• No results found

HOOFSTUK 2: TEORETIESE EN KONSEPTUELE RAAMWERK

2.2 Immigrasie: ’n Wêreldwye verskynsel

Die doel van hierdie studie was om vas te stel watter rol leierskap en bestuur by die integrasie van immigranteleerders in geselekteerde laerskole in die Wes-Kaap speel. Die bespreking van die rasionaal van hierdie studie sal na aanleiding van bogenoemde kernpunte geskied.

2.2 Immigrasie: ’n wêreldwye verskynsel

The future is not a result of choices among alternative paths offered by the present, but a place that is created – created first in the mind and will, created next in activity. The future is not some place we are going to, but one we are creating. The paths are not to be found, but made, and the activity of making them, changes both the maker and the destination.

—John Schaar (Graff & Labbo, 2009:21)

Migrasie van bevolkingsgroepe is besig om toe te neem. Daar word geskat dat daar weekliks drie miljoen emmigrante in nuwe stede gevestig word (World Migration Report 2015). Daar is tans ʼn geskatte 232 miljoen internasionale (UN DESA 2013, World Migration Report 2015) en 740 miljoen interne (UNDP, 2009, World Migration Report 2015) migrante wêreldwyd. Lande wat die meeste geraak word is hoë inkomste lande soos Australië, Kanada, Verenigde State van Amerika en verskeie Europese lande, waaronder Duitsland en Frankryk sorteer (World Migration Report 2015). Hierdie lande se stabiele ekonomiese groei oefen ‘n trekkrag op immigrante uit.

Volgens bogenoemde verslag toon stede soos Sydney, London en New York ‘n immigrantegetal van meer as ‘n derde van die plaaslike bevolking en stede soos Dubai en Brussels huisves selfs meer as die helfte van die plaaslike bevolking (World Migration Report 2015). Hierdie groeiende getal immigranteinwoners bring verskeie uitdagings mee en lande is voortdurend soekend na strategieë om hierdie groeiende globale beweging asook gepaardgaande maatskaplike diversiteit te bestuur.

26 2.2.1 Redes vir immigrasie

Daar is verskillende redes waarom burgers van ’n land besluit om te emigreer. Redes vir migrasie word deur verskeie bronne in stoot- en trekfaktore (Dalton, 2006:4, Senker, 2008:8) verdeel. Die trekfaktore berus grootliks op die feit dat die immigrant beter lewenstandaarde in ’n nuwe land gaan soek. Die grootste trekfaktor is dus beter werksomstandighede (Senker, 2008:8). Die stootfaktore is negatiewe omstandighede waarvan inwoners gewoonlik wegvlug. Die bekendste stootfaktore is armoede, oorlog, ras, geloof, nasionaliteit, asook lidmaatskap van ’n sekere sosiale of politiese groep. Hierdie immigrante staan ook bekend as vlugtelinge (Senker, 2008:8).

In die moderne eeu van tegnologie het redes vir migrasie verder as slegs die trek- en stootfaktore uitgebrei. Ons leef in ’n era van digitale en tegnologiese ontwikkeling. Die beweging van die mensdom word makliker as gevolg van tegnologiese ontwikkeling asook ekonomiese globalisering. Emigrante verlaat hulle geboorteland en vestig hulle in nuwe lande, en kulture en tradisionele waardes is besig om te vervaag. Benhabib (2004) beweer dat tradisionele begrippe en politieke eienaarskap, wat op soewereine opvattings van die staat asook territoriale integriteit gebaseer word, besig is om as gevolg van globalisering te ontrafel.

Thomas (2006:238) bespreek die verskillende sienings ten opsigte van die uitwerking van immigrasie op burgerskap. Volgens Thomas is die post-nasionalistiese model van burgerskap ineengeweef met menseregte vir almal, maar ook met waardes en respek vir tradisionele burgerskap. Nasionale burgerskap is dus besig om sy waarde te verloor omdat lande ’n hand van verwelkoming na immigrante uitstrek. In teenstelling met die post-nasionalistiese siening verskuif gesaghebbendes die fokuspunt na tradisies en politieke kulture, wat ’n belangrike rol by nasiebou speel (Thomas, 2006:238). Thomas (2006:239) voer verder aan dat, omdat die post-nasionalistiese siening van burgerskap en menseregte vir alle burgers van ’n land, ten spyte van afkoms, boaan die agenda van die wêreld is, sal die persepsie, dat ’n gedeelde kultuurerfenis as die basis vir burgerskap dien moet vervaag.

Senker (2008:6) stem saam dat oorlog, natuurrampe en beter landbougeleenthede nie meer die hoof oorsaak van immigrasie is nie. Hy sê “We now live in an era of globalisation, in which countries are becoming more closely linked together through the growth of trade,

27

communication, travel and culture.” Volgens Li (2008:1) het ekonomiese globalisering, die aard en volume van migrasie totaal verander. Die groot oorsaak van eertydse migrasie was die beweging van persone van onderontwikkelde lande na meer ontwikkelde lande, maar as gevolg van globalisering word die mensdom meer interafhanklik en geïntegreerd (Li, 2008:19). In die moderne era vind migrasie van geskoolde arbeiders maar ook van ongeskoolde arbeiders plaas.

Li (2008:19-20) beskryf egter die proses van ekonomiese globalisering as ’n uitvloei van kundigheid omdat geskoolde immigrante verminder en lande met verskeie uitdagings laat. Immigrantvriendelike lande soos die Verenigde State, Kanada, Australië en Nieu-Seeland word nou, volgens Li genoodsaak om ’n kompeterende vlak van vergoeding asook ingeligte beleide ten opsigte van multikulture asook immigrantetoestroming gereed te kry. Die doel daarmee is om meer geskoolde arbeiders te probeer lok. Terselfdertyd moet hulle beheer oor hulle grensposte verskerp, sodat die instroming van onwettige immigrante asook asielsoekers beperk word (Li, 2008:19).

2.2.2 Immigrasie in Suid-Afrika

Tydens die apartheidsregime het verskeie inwoners Suid-Afrika verlaat omdat hulle as gevolg van ongeoorloofde wette en regulasies nie meer in Suid-Afrika tuis gevoel nie.

Hierdie inwoners is in verskeie ander lande in Europa, Amerika en Afrika verwelkom. Die migrasieproses na en van Suid-Afrika was nog altyd met politiek gekleur. Gedurende die 18de eeu is uitlanders na Suid-Afrika ingevoer om in nuut ontdekte goudmyne te werk (Crush, 2000) Dié beweging is egter in die laaste 20 jaar van apartheid stopgesit omdat swart immigrasie as ’n politieke bedreiging vir die regerende party gesien is. Deur die Wet op Vreemdelinge-beheer (nr. 96 van 1991) – deur waarnemers beskryf as die apartheidsera se laaste wet – is immigrasie steeds deur streng kontrole en ’n uitsettingsmentaliteit beheer (Facchini et al., 2013:327).

Met die beëindiging van apartheid en aanbreek van demokrasie met ʼn klem op menseregte, het immigrasie drasties toegeneem. Immigranteburgers het hier ’n veilige heenkome en beter werksmoontlikhede kom soek. Suid-Afrika, met ’n inwonertal van ’n geskatte 54,96 miljoen

28

(Statistics South Africa, 2013a.1), het in die tydperk van 2011 tot 2013, 349 633 tydelike permitte aan besoekers uitgereik (Statistics South Africa, 2013).

Met die Immigrasiewet (nr. 13 van 2002) en dié se wysiging in 2004 het gesindhede dus ten opsigte van immigrasie verander. Immigrasie is gesien as ’n ontwikkelingsinstrument vir Suid-Afrika en omliggende buurlande (Facchini et al., 2013:327). Wettige en onwettige immigrante uit verskillende buurlande het hierdie geleentheid aangegryp om Suid-Afrika hulle tuiste te maak. Die immigrasieproses na Suid-Afrika kan ook aan stoot- en trekfaktore toegeskryf word (Dalton, 2006:4, Senker, 2008:8).

Die meeste immigrante na Suid-Afrika probeer vlug uit hul benarde posisie van werkloosheid, armoede en oorloggeteisterde gebiede. Solomon (2000:1) bevestig dat “[l]arge numbers of illegal aliens are flocking to South Africa’s relatively tranquil shores… Fleeing from environmental catastrophe, economic decline and political instability”; ander word egter weer gelok deur nuwe werksgeleenthede asook nuwe sakemoontlikhede.

Immigrante na Suid-Afrika is aanvanklik verwelkom. Suid-Afrika is volgens die World Migration Report, een van die lande wat ‘n ekonomiese groeikurwe toon en daardeur immigrante lok (2015). Volgens die World Values Survey (1996 en 2001) het ’n derde van die huidige bevolking immigrasie na Suid-Afrika verwelkom (Facchini et al., 2013:327). Volgens Facchini et

al. (2013:327) het die persentasie in 2007 egter met 10% gedaal, met ’n aansienlike verskil tussen

die kiesers se gesindhede en die regering se voorkeure. Gedurende 2013 was ‘n totaal van 101 910 tydelike permitte aan immigrante uitgereik. Dit het 32,6% besoekerspermitte en 23,6% werkspermitte verteenwoordig (Statistieke Suid-Afrika 2013). Lande wat die meeste immigrante verteenwoordig is Zimbabwe (18,5%), Nigerië (10,1%) en Indië (7,7%) (Statistics South Africa, 2013). Die statistieke bewys verder dat die gemiddelde ouderdom van immigrante 32 jaar is.

Gesindhede ten opsigte van immigranteburgers is die gevolg van ’n komplekse interaksie tussen verskillende sosio-ekonomiese asook politieke faktore. Beïnvloeding deur die apartheidsregime speel steeds ’n onderliggende rol in die vorming van die gesindhede van landsburgers. Immigrante-arbeiders word wêreldwyd as ’n noodsaaklikheid vir ekonomiese groei beskou. Immigrante-arbeiders werk vir laer lone, is ook beter geskool en is harder werkers (Guinness,

29

2002:92) as plaaslike arbeiders. Suid-Afrikaanse myne het meer as 120 000 immigrante van Lesotho en Mosambiek in diens (Guinness, 2002:92). Terselfdertyd word immigrante-inwoners ook as ’n bedreiging gesien en word hulle vereenselwig met die werkloosheid asook die hoë misdaadsyfer in Suid-Afrika (Facchini et al., 2013:338).

Immigrasie word dus met gemengde gevoelens bejeën. Volgens Solomon (2000) is die meeste Suid-Afrikaners negatief ten opsigte van veral onwettige immigrasie, omdat dit volgens hulle die misdaadsyfer verhoog. Verder word daar beweer dat immigrante as ongeskoolde arbeiders ontneem ongeskoolde landsburgers ook hulle werk (Solomon, 2000).

Uitsprake deur politieke leiers kan deels aangevoer word as redes vir gemengde gevoelens teenoor immigrante, soos die reeds aangehaalde uitspraak van Oudminister Buthelezi (Guinness, 2002:92). Die jongste vlaag van xenofobiese aanvalle, in April 2015, het uitgebreek nadat die Zulu koning Goodwill Zwelithini deur die media aangehaal is dat hy gesê het uitlanders moet Suid-Afrika verlaat (Quist-Arcton, 2015). Hy het daarna beweer dat hy verkeerd aangehaal is.

Facchini et al. (2013:328) voer aan dat negatiewe gesindhede ten opsigte van immigrante nog die gevolg van oorerflike apartheidsienings van diskriminasie en segregasie is. Negatiewe gevoelens het aanleiding gegee tot xenofobiese aanvalle in 2008 asook 2015. Crush et al. (2008) voer aan dat volgens ’n studie oor die oorsake van xenofobiese aanvalle twee interessante feite na vore gekom het. Eerstens het negatiewe gesindhede teenoor immigrante vanaf 1999 tot 2008 toegeneem, en tweedens word hierdie gesindhede op vooroordele gebou (die meeste deelnemers in die studie was nog nooit in aanraking met immigrante burgers nie) (Facchini et al., 2013:328).

Egan (2015) berig dat, alhoewel die dominante rasionaal vir xenofobiese aanvalle is dat plaaslike inwoners beweer immigrante steel hulle werk, daar dieperliggende redes daaragter skuil. Redes wat deur Egan (2015) aangevoer word, is ’n tekort aan ambagslui, onvoldoende onderwysveranderings, kortsigtige onderwysbeleide (magtige onderwysunies wat ’n groot rol speel), minderwaardigheidsgevoelens teenoor ambagte, swak betaalde ambagte, asook ’n gesindheid dat die staat in noodsaaklike behoeftes sal voorsien. Hierdie bakhandhouding van plaaslike burgers gee daartoe aanleiding dat immigrante wat bereid is om vir kleiner salarisse te

30

werk in diens geneem word. Klein ondernemings wat deur immigrante bedryf word, gaan met inspanning en harde werk gepaard, tog ervaar die immigrante eerder gevoelens van vrees, verloëning en vernedering as trots. Hale, Kransdorf en Hamer (2011:320) voel dat die regering hierdie gevoelens vir eie gewin manipuleer om sodoende politieke mag te bou.

Egan (2015) voer verder aan dat ’n verbetering in moraliteit nie xenofobiese probleme sal oplos nie. Wat volgens hom nodig is, behalwe ’n radikale opgradering van die onderwysstelsel, is ’n gesindheidsverandering van huidige inwoners ten opsigte van arbeid waar kernaspekte soos ondernemingsproduktiwiteit en inspanning beklemtoon word. Die onderwys skep ’n kragtige platform waar bogenoemde waardes asook anti-xenofobiese gedrag verkondig en uitgeleef moet word, want immigrasie bring definitiewe implikasies mee wat die hoof gebied moet word.