• No results found

Die uitbeeldings van die omliggende landskap van die dorpie deur middel van langskote word ook gebruik ter wille van ruimtelike geloofwaardigheid. Hierdie tipe skote, tesame met die pro-filmiese ruimte (die binnekant van die winkel en Faan se huis), dra by tot die skep van die filmwêreld. Die filmwêreld verwys eerstens na ʼn spesifieke tydperk in die Suid-Afrikaanse geskiedenis, en tweedens na ʼn spesifieke geografiese ligging met gepaardgaande sosiale konvensies. Die Karoo-dorpie tydens 1959 is dus die wêreld waarin die karakters hulself bevind en waarbinne die narratief afspeel. Binne hierdie filmwêreld is sekere sosiale konvensies (wat bepaal word deur die hegemonie) aan die orde van die dag, wat daartoe lei dat die ruimte ʼn simboliese vorm aanneem en as mikrokosmos geïnterpreteer kan word.

Van Coller (2006:103) wys daarop dat die dorp as ruimte dikwels ʼn mikrokosmos verteenwoordig, en dit word om dié rede ʼn beeld van Suid-Afrika. In Faan se trein word die dorpie as ’n mikrokosmos uitgebeeld waarin sosiale strukture, morele waardes en gedragskodes deur hegemoniese Afrikanermanlikheid bepaal word. Die naamloosheid van die dorpie, die duidelike uitbeelding van die geïsoleerdheid daarvan, en die geloofwaardige herskepping van die era deur middel van pro-filmiese ruimtes, dra by om die dorpie as verteenwoordigend van ’n groter Suid-Afrikaanse ruimte uit te beeld. Ruimte as mikrokosmos het ook betrekking op die karakters wat binne die betrokke ruimte bestaan. Faan, as randfiguur, staan teenoor ander karakters wat onderwerp is aan die sosiale strukture, morele waardes en gedragskodes soos deur die hegemonie bepaal word.

Die regisseur gebruik dus ruimte in die film vir meer as ʼn agtergrond of stel vir die narratief. Ruimte word gebruik om ʼn bepaalde effek te bereik, en teen die agtergrond van hegemoniese Afrikanermanlikheid wat die samelewing kenmerk, word dit gebruik om geloofwaardigheid te bewerkstellig, sowel as loutere visuele impak. Verder word ruimte simbolies aangewend wat verband hou met Boggs en Petrie (2008:101-105) se beskouing oor ruimte as mikrokosmos.

Ruimte het ʼn invloed op die karakterisering. Plantinga (2009) en Coplan (2009) wys daarop dat die immersie en die belewing van die filmwêreld grotendeels deur die karakters tot stand kom. Gevolglik is dit noodsaaklik om karakterisering na te speur omdat hierdie studie gefokus is op die randfiguur (Faan) wat na die periferie van die gemeenskap waarin hy homself bevind, geskuif word. Die marginalisering (wat deur die ruimte bevorder word) het ʼn direkte invloed op Faan as karakter.

3.4.2 Filmwêreld en karakterisering

In die vorige afdeling het dit duidelik geword dat die dorpie tipeer word as ʼn ruimte waarbinne die sosiale en politieke strukture wat die Afrikanermanlikheid daargestel het, teenwoordig is. Dié sosiale en politieke strukture word in karakters gereflekteer wat voldoen aan die vereistes van die hegemonie soos Du Pisani (2001:158-159) uitlig en bespreek. Hierdie karakters as prototipes van die samelewing sluit in Dokter, Sersant, Dominee, en Oom Frik. In teenstelling met hierdie karakters wat die hegemonie nastreef, is daar Faan wat in sy onskuld nie die hegemonie raaksien of erken nie, en daarom deur die gemeenskap gemarginaliseer word. Vervolgens word daar ingegaan op hoe die manlike karakters wat die hegemonie uitoefen kinematies voorgestel word, en hoe hulle Afrikanermanlikheid in die filmwêreld voorstel. Hierteenoor sal Faan as gemarginaliseerde bespreek word deur aan te toon hoe sy buitestaanderskap en gestremdheid in die film gerepresenteer word.

Du Toit (2014:5) skryf in sy resensie dat sleutelkarakters tydens die eerste bedryf aan die kyker voorgestel word, onder andere die vier manlike karakters wat die hegemonie verteenwoordig. Teen die agtergrond van die dorpie as mikrokosmos, verteenwoordig elkeen op ʼn simboliese wyse ʼn ander deel van die samelewing (Du Toit, 2014:5). Hierdie manlike karakters word vervolgens bespreek, waarna die fokus op Faan as randfiguur geplaas gaan word.

3.4.2.1 Dokter André Dippenaar: mag en outoriteit

Dokter André Dippenaar, wat ook instaan as die dorpie se burgemeester, worstel met verslawing. Hy is verslaaf aan ʼn verdowingsmiddel, en omdat hy ʼn vooraanstaande lid is van die gemeenskap, gaan sy verslawing ongesiens voort. Die enigste ander karakters wat van sy verslawing weet of deur die loop van die film daarvan te wete kom, is Faan en sy vrou Beatrice. Op hierdie manier verteenwoordig die dokter die gevare en moeilikhede van die volwasse (of onskuldlose) wêreld. In die toneel waartydens Faan (en die kyker) van die dokter se verslawing te wete kom, vind die volgende dialoog plaas waar Dokter vir Faan met toffies omkoop:

FAAN: Wa’ maak jy?

DOKTER: (Geskok) Faan...dis ons geheimpie die huh?

FAAN: Ek dog jy’t loop pis en nou staan jy hier met daai bleddie naald. Jy’t vir ma met so ʼn naald gesteek…

DOKTER: Ek kom nou, gaan wag in die kar. FAAN: …en toe’s ma dood. Moer toe.

DOKTER: Ek sal vir jou nog ʼn toffie gee as jy in die kar gaan sit. FAAN: Sal jy vir my twee toffies gee?

DOKTER: (Knik en glimlag) Twee toffies.

FAAN: (Terwyl hy wegloop) Hy gaan vir my twee toffies gee.

DOKTER: (By homself) Ek wens ʼn toffie wil my probleem so maklik oplos.

Met sy laaste uitspraak openbaar Dokter ’n hunkering na jeug en onskuld. Hy bely ook dat hy ’n probleem het en verlang na ʼn maklike manier om bevry te word. ʼn Moontlike rede waarom die proses van rehabilitasie moeilik gaan wees (afgesien van die fisiese en liggaamlike uitdagings), is dat die hegemoniese orde geen vorm van verslawing toelaat nie, en hy moontlik uitgesluit gaan word van die sosiale struktuur waarvan hy ʼn prominente lid is.

Wat sy prominensie in die hegemonie bepaal, is sy rol as dokter én burgemeester, sowel as ander eienskappe wat die hegemonie goedkeur, soos sy vaderlike optrede teenoor Faan. In die toneel waar Dokter vir Faan huis toe neem, wys hy vir Faan daarop dat hy nie so lelik met sy pa moet wees nie. Later in die film bring hy ook vir Faan inkleurboeke en -kryte, en vryf hom op ʼn byna vaderlike manier oor sy kop as ʼn manier om hom te groet.

Die dokter se voorkoms dra ook by om hom as ʼn verteenwoordiger van hegemoniese Afrikanermanlikheid uit te beeld. Daar word egter nie gebruik gemaak van enige beduidende kameraskote of -hoeke nie. Dokter word deurgaans verfilm met ʼn mediumskoot, teen ʼn ooghoogte hoek. Dit het ʼn neutrale betekenis en word volgens Gouws en Snyman (1995:30) veral gebruik wanneer twee karakters in gesprek verkeer, sowel as om gesigsuitdrukkings en liggaamstaal duidelik uit te beeld. Dit gee ook ʼn gevoel van objektiwiteit aan die gebeure in die film, en laat die kyker toe om sy of haar eie opinie te vorm, eerder as om afhanklik te wees van een karakter se interpretasie van die handeling. Dokter word ook deur sy kleredrag en handeling, wat met objektiewe kamerawerk aan die kyker voorgestel word, gekarakteriseer.

In stilbeeld 3.5 kan die dokter se kleredrag duidelik gesien word, sowel as die ampsketting wat om sy nek hang as aanduiding van sy burgemeesterskap. Sy swart klere is ʼn teken van manlikheid en outoriteit21

. Sy voorkoms wys op sy mag en invloed as burgemeester in die dorpie, en tipeer hom as ʼn baken vir die hegemonie. Die swart hoed is ook ʼn simboliese teken van veral Afrikanermanlikheid en -nasionalisme. Afgesien van die modegier tydens die Vyftigerjare, was die dra van ʼn swart hoed ʼn kenteken van die Nasionale Party wat Afrikanermanlikheid tot hegemoniese status verhef het en met die leerstellings wat Afrikanermanlikheid tipeer, regeer het (Morrell, 2001). Daarom kan Dokter bestempel word as die beliggaming van hegemoniese Afrikanermanlikheid.

21

Swart verwys na die tradisionele drag van regters, polisiemanne en predikante deur die eeue, waar die kleur sedert die Elisabethaanse era ʼn simbool van mag en outoriteit geword het, wat deur bakens van die gereg en geloof gedra was (Alchin, 2015).