• No results found

HOE RYK IS ONS?

In document My regte! Jou regte? / Leon Wessels (pagina 194-196)

SOSIAAL-EKONOMIESE REGTE

HOE RYK IS ONS?

Kundiges vertel dikwels hoe arm die armes onder ons is. 42% is werkloos en volgens ’n verslag van die Verenigde Nasies leef 22 miljoen mense onder die broodlyn, dus van minder as R354 per maand. In die meeste lande word dit as ’n nasionale krisis bestempel wanneer werkloosheid die 10%-kerf verbysteek.

Die vraag kan seker ook omgekeer word: Hoe ryk is ons? Agt miljoen mense leef in uitspattige weelde, motorverkope skiet die hoogte in en eiendomspryse bereik ongekende hoogtes. ’n Groeiende swart elite deel in hierdie voorspoed.2

Volgens Sampie Terreblanche, deurwinterde ekonoom van Stellen- bosch, deel een derde van die bevolking in die fees van vooruitgang. Die middelste derde van die Suid-Afrikaanse bevolking is kwetsbaar en die onderste derde (sowat 15 miljoen) sink weg in ellende.3

Daar is sowat 300 000 blankes onder die armste van Suid-Afrika se armes. Na skatting leef tussen 2% en 6% van die blankes op R1 000 of minder per maand per gesin.4

Hierdie vraagstukke word soms op ’n uiters ligsinnige en onsensitiewe manier gehanteer.

Die omroeper van ’n bekende radiostasie vra vir sy kollega of hy weet waar die bedelaars by die verkeersligte bad. Dié antwoord dat hulle seker in die naaste rivier spring. Die eerste deelnemer reageer: “Volgende keer as hulle vir geld vra, moet jy dus liewer vir hulle ’n koekie seep gee.” Tydens ’n radiogeselsprogram vertel iemand dat dit nie waar is dat swartmense arm is nie: “Kyk hoeveel van hulle ry in weelderige motors op ons paaie.” Iemand anders kap terug: “Dit is nou tipies van julle witmense; julle is jaloers en julle gun ons swartmense niks. Hierdie is ’n rassistiese ding. Julle weet nie hoe om ryk swartmense te hanteer nie.”

Beide argumente is natuurlik bog.

Hier is baie ryk en baie arm mense in die land. Reisigers deur Afrika vertel jou dat daar baie armoede in Afrika is, maar dat die gaping tussen

2 Rapport, 28 Desember 2003; The Star, 6 May 2004.

3 Rapport, 23 Januarie 2005.

ryk mense en arm mense op die vasteland nêrens so groot is soos in Suid- Afrika nie. Die enigste ander plek in die wêreld waar die gaping so groot is, is Brasilië.5

Die statistiek van geleerde navorsers is oorweldigend en kan ’n mens platslaan.6 Die ongelowige Thomasse wat hierdie koue syfers betwyfel,

moet net self ’n draai in die townships maak en kyk na die talle jongmense wat werkloos is en die haglike omstandighede waarin mense moet woon. Dr. Hastings Banda, destyds president van Malawi, het my vertel dat Suid-Afrika se swartmense die bes geklede swartmense in Afrika is. Hy het seker gesien hoe ek my in die opmerking verlekker, maar toe pak hy my onmiddellik omdat ons nie vir Nelson Mandela vrylaat nie. Hy het beskul- digend aangedui dat die driekamerparlement, waarin ons kleurlinge en Indiërs polities akkommodeer, ’n belediging vir die swartmense in Suid- Afrika en ook vir die ganse Afrika is. Totdat swartmense vry is, sal hul ekonomiese voorspoed in vergelyking met die res van Afrika net mooi niks beteken nie.

Ons het destyds gedroom dat Soweto die mooiste swart stad in Afrika sou wees. Toe die skaflike behuising in Soweto aan ’n Mosambiekse diplo- maat gewys is, is hy gevra wat hy van hierdie “weelde” dink in vergelyking met die armoede in sy land – een van die armstes in die wêreld. Sy ant- woord was: “Die mense in my land is vry. Vryheid kan nie met netjiese match box-behuising onderdruk word nie. As ek moet kies, dan kies ek vryheid.”

Suid-Afrika en sy mense is vry; die behuising is steeds beter as dié in Maputo en elders in Afrika. Die arm mense in ons land vergelyk hulle nie met die armes elders in Afrika nie, maar met die rykes in Suid-Afrika. Vir die wat arm en honger is, beteken dit net mooi niks nie om te sê: “Jy moet dankbaar wees, want jy is beter daaraan toe as die armes en die honger mense elders in Afrika en die wêreld.”

Ons het dikwels te vertel dat Suid-Afrika se mense meer toegang tot elektrisiteit het en meer motors besit as enige ander plek in Afrika. Dit beteken net mooi niks. Mense kyk na die situasie in die land – wie het iets

5 Chris Landsberg, toespraak gelewer tydens die Klein Karoo Nasionale Kunstefees soos gerapporteer in Beeld, 28 Julie 2005.

en wie het niks. Dit is die rede waarom werkers staak – hulle kyk na die winsgrense van die maatskappy en die bonusse wat bestuurders betaal word en dring dan deur hul vakbonde op ’n verhoging aan. Basta met wat in ander maatskappye of elders in die wêreld en Afrika gebeur.

In die ou dae het ons baie meer aan wit kinders se onderwys bestee as aan swart kinders se onderwys. Om nou nog te argumenteer dat “ons swartmense” beter onderwys ontvang het as diegene in die res van Afrika, is irrelevant. Vandag word eenvoudig gekyk na waar die bevoorregte skole is en waar die skole sonder toerusting, water, elektrisiteit, toilette of sportvelde is. Daar word bepaal wie se ouers ’n bydrae kan lewer tot die uitbouing van die skool en wie s’n nie.

’n Klompie jong, werklose manne en ek soek skuiling teen die koue aan die sonkant van die gemeenskapsaaltjie en ons bespreek die vorige Saterdag se verloortoets teen die All Blacks. Naas Botha se wyshede word dáár soos evangelie opgediep. Dit is vir my ’n vreemde ervaring om on- dersteuners vir die Springbokke én die Kiwi’s dáár te sien – dit is nie net Trevor Manuel wat vir die Kiwi’s geskree het nie. Die lojaliteit vir die Kiwi’s kom uit die jare toe dié gemeenskappe gekwets en gekneus is; dit was ’n vorm van verset, word ek vertel. Ek sluk swaar aan hierdie bitter Kiwi-pil. Maar daar is ’n goedige gespot tussen die Kiwi- en Bokondersteuners.

Die hartseer verhaal is egter dat nie een van daardie jong mans, skool- opleiding ten spyt, al ooit gewerk het nie. Daar is eenvoudig geen werks- geleenthede in die omgewing nie.

Volgens gemeenskapsleiers is die vlak van ongeletterdheid onder vol- wassenes in daardie kontrei so hoog as 70%. ’n Boer het die Kommissie eenkeer vertel hoe dít ’n persoon se waardigheid krenk. Hierdie hulpe- loosheid van volwassenes wie se geleerde kinders nie naby is om te help nie, en die ongeduld van uiters onverdraagsame staatsamptenare, stroop ongeletterde mense van hul selfrespek. Hul onvermoë om byvoorbeeld vorms vir ouderdomspensioen in te vul, laat hulle dikwels gestrand.

In document My regte! Jou regte? / Leon Wessels (pagina 194-196)