• No results found

Indien ‘n mens die nuwe maniere waarop die geskiedskrywing en geskiedenisfilosofie in die afgelope dekades beoefen is, wil begryp en ook die

moontlike invloed wat dit op die ontwikkeling van die “nuwe” historiese roman gehad het, wil ondersoek, is ‘n oorsig van fases in die ontwikkeling van die geskiedenisfilosofie vanaf die negentiende eeu noodsaaklik. Die empirisisme van die negentiende eeuse historiografie sou ongetwyfeld in verband gebring kon word

met die Realisme in die letterkunde, maar ook die Realisme in die skilderkuns ( soos wat Ankersmit oortuigend aantoon ). Daar was dus in die negentiende eeu

sprake van epistemiese diskursiewe verbande, in ‘n Foucauldiaanse sin, tussen die diskoerse van die historiografie en die historiese roman. Die moontlikheid om die werklikheid en historiese werklikheid objektief te representeer staan egter in die verloop van die twintigste eeu onder verdenking, wat in die letterkunde lei tot die ontwikkeling van die Modernisme en later die Postmodernisme en in die geskiedenisfilosofie lei tot ‘n dekonstruktiewe benadering tot historiese representasie en historiografie. Die wending in die historiografie in die sewentigerjare van die twintigste eeu kan op verskeie wyses geassosieer word met vernuwing in die historiese romangenre en die ontstaan van die “nuwe” historiese roman. Daar is dus ook sprake van eietydse of twintigste eeuse epistemiese diskursiewe verbande, in ‘n Foucauldiaanse sin, tussen die diskoerse van die historiografie en die letterkunde. Hierdie epistemiese diskursiewe relasies kan verder uitgebrei word na ander diskoerse en dissiplines binne die huidige episteem – soos byvoorbeeld die moderne kuns. ‘n Representasie-vraagstuk vorm ‘n sentrale motivering vir ontwikkelinge binne die geskiedenisfilosofie in die twintigste eeu en hier sou ‘n mens ‘n parallel kon vind tussen die geskiedenis, die letterkunde, maar ook ander dissiplines soos die beeldende kunste. Die moontlikheid om die realiteit getrou weer te gee word in die twintigste eeuse skilderkuns op verskeie wyses uitgedaag soos in die werk van Magritte wie se skildery Ceci n’est pas une pipe ( 1926 ) dalk die duidelikste voorbeeld hiervan is. Die representasie van die historiese werklikheid is in die nuwe historiese roman en die laat twintigste eeuse historiografie egter ‘n selfs meer kontensieuse vraagstuk as in die skilderkuns omdat ‘n mens nie te make het met die blote representasie

van ‘n huidige werklikheid soos in die skilderkuns nie, maar met die representasie van ‘n verdwene werklikheid wat slegs in spore en remnante in die argiewe of in bewaarde artefakte oorgebly het. In die eietydse historiografie en die nuwe historiese roman is daar ‘n besef van die beperkinge van die historiograaf of historiese ondersoeker en die ongetwyfelde subjektiewe visie van die historikus op die geskiedenis vanweë sy verbondenheid aan die sosio-historiese omstandighede van sy eie tyd. Die relatiwiteit van enige representasie van die geskiedenis en ook die narratiewe eienskappe van die historiografie kom vervolgens in die werk van verskeie laat-twintigste eeuse geskiedenisfilosowe ter sprake.

Die wyses waarop ‘n representasievraagstuk aandag geniet in die twintigste eeuse historiografie, letterkunde en selfs die beeldende kunste – en natuurlik die poststrukturalistiese konsep van différance - herinner aan Foucault se kritiek oor die episteme. Soos wat reeds genoem is, beweer Foucault dat ‘n episteem al die individue wat leef in daardie tydperk se denke op ‘n onbewuste wyse reguleer. Almal binne ‘n sekere episteem is onderhewig aan dieselfde dominante diskursiewe norme binne daardie tyd. Hierdie diskursiewe norme het, soos wat in die vorige hoofstuk betoog is, ook ‘n invloed op die wyse waarop die subjek die verhouding tussen taal en die werklikheid, oftewel tussen “woorde en dinge”, sal konsipieer. Die wyse waarop die “gaping” tussen taal en die werklikheid vooropgestel word in die eietydse historiografie, letterkunde, kuns, filosofie, ens. herinner vervolgens aan Hassan ( 1987 : 52 ) se kommentaar dat ‘n postmodernistiese episteem beskryf kan word in terme van ‘n “new immanence in language” en Foucault ( 1994a : 269 – 278 ) se kommentaar dat “the infinite and infinitely problematic character of the relationship an analysand to analyst” sentraal is aan die postmodernistiese episteem. Die afwesigheid van die korrespondensie tussen taal en die werklikheid in die postmodernistiese benadering tot representasie word as volg deur Foucault beskryf : “[ there ] is nothing absolutely primary to interpret, for after all everything is already

interpretation, each sign is in itself not the thing that offers itself to interpretation but an interpretation of other signs”.

Foucault se idees oor die wyse waarop die episteem verskeie uiteenlopende diskoerse binne een historiese periode reguleer en ook ‘n invloed het op ons benadering tot representasie, herinner aan Umberto Eco ( 1979 : 47 – 66 ) se skrywe dat “[ in ] every century the way that artistic forms are structured reflects the way in which science or contemporary culture views reality. The closed, single conception in a work by a medieval artist reflected the conception of the cosmos as a hierarchy of fixed, preordained orders”. Met die aanvang van die Barok-era is daar ‘n nuwe “scientific awareness” in die literatuur, aldus Eco. Die taktiele word vervang deur die visuele, ‘n subjektiewe element kom na vore in die literatuur en ‘n Copernikaanse visie van die heelal kom na vore in die literatuur deurdat ‘n voorgeskrewe perspektief uit die letterkunde verdwyn, volgens Eco. In die Barok “world view” en die Barok literatuur is daar ‘n “general urge toward discovery and constantly renewed contact with reality”. Twintigste eeuse verwikkelinge in die literatuur kan ook ongetwyfeld geassosieer word met ‘n twintigste eeuse persepsie van die werklikheid. James Joyce se romans kan byvoorbeeld volgens Eco op sekere maniere in ve rband gebring word met twintigste eeuse denke in die wetenskap. Die idee dat daar binne sekere historiese periodes ( wat Foucault as episteme beskryf ) representasienorme is wat in uiteenlopende diskoerse gereflekteer word, word dus ook hier deur Eco verwo ord.

Representasie het verder ‘n ideologiese komponent en dit lei onder andere tot die kritiek van Robert Young oor die ideologies-gefiltreerde weergawes van die geskiedenis in die Westerse historiografiese tradisie, waardeur politieke agendas soos die imperialisme in die verlede ondersteun is. Foucault se skrywe oor die noue verbintenis tussen diskoers en mag is hier relevant. Die ontmaskering van die ideologiese dimensie van die historiografiese diskoers kan vervolgens ook in

verband gebring word met die wyses waarop die nuwe historiese roman in die eietydse episteem in konflik tree met die geboekstaafde geskiedenis en die konsep “waarheid” met betrekking tot die geskiedenis gerelativeer word.

Hoofstuk 3

Die “gesprek” tussen die geskiedenisfilosofie, die geskiedskrywing en die

Klassieke en nuwe historiese roman

3.1 Inleiding

Myns insiens moet die historiese roman beskou word as die kruispunt van enkele diskoerse : die historiografie, die letterkunde en die geskiedenisfilosofie. ‘n Mens se insig in die Klassieke historiese roman word verruim wanneer negentiende eeuse benaderings tot die historiografie, soos die historisisme nagegaan word. Barbara Foley beweer byvoorbeeld dat daar in die Klassieke historiese roman, soos in die negentiende eeuse, empiriese benaderings tot die historiografie sprake is van ‘n “empiricist epistemology” ( 1986 : 159, 170 )24. Hutcheon ( 1988 : 105 ) verwys ook na die raakpunte wat daar in die negentiende eeu tussen die historiese roman en Ranke se opvattinge oor die geskiedskrywing was. Die interpretasiemoontlikhede van die nuwe historiese roman word ook aansienlik verskraal indien die kontemporêre geskiedenisfilosofie of die poststrukturalistiese geskiedeniskritiek nie daarby betrek word nie. Susana Onega ( 1995 : 5 ) noem dus dat die historiese roman se ontstaansgeskiedenis en evolusie deur die laaste drie eeue vele parallelle toon met ontwikkelinge in die geskiedenisfilosofie en die historiografie. Sonder om op te ‘n oordrewe wyse kousale verbande tussen die geskiedenisfilosofie, die historiografie en die historiese roman te trek, kan ‘n mens dus die vermoede hê dat daar sprake is van ‘n interdissiplinêre “gesprek” tussen hierdie diskoerse en soos wat reeds benadruk is, is ‘n ondersoek na sulke verbande oor diskursiewe grense heen uit ‘n poststrukturalistiese oogpunt geregverdig.

24

Ankersmit trek ook interessant genoeg ‘n verwantskap tussen Sir Walter Scott se Klassieke historiese romans en Ranke se denke oor die geskiedenis ( 1990 : 188 ).

Die historiese roman kan in ‘n sekere sin beskou word as ‘n hibriede vorm tussen die historiografie en die letterkunde, omdat die outeur nie net sy verbeelding be nut in sy weergawe van die verlede nie, maar ook ruimskoots gebruik maak van argivale materiaal en historiese bronne oor die verlede, d.w.s. dit wat tradisioneel as die domein van die historikus beskou word. Die vermenging van feit en fiksie in die historiese roman het al gelei tot die aantyging dat die genre ‘n “monsterlijke bastaard” is, soos wat Wesseling aantoon ( 1988b : 9 ).

3.2 Die verwantskap tussen die historiografie en die letterkunde vanaf die