• No results found

Kamp Staaldraad en kaalnaelers

In document My regte! Jou regte? / Leon Wessels (pagina 62-67)

Jare gelede het Thomas Jefferson vertel dat sy mense van nature vry is en dat dit nie deur die guns van die plaaslike “magistraat”, oftewel die ower- heid, geskied nie. Die grondwetlike onderhandelaars het iets hiervan pro- beer vasvat deur te verklaar dat elke mens geregtig is op “ingebore” waar- digheid.1

Die belangrikste internasionale menseregtedokumente soos die Uni- versele Deklarasie van Menseregte en die Afrika Handves van Regte erken en omskryf menswaardigheid as ’n onvervreembare en onaantasbare reg. Menswaardigheid word ook in verskillende grondwette as die sleutel tot die menseregtebedeling bestempel.

In die nuwe Suid-Afrikaanse demokrasie is die sentiment vroeg-vroeg uitgespreek dat die reg op lewe en menswaardigheid die belangrikste twee regte is. Dit vorm die basis vir ’n reeks persoonlikheidsregte en selfs ook ander regte. Mense is geregtig op respek en beskerming.2

Elke mens, ongeag sy of haar burgerskap of status, is geregtig op mens- waardigheid. Menswaardigheid ken geen grense nie. Almal is daarop ge- regtig, bloot omdat hulle mense is. Asielsoekers en vreemdelinge in ons land is ook op menswaardige behandeling geregtig.

Al hierdie geleerde woorde het een oggend in die Vrystaat vir my spesiale betekenis gekry toe Jerry Nkeli, ’n lid van die Kommissie, kaal- voetkinders by ’n plaasskooltjie moes toespreek. Ek het gewonder hoe hy

1 Artikel 10 – “Elkeen het ingebore waardigheid en die reg dat daardie waardigheid gerespekteer en beskerm word”. [Eie beklemtoning.] 2 S v Makwanyane 1995 (3) SA 391(KH).

hulle aandag sou hou, want dit was my vermoede dat hulle eerder sou wou speel as om na hierdie omies uit die stad te luister – dit was egter ’n pligpleging wat hulle nie kon ontsnap nie.

My verbasing was groot dat hy hulle kon boei met ’n toespraak oor die reg op menswaardigheid:

“Onthou en moet asseblief nooit daaraan twyfel nie dat julle belangrik is. Die feit dat ons vanoggend hier is, bevestig dat julle en jul regte vir ons belangrik is. Julle is belangrik, want julle het ‘ingebore’ menswaardigheid – dit staan in die Grondwet geskryf. Die Grondwet is die hoogste wet in die land; almal staan onder hierdie wet – die Staatspresident, julle tradisionele leiers, julle ouers, die onderwysers, almal! Niemand durf julle ooit misbruik of mishandel nie – nie julle ouers nie, nie julle familie of julle vriende nie, nie hierdie onderwysers wat saam met ons op die verhoog sit nie (die kinders giggel saggies), nie die boer op wie se plaas die skool is nie, ook nie die boer op wie se plaas julle bly nie. Julle het ’n reg om geag te word. Julle het ’n plek onder die son. Wat meer is, ander moet dít respekteer.”

So gaan hy voort en vertel onder luide gelag dat lyfstraf ontoelaatbaar is, waarsku teen seksuele mishandeling en uitbuiting deur mense in gesags- en vertrouensposisies en lig almal in dat kinderarbeid onwettig is. Die kinders geniet dit gate uit, so asof hy met elke stelling die spyker op die kop slaan – tot groot ongemak van al die eerbiedwaardige onderwysers en gemeenskapsleiers op die verhoog wat kort-kort senuweeagtig rondskuif. Menswaardigheid vind neerslag in baie vorme en kom ook kort-kort ter sprake wanneer ander regte oorweeg word – armoede, werkloosheid, taalregte, godsdiensregte en gelykheid. Bykans alle regte kan daarmee in verband gebring word. Menswaardigheid as ’n waarde moet telkens oor- weeg word wanneer regte geïnterpreteer, gebalanseer of beperk word.

Menswaardigheid as ’n reg het al in die howe ter sprake gekom wan- neer die doodstraf, lyfstraf, laster en metodes van kriminele ondersoek oorweeg is.

Menswaardigheid as ’n selfstandige reg is vatbaar vir beperking wat volgens die gewone reëls van beperking geskied. So kan die sakeman wat tronkstraf vir witboordjiemisdaad uitdien, hom nie daarop beroep dat sy menswaardigheid aangetas word omdat hy nie toegelaat word om sy duur snyerspakke in die tronk te dra nie. Verder kla hy dat hy dit as vernederend beleef om die kleredrag van die gevangenis te dra wanneer vriende en

kollegas kom kuier. Die optrede van die owerheid is in hierdie omstandig- hede toelaatbaar omdat dit redelik en versoenbaar is met soortgelyke optredes in oop demokratiese samelewings. Hy mag egter nie uitgesonder word vir spesiale diskriminerende aandag bloot omdat hy ’n stewige bank- balans het nie.

Menswaardigheid kan geensins onder noodtoestande opgehef word nie. Geen krisis in ’n land kan dus so groot wees dat iemand se menswaar- digheid van hom weggeneem of geheel en al geïgnoreer kan word nie. Tydens so ’n noodtoestand mag ’n persoon byvoorbeeld nie van sy klere gestroop word om te verseker dat hy nie uit aanhouding ontsnap nie.

In die ou dae toe niemand ’n grondwetlike reg tot “ingebore” mens- waardigheid gehad het nie en die grondwetlike bedeling nie berus het op die grondwetlike waardes van onder andere menswaardigheid nie, kon jy kwistig name gee tydens ontgroeningseremonies. Jong mans is op die para- degrond vertel hoe treurig hulle was – die drilinstrukteur kon sy gekruide woordeskat uitstal en daarmee wegkom. Kriminele en siviele stappe kon ingestel word, maar dié moeisame pad is selde betree. Sou dieselfde vandag gebeur, sou dit groot grondwetlike sake impliseer met talle openbare in- stellings wat toesig hou. Dit is dringender en nog meer verswarend wanneer die persoon aan die ontvangkant nie soos jy lyk nie.

Me. Nosimo Balindlela, Oos-Kaapse LUR en tans die Premier in daardie provinsie, dagvaar me Erika de Beyer in ’n siviele geding omdat sy Balindlela ’n bobbejaan genoem het. “Niemand het die reg om enige ander persoon se waardigheid op so ’n manier af te kraak nie. Ek kan dit nie daar laat nie,” het Balindlela gesê. De Beyer is reeds in ’n landdroshof met R1 500 beboet vir crimen injuria en deur landdros Elmarie Potgieter gemaan om eerder in die toekoms te dink voordat sy praat.3

Tydens ’n heftige bespreking oor regstellende aksie en die feit dat vroue dikwels die binnebaan geniet wanneer dit kom by die vul van vaka- tures, merk Mongezi Guma, Voorsitter van die Kommissie vir die Bevor- dering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalge- meenskappe, ondeund op: “Dit is gelukkig nie ’n probleem waarmee die Springbokrugbyspan opgesaal sit nie.” “Hoekom?” wil almal verbaas weet.

“Vrouens wil nie saam met die Springbokke oefen nie, want hulle oefen sonder klere.”

Die foto van die klompie Springbokke – verskrik, kaal en met sulke uitgewaste oë – wat sonder hul toestemming op die voorblaaie van ons koerante pryk, of die eerstejaarmansstudente wat kaal soos diere deur dronk seniors in die strate van die studentedorp aangejaag word, sal nooit die toets van “ingebore waardigheid” kan deurstaan nie.

Ondersteuners van hierdie soort aktiwiteite sukkel om dít te verstaan en begryp nie dat hul optrede nie deur die Grondwet beskerm sal word nie.

Die Konstitusionele Hof het uitgewys dat menswaardigheid sentraal staan in die debat oor die verbod op “onbillike diskriminasie” – dit beteken om mense op so ’n wyse verskillend te hanteer dat hul aanspraak op waar- digheid nie aangetas word nie. Menswaardigheid en vryheid is ook ten nouste met mekaar vervleg – menswaardigheid het weinig betekenis sonder vryheid.4

Uitasem bel iemand wat aan die hoof staan van skoonheidsopleiding by ’n tegniese kollege die Kommissie: “Hier voor my deur staan ’n jong man wat daarop aandring dat ons hom oplei in skoonheidskunde. Ek het verduidelik dat dit nie moontlik is nie, want die instrukteurs is vroue, die studente is vroue en die kliënte is vroue. Hier was nog nooit ’n man nie; hier is nie plek vir ’n man nie.” “Nee,” sê die aspirantstudent, “julle is uit die oude doos – ons het nou ’n Grondwet wat bepaal dat julle nie teen my mag diskrimineer nie. Ek wil opgelei word in skoonheidskunde en wil in die filmbedryf werk. Hier gaan nog eendag ’n Suid-Afrikaanse Hollywood tot stand kom – ek wil deel wees daarvan. Julle moet my oplei. Ek gaan elke dag terugkom totdat julle instem om my op te lei.” “Wat staan my te doen?” pleit die benoude stem aan die ander kant. “Ons is net vroue hier, ons doen dinge hier wat net een vrou aan ’n ander kan doen sonder om ongemak te veroorsaak. Wat staan my te doen?”

Ek voer ruggespraak met Barney Pityana, Voorsitter van die Kommissie. Ons toets die omstandighede teen die grondwetlike bepalings. Kyk, dis-

4 Prinsloo v Van der Linde 1997 3 SA 1012 (KH); President of the Republic

of South Africa v Hugo 1997 4 SA 1 (KH); Ferreira v Levin NO 1996 1 SA

kriminasie is uit – hulle sal nie teen die voornemende student kan diskri- mineer bloot omdat hy ’n man is nie – hulle sal hom dus so ver moontlik moet akkommodeer. Of sou ’n mens dalk kon argumenteer dat diskrimi- nasie in hierdie geval redelik en billik is? Vroue se waardigheid moet egter ook gerespekteer word en waar hul waardigheid in gedrang kom, sal dit respekteer moet word. Die klasse of die praktiese oefeninge wat ongemak veroorsaak, sal gedupliseer moet word. Is dit egter haalbaar en billik om so iets te verwag? Ons besluit dat gelykheid en waardigheid opgeweeg moet word, maar dat die vroue se aanspraak op waardigheid die deurslag moet gee.

Menswaardigheid moet ’n eg Suid-Afrikaanse inhoud kry. Ubuntu (me- demenslikheid – ek word mens deur ander mense) moet in die praktyk toegepas word. “Om volkome mens te wees, moet jy die menswaardigheid van ander erken. Begin by jouself en ontdek die goeie in ander. Moenie kla dat mense jou nie verstaan nie. Dit is jou plig om jouself verstaanbaar te maak. En as jy vervul en bemagtig is, sal jy geen tyd hê om ander af te kraak of terug te hou nie.”5

Menswaardigheid word nie verwerf nie en dit word nie aan jou toe- geken nie. Jy is die draer daarvan. Nie so ’n maklike saak in sommige kulture nie, vertel my Zoeloesprekende gespreksgenoot my. In die Zoe- loekultuur, soos in die Afrikanerkultuur, is dit moeilik, want eerbied en waardigheid moet verwerf word – jou ouderdom en jou status in die familie bepaal op hoeveel eerbied en waardigheid jy geregtig is. Dit mag so wees, antwoord ek, wat rangorde en plek in die gesagstruktuur betref, maar dit magtig jou geensins om iemand anders, ook nie jou minderes, sonder respek te behandel nie, want dan druis dit in teen die bepalings van die Grondwet en die gees van ubuntu.

5 Mark Matabane, skrywer van Kaffir Boy, soos aangehaal in Rapport, 30 Mei 2004.

GELYKHEID

Eerste tussen gelykes,

In document My regte! Jou regte? / Leon Wessels (pagina 62-67)