• No results found

NIEWINSGERIGTE SEKTOR

4.9 WAARDES VAN EFFEKTIEWE KAPASITEITSBOU-INISIATIEWE

4.9.5 Bestuur van direkte verhoudinge met die omgewing

Maatskaplike diensorganisasies staan altyd direk in verhouding tot die omgewing waarin hulle dienste lewer, wat gevolglik noodsaaklikerwys meebring dat dit ook ander organisasies insluit wat betrokke is by die gemeenskappe. Eksterne verhoudings met ander organisasies is dus ook een van die elemente wat maatskaplike diensorganisasies moet bestuur. Dit verwys na die volgende aspekte (Wright-Revolledo, 2007):

 Om buite die grense van hul eie plaaslike gemeenskap gehoor te word en om deur middel van netwerke saam met ander niewinsgerigte organisasies stemme te werf. Dit sluit in dat daar vir bystand onderhandel moet word met besluitnemers wat nie regstreeks by die niewinsgerigte organisasies betrokke is nie ten einde hulle eie materiële basis en onderhandelingsposisie te verbeter.

 Om in ’n koalisie met ander plaaslike organisasies op te tree, kontakte op te bou en netwerke te skep sodat meer praktiese voordele deur die niewinsgerigte organisasies bereik kan word.

4.10 SAMEVATTING

In hierdie hoofstuk is die teoretiese raamwerk van kapasiteitsbou van IGO’s gestel as volhoubare maatskaplike ontwikkeling en organisasiebestuur en -ontwikkeling. Ook is die uitgangspunt benadruk dat niewinsgerigte organisasies waardevolle hulpbronne in die versterking van die burgerlike samelewing en maatskaplike kapitaal is. Hierdie teoretiese raamwerk sluit ten nouste aan by die maatskaplike ontwikkelingsgerigte benadering wat die Suid-Afrikaanse regering volg.

Daar is aangetoon dat daar ’n verband bestaan tussen die teorie en die heersende welsynsisteem en staatsbeleid wat direk verwys na die kapasiteitsbou van IGO’s. Oorwegings is uiteengesit wat in ag geneem behoort te word in die denke oor die wyse waardeur spesifiek IGO’s se kapasiteite versterk sou kon word. Die noue verbintenis tussen kapasiteitsbou en die maatskaplike ontwikkelingsgerigte benadering is deurgaans beklemtoon. Die toepaslike teorieë en modelle oor organisatoriese kapasiteitsbou is vanuit ’n maatskaplike ontwikkelingsgerigte benadering beskryf en die modelle van die McKinsey-firma (2001), Connoly (2007), De Vita,

et al. (2001) en die Fieldstone Alliance (2006)is vergelyk.

Wat egter duidelik in die hoofstuk na vore tree, is dat die debat oor organisatoriese kapasiteitsbou en veral ten opsigte van IGO’s nog verder gevoer moet word. Moontlik behoort eenvormigheid in organisatoriese kapasiteitsbou van die niewinsgerigte maatskaplike diensorganisasiesektor nie ten doel gestel te word nie, juis as gevolg van die verskille in en unieke aard van die sektor wat kapasiteitsbou ten grondslag lê. Die moontlikheid bestaan ook dat die ontwikkeling van die volle potensiaal van IGO’s en die maksimalisering van die impak van dienslewering deur IGO’s nie noodwendig die behoefte van IGO’s is nie, wat ’n beduidende effek op die aard van kapasiteitsbou-modelle en -insette ten opsigte van IGO’s kan hê.

In die volgende hoofstuk word daar oorgegaan om die navorsingsmetodologie wat in hierdie studie gevolg is, te beskryf.

HOOFSTUK 5

NAVORSINGSMETODOLOGIE

5.1 INLEIDING

Hierdie hoofstuk het ten doel om die navorsingsmetodologie gevolg in hierdie studie uiteen te sit. Deurgaans sal die metodologie vanuit die literatuur omskryf word en die toepassing daar- van op hierdie studie uitgelig word.

Oorhoofs beskou, is kwalitatiewe navorsing as benadering gekies om die bydrae van geves- tigde maatskaplike diensorganisasies tot die kapasiteitsbou van IGO’s in die welsynsektor te verken en die verband te trek met die maatskaplike ontwikkelingsgerigte benadering soos dit toegepas word in Suid-Afrika. Gevallestudie is as navorsingstrategie benut deur gebruik te maak van NACOSS (National Coalition of Social Services) as gespreksforum van gevestigde maatskaplike diensverskaffers in Suid-Afrika. Om meer inligting oor die navorsingson- derwerp te bekom, is die navorsingsontwerp wat gevolg word verkennend en beskrywend van aard. Bepaalde stappe wat in ooreenstemming is met die literatuur oor kwalitatiewe navorsing en die mees gepaste blyk te wees, is in die navorsingsproses gevolg. So byvoorbeeld het data- insameling deur middel van semi-gestruktureerde onderhoude plaasgevind. Twee hoofbronne van data is gebruik, naamlik 8 hoof uitvoerende beamptes en 15 maatskaplike werkers. Die rede vir die benutting van hierdie bronne is om inligting oor die navorsingsonderwerp vanuit sowel ’n beleidmakende as ’n praktykgerigte perspektief te bekom. Nege IGO’s het aanvullende inligting verskaf.

In hierdie hoofstuk sal ’n oorhoofse beeld van die aanbieding van hierdie hoofstuk aangebied word. Daarna sal die navorsingsbenadering, -strategie en -ontwerp bespreek word. Dit sal gevolg word deur ’n gedetailleerde uiteensetting van die navorsingsproses wat in hierdie studie gevolg is. Die hoofstuk sal afgesluit word met ’n bespreking oor die geldigheid, etiek en beperkinge van hierdie studie.

5.2 OORHOOFSE OORSIG OOR AANBIEDING VAN DIE HOOFSTUK

Volgens Fouché en Delport (2014a) noodsaak professionele, betekenisvolle navorsing die navolging van bepaalde opeenvolgende “stappe” in die navorsingsproses. Eerder as om hierdie “stappe” as raamwerk vir die uiteensetting van hierdie hoofstuk te gebruik, word dié hoofstuk

onderverdeel in drie afdelings. Die navorser is naamlik van mening dat hierdie uiteensetting meer lesersvriendelik is omdat die stappe waarna Fouché en Delport (2014a) verwys, inderwaarheid interafhanklik en dupliserend van aard is. Deur die inligting eerder in fases as “stappe” in te deel en te bespreek, kan ook ’n meer oorhoofse beeld verkry word van die navorsingsmetodologie wat in hierdie studie gevolg word.

Die eerste afdeling handel oor die navorsingsbenadering, -strategie en -ontwerp wat gevolg word. Daarin word benadruk dat die kwalitatiewe benadering in hierdie studie toegepas word. As navorsingstrategie word ’n gevallestudie gekies en word inligting oor hierdie gevallestudie op grond van die universum en populasie aangedui. Die navorsingsontwerp is verkennend en beskrywend van aard. Die tweede afdeling handel oor die navorsingsproses wat gevolg is. Vir die doel van hierdie hoofstuk het die navorser die volgende raamwerk van fases in die navorsingsproses geskep: Fase 1 as die seleksie van die navorsingsonderwerp; fase 2 as formele formulerings (wat die navorsingsbenadering, navorsingsprobleem en navorsingsvoorstel insluit); fase 3 as die literatuurstudie; fase 4 as universum en steekproefneming; fase 5 as data- insameling; fase 6 as data-analise; en fase 7 as die aanbieding van die data in ’n navorsingsverslag. Die derde afdeling handel oor die geldigheid, etiek en beperkinge van die studie. In hierdie hoofstuk word die strategieë vir geldigheidsverklaring, die etiese oorwegings van die studie, refleksiwiteit en die navorser se persoonlike ervaringe en die effek daarvan op die studie sowel as die beperkinge van die studie bespreek.

Om ’n geheelbeeld te verkry van die navorsingmetodologie wat in hierdie hoofstuk gebruik gaan word, word die uiteensetting wat gevolg gaan word, grafies soos volg in figuur 5.1 aangedui:

Figuur 5.1 : Grafiese voorstelling van die uiteensetting van hoofstuk 5

Elkeen van die genoemde afdelings in die uitleg van hierdie hoofstuk word afsonderlik bespreek. Soos uit hierdie skematiese voorstelling blyk, is die eerste fase wat aan die orde kom die navorsingsbenadering, -strategie en -ontwerp wat in hierdie studie gevolg gaan word.

5.3 NAVORSINGSBENADERING, -STRATEGIE EN -ONTWERP

Die keuse van ’n navorsingsbenadering is bepalend in die maak van verdere keuses oor ’n toepaslike navorsingstrategie, -ontwerp en die navorsingsproses wat gevolg sal word.

5.3.1 Navorsingsbenadering: Kwalitatiewe benadering

Die kwalitatiewe navorsingsbenadering het ten doel om maatskaplike verskynsels eerder te verstaan as te verklaar (Bless et al., 2006; Fouché & Delport, 2014a; Monette et al., 2008; Mouton, 2006). Aangesien min inligting oor die kapasiteitsbou van IGO’s en in die besonder gevestigde maatskaplike diensorganisasies se bydrae bekend is, maak hierdie benadering voorsiening vir deelnemers se menings oor wat kapasiteitsbou in die praktyk behels. Omdat hierdie fenomeen in diepte ondersoek en beskryf word, word daar uitsluitlik van die kwalitatiewe benadering gebruik gemaak.

BENADERING