• No results found

INLEIDING TOT DIE STUDIE

1.5 DOEL, DOELWITTE EN NAVORSINGSVRAE VAN DIE STUDIE Die volgende doel en doelwitte word vir hierdie studie gestel:

1.6.2 Gevallestudie as navorsingstrategie

In hierdie studie is die gebruik van die gevallestudie as navorsingstrategie gekies omdat dit genoegsame ruimte bied om verskeie vrae aan die deelnemers te stel, waaruit breër verbande vasgestel en afleidings gemaak is, omdat hierdie strategie uitdrukking gee aan die doel en doelwitte van die betrokke navorsingstudie (Creswell, 2013; Fouché & Delport, 2014a; Fouché & Schurink, 2014c). Die gevallestudie-strategie fokus op die bestudering van ’n fenomeen (kapasiteitsbou van IGO’s) en hoe mense (gevestigde maatskaplike diensorganisasies en lede van NACOSS) hierdie fenomeen ervaar en hul ervaringe vanuit ’n maatskaplike ontwikkelingsgerigte benadering beskryf. In hierdie studie is veelvoudige gevalle gebruik, te wete verskeie lede van NACOSS wie se dienste in ligging, omvang en aard verskil. Drie groepe deelnemers is gebruik: hoof uitvoerende beamptes, maatskaplike werkers en verteenwoordigers van IGO’s wie se kapasiteit deur gevestigde diensorganisasies gebou word. 1.6.3 Verkennende en beskrywende navorsingsontwerp

Beide ’n verkennende sowel as ’n beskrywende navorsingsontwerp is vir die raamwerk van hierdie navorsing gekies om die kwalitatiewe navorsingsbenadering te implementeer. Verskeie skrywers bevestig dat verkennende asook beskrywende navorsingsontwerpe die geleentheid bied om insig te verkry in die wyse waarop individue of groepe ’n bepaalde situasie, verskynsel of onderwerp beskou (Babbie & Mouton, 2006; Bless et al., 2006; Creswell, 2013; Fouché & De Vos, 2014a; Mouton, 2006; Rubin & Babbie, 2007; Terre Blanche & Durrheim, 1999). Beide navorsingsontwerpe word veral gebruik wanneer inligting oor die navorsingsonderwerp beperk is en bied beduidende insig in ’n bepaalde situasie of fenomeen (in hierdie studie die kapasiteitsbou van IGO’s deur gevestigde maatskaplike diensorganisasies). In hierdie studie word die teoretiese verkennende en beskrywende navorsingsontwerpe gekombineer, omdat beide navorsingsontwerpe die kapasiteitsbou van IGO’s omskryf en ondersoek. Die beskrywende navorsingsontwerp antwoord vrae soos “wat is kapasiteitsbou?” en “wie bou kapasiteit?”, terwyl die verkennende navorsingsontwerp weer vrae stel soos “hoe word die kapasiteit gebou?”, “wat is die rede vir kapasiteitsbou?”, “watter uitdagings word ten opsigte van kapasiteitsbou van IGO’s gestel?” en “hoe word kapasiteitsbou van IGO’s in terme van die maatskaplike ontwikkelingsgerigte benadering toegepas?”.

Opsommenderwys: Negentien gevestigde maatskaplike diensorganisasies was ten tye van die ondersoek lede van NACOSS en het die universum van die studie bepaal (NACOSS, 2012b). Deur middel van ’n opname is bepaal dat 11 van die 19 lede reeds betrokke is by die kapasiteitsbou van IGO’s en word sodanige lede as die populasie in hierdie studie beskou. Die steekproef het bestaan uit al die NACOSS-lede wat aangedui het dat hulle betrokke is by kapasiteitsbou van IGO’s en bereid was om aan die studie deel te neem. Die steekproef het bestaan uit nege maatskaplike diensorganisasies. Onderhoude is eers gevoer met twee groepe verteenwoordigers van daardie diensorganisasies wat deel uitgemaak het van die steekproef, naamlik met 8 hoof uitvoerende beamptes en ook 15 maatskaplike werkers betrokke by die kapasiteitsbou van IGO’s. Daarna is onderhoude gevoer met 9 verteenwoordigers van 9 IGO’s wie se kapasiteit deur die betrokke gevestigde maatskaplike diensorganisasies gebou is. 1.7.1 Universum

Die term universum in navorsing verwys na ’n potensiële stel entiteite wat oor eienskappe beskik waarin die navorser geïnteresseerd is en verskaf dus die begrensing van die eenheid wat in navorsing bestudeer word word (Strydom & Delport, 2014). In hierdie studie is die universum al 19 van die nasionale gevestigde welsynsorganisasies in Suid-Afrika wat lede van NACOSS is. Lede is volgens NACOSS (2011) se konstitusie organisasies wat maatskaplike welsynsdienste nasionaal in een of meer provinsies lewer. Dit sluit ook organisasies in wie se dienslewering beperk is tot ’n spesifieke area, wat nie by ’n nasionale raad/organisasie inskakel nie, asook netwerke wat ’n aantal welsynsorganisasies verteenwoordig. NACOSS-lede lewer ’n verskeidenheid van maatskaplike dienste. Die grootte en organisasiestrukture van NACOSS- lede verskil. Omdat daar baie affiliate of takke en dikwels provinsiale kantore by hierdie nasionale liggame ingeskakel is, verteenwoordig NACOSS nasionaal die grootste gedeelte van die nasionale gevestigde maatskaplike diensverskaffers. Die IGO’s wat aan hierdie studie deelneem, vorm nie deel van die universum nie en verwys bloot na daardie IGO’s wie se kapasiteite deur die betrokke NACOSS-lede gebou word. Hulle word in hierdie studie gebruik om aanvullende inligting te verskaf om verbande te kan lê.

1.7.2 Populasie

Die term populasie verwys na ’n afgebakende groep entiteite in die universum wat vir die doel van hierdie studie gekies word en oor daardie spesifieke eienskappe beskik wat vir die doeleindes van hierdie navorsing relevant is (Strydom & Delport, 2014; Tutty, Rothery & Grinnell, 1996). In hierdie studie word NACOSS-lede wat reeds die kapasiteit van IGO’s bou, as “populasie” geneem. Ná afloop van ’n amptelike NACOSS-vergadering het 11 van die 19 teenwoordige NACOSS-lede aangedui dat hulle wél IGO’s se kapasiteit bou en word hierdie groep dus as “die populasie” beskou.

1.7.3 Steekproefneming

Die navorser bepaal die parameters vir insluiting en kies daarna die steekproef dienooreenkomstig (Silverman, 2005). Daar is in hierdie studie van doelbewuste steekproef-

seleksie gebruik gemaak om die deelnemers te kies. Die seleksie van die deelnemers geskied

hoofsaaklik op grond van hul kennis en ervaring ten opsigte van die fenomeen wat nagevors word (Stydom & Delport, 2014; Monette, Sullivan & De Jongh, 2008; Oliver, 2010) en op grond van hul bereidheid om aan die studie deel te neem. Die steekproef kan soos volg gegroepeer word: Net meer as 50% van die 9 deelnemende gevestigde maatskaplike diensorganisasies bestaan uit groot nasionale liggame met beduidende hoeveelheid affiliate wat wye geografiese kinderbeskermings- en gesinsdienste lewer, terwyl die ander net minder as 50% spesialiteitsdienste op ’n nasionale grondslag lewer. Beide groeperinge van die 9 nasionale diensorganisasies is as genoegsaam gereken om verteenwoordigend te wees.

Alhoewel geen vasgestelde reëls oor die grootte van die steekproef in ’n kwalitatiewe studie geld nie, is die grootte van die steekproef in hierdie soort studie gewoonlik kleiner as in ’n kwantitatiewe studie (Mason, 2010; Whittaker, 2009). Die navorser het besluit om soveel as moontlik belangstellende NACOSS-lede by die studie in te sluit omdat min inligting oor die onderwerp bekend is en die grootte van die populasie hanteerbaar en prakties uitvoerbaar was. Daar was in totaal 32 onderhoude gevoer, wat volgens die volgende skrywers as genoegsame aantal deelnemers vir geldigheid beskou kan word en ’n versadigingspunt van inligting te bereik: vir Green en Thorogood (2009), byvoorbeeld, is die versadigingspunt 20 persone; Charmaz (2006) reken 25 persone as voldoende vir kleiner projekte; en vir Creswell (1994) is die versadigingspunt tussen 20 en 30 persone.

1.7.4 Loodsstudie

’n “Loodsstudie” kan omskryf word as ’n kleinskaalse proefneming vir ’n voorgestelde studie (Monette et al., 2008; Strydom & Delport, 2014) en is uitgevoer om die geldigheid en die betroubaarheid van die instrument van data-insameling (in hierdie studie die semi- gestruktureerde onderhoud) vas te stel. Die loodsstudie het uit twee fases bestaan.

Fase een: Eerstens is onderhoude gevoer met twee maatskaplike werkers weens hul kundigheid en jarelange ervaring as maatskaplike werkers en vanweë elkeen se betrokkenheid by die kapasiteitsbou van meer as 5 IGO’s. Hulle is spesifiek gevra om voorstelle te maak om die semi-gestruktureerde onderhoudskedules vir maatskaplike werkers aan te pas waar hulle dit nodig geag het. Aangesien geen aanpassings nodig was nie, is daar aanvaar dat die onderhoudskedule óók vir die hoof uitvoerende beamptes benutbaar sou wees en is hierdie groep gevolglik nie by die loodsstudie betrek nie. Die veronderstelling was dat, indien maatskaplike werkers as kenners en implementeerders van kapasiteitsbou die onderhoudskedule aanvaarbaar vind, die skedules ook sinvol deur hoof uitvoerende beamptes op beleidsvlak ervaar sou word. Die navorser het egter hierdie afleiding getoets deur die geskiktheid van die onderhoudskedule na afloop van die eerste onderhoud deur die betrokke hoof uitvoerende beampte te evalueer. Die terugvoering was dat die onderhoudskedule inderdaad toepaslik was.

Fase twee: Tweedens het hierdie twee maatskaplike werkers wat by die loodsprojek betrek is, elkeen self met twee IGO’s onderhoude gevoer en terugvoering aan die navorser gegee oor die toepaslikheid van die semi-gestruktureerde onderhoudskedule. Daar is gereken dat twee kenners van kapasiteitsbou van IGO’s ten beste die geskiktheid van die onderhoudskedule vir IGO’s ter plaatse sou kon evalueer. ’n Deeglike telefoniese toeligtingsessie het vooraf met die betrokkenes plaasgevind. Die loodsstudie het aan die navorser bevestig dat die nodige inligting wél deur die navorsingsbenadering en ontwerp ingesamel sou kon word om die doel van die studie te bereik. Die lesse geleer uit die loodsstudie word volledig in hoofstuk 5 omskryf en enkele aanpassing is op die onderhoudskedule aangebring.

Tydens die onderhoude met die betrokke maatskaplike werkers sowel as met die hoof uitvoerende beampte is die metode om deelnemers se aanhalings neer te skryf en direk ná afloop van die onderhoude met aantekeninge aan te vul, ook in die loodsstudie getoets. So spoedig moontlik ná afloop van die onderhoud is die inhoud getranskribeer en oorgetik. Daar is gevind dat hierdie metode suksesvol deur die navorser toegepas kan word. ’n Bandopnemer is dus nie gebruik nie en dit het geen beperking op die studie geplaas nie.

1.8 DATA-INSAMELING EN ANALISE