• No results found

HOOFSTUK 2: TEORETIESE EN KONSEPTUELE RAAMWERK

2.5 Onderwysveranderinge en beleidsvorming 1994 tot 2014

2.5.1 Beleide wat immigrasie van immigranteleerders ondersteun

Die afgelope paar jaar het verskeie departementele beleide asook riglyne verskyn wat as aanwysings dien vir hoe die immigranteleerder in die skool asook in die klaskamer ondersteun kan word. Hierdie beleide gee aandag aan die verskillende behoeftes van hierdie leerders en vergemaklik die integrasie van leerders in hoofstroomonderwys. Dit beklemtoon ook die viering van diversiteit met die klem op inklusiewe onderrig, waar leerders met verskillende behoeftes tog saam in een skoolgemeenskap kan leer en werk. Met die daarstelling van die Salamanca

Statement and Framework for Action on Special Needs Education by die Wêreld konferensie in

Salamanca, Spanje het die klem geval op spesiale behoeftes en skole vir almal (Nel et al., 2012:118).

Die beginsel van inklusiewe onderrig en opvoeding vir alle leerders ten spyte van hulle behoeftes word ook deur die UNESCO-dokument onderskraag (UNESCO, 2009:11-12). Nel et al. (2012:7) berig dat veranderde, meer inklusiewe praktyke reeds met die National Commission on Special

42

Needs in Education and Training (NCSNET) en die National Committee on Education Support Services (NCESS) van 1997 ingestel is. Die belangrike fokuspunt van bostaande dokumente die integrasie tussen spesiale en gewone onderwysbane deur die daarstelling van verwysings, kurrikulumontwikkeling en aanpassings, personeelontwikkeling en gemeenskaplike samewerking (Nel et al., 2012:118-119). Inklusiewe dokumente is geskoei op die basiese waardes van gelyke onderrigregte vir alle leerders, soos uiteengesit in die Suid-Afrikaanse Grondwet (Wet 108 van 1996, Artikel 1a).

2.5.1.1 White Paper 6 – Building an Inclusive Education and Training System - 2001 (Department of Basic Education)

Witskrif 6 (White Paper 6) word gedefinieer as ’n dokument wat ’n leeromgewing wat die persoonlike, akademiese en professionele ontwikkeling van alle leerders, ten spyte van hul ras, herkoms, geslag, gestremdheid, godsdiens, kultuur, geslagsvoorkeure, leerstyle en taal, bevorder (Nel et al., 2012:7). Hierdie dokument vorm die fondasie van inklusiewe onderrig in Suid-Afrika. Witskrif 6 behels volgens Nel et al. (2012) uit verskeie strategieë en beginsels.

Onder strategieë klassifiseer Nel et al. (2012) byvoorbeeld dat spesiale skole hulle funksie moet verbreed na opleidingsentrums, dat 500 laerskole omgeskakel moet word na voldiensskole om voorsiening te maak vir die volledige reeks leerbehoeftes, dat distriksgebaseerde ondersteuningspanne (DBST – District-based Support Team) en skoolgebaseerde ondersteuningspanne (ILST – Institutional Learning Support Team) ondersteuning moet verleen, dat die bestuur asook onderwysers in gewone skole aan inklusiewe onderrig bekendgestel moet word en dat die fokusarea vroeë identifisering in die grondslagfase moet wees.

Verskeie beginsels word ook deur Nel et al. (2012:7) gemeld byvoorbeeld dat alle leerders kan leer en ondersteuning benodig, dat diversiteit gerespekteer moet word, dat daar veranderings in gesindhede, gedrag en onderrig moet plaasvind om verskillende behoeftes te ondersteun en dat leerders se sterk punte asook huis en gemeenskapsontwikkeling aangemoedig moet word

43

Die implementering van Witskrif 6 wou ’n einde bring aan die segregasiebeleid van die apartheidsjare waarvolgens wit leerders met spesiale behoeftes meer voorkeure geniet het as ander rassegroepe.

Die vraag ontstaan egter of Witskrif 6 voorsiening maak vir die behoeftes van die immigranteleerder. Alhoewel die woord immigranteleerder nooit in dié beleidsdokument gemeld word nie, kwalifiseer hulle tog as sodanig op grond van verskeie behoeftes of agterstande wat die hoof gebied moet word. Daar word melding gemaak van verskeie stremminge wat leeragterstande tot gevolg het. Een van die stremminge is taalagterstande waaronder sommige immigranteleerders klassifiseer (DoBE, 2001:19). Daar word ook voorgestel dat kurrikulum-aanpassings aan hierdie stremminge aandag moet gee (DoBE, 2001:20). Daar word ook verskeie kere melding gemaak van “barriers to learning” (DoBE, 2001:6, 7, 25, 45) en “learning difficulties” (DoBE, 2001:26, 28, 29), of “learning needs” (DoBE, 2001:7, 30) waaronder die immigranteleerder as risikoleerder ressorteer.

2.5.1.2 National Protocol for Assessment – 2011 (Department of Basic Education)

Hierdie dokument fokus op die verskillende aspekte van assessering die belangrikheid daarvan, die soorte assessering, die samestelling van formele assessering asook skoolgebaseerde assessering (DoBE, 2011c:3-5). Assessering vorm ‘n belangrike komponent van die skoolkurrikulum en alle leerders word daaraan onderwerp.

Hoofstuk 9 van die National Protocol for Assessment word gewy aan leerders met spesiale onderwysbehoeftes waaronder die immigranteleerder sorteer. Daar word daarvan melding gemaak dat die minimum assesseringsvereistes nie verander mag word om hierdie leerders te ondersteun nie, maar dat leerdergebaseerde assessering asook ʼn kurrikulum wat op die leerders se leerpas ingestel is, leerders wel in staat sal stel om hulle volle potensiaal te bereik (2011c:22). Alternatiewe assessering stel leerders met spesiale onderwysbehoeftes in staat om op alternatiewe wyses rekenskap te gee van hulle kennis, begrip en vaardighede. Alternatiewe assessering kan in ’n gewone hoofstroomskool geskied en geen leerder hoef deur die stelsel benadeel te word nie.

44

2.5.1.3 National Policy Pertaining to the Programme and Promotion Requirements of the National Curriculum Statement (NPPPR) (Department of Basic Education – 2011)

Hierdie dokument handel oor die program- en bevorderingsvereistes van die nasionale kurrikulumverklaring vir graad R tot 12. Reeds in hoofstuk 2 van die dokument word daar melding gemaak van die immigranteleerder en verduidelik watter leerders as immigranteleerders klassifiseer en watter toegewings daar aan immigranteleerders gemaak word. Volgens die dokument (DoBE, 2011b:2) is ’n immigranteleerder

a child or a dependent of a diplomatic representative of a foreign government accredited in South Africa; or a person who: First enrolled and entered a South African school in grade 7 or a more senior grade, or having begun his or her schooling at a school in South Africa, has attended school outside South Africa for two or more consecutive years after Grade 3 or its equivalent, and has subsequently returned to South Africa.

Hierdie dokument verklaar ook dat die immigranteleerder in die eerste drie jaar van sy of haar verblyf in Suid-Afrika nie verplig word om twee amptelike tale aan die einde van ’n graad te slaag nie. Indien ’n leerder ’n kode 3 in sy eerste addisionele taal verwerf en sy ander vakke volgens die nodige slaagvereistes slaag, mag die leerder wel bevorder word na die volgende graad (DoBE, 2011b:2). In skole waar Engels en Afrikaans as Huistaal en Addisionele Taal aangebied word, hoef die leerder slegs ’n kode 3 in Engels te verwerf.

Hierdie dokument maak dit egter baie duidelik dat ’n leerder slegs as ’n immigranteleerder kwalifiseer indien die betrokke leerder ’n wettige dokument van die Departement van Binnelandse Sake, asook wettige skooldokumente besit wat aandui dat die leerder vir die eerste keer die Suid-Afrikaanse skoolstelsel betree (DoBE, 2011b:3).

2.5.1.4 Policy on Screening, Identification, Assessment and Support (Department of Basic Education – 2014)

Die jongste beleidsdokument, wat in 2014 sy verskyning gemaak het, staan bekend as die SIAS-dokument en handel oor die sifting, identifisering, assessering en ondersteuning van leerders. Die doel van die Screening, Identification, Assessment, and Support (SIAS) beleid is om ’n

45

gestandaardiseerde raamwerk te verskaf waarvolgens leerders geïdentifiseer en geassesseer word sodat programme, waarvolgens leerders wat ekstra ondersteuning benodig, ondersteun kan word, diensooreenkomstig opgestel kan word. Die hoofdoel is om hierdie leerders se deelname asook insluiting by skoolaktiwiteite te verseker (DoBE, 2014b:1). Opsommend kan gesê word die doel van hierdie dokument is dus om die volgende te identifiseer; stremminge wat die leerproses beïnvloed, die nodige ondersteuning wat stremminge sal teëwerk, en die ontwikkeling van ’n individuele ondersteuningsplan wat die leerproses beïnvloed, die hoof te bied (DoBE, 2014b:4).

Die SIAS-dokument word gerugsteun deur die beginsel van ondersteuning vir almal. Volgens die dokument benodig elke leerder ondersteuning, maar sommige leerders benodig bykomende ondersteuning. Dit kan as gevolg van sosiale, emosionele, kognitiewe, linguistiese, gestremdhede, of gesins- of versorgingsomstandighede wees (DoBE, 2014b:vii).

Die verskillende leerstremminge of struikelblokke tot leer word in die dokument verduidelik en beskryf. ’n Struikelblok tot leer en ontwikkeling is ’n uitdaging wat die leerder in die gesig staar en wat voortspruit uit ondervindings in die klaskamer, by die skool, die huis en in die gemeenskap en/of as gevolg van ’n mediese toestand is (DoBE, 2014b:5). Struikelblokke tot leer en ontwikkeling wat in die geval van die immigranteleerder geld, kan die volgende insluit; sosio-ekonomiese aspekte (byvoorbeeld ʼn gebrek aan basiese dienste, armoede asook onder-ontwikkeling), faktore wat risiko’s vir die leerder inhou (mishandeling, politieke geweld asook kroniese siektetoestande soos MIV-infeksie en Vigs), ’n onbuigsame kurrikulum, taal en kommunikasie en ’n tekort aan ouergoedkeuring en -ondersteuning (DoBE, 2014b:5).

Die SIAS-dokument word gerugsteun deur ’n verskeidenheid van voorafgaande beleide en wetgewings en moet saam met hierdie dokumente bestudeer word: Constitution of the Republic

of South Africa (Act No. 108 of 1996), die South African Schools Act (Act No. 84 of 1999), die Convention on the Rights of the Child (1989, veral Artikel 23), die Children’s Act (Act No. 38 of 2005), die National Curriculum and Assessment Policy Statement, Gr R-12 (2011), HIV and AIDS in Education Policy (1999), die Care and Support for Teaching and Learning (CSTL) Programme (2008), Promotion of Equality and Prevention of Unfair Discrimination Act, 2000

46

(PEPUDA or the Equality Act, Act No. 4 of 2000) en Education White Paper 6 on Special Needs

Education: Building an Inclusive Education and Training System (2001).

Opleiding vir onderwysers om die implementering van die SIAS-dokument in skole te vergemaklik het in 2015 begin. Daar word beoog om die dokument teen 2018 in meeste skole in werking te hê om leerders met spesiale behoeftes van die nodige ondersteuning te voorsien (DoBE, 2014b:22-23). Die doel van die beleidsdokument is om leerderbehoeftes vroegtydig te identifiseer en die nodige ondersteuning te voorsien.