• No results found

MAATSKAPLIKE DIENSORGANISASIES

4.2.3 Definisie van kapasiteitsbou van IGO’s

Na aanleiding van die voorgestelde teoretiese raamwerk vir organisatoriese kapasiteitsbou van IGO’s word die definisie van kapasiteitsbou van IGO’s deur formele diensorganisasies vir die doel van hierdie studie soos volg gestel: Kapasiteitsbou van die IGO’s deur die formele diensorganisasies as diensverskaffers is die proses waardeur IGO’s ondersteun word om toegang te verkry tot hulpbronne (tegnies en andersins) en veral staatsfinansiering wat benodig word om effektiewe en volhoubare dienste te lewer. Die fokus van sodanige kapasiteitsbou is die ontwikkeling van kennis en vaardighede in die basiese bestuur van ’n organisasie, wat die

elemente van beplanning, organisering, leiding en beheer, monitering en evaluering bevat. Die rigting en pas van kapasiteitsbou word self deur die IGO’s bepaal, geskied binne ’n vennootskap van wedersydse vertroue en fokus op die sterktes van die partye wat by die kapasiteitsbouproses betrokke is.

4.3 DOEL VAN ORGANISATORIESE KAPASITEITSBOU

Die wyse waarop die vraag: “Waarom word kapasiteit gebou?” aangespreek word, sal afhang van die waardes wat ter tafel gebring word en die fokus wat op die proses geplaas word. Daar is geen regte of verkeerde antwoord op die vraag nie. Wat wél met sekerheid gesê kan word, is dat die antwoord berus op die behoeftes in die gemeenskap, die hulpbronne wat ingespan kan word, die politieke wil wat ontgin word en die volgehoue visie van leiers en die inwoners in die gemeenskap om doelstellings te bereik (Connoly, 2007; De Vita et al., 2001).

Die uiteindelike doel van kapsiteitsbou word deur De Vita et al. (2001) omskryf as die skepping van veilige en produktiewe gemeenskappe waar mense kan werk, lewe, funksioneer en hul potensiaal ontwikkel. Venture Philanthropy Partners (2001) en Connoly (2007) vereenvoudig

die doel van organisatoriese kapasiteitsbou deur bloot daarna te verwys as die maksimalisering

van organisasies se sosiale impak. Wright-Revolledo (2007) verwys na organisatoriese

kapasiteitsbou as die verlening van ondersteuning aan organisasies, sodat hulle só effektief,

doeltreffend en volhoubaar kan presteer dat die strategiese doelstellings van ontwikkelingsorganisasies bereik kan word. Die Grantmakers for Effective Organizations (2000) beantwoord die vraag oor wat ’n organisasie effektief of suksesvol sou maak, deur te verwys na die organisasie se vermoë om sy missie te bereik deur ’n vermeniging van’n bewese rekord van sterk korporatiewe bestuur en doelgerigte aanpassings om resultate te bereik. Vir Kaplan (1997) is die doel van kapasiteitsbou om die vermoë van ’n organisasie te ontwikkel om op ’n vindingryke wyse te reageer op ’n voortdurend veranderende omgewing en omstandighede. Dit strook met sy uitgangspunt dat kapasiteitsbou vanuit ’n nuwe paradigma beskou behoort te word wat suiwer ontwikkelingsgerig is. Die outeur glo dat organisasies in staat gestel moet word om vrylik op unieke wyses op unieke omstandighede te reageer, eerder as om organisasies op te lei in vorige oplossings, gevestigde gesindhede en reeds opgeleide gedrag. Hauser en Huberman (2006) voer aan dat veral niewinsgerigte organisasies doelbewus aandag moet skenk aan volhoubaarheid en dat sowel daaglikse bestuur as langtermynbeplanning deur die bestuursraad en senior personeel deurslaggewend is vir organisatoriese volhoubaarheid.

Soos reeds in hoofstuk 3 van hierdie studie aangetoon is, word daar vir die doel van hierdie studie volstaan met die standpunt dat die bou van waardevolle hulpbronne in gemarginaliseerde gemeenskappe die uiteindelike mikpunt van die kapasiteitsbou van IGO’s is. Die hoofdoel is om die sosiale impak wat IGO’s op gemeenskappe het, te maksimaliseer, sodat hulle só effektief, voldoende en volhoubaar moontlik kan funksioneer.

4.4 ORGANISASIES SE BEHOEFTES AAN KAPASITEITSBOU

Juis as gevolg van die omvangryke diversiteit in die niewinsgerigte sektor soos reeds uitgelig is in hoofstuk 2, sal die behoeftes en vermoëns van niewinsgerigte organisasies om toekomstige kapasiteit te bou, grootliks van organisasie tot organisasie verskil (De Vita et al., 2001). Die verskille sal ook die aard van verlangde kapasiteitsbou drasties beïnvloed (De Vita et al., 2001). Die Fieldstone Alliansie (2006) voer aan dat verskeie faktore ’n organisasie se behoefte aan organisatoriese kapasiteitsbou op enige gegewe tydstip sal beïnvloed, insluitend die volgende: die ouderdom en ontwikkelingsfase van die betrokke organisasie; die grootte van die organisasie; die tipe werk wat die organisasie doen; die kulturele en etniese identiteit van die organisasie; sowel as die omgewing waarbinne die organisasie funksioneer.

Organisasies se behoefte aan kapasiteitsbou spruit dikwels uit finansiële oorwegings. De Vita

et al. (2001) is van mening dat dat uitbreiding van die niewinsgerigte sektor, tesame met groter

betrokkenheid van winsgerigte organisasies in areas wat voorheen deur die niewinsgerigte sektor gedomineer is, tot groter kompetisie vir finansiële hulpbronne of fondse gelei het. Die skrywers voer aan dat niewinsgerigte organisasies in toenemende kompeterende omgewings dit al hoe moeiliker vind om hul hulpbronbasis te diversifiseer om organisasie-onsekerheid te verminder. Die Venture Philanthropy Partners (2001) vestig ook verder die aandag daarop dat baie niewinsgerigte bestuurders en veral befondsers of donateurs eerder geld en tyd op direkte programme aan teikengroepe sal spandeer in teenstelling met interne organisatoriese kapasiteitsbou wat die gebrek aan fokus op die kapasiteitsbou van eksterne organisasies nog verder vergroot. Daar is egter verskeie forums of netwerke wat wél fokus op die befondsing van organisatoriese kapasiteitsbou (vgl. Connoly, 2007). Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling lê in sy Finansierings-beleid (Departement van Maatskaplike Ontwikkeling, 2012a) besonder klem op die doel van kapasiteitsbou om aan IGO’s toegang tot staatsfinansiering te bied.

Soms fokus organisasies self ook nie op hul eie kapasiteitsbou nie. Effektiewe kapasiteitsbou word volgens Venture Philanthropy Partners (2001) vanweë die geskiedkundige ongeïnteresseerdheid van die niewinsgerigte sektor in organisatoriese kapasiteitsbou benadeel. Hierdie ongeïnteresseerdheid kan egter ook deels toegeskryf word aan die fokus en dringendheid om dienste en programme aan kwesbare mense in nood te lewer. Maatskaplike diensprogramme bestaan met die uitsluitlike doel om die lewens van individue en gemeenskappe wat bedien word, te verbeter (Lewis et al., 2007). Dit is dan juis hierdie gemeenskaplike begeerte om maatskaplike ontwikkeling te fasiliteer en om lewens in gemeenskappe te verbeter, wat dikwels die aandag van organisatoriese kapasiteitsbou van die