• No results found

HOOFSTUK 5 TRIOMF (2008)

5.4 Die filmwêreld van Triomf

6.2.4 Die destabilisering van hegemoniese Afrikanermanlikheid

Daar is vasgestel dat die randfiguur ’n simbool is vir die waarheid en die onreg wat in ’n bepaalde gemeenskap gepleeg word. Die randfiguur strewe (dikwels onbewustelik) om die waarheid te ontbloot wat deur die gemeenskap of ideologie verberg word. In die drie gekose films tree die randfiguur as destabiliseerder van hegemoniese Afrikanermanlikheid op deurdat hy sekere aspekte daarvan blootlê, die mag daarvan ondermyn, of opsigself ’n produk is van die ingekeerdheid van die Afrikanergemeenskap.

In Faan se trein destabiliseer Faan Afrikanermanlikheid op twee wyses. In die eerste plek ontmaser hy manlike seksualiteit en begeerte. Deur sy onkunde ten opsigte van sosiale konvensies verwys of kyk Faan eksplisiet na vroulike karakters se borste en maak aanstootlike en ongeskikte opmerkings. Sersant, Dokter en Dominee wat as bakens van Afrikanermanlikheid gesien kan word, beskou Faan se optrede en uitsprake as onbeduidend en “normaal” vir ’n man. Hierdie insident wys op Afrikanermanlikheid se opvattings dat die seksuele drange na ’n vrou ’n natuurlike reaksie is vir ’n man, en dat vrouens ’n objek is vir die man se begeerte. In die tweede plek ontmasker Faan die onregte van rasseskeiding en gepaardgaande rassisme wat kenmerkend is van die Apartheidsera en Afrikanermanlikheid. Hy doen dit deur sy vriendskap met Stinkhans, wat uiteindelik Faan se enigste ware vriend is. Faan beskou Stinkhans as sy gelyke en behandel hom net soos al die ander “belangrike” gesagsfigure.

In Roepman word Afrikanermanlikheid gedestabiliseer deur Joon wat as redder optree binne sekere kontekste en gevalle waar die vooraanstaandes van die gemeenskap (dit is die karakters wat verteenwoordigend is van die hegemonie) gefaal het. Daar is drie insidente waar Joon as redder optree, naamlik as hy Timus se onskuld beskerm, by

onskuld ten opsigte van die seksuele wanneer hy vir Timus red uit die water by die hawe voordat hy te wete kan kom wat ’n kondoom is, en wanneer hy tussenbeide tree wanneer Hein vir Timus ’n pornografiese tydskrif wys. Joon se redderskap word egter getroef wanneer Hein vir Timus molesteer. Tweedens red Joon betyds vir Erika van haar selfmoordpoging. Na die insident word sy uitgebeeld as somber en sprakeloos totdat Joon die hele gemeenskap saam onder ’n fontein in die straat laat lag. Hierdie insident wys op Abram (en uiteindelik die hegemonie) se ontoereikendheid teenoor sy kind, en die implikasies van sy streng en onbeteuelde navolging van die hegemonie. Laastens tree Joon as redder en middelaar op vir Marie en Goolshan. Abram en Dominee se pogings om die konflik tussen Marie en Goolshan op te los, deur middel van voorlesings uit die Bybel, is onsuksesvol en word ondermyn wanneer Joon op die toneel opdaag en binne enkele minute die geweer van Marie wegneem en haar huis toe vergesel. Dié insidente dui op die ontoereikendheid en onderdrukking wat die hegemonie vir die gemeenskap tot gevolg het.

Lambert, in die film Triomf, se karakter tree as destabiliseerder van hegemoniese Afrikanermanlikheid op. Hy is die swaksinnige randfiguur in ’n reeds gemarginaliseerde ruimte, en die vrug van ’n bloedskandelike verhouding tussen sy ma en haar twee broers. Daar is aangedui dat dit die uiterste vorm van destabilisering is. Sodoende word Lambert bestempel as ’n bedreiging vir die stabiliteit en nasionale Afrikaneridentiteit. Sy vriendskap met ’n swart man, en die seksuele toenadering tot ’n kleurlingprostituut, voer die destabilisering verder, en doen afbreuk aan die rassistiese opvattings van die hegemonie. Lambert, as abjekte karakter wat deur bloedskande in die lewe gebring is en die proses voorsit deur gemeenskap te hê met sy ma, lewer direk kommentaar op die verkrampte, ingeteelde ideologieë van die Afrikaner waarvan hy insgelyks slagoffer én destabiliseerder word.

6.2.5 Kommentaar op die samelewing

Deur die verloop van die verhandeling het dit duidelik geword dat die randfiguur in die drie films gebruik word om sosio-politieke kommentaar te lewer op die samelewing. In elkeen van die films lewer die randfiguur kommentaar, nie net op die gemeenskap wat in die filmwêreld uitgebeeld word nie, maar ook op die groter Suid-Afrikaanse gemeenskap.

Faan is die vergestalting van onskuld wat die onregte van hegemoniese Afrikanermanlikheid en Apartheid ontbloot. Verder word hy ook die sondebok en moet hy onregverdig die las vir menslike foute dra. Deur sy onskuld en swaksinnigheid bewerkstellig hy tog op ’n indirekte manier samesyn en relasionaliteit in die dorpie. Joon se dood wys op sy beurt na die mag en onderdrukking wat die hegemonie uitoefen, nie net op die spoorweggemeenskap nie, maar ook die groter Suid-Afrikaanse samelewing. Deur hom word kykers uitgedaag om die implikasies en onstabiliteit van hegemoniese Afrikanermanlikheid te besef, en die onreg wat dit ingehou het vir verskillende rasse, geslagte en klasse.

Lambert lewer net soos die ander randfigure ook kommentaar op die samelewing, maar sy optrede spruit uit sy swak verstandelike vermoëns en is sy optrede nie doelbewus nie. In die slottoneel van die film maak hy sy “vaders” dood. Hierdie toneel word gelees as ’n verlossing en uitwissing van die Afrikanerideologieë en -patriargie. Dit word in verband gebring met die politieke konteks van die film op die vooraand van die verkiesing in 1994, waar Apartheid tot ’n val gekom het, en Suid-Afrika verlos is van ’n rassistiese en diskriminerende bestel. Die feit dat Sonny vir Lambert uit die vlamme red terwyl Sonny ’n hemp met ’n afbeelding van Mandela dra, word gesien as ’n vooruitskouing van die komende bestel waar inklusiwiteit en samewerking tussen rasse bevorder en aangehelp word.