• No results found

AFSTANDDOENING VAN REGTE

In document My regte! Jou regte? / Leon Wessels (pagina 52-55)

saam met my leef

AFSTANDDOENING VAN REGTE

Kan ek van my regte afstand doen? Kan ek vrywillig verklaar dat ek nie belangstel om sekere van my regte op te eis of daardeur beskerm te word nie en onderneem om my nooit op my grondwetlike regte te beroep nie? Kan ’n eerstejaarstudent onderneem om vrywillig aan ’n ontgroenings- of verwelkomingsprogram deel te neem en sodoende deur die senior bur- gers van die kampus karnuffel word sonder om vooraf presies te weet wat dit alles sou behels? Is dit moontlik vir ’n Springbokrugbyspeler om in te stem om hom aan die fisieke en geestelike uitdagings van ’n Kamp Staal- draad te onderwerp sonder dat sy grondwetlike regte in gedrang kom?

Die vraag of iemand deur ooreenkoms kan afstand doen van sy of haar fundamentele regte, is ’n onderwerp waaroor daar nie altyd een- stemmigheid is nie.9

Elke dag bevind ek my in situasies waarin van my verwag word om van sekere regte afstand te doen: deursoeking by lughawens (die reg op privaatheid); in die Hof vir Klein Eise waarin ek afstand doen van my reg op regsverteenwoordiging; tydens sekere administratiewe prosesse wanneer ek soms afstand doen van my reg tot appèl of van my reg dat redes aan my verstrek moet word indien die proses vir my ongunstig sou verloop.

Dit is moontlik om afstand te doen van sekere regte. Ook in hierdie geval geld streng voorwaardes:10

5

Toestemming moet uitdruklik verleen word.

5

Die persoon wat toestemming gee, moet die aard van sy toestemming verstaan, dit wil sê die persoon moet die aard en omvang van die reg waarvan afstand gedoen word en ook die gevolge daarvan verstaan.

9 De Waal J, Currie C en Erasmus G, The Bill of Rights Handbook, Juta (2001) (hierna De Waal) 42-44;

Hopkins K, "Constitutional rights and the question of waiver: how fundamental are fundamental rights?" SA Publiekreg Vol. 16 (2001) 122.

Om te bepaal of daar regmatig afstand gedoen is van ’n reg, moet die magsverhouding wat tussen die betrokke partye geld, in ag geneem word – die plaaswerker wat onderneem om nie aan die verkiesing deel te neem nie of om nie aan ’n vakbond te behoort nie, bevind hom in ’n baie swak posisie teenoor sy werkgewer wat dít van sy werknemers eis – indien daar nie aan sy “versoek” gehoor gegee word nie, volg moontlike afdanking en afsetting van die plaas.

Die eerstejaarstudent wat onder die druk van seniors en sy eweknieë “vrywillig” aan onsmaaklike ontgroeningspraktyke deelneem, het nie nood- wendig die aard en omvang van al sy regte oorweeg nie. Dít is in alle waarskynlikheid ook nie aan hom verduidelik nie, en nog minder is so ’n persoon ten volle bewus van al die gevolge van sy toestemming of die weiering daarvan.

Soms word ’n onderskeid getref tussen die sogenaamde persoonlike vryheidsregte (vryheid van spraak, die reg om te stem) en fundamentele regte (die reg op lewe en menswaardigheid) met die oog daarop dat ek afstand kan doen van my vryheidsregte maar nie van my fundamentele regte nie. Die verband tussen die twee moet egter oorweeg word. Sekere vryheidsregte kan byvoorbeeld wel ’n effek op my fundamentele regte hê en daardeur word hul belangrikheid verhoog. Onder bepaalde omstan- dighede mag ek egter vrywillig besluit om nie my reg tot vryheid van spraak uit te oefen nie of om te swyg, of om nie aan ’n verkiesing deel te neem nie.

Onder ander omstandighede mag die afstanddoeningsbesluit dalk gedwonge wees en neerkom op ’n aantasting van iemand se menswaardig- heid – ’n senior bullebak dreig ’n eerstejaar indien hy aan die koshuisvader vertel waarom hy vol blou kolle is, of iemand verjaag my van die stembus tydens ’n algemene verkiesing. Die omstandighede waaronder ek van my regte afstand doen, is dus van deurslaggewende belang, al is dit nie ’n fundamentele reg wat direk in die gedrang is nie.

Ons howe het nog nie finaal oor hierdie onderwerp uitspraak gelewer nie.

In ’n sekere private skool is godsdiensonderrig verpligtend. ’n Ouer wil nie hieraan gehoor gee nie en dring daarop aan dat haar kind nie aan die godsdiensbeoefening deelneem nie. Die hof beslis dat die ouer afstand

gedoen het van haar regte toe sy die kind ingeskryf het by die skool, wel- wetende wat die reëls, regulasies en praktyke van die betrokke skool is.11

In ’n ander saak voor die Kaapse Hoë Hof het ’n Islamitiese vereniging aangevoer dat die Grondwet nie die afstanddoening van ’n fundamentele aspek van ’n mens se geloof goedkeur nie.12 Die vereniging het grond

gekoop en onderneem om nie klankversterkers te gebruik wanneer hulle hul lede tot gebed oproep nie. Die hof bevind dat die klankversterking vir die oproep tot gebed nie ’n fundamentele riglyn van die Islamitiese geloof is nie en dat die oorspronklike ooreenkoms daarom nie hul godsdienstige regte ondermyn het nie.

Die Kommissie het die SABC en e.tv onsuksesvol voor die Onafhank- like Uitsaai-owerheid gedaag omdat hulle ’n minderjarige kind se MIV/ Vigs-status op televisie bekend gemaak het. Die argument wat aangevoer is, het gesentreer om die mening dat die minderjarige se privaatheid, mens- waardigheid en beste belange nie oorweeg is nie. Die tribunaal het bevind dat, aangesien die ouers toestemming gegee het, hulle namens die kind afstand gedoen het van die kind se grondwetlike regte. Voorts is bevind dat selfs al is sekere van die kind se regte geskend, dit in ooreenstemming met die bepalings van die beperkingsklousule geskied het en dat die optrede gevolglik redelik en regverdigbaar was.

Daar is dus nie ’n algemene reël aangaande die kontraktuele afstand- doening van ’n grondwetlike reg nie. Elke geval sal volgens meriete en die betrokke feite beoordeel moet word.

Feit is dat wanneer al die hindernisse oorweeg word wat oorbrug moet word ten einde afstanddoening van menseregte geldig te maak, die organiseerders van Kamp Staaldraad en sommige eerstejaardoopseremonies heel moontlik mag struikel en hulle in die proses aan menseregteskendings skuldig maak.

11 Wittman v Deutscher Schülverein, Pretoria 1998 (4) SA 423 (T).

In document My regte! Jou regte? / Leon Wessels (pagina 52-55)