• No results found

VERWYSING NA DIE MAATSKAPLIKE ONTWIKKELINGSGERIGTE BENADERING

2.4 SUID-AFRIKA SE BENADERING TOT MAATSKAPLIKE ONTWIKKE LING

2.5.3 Die regeringsektor

Die regeringsektor, bestaande uit die sektore soos in die voorgaande grafiese uiteensetting (figuur 2.1) geïllustreer is, vorm een van die twee hoofkategorieë van maatskaplike diensverskaffers in die Suid-Afrikaaanse welsynsektor. Om die doelwit van hierdie hoofstuk te bereik gaan die nasionale funksies en fokus bespreek word en sal daar nie aandag geskenk word aan sy provinsiale departemente en hul onderskeie streeks- en distrikskantore nie. In die besonder sal aandag gegee word aan die Departement se rol en funksies as beleidmaker in die toepassing van die maatskaplike ontwikkelingsgerigte benadering teenoor IGO’s as maat- skaplike diensverskaffers.

2.5.3.1 Nasionale Departement van Maatskaplike Ontwikkeling

Die grondwetlike mandaat van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling is om sektor- spesifieke nasionale leierskap in maatskaplike ontwikkeling te bied (Departement van Maatskaplike Ontwikkeling, 2012a). Die Departement ontvang die grondwetlike mandaat ingevolge verskeie beleide en wette, insluitend die Witskrif vir Welsyn (1997) en die Witskrif vir Bevolkingsbeleid (1998) (Departement van Maatskaplike Ontwikkeling, 2006). Binne hierdie konteks ontwikkel en implementeer die Departement programme vir die maatskaplike beskerming en ontwikkeling van arm, kwesbare en gemarginaliseerde landsburgers. Sy programme word deur middel van vennootskappe met sy primêre verbruikers/kliënte, en ander vennote wat dieselfde visie deel, geïmplementeer (Departement van Maatskaplike Ontwikkeling, 2010). Fokusareas word hanteer ingevolge ’n Vyf Jaar Strategiese Plan wat opgestel word na aanleiding van fokusareas geïdentifiseer in die regering se “Manifesto” en die “Medium-Term Strategic Framework (MTSF)” (Departement van Maatskaplike Ontwikkeling, 2014a).

Die visie van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling is volgens sy Strategiese Plan vir 2010 tot 2015 (Departement van Maatskaplike Ontwikkeling, 2010:8) die volgende: “A caring and integrated system of social services that facilitates human development and improves the quality of life.” Drie fokusareas word as missie van hierdie Departement geïdentifiseer: Eerstens om te verseker dat omvattende maatskaplike dienste gelewer word, wat daarop gemik is om armes en kwesbares binne die raamwerk van die Grondwet van Suid- Afrika en gepaardgaande wetgewing te beskerm; tweedens om`n instaatstellende omgewing vir volhoubare ontwikkeling daar te stel; en derdens om geïntegreerde, volhoubare en gehaltediens in vennootskap met almal wat verbind is om ’n sorgsame samelewing daar te stel, te lewer. In sy Diensleweringsmodel vir ontwikkelingsgerigte maatskaplike dienste (Departement van Maatskaplike Ontwikkeling, 2006) word die rolle en verantwoordelikhede van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling breedvoerig beskryf. Vir die doel van hierdie studie word hierdie rolle en verantwoordelikhede volledigheidshalwe slegs tematies soos volg saamgevat:

 Die aanduiding van die strategiese rigting van maatskaplike dienslewering in Suid- Afrika en die ontwikkeling van ’n geïntegreerde beleid op nasionale en provinsiale vlak, wat die onderneming van navorsing insluit. Voorts behels dit die ontwikkeling, inisiëring en monitering van programme wat kwesbaarheid aanspreek, waarby ingesluit word die stel van norme en standaarde vir maatskaplikedienslewering en kontroles om gehaltediens te verseker.

 Die verskaffing van ’n eenvormige raamwerk vir die finansiering van maatskaplike diensprogramme, steunwerwing vir die voorsiening van genoegsame hulpbronne vir maatskaplike dienslewering en die regulering van die insameling van fondse in alle sfere van die Staat.

 Die ontwikkeling, instandhouding en koördinering van nasionale inligtings- en bestuurstelsels vir maatskaplike welsynsdienste, wat die daarstel en instandhouding van nasionale meganismes vir die monitering en verslagdoening van maatskaplikewerk- dienslewering insluit.

 Skakeling met ander nasionale en provinsiale Staatsdepartemente en die bevordering en instandhouding van vennootskappe met ander internasionale en nasionale rolspelers

en diensverskaffers op die maatskaplike welsynsterrein. Dit sluit die bemarking van die Departement self in.

 Die kapasiteitsbou en organisasie-ontwikkeling van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling as regeringsorganisasie, insluitend fasilitering van die maatskaplike prosesse van toepassing op die lewering van maatskaplike welsynsdienste en verslagdoening aan parlementêre strukture.

Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling identifiseer in sy nuutste Vyf Jaar Strategiese Plan (2014-2019) die lewering van ontwikkelingsgerigte gemeenskapsdienste as een van sy drie hooffunksies vir die genoemde tydperk (Departement van Maatskaplike Ontwikkeling, 2014a). Dit sluit in die ontwikkeling van ’n instaatstellende omgewing vir die bemagtiging van armes en kwesbares deur die bevordering en ondersteuning van gemeenskapsontwikkelingswerk en die versterking van institusionele reëlings en dialoog- voering met die burgerlike samelewing. Die versterking van institusionele reëlings as deel van die laasgenoemde funksie van die Departement verwys na die hantering van die registrasies van niewinsgerigte organisasies (“not-for profit organisations” of NPOs), omdat die regering hierdie registrasieproses beskou as die basis vir burgerlike samelewingsorganisasies om hul sake effektief en verantwoordbaar te bestuur. Die huidige strategiese plan verwys spesifiek na die vereenvoudiging van die NPO-registrasieproses en die versterking van die kapasiteit van NPOs as oogmerke. Hierdie program word beskryf as die opbou van die kapasiteite van NPOs om die effektiewe registrasie van NPOs te bewerkstellig en om hulle nakoming van die vereistes gestel in die Wet op Organisasies sonder Winsoogmerk (1997) te monitor. Die toepassing van hierdie wetgewing en die effek daarvan op IGO’s sal later meer breedvoerig in hierdie hoofstuk bespreek word.

2.5.3.2 Intersektorale staatsdepartemente

Intersektorale staatsdepartemente, soos die Departement van Onderwys en Kultuur, Gesond- heid, Korrektiewe Dienste en Justisie, het ook maatskaplike werkers in diens wat uitvoering gee aan maatskaplike dienste, programme en aksies met die doel om maatskaplike ontwikkeling aan die hand te werk. Hierdie maatskaplike werkers lewer intersektorale maatskaplikewerk-dienste ingevolge die onderskeie departemente se fokuspunte en oog- merke, maar ontvang geen staatsfinansiering deur die Departement van Maatskaplike

Ontwikkeling nie. Intersektorale skakeling is een van die kenmerke van die maatskaplike ontwikkelingsgerigte benadering wat in Suid-Afrika gevolg word.

2.5.3.3 Plaaslike regerings

Plaaslike regerings, bestaande uit die munisipaliteite of stadsrade van die onderskeie dorpe of stede wat deur middel van politieke verkiesings hierdie amp beklee (Patel, 2005), werk in vennootskap met die ander sfere van die Staat om maatskaplikewerk- en maatskaplike welsynsdienste te lewer. Die welsynsafdelings van plaaslike regerings het verskeie rolle en verantwoordelikhede. Een só ’n rol wat direk by die maatskaplike ontwikkelingsgerigte benadering aansluit en op die maatskaplike welsynsdienste impakteer, is plaaslike regerings se Geïntegreerde Ontwikkelingsplanne (“Integrated Development Plans” of IDPs), wat ten doel het om die onderskeie verkiesingswyke se maatskaplike ontwikkelingsbehoeftes in die onderskeie sektore soos veiligheid, welsyn, behuising, opvoeding en ander te identifiseer en aan te spreek (Departement van Maatskaplike Ontwikkeling 2006; Departement van Beplanning, Plaaslike Bestuur en Behuising, 2002; Ministerie van Welsyn en Bevolkings- ontwikkeling, 1997).