• No results found

HOOFSTUK 2: TEORETIESE EN KONSEPTUELE RAAMWERK

3.3 Data-samestelling

Navorsers maak gebruik van verskillende metodes om data te konstrueer. Volgens Seidman (1998:4) kan navorsing geskied deur die bestudering van dokumente, deur observasies te doen, die geskiedenis te verken, deur eksperimentering, deur vraelyste en deur ondersoeke, maar indien dit die navorser se doel is om betekenis aan menslike ondervindings te heg, is onderhoude die effektiefste metode van ondersoek. Seidman (1998:1) beweer dat onderhoudsvoering beteken om na ander se stories te luister: stories verbreed nie net ʼn mens se kennis nie, maar is noodsaaklik vir betekenisvorming.

Die doel van diepte onderhoude is nie om vrae beantwoord te kry, of ’n hipotese te toets, of inligting te evalueer nie, sê Seidman (1998:3): “At the root of in-depth interviewing is an interest

63

in understanding the experience of other people and the meaning they make of that experience.” Lichtman (2013:190) stem saam dat die respondente hulle gevoelens, intensies, menings, die subkonteks, gedagtes oor ’n onderwerp, situasie of idee aan die onderhoudvoerder bekend maak.

Interpretatiewe kwalitatiewe navorsers voer onderhoude om sodoende die belewenisse van respondente te ondersoek en analities te ontleed.

3.3.1 Onderhoudsvoering en transkribering van data

Persoonlike onderhoude is volgens Babbie en Mouton (1990:249) die algemeenste metode om ondersoeke te doen. Onderhoude kan ook telefonies of met behulp van die rekenaar geskied. Onderhoudsvoering word verdeel in drie kategorieë, naamlik gestruktureerde, semi-gestruktureerde en onsemi-gestruktureerde onderhoude.

Gestruktureerde onderhoudsvrae ressorteer volgens Opie (2004:117) ook onder die positivistiese navorsingsparadigma, waar objektiewe, statistiese, onpersoonlike data deur kwantitatiewe navorsing ingewin word. Gestruktureerde onderhoudsvoering behels dus om feite in te samel waar daar ’n mate van kontrole op die veranderlikes (antwoorde) uitgeoefen word. Opie (2004:117) berig verder dat hierdie onderhoudsvoering vergelyk kan word met ’n vraelys, waar kort vrae deur onmiddellike, eenvoudige antwoorde beantwoord word. Fontana en Prokos (2007, aangehaal in Lichtman, 2013:191) bevestig dat gestruktureerde onderhoude nie gedetailleerde verduidelikings insluit, of menings probeer heg aan ’n antwoord of improviseer nie. Die doel van die onderhoud is om inligting vinnig, maar doeltreffend, te versamel.

Volgens Opie (2004:118) is semi-gestruktureerde vrae meer buigsaam as gestruktureerde vrae en laat ruimte toe vir die navorser om die respondent tot verdere uitbreiding op gegewe antwoorde te lei. Die navorser kan ook in ’n geringe mate van die voorafopgestelde teks afwyk en die bewoording van die vrae verander. Alhoewel daar in die semi-gestruktureerde onderhoud ruimte gelaat word vir die respondent se terugvoering, verhoed dit tog ’n doellose aframmeling van woorde (Opie, 2004:118). Die formulering van die semi-gestruktureerde vrae is baie belangrik, want die buigsaamheid van die vrae skep ruimte vir moontlike beïnvloeding deur die navorser.

64

Die data-analiseproses van semi-gestruktureerde vrae word bemoeilik deurdat die navorser verskeie antwoorde wat as sy/haar raamwerk dien.

Volgens Opie (2004:118) vooronderstel ongestruktureerde vrae, nie die rigting wat die onderhoud volg of die kennis wat opgedoen word nie. Vir Opie (2004:119) is “control more evenly distributed between researcher and respondent, very flexible, direction unpredictable, likely to be more difficult to analyse and it may throw up unexpected findings”. Elton-Chalcraft, Hanse en Twiselton (2008:77) voel dat wat geldigheid betref, ongestruktureerde onderhoude ’n voordeel het bo gestruktureerde en semi-gestruktureerde onderhoude omdat dit die deelnemers toelaat om oor aangeleenthede te praat wat vir hulle belangrik is, en nie noodwendig oor wat die navorser gedink het vir hulle belangrik sou wees nie.

Ek het die skoolhoofde ’n week voor die onderhoude gekontak en ’n afspraak met elkeen gereël. Hoofde het die geskikste dag asook tyd vasgestel en ek het met alle respek daarby gehou. Ek het ook op navraag van die hoofde ’n voorlopige vraelys ge-e-pos om hoofde nie onkant te betrap met vrae of hulle in die verleentheid te bring nie, veral wat betref die vraag ten opsigte van immigrantegetalle, omdat ek geweet het dat hierdie inligting gewoonlik deur sekretaresses hanteer word.

Ek het van ’n paar gestruktureerde vrae en verder grondige semi- en ongestruktureerde onderhoudsvrae gebruik om data in te win. Gestruktureerde vrae het persoonlike inligting met betrekking tot die hoof en kennis oor die skoolmilieu gedek. Semi- en ongestruktureerde vrae het oor die navorsingsvraag gehandel. Die vrae het verskeie gebiede ten opsigte van die rol van die hoof as bestuurder en leier van sy/haar skool met betrekking tot die integrasie van immigranteleerders gedek. Semi- en veral ongestruktureerde vrae was grondige vrae wat die werklik beleefde ervarings van deelnemers ontsluit. Die meeste vrae was oop-vrae, wat tot nuwe kennis en verdere vrae gelei het. Ek het probeer om goeie beheer oor die onderhoudsvoering te behou, sodat onderhoude nie te vêr van die onderwerp afgedwaal het nie. Ek het probeer verhoed om deelnemers in ’n sekere rigting te forseer. Dit het goeie konsentrasie, luistervaardighede asook deeglike beplanning gekos om nie die tydsduur van die onderhoude te oorskry nie.

65

Onderhoude is digitaal opgeneem en deur ’n professionele transkribeerder getranskribeer. ’n Vertroulikheidsverslag is deur beide partye, myself en die transkribeerder, onderteken. Ek het gebruik gemaak van dié metode omdat ek gevoel het dat die neerskryf van aantekeninge te veel tyd in beslag sou neem en dalk aanleiding sou kon gee tot verdere verduidelikings wat verlore gaan. Die opnames het ook die intensiteit en die emosie wat deelnemers tydens die beantwoording van die vrae geopenbaar het, vasgevang. Myns insiens het dit die deelnemers se onderskeie opinies versterk en, alhoewel dit nie woorde omgesit kan word nie, het dit tog ’n waardevolle bydrae gelewer. Dit het my as navorser aangespoor om nog ekstra moeite met die studie te doen om die antwoord op my navorsingsvraag so akkuraat moontlik na te vors ter wille van eerlike, openlike en passievolle deelnemers.

Ter afsluiting van die bespreking oor onderhoudsvoering wil ek in aansluiting met Lichtman (2013) erken dat die onderhoude met my deelnemers vir my oë werklik oopgemaak het vir die realiteit van immigranteleerders in Suid-Afrikaanse skole. Ek was werklik vasgevang deur elke deelnemer se belewenis van die navorsingsvraag en het as ’n verrykte persoon uit elke onderhoude gestap. Die skoolhoofde het my nie slegs met hulle kennis verryk nie, hulle het my ook tot ander insigte gebring deur hulle persoonlike belewenisse van immigranteleerders. Ek was na elke onderhoud emosioneel gedreineer omdat die kennis, insig en passie wat met my gedeel is, my diepste verwagtinge oortref het.

3.3.2 Dataverwerking

Die data-analisering en -verwerking van ’n kwalitatiewe navorsingsparadigma is nie ’n maklike proses nie. Verskeie navorsers stem hiermee saam; Lichtman (2013:245) sê byvoorbeeld: “with the exception of grounded theory, you are pretty much left on your own”, terwyl Thorne (2000: aangehaal in Lichtman, 2013:245) meen: “qualitative data analysis is the most complex and mysterious of all of the phases of a qualitative project, and the one that receivesthe least thoughtful discussion in the literature”. Lichtman (2013:250) beskryf kwalitatiewe navorsing as alleenwerk. Die navorser versamel data op sy/haar eie, analiseer data op sy/haar eie, skryf sy/haar eie bevindings neer en word verantwoordelik gehou vir dit wat hy/sy bevind.

66

Dataverwerking beteken dat jy wegbeweeg van rou data en probeer sin maak van sy/haar bevindinge deur betekenisvolle begrippe en temas te soek. Lichtman (2013:251) noem hierdie proses die drie C’s van analiseer:“coding, to categorizing to concept”. Deur middel van kodering kategoriseer die navorser inligting en vorm begrippe wat kerngedagtes in die bespreking van sy/haar navorsing sal word. Die navorser volg nie die stappe een vir een nie, maar beweeg tussen die stappe deur om data te verwerk. Lichtman (2013:255) beskryf dit as ’n proses waarin die navorser deur middel van vraagstelling, inhouds- en betekenisvorming sin en betekenis probeer maak van die kwalitatiewe data wat ingewin is.

Verskeie ander metodes van data-verwerking word ook gemeld deur Lichtman soos die “Constant-comparative method” (2013: 258). Hierdie metode volgens Maykut en Morehouse (1994: 126-145) bestaan basies uit vier stappe; eerstens die induktiewe kategorieseringskodering tesame met die gelyktydige vergelyking van betekenisvolle faktore, tweedens die verfyning van kategorieë, derdens die ondersoek van verhoudings en patrone in kategorieë en laastens die integrasie van verwerkte inhoude wat lei tot betekenisvorming van mense en hul omstandighede (Maykut en Morehouse, 1994: 135).

Ek het gebruik gemaak van bogenoemde dataverwerkingsproses om sin en betekenis aan die nagevorsde inligting te verleen.