daarom word dit wat uit ’n ander oord gepropageer word, nie sommer aanvaar nie.

Op eie bodem, en dikwels tot my verbasing, luister ek na argumente wat die Afrikanisering van die grondwetlike regte propageer. Hierdie apo- logete is in harmonie met sommige argumente waarna ek in China moes luister. Sommige Afrikaners en tradisionele leiers bevorder ook hierdie argumente in Suid-Afrika.

Tydens ’n ondersoek na ontgroeningspraktyke aan akademiese instel- lings en die daaropvolgende ondersoek na kulturele inisiasies waartydens talle jong mans jaarliks sterf, het beide Afrikaners en tradisionele leiers geargumenteer dat hul kultuur en kulturele regte nie verstaan word nie. Die Kommissie het bevind dat ongewensde ontgroeningspraktyke teen die gees van die grondwetlike bepalings oor menswaardigheid, gelykheid en vryheid indruis en dat baie vrae met betrekking tot kulturele inisiasies steeds nie beantwoord is nie.

Talle sake soos die posisie van die vrou tydens lobola-onderhandelings en twala wat in die Oos-Kaap beoefen word, is voorbeelde van onaan- vaarbare kulturele tradisies wat nie grondwetlike toetsing sal slaag nie.

Die Grondwet verwerp die dominasie van een persoon oor ’n ander en gun jou die vryheid om jou eie besluite te neem of om namens jouself op te tree. Tradisionaliste bied sterk weerstand hierteen.

Dit laat die vraag ontstaan: Is kultuurbeoefenaars die eerste tussen gelykes of net gelyk? Anders gestel, betoon ons lippediens aan grondwetlike bepalings oor gelykheid wanneer dit in ons guns werk maar verset ons ons daarteen wanneer dit teen ons werk? Word die Grondwet gerespekteer wanneer ons ons eie regte opeis, maar vergeet ons gerieflikheidshalwe van die bepalings van die Grondwet wanneer die regte van ander daardeur gerespekteer moet word? Daar ís vir jou ruimte om jou kultuur te beoefen, maar dit is belangrik dat ander se waardigheid, vryheid en gelykheid be- skerm moet word – dit sluit die broses onder ons in – vroue, kinders en bejaardes.

Ek is onlangs met die argument gekonfronteer dat ek die Grondwet propageer asof dit evangelie is, maar dat ek nie die African family en African traditions verstaan nie. Daarvolgens is die hoof van die gesin die man en kan slegs hy namens die vrou en kinders wat onder sy toesig staan, praat. Die grondwetlike bepaling is duidelik – jy mag jou godsdiens en kultuur beoefen, maar dit moet in harmonie geskied met die Grondwet. Kultuur

moet binne die grondwetlike raamwerk beoefen word. Diegene wat respek vir die Grondwet bevorder, moet kulturele praktyke met groot omsigtigheid en wysheid interpreteer en toepas.

Die vraagstukke oor kultuur en die Grondwet is nie so helder of een- voudig as wat die kulturele praktisyns voorgee nie. Die wêreld het verander en so ook die Suid-Afrikaanse samelewing. Kultuur ontwikkel voortdurend en reageer op interne en eksterne invloede. Gemeenskappe ontgroei en verwerp gedragspatrone. Dít is die rede waarom vroue nou die reg het om te stem in Switserland, iets wat 30 jaar gelede ondenkbaar was, en die rede waarom vroue nie meer met hoede na Afrikaanse kerke toe gaan nie. Vroue staan deesdae aan die hoof van huishoudings, is suksesvol- le broodwinners, versorg kinders en neem belangrike besluite namens die- gene in hul sorg. Die Afrikatradisie dat die vrou nie saam met mans aan openbare debatte mag deelneem nie, is deur die tyd ingehaal en verbyge- loop.

Ooreenkomstig gewoontes en tradisies het die Bafokeng-stamhof ’n vrou se eis dat sý haar ouers se eiendom moes erf en nie ’n manlike familie- lid nie, in hierdie geval haar neef, verwerp. Sy was nooit getroud nie en het die tradisionele familiewoning jare lank versorg. Die Kommissie het samesprekings gevoer met die Koninklike Bafokeng-owerheid wat die besluit van die stamhof herroep het. Daar is só besluit omdat sy die enigste erfgenaam was en sy het nou die volste reg gehad om haar neef, wat intussen sy intrek in die familiewoning geneem het, uit die huis te sit.

Laat ons nie die waarskuwingswoorde van ’n voormalige Senegale- se president, Leopold Sedar Senghor, aan die opstellers van die African Charter of Human and Peoples’ Rights vergeet nie. Hy het die opstellers van die dokument aangemoedig “not to draft a charter of the right of ‘the African man’ but to capture African values and also uphold universal prin- ciples”.

Sý advies is stewig ingebed in ons Grondwet waarvolgens kulturele praktyke geniet kan word, maar almal se waardigheid en aanspraak op gelykheid gerespekteer moet word.

Hierdie onderwerp is nog nie in Suid-Afrika, Afrika en elders in die wêreld klaar bespreek nie. Elke saak moet op eie meriete hanteer word. Menswaardigheid moet ’n spesiale betekenis kry in hierdie tydsgewrig waar-

in ons leef, gedagtig daaraan dat geleerdes3reeds oortuigend geargumen-

teer het dat “there may be conceptions of human dignity that are dis- tinctly African” – en nie ’n ontdekking van Europa en Amerika is nie.

Die balansering van kulturele praktyk en ander grondwetlike waardes is ingewikkeld, want kulturele praktyke setel diep in mense se gemoed. Dít kan egter nooit as verskoning gebruik word om grondwetlike waardes te ondermyn nie.

3 Thandabantu Nhlapo, “The African customary law of marriage and the rights conundrum” in Beyond Rights Talk and Culture Talk, Mahmood Mamdani (ed.). David Phillip Publishers (2000) 136.

GODSDIENS

In document My regte! Jou regte? / Leon Wessels (pagina 139-144)