• No results found

HOOFSTUK 5 TRIOMF (2008)

5.3 Die resepsie van Triomf

Anders as met Faan se trein en Roepman geniet Triomf nie dieselfde hoeveelheid blootstelling nie, en word ook nie ’n lokettreffer nie; dit is slegs in enkele teaters vertoon. Die regisseur, Michael Raeburn (2009:1), sê dat die film se vervaardiging ’n proses was wat sewe jaar geneem het om te voltooi, grootliks weens probleme met finansiering. Hy verduidelik dat dit aanvanklik in die VSA verfilm sou word met groot Amerikaanse sterre in die rolverdeling. Uiteindelik het die projek deur die mat geval en Raeburn het besluit om die film in Suid-Afrika te skiet met ’n Suid-Afrikaanse rolverdeling en tegniese span. Paul Lückhoff, die akteur wat Pop speel, vertel in ’n onderhoud dat plaaslike mediahuise of produksiemaatskappye (soos M-Net en die SAUK) nie in die film belang gestel het nie (Miller, 2008:2). Met behulp van buitelandse fondse vanuit Frankryk en Engeland kon die verfilming wel plaasvind.

Triomf première in Mei 2008 tydens die Cannes-filmfees in Frankryk, waarna dit ook by die Durbanse Internasionale rolprentfees vertoon is. Tydens laasgenoemde fees word die film bekroon met die prys vir die beste Suid-Afrikaanse rolprent (Fitzpatrick, 2009a:8). In Februarie 2009 word die film in uitgesoekte Nu-Metro teaters vertoon, nadat Ster-Kinekor die verspreiding daarvan van die hand gewys het. Alhoewel die verspreiding en blootstelling in Suid-Afrika beperk was, wys Raeburn (Fitzpatrick, 2009a:8) daarop dat Triomf die eerste Afrikaanse film is wat internasionaal versprei is29

. Die film is in Brittanje, Frankryk, en die Ooste uitgereik en in rolprentteaters vertoon. In ’n onderhoud met Van Nierop (2016:287) getuig Raeburn dat die rolprent meer in die buiteland vertoon sou word as plaaslik, wat insgelyks ook die hoeveelheid Engelse frases in die dialoog van die karakters verduidelik.

29

Ondanks die feit dat Katinka Heyns se Paljas (1997) genomineer was vir die Beste Buitelandse Film in die toonaangewende Academy Awards se 70ste bekroningseremonie in 1998, was dit nie internasionaal uitgereik en in Europese teaters vertoon nie.

Ten opsigte van die tegniese aspekte van die film, sonder resensente veral die spel van die akteurs, die produksie-ontwerp, en die regie uit. Pople (2009a:3) verwys na die spel van al vier akteurs wat die hoofkarakters in die film speel. Sy verklaar dat Paul Lückhoff se spel “uit ’n boekie” is; dat Lionel Newton ’n bekroning verdien vir sy spel as die waansinnige Treppie; dat Vanessa Cooke se spel haar karakter se posisie in die familie tereg uitbeeld; en dat Eduan van Jaarsveld ’n jong akteur is met besonderse vaardigheid. Fitzpatrick (2009b:8) wys ook op Van Jaarsveld se spel en is van mening dat die akteur se vertoning in Triomf beide die publiek en resensente aangenaam verras het. Prins (2008:4) lig op sy beurt Newton se spel bo die ander uit as ’n geloofwaardige en oortuigende vertolking van Treppie.

Afgesien van die spel, wys resensente ook op die produksie-ontwerp en regie. Kennedy (2008:25) is van mening dat die produksie-ontwerp wat deur Tiaan van Tonder behartig is, ’n belangrike verdienste van die film is. Die stelontwerp en -inkleding gee effektief die toon en gevoel aan in elke toneel. Dennill (2009:5) sonder die regie uit en voer aan dat Triomf bewys lewer van hoë kwaliteit ten opsigte van die regie en die spel, wat die kyker ongemaklik laat voel in sekere tonele in die film. Prins (2008:4) sluit hierby aan en merk op dat Raeburn “dit reggekry het om ’n sekere struktuur van die roman en sy karakters raak te vat en oor te dra”.

Raeburn (2009:1) deel mee dat die film handel oor ’n disfunksionele familie, en hoewel die politiek ’n beduidende aspek is van die historiese tyd waarin die film afspeel, is dit nie ’n politieke film nie. Die politiek word as agtergrond gebruik. McKay (2009:16) lê wel klem op die politieke aanslag en beweer dat die verkiesing se boodskap duidelik is: “in the end it’s the poor who are left behind, neither black nor white”. Smith (2008:8) is van mening dat alhoewel die film ’n politieke aanslag het, dit uiteindelik gaan oor hoe geheime en leuens ’n familie, en die groter samelewing, kan verwoes. Sy voer aan dat die film opsetlik ’n benoude gevoel oordra, wat die gesin se onsekerheid oor die politieke toekoms beklemtoon. Pople (2009b:8) en Smith (2008:8) bestempel die gesin as randfigure. Die Benades is ’n analogie vir mense wat, weens armoede en onkunde, gemarginaliseer word.

Hoewel die film op ’n bekroonde literêre werk gebaseer is, het die produksie van die film struikelblokke ervaar, en is die verspreiding en blootstelling in Suid-Afrika beperk. Die

films wat in die vorige twee hoofstukke bespreek is nie. Die temas kan reeds ’n moontlike verklaring bied, omdat armoede, sowel as die ekstreem disfunksionele familie, voorheen nie só eksplisiet in Afrikaanse film uitgebeeld is nie. Die regisseur vermeld in ’n onderhoud (Smith, 2008:8) dat Suid-Afrikaanse gehore gemengde reaksies gehad het oor die film. Swartmense in die gehoor het dit snaaks en verfrissend gevind om te sien hoe witmense hulself wangedra, terwyl wit Afrikaners, wat die film wel verstaan het, gedink het dit is belangrik om hierdie dinge te wys, omdat dit die onsekerheid en geïsoleerdheid van die gesin en die Afrikanergemeenskap in die algemeen voorstel. Voor Triomf uitgereik is, het Paul Lückhoff (reg) voorspel dat die film baie kontroversieel sal wees: “Older Afrikaners will run out of the cinema” (Miller, 2008:2).

Op ’n persoonlike vlak beoordeel De Waal (2009:8) Triomf soos volg:

Triomf is a good movie, well made in a grimly, edgy way; it has strong performances that grip the viewer even if you hate the characters and basically want to turn your eyes away from either their suffering or their violence. It leaves one depressed and distressed, never mind exhausted by the feeling you’ve been screamed at by an alcoholic for several hours.

Smith (2008:8) sluit by De Waal aan en wys daarop dat dit juis die uitbeelding en tematiek is wat groot Suid-Afrikaanse verspreiders se afkeur ontlok het. Volgens Ster- Kinekor was die film kommersieel onaantreklik, want dit is nie ’n “gelukkige” verhaal nie, en Suid-Afrikaners hou nie daarvan om hulself op daardie manier op die silwerdoek te sien nie, en daarom sou die film nie geld maak nie.

Die film word dus opsigself deel van die randkultuur in die Afrikaanse filmgeskiedenis, weens die omstrede tematiek en kommentaar wat die film op die samelewing (spesifiek die Afrikaner) lewer.