• No results found

’n Ander element wat Joon as die verpersoonliking van goedheid en onskuld karakteriseer, is sy voorkoms, veral sy kleredrag. In teenstelling met Hein, word Joon in elke toneel waarin hy voorkom geklee in ’n wit kledingstuk, hetsy ’n hemp of broek. Weereens is die kleur ’n simbool vir en ’n weerspieëling van sy aard. Wit is ’n simbool vir reinheid en onskuld (Chevalier & Gheerbrant, 1996:1107), wat aansluit by Joon se karakter.

Daar kan ook verwys word na die agtergrondmusiek wat telkemale gehoor kan word wanneer Joon op die skerm verskyn. Dit is ligte klaviermusiek wat die spanning van ’n vorige toneel verlig, en ook dien om ’n gelukkiger en ligter toon en atmosfeer vir die bepaalde toneel te skep. Joon se aankoms in ʼn toneel word telkens aangekondig deur sy fiets se klokkie. Die klokkie se klank word as’t ware ’n leitmotif in die film. Byvoorbeeld, in die toneel waar Timus deur ’n groep rampokkers na die vlei geneem en geboelie word om te urineer, hoor die kyker eers Joon se fietsklokkie, waarna hy op ’n magiese manier (byna uit die niet) met sy fiets op die skerm verskyn. Hierdie insident, sowel as die toneel waar Joon ook uit die bloute vir Timus aan die begin van die film uit die water red (stilbeeld 4.8), gee aan hom ’n mistieke en geheimsinnige

Die geheimsinnige en mistieke karaktereienskap word ook in sy dialoog beklemtoon. Joon het in die totale speeltyd van die film relatief min dialoog. Daar is enkele tonele waar hy met ander karakters praat, maar dit duur nie lank nie. Daar is wel by twee geleenthede gesprekke waartydens hy met ’n ander karakter ’n belangrike en in-diepte gesprek voer. Die eerste is waar Joon vir Marie Gouws oorreed om die geweer te oorhandig en nie vir Goolshan te skiet nie. Die ander gesprek vind plaas tussen Timus en Joon na afloop van sy verkragting waar daar gesuggereer word dat hy vir Joon hiervan vertel. In beide tonele is die gesprek tussen Joon en die ander karakter onhoorbaar en die kyker kan dus nie uit sy dialoog Joon se karakter bepaal nie, maar slegs deur die ander karakters se aksies na afloop van sy gesprek. Dit versterk die mistieke en geheimsinnige aard van Joon se karakter, sowel as sy buitestaandersskap. Bisschoff (1992:50) voer aan dat die buitestaander nie baie kommunikeer nie, veral nie oor homself of uit sy eie nie, wat uiteindelik bydra tot sy uitsluiting. Dié aspek is wel van toepassing op Joon, want die kyker kry nooit toegang tot sy gedagtes of denkwyses nie. Sy wys ook daarop dat ’n karakter se buitestaanderskap nie uit vrye keuse is nie; hy word om die een of ander rede deur die gemeenskap verwerp (Bisschoff, 1992:50). In Joon se geval word hy ’n buitestaander as gevolg van sy ooggebrek. Verder kan daar ook geargumenteer word dat Joon se uitsluiting ’n gevolg is van sy beroep wat verhoed dat hy sosiaal en finansieel by die samelewing aansluit.

Dit is ook weens laasgenoemde twee faktore dat Joon getipeer kan word in terme van wat Connell (2005:80) gemarginaliseerde manlikheid noem. Hierdie tipe manlikheid verkeer in ’n subordinate posisie teenoor die hegemoniese manlikheid. Redes hiervoor is dat gemarginaliseerde manlikhede se gerigtheid ten opsigte van etniese, religieuse of rasseverskille nie deur die hegemonie gedeel word nie. Gestremdheid word ook by hierdie lys gevoeg, omdat ’n gebrek deur die samelewing as ʼn swakheid beskou word, en gestremdheid nie hoort by ’n volwaardige Afrikanerman nie. Joon se fisiese gestremdheid laat die kyker vermoed dat hy moontlik ook in ’n mate swaksinnig is. Crous (2011) sluit hierby aan en wys daarop dat Joon se skeelheid die kyker laat wonder of hy “heeltemal by sy sinne is”.

Joon se manlikheid kan moontlik, net soos by Harry, binne die kader van gemarginaliseerde manlikheid geklassifiseer word. Daar is egter verskille, naamlik dat Joon op ’n meer direkte wyse die hegemonie uitdaag. ’n Voorbeeld van die uitdaging is

die feit dat Joon sosiale en maatskaplike probleme in die gemeenskap oplos en suksesvol hanteer, terwyl karakters met hegemoniese mag nie daartoe in staat is nie. Sy gemarginaliseerde manlikheid berus dan daarop dat hy in die gemeenskap gemarginaliseer word as gevolg van sy gestremdheid en beroep (dit wil sê sy sosiale klas). Hoe dit ook al sy, word Joon nie ernstig opgeneem nie en hy verkeer uiteindelik in ’n subordinate posisie. Hoewel hy in sekere opsigte meer vir die gemeenskap doen, word hy ’n slagoffer van die hegemonie en ’n sondebok vir die onreg in die gemeenskap.

Afgesien van die aspekte wat met Joon se buitestaanderskap gepaard gaan, ontlok hy as karakter ook empatie by die kyker. Die empatie en karakterbelewing word bevorder deur die representasie van ’n gemeenskap binne die filmwêreld wat vir Joon marginaliseer en hom nie ten volle aanvaar as lid van die samelewing nie. Die kyker se empatie met Joon dra by tot die destabilisering van Afrikanermanlikheid as norm.

4.5 Destabilisering van hegemoniese Afrikanermanlikheid

Uit die voorafgaande is dit duidelik dat daar verskillende vorme van manlikheid in die film voorkom. Daar is manlike karakters wat die beliggaming van die hegemonie is, of ’n bepaalde verhouding met die hegemonie het; en dan is daar die randfiguur as karakter wat nie by die hegemonie ingesluit word nie, en wat as gevolg van sy gestremdheid deur die samelewing gemarginaliseer word. Wat egter van belang is, is die implikasies wat die verskillende vorme van manlikheid vir hierdie bepaalde samelewing inhou. Die hegemonie is ontoereikend en slaag nie daarin om die maatskaplike of sosiale probleme in die gemeenskap op te los nie, terwyl die gemarginaliseerde randfiguur wel daarin slaag.

Hierdie gedeelte gaan die voorafgaande stelling bespreek deur Joon in teenstelling te plaas met Abram en Dominee, Harry Gouws, Hein en Zane om uiteindelik aan te dui hoe Joon as buitestaander die hegemoniese Afrikanermanlikheid destabiliseer deur middel van sy ondersteuning van ondergeskiktes en sy rol as middelaar in die gemeenskap. Dit is egter interessant om daarop te let dat in die insidente waar Joon as redder optree, dit gevalle is wat veroorsaak word of onsuksesvol hanteer word deur verteenwoordigers van hegemoniese Afrikanermanlikheid.

Daar is reeds beredeneer dat Joon as ʼn verlossersfiguur in die film beskou kan word. In die filmwêreld word dit beklemtoon in veral die eerste paar tonele. Die dekor in sy kamer dien as ʼn aanduiding van sy verlosserskap, veral die skildery wat duidelik in stilbeeld 4.9 gesien kan word.