• No results found

27

Swart kleredrag staan ook in verband met alternatiewe identiteit. In die sestigerjare was kunstenaars dikwels randfigure ten opsigte van die hegemonie. So ook die “hipsters” (of “ducktails”) van daardie jare, wat staan teenoor die “squares”.

Met verwysing na stilbeeld 4.7, is die hoek waarmee Hein verfilm word, ’n laehoekskoot. Dieselfde as met Abram, skep hierdie tipe hoek die indruk dat Hein as ’n belangrike en magtige karakter gesien word, of homself so sien. Dit beklemtoon veral sy dominansie in die gemeenskap en in die besonder van Timus. Verder wissel die skote ten opsigte van afstand tussen medium-, naby- en groot nabyskote, afhangende van die tyd in die handeling, wat spanning skep en Hein as magtiger en in beheer van die interaksie met ander persone binne sy onmiddellike omgewing uitbeeld.

Die onheil en donkerte van sy geaardheid word verder deur sy dialoog beklemtoon. In bykans al die tonele waar Hein in gesprek tree met karakters (wat in meeste gevalle Timus is) word daar gebruik gemaak van kru taal. Woorde soos “fok” en “fokkit”, sowel as aanstootlike woorde vir vroulike liggaamsdele kom gereeld in sy dialoog voor. Sy taalgebruik wys op sy opstand of rebellie teenoor die Calvinistiese norme en waardes, maar nie teenoor die algemene manlikheidsbeeld nie: dit word tradisioneel beskou as manlik om soms ’n obsene of aanstootlike woord te gebruik, veral tussen ander mans.28

Hierdie taalgebruik bevestig dominansie en dien as bewys vir ’n persoon se manlikheid. Hein is dus oënskynlik deel van wat Connell (2005) identifiseer as medepligtige manlikheid. Dit is die vorm van manlikheid wat die hegemonie ondersteun en sekere aspekte daarvan nastreef. In die geval van Hein is dit veral die strewe na mag en dominansie (wat deur beide dialoog en kameraskote bevestig word), en veral ook ’n rassistiese lewensbeskouing.

TIMUS: Ek weet nie wat politiek is nie. Lyk my jy besluit maar net of jy NAT of SAP is, dan hou jy nie van die ander nie. Mammie is ’n SAP. Hulle praat van Bantoes en Indiërs.

HEIN: Fokken kaffers en koelies man, dis wat hulle is. TIMUS: O dan is jy NAT.

Hein se uitspraak bevestig die rassistiese denkpatrone wat veral voorgekom het tydens die sestigerjare. Dit dui egter ook op die politieke denkwyse wat hy ondersteun, naamlik die Nasionale Party wat deur Dr. Verwoerd gelei is en ’n groot invloed gehad het op hegemoniese Afrikanermanlikheid.

28

Vergelyk die digter Antjie Krog se taalgebruik in haar poësie waar sy vloek- en obsene woorde gebruik as ’n manier tot verset en uitdaging van die Calvinstiese, patriargale bestel wat voorhou dat vrouens nie

Hein is egter nié die beliggaming van hegemoniese manlikheid nie, vanweë sy kleredrag en dialoog, maar veral sy seksuele oriëntasie soos blyk uit die insident waar hy vir Timus molesteer. Daarom kan hy beskou word as ’n ambivalente karakter binne die mikrokosmos van die gemeenskap. Hy toon wel ooreenkomste met medepligtige manlikheid, wat as ’n lae vorm van die hegemonie gesien word, maar tog gekenmerk word deur mag en dominansie.

Hein se seksualiteit beklemtoon voorts sy ambivalente posisie ten opsigte van manlikheid. Hy word nie eksplisiet as homoseksueel uitgebeeld nie, en daar word gesuggereer dat niemand anders in die gemeenskap, behalwe Timus, hiervan bewus is nie. Weer eens toon Hein sterk ooreenkomste met medepligtige manlikheid, eerder as om deel te vorm van subordinate manlikheid wat verwys na die onderdrukte manlikheid van homoseksuele mans. Connell (2005) wys daarop dat die onderdrukking van homoseksuele mans (of subordinate manlikheid) die laagste vorm van manlikheid is, en ook die vorm wat verkleineer word en beskou word as dit wat mans veronderstel is om nié te wees nie. Connell se tipologie bied ’n werkbare instrument vir die analise van manlikheid, solank dit nie op ʼn rigiede manier toegepas word nie, soos in Hein se geval: aan die een kant is hy homoseksueel (wat aansluit by subordinate manlikheid), en aan die ander kant vertoon hy sterk manlike eienskappe deur sy dialoog, handeling en voorkoms wat deel vorm van sy pogings om sy homoseksuele neigings te verbloem (wat hom eerder laat leun in die rigting van medepligtige manlikheid).

Hein kan dus eerder bestempel word as ’n ambivalente karakter. Sy gedrag, ten spyte daarvan dat dit sekere elemente van medepligtige manlikheid nastreef, is abjek. Hy molesteer vir Timus en is aandadig aan die moord op Joon. Beide hierdie insidente het te make met die oorskryding van sosiale en morele grense. Sy abjekte gedrag veroorsaak egter nie dat hy uit die spoorweggemeenskap gesluit word nie, anders as met Joon wat in besonder as ’n randfiguur uitgebeeld word. Daar moet egter steeds in gedagte gehou word dat Hein, binne die groter Suid-Afrikaanse konteks, gemarginaliseer word op grond van sy sosiale status.

4.4.2.4 Joon as verteenwoordigend van gemarginaliseerde manlikheid

Net soos met die bostaande karakters, besit Joon ook binne die groter sosiale konteks van Afrikanermanlikheid ’n element van marginalisering. Joon word verder binne die

patrone van hegemoniese Afrikanermanlikheid soos dit in die spoorweggemeenskap manifesteer, gemarginaliseer. Hy ervaar gevolglik dubbele marginalisering.

Die titel van die film verwys reeds by implikasie na ʼn randfiguur. Die WAT (2016) definieer ’n roepman as ’n “manlike persoon wat spoorwegwerkers, veral dié wat by treine betrokke is, moet roep of wakker maak sodat hulle betyds vir 'n skof kan wees”. Dit verduidelik dat ’n roepman vir die spoorweg werk, maar nie direk betrokke is by die treine en die vervoer van goedere nie, alhoewel dit sy verantwoordelikheid is om seker te maak dat spoorwerkers betyds vir hulle skofte is.

In die film is Joon die roepman wat die werkers in ’n spoorweggemeenskap by Durban moet wakker maak. Sy werk as roepman bevat tog ’n mate van verantwoordelikheid. In die toneel na die openingstoneel verduidelik Timus (terwyl hy vir Joon afloer terwyl dié aantrek) die belangrikheid van ’n roepman se werk vanuit sy kinderperspektief: “As roepmanne nie hulle werk doen nie, sal die hele Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens gaan staan, sê Ma. Ma en die spoorweë kan gerus wees – Joon is ons roepman.” Timus maak egter ’n verkeerde afleiding en haal sy ma aan vanuit ’n foutiewe konteks. Ada het waarskynlik hierdie uitspraak gemaak as ’n sedeles om die nederigheid van Joon se beroep te verskans. Sy perspektief op Joon skep ook die indruk by die kyker dat Timus meer vertroue en verantwoordelikheid aan Joon toeken as wat verwag word van ’n roepman.

Timus verduidelik ook in sy alleenspraak aan die begin van die film dat Pa van mening is dat “al doen Joon die nederigste werk, is hy ’n Godvresende jong man wat nog baie mense die regte pad gaan aanwys”. Die werklike aard en sosiale stand van Joon se beroep word geopenbaar deur Pa se woorde (in die dialoog vanaf 31:02 – 31:34):

ADA: Dank vader Joon het daar opgedaag.

ABRAM: (Streng) Niemand ondermyn die kerk se werk nie. (Stilte)

OUMA: Nou verstaan ek ook beter wat ’n roepman is. TIMUS: Joon is die beste een Ouma.

OUMA: Hé.

ABRAM: Sterrekyker. Hy’s so skeel hy weet nie eers hoe die aarde lyk nie.

OUMA: Maar hy maak darem die mense wakker wat moet gaan werk. Wat ’n edele taak.

In hierdie gesprek word Joon se buitestaanderskap duidelik aan die orde gestel weens die lae posisie van sy beroep, sowel as die feit dat hy ’n fisiese gestremdheid het. Pa se woorde bevestig die gemeenskap se minagting teenoor Joon, asook die bespotting wat hy moet verdra – mense noem hom “Sterrekyker” weens sy gebrek.

Wat hierdie gesprek egter ook blootlê, is Joon as die gemeenskap se roep-man. Hiermee word verwys na die talle kere waar Joon geroep word om probleme of konflik in die gemeenskap op te los, of waar hy medekarakters, veral vir Timus, uit moeilike situasies red. Dit gee aan Joon ’n verlosserseienskap wat later uitvoerig bespreek sal word.

Die maatstaf waarmee Joon se beroepsposisie gemeet word, kan direk gekoppel word aan die hegemoniese Afrikanermanlikheid wat tydens die 1960’s in Suid-Afrika geheers het. Abram, wat beskou kan word as die beliggaming van hierdie tipe manlikheid, verduidelik dat ’n roepman die laagste werk is wat ’n witmens kan doen op die spoorweë. Dit verwys nie net na die lae posisie van Joon se beroep nie, maar wys ook op die onderliggende rassisme wat met Afrikanermanlikheid (binne ʼn bepaalde tydperk) geassosieer word. Hy word dus uit die hegemoniese sentrum van die gemeenskap gesluit. As gestremde randfiguur geld die marginalisering binne die kleiner spoorweggemeenskap en groter Suid-Afrikaanse samelewing.

Resensente (Bürger, 2011:6; Crous, 2011; Du Toit, 2011:14; Mey, 2011:23; Van Nierop, 2011:5) is dit eens dat Joon in die film die verpersoonliking van goedheid, opregtheid en onskuld is, en ’n Messias- of Christusfiguur is. Hierdie idee word verder deur die karakter se naam bevestig. Joon, wat ’n ongewone naam is, is afgelei van die Bybelse naam Jonatan, en volgens Macleod en Freedman (1995:117) beteken Jonatan “geskenk van God”. Christus word ook gesien as God se Geskenk wat die mensdom verlos het van sonde. So ook tree Joon in die film as verlosser en beskermer op vir talle karakters (sien afdeling 4.5).

Joon as verlossersfiguur en die beliggaming van goedheid word deur die kamerawerk beklemtoon. Die gebruik van ekstra laehoekskote (ook bekend as ’n “worm’s eye view” skoot), soos stilbeeld 4.8 illustreer, word gebruik om die belangrikheid van ’n karakter of objek te beklemtoon, maar met ’n sterker effek as wat met ’n gewone laehoekskoot bereik kan word. Dit wys hier ook dat die kamera vanuit Timus se subjektiewe perspektief verfilm. Uiteindelik funksioneer die ekstra laehoekskoot op twee maniere,

naamlik om Joon se belangrikheid in die film te beklemtoon, en om Timus se perspektief van Joon as sy redder uit te beeld. In ander tonele in die film word Joon met laehoek- en ooglynskote verfilm. Dit is dieselfde tegnieke wat gebruik word vir al die ander manlike karakters wat tot dusver bespreek is, wat daarop dui dat Joon ’n prominente figuur in die filmwêreld word, alhoewel die gemeenskap hom nie so ag nie.