• No results found

HOOFSTUK 3: KIESSTELSELS: TIPOLOGIE EN WERKING

3.4 DIE WERKING EN GEVOLGE VAN VERSKILLENDE KIESSTELSELS

3.4.3 Gemengde kiesstelsels

Die kerneienskap van gemengde kiesstelsels is dat die werking daarvan beide proporsioneel verteenwoordigende en meerderheidkiesstelsels insluit. Daar word onderskei tussen afhanklike en onafhanklike kombinasies. ʼn Afhanklike kombinasie is

113

dié waar die toepassing van een formule om die seteltoewysing te bepaal afhanklik is van die uitkoms van die ander formule (Massicotte & Blais, 1999:341).

In gemengde kiesstelsels word gepoog om die voordele van meerderheidkiesstelsels en die proporsioneel verteenwoordigende kiesstelsels met mekaar te kombineer. Stemme word uitgebring deur dieselfde kiesers en lewer ʼn bydrae tot die verkiesing van verteenwoordigers deur beide kiesstelsels. Een van die kiesstelsels is ʼn meerderheidkiesstelsel (soms een van die kiesstelsels wat as ander kiesstelsels ingedeel is), gewoonlik ʼn enkellidkiesafdeling meerderheidkiesstelsel, en die ander een ʼn lysproporsioneel verteenwoordigende kiesstelsel. Daar is twee tipes gemengde kiesstelsels, naamlik die gemengdelid- proporsionele kiesstelsel en die parallelle kiesstelsel. Wanneer die resultaat van die twee kiesstelsels gekoppel word met die toedeling van setels op proporsionele vlak, en dit afhanklik is van wat met die meerderheidstelsel (of ander) se seteltoedeling gebeur, en ʼn aanpassing gemaak moet word om te kompenseer vir disproporsionaliteit wat op die meerderheidkiesstelsel ontstaan het, staan dit bekend as die gemengdelid- proporsionele kiesstelsel. Waar die twee stelle verkiesings los staan van mekaar en nie afhanklik is van mekaar om setels toe te deel nie, word dit ʼn parallelle kiesstelsel genoem (Reynolds et al. 2005:90-91). ʼn Gemengde kiesstelsel het tot gevolg dat wetgewers minder gefragmenteer is as onder ʼn lysproporsionele kiesstelsel, omdat minder en sterker partye daaruit ontstaan (Kostadinova, 2002:31).

3.4.3.1 Gemengdelid- proporsionele kiesstelsel

Onder ʼn gemengdelid- proporsionele kiesstelsel word die setels wat onder die proporsioneel verteenwoordigende kiesstelsel verkry is, gebruik om te kompenseer vir enige disproporsionaliteit wat moontlik in die meerderheidkiesstelsel kon ontstaan het. Byvoorbeeld, as ʼn party 10 persent van die nasionale stemme gewen het, maar geen setels in die kiesafdelings nie, dan sal genoeg setels van die proporsionele stelsel aan die party toegeken word sodat die party 10 persent van die setels in die wetgewer het. Kiesers mag twee afsonderlike keuses kry (Duitsland is ʼn goeie voorbeeld), of

114

alternatiewelik, net een keuse waar die totale stemme van ʼn party verkry word van die stemme wat in die kiesafdelings op die party se kandidate uitgebring is. In die meeste state wat hierdie kiesstelsel toepas, word die setels van die meerderheidkiesstelsel verkry van enkellid-kiesafdelings deur die wenner-vat-alles-kiesstelsel, en in Hongarye word die tweerondte-kiesstelsel toegepas (Reynolds et al., 2005:91). Die volgende state gebruik volgens Reynolds et al. (2005:91) die gemengdelid- proporsionele kiesstelsel:

Tabel 6: State wat die gemengdelid- proporsionele kiesstelsel gebruik

LAND AANTAL PROP. SETELS AANTAL MEERDERHEID SETELS TIPE MEERDERHEID KIESSTELSEL TOTALE AANTAL SETELS Albanië 40 (29%) 100 (71%) Wenner-vat-alles 140 Bolivia 62 (48%) 68 (52%) Wenner-vat-alles 130 Duitsland 299 (50%) 299 (50%) Wenner-vat-alles 598 Hongarye 210 (54%) 176 (46%) Wenner-vat-alles 386 Italië 155 (25%) 475 (75%) Wenner-vat-alles 630 Lesotho 40 (33%) 80 (67%) Wenner-vat-alles 120 Mexiko 200 (40%) 300 (60%) Wenner-vat-alles 500 Nieu-Seeland 55 (46%) 65 (54%) Wenner-vat-alles 120 Venezuela 65 (39%) 100 (61%) Wenner-vat-alles 165

Hoewel die gemengdelid- proporsionele kiesstelsel ontwerp is om proporsionele resultate te lewer, kan die disproporsionaliteit in die enkellid-kiesafdelings so groot wees dat die lysproporsionele setels nie genoeg daarvoor kan kompenseer nie. Dit gebeur veral as die proporsionele setels op streeks- of provinsiale vlak is en nie op nasionale vlak nie. Disproporsionaliteit kan ook verminder word deur die aantal setels in die wetgewer te vergroot (Reynolds et al., 2005:95).

Voor- en nadele van die gemengdelid- proporsionele kiesstelsel is soos volg:

3.4.3.1.1 Voordele van die kiesstelsel

a) Hoewel die voordele van proporsionele kiesstelsels behou word, verseker dit ook dat gekose verteenwoordigers aan ʼn geografiese gebied gekoppel word en is die kontak

115

met die kiesers beter, en is dit dieselfde as in die wenner-vat-alles-kiesstelsel (Reynolds et al., 2005:95).

b) Dit laat kiesers toe om ʼn kiesafdeling-verteenwoordiger van een party te kies, maar ʼn ander party te steun om die regering te vorm (Heywood, 2007:261).

c) Die stelsel kan dieselfde proporsionaliteit verkry as in die lys-proporsionele kiesstelsel en deel dieselfde voor- en nadele daarvan (Reynolds et al., 2005:95).

3.4.3.1.2 Nadele van die kiesstelsel

a) Waar kiesers twee stemme het, naamlik een vir die party en een vir ʼn kandidaat in ʼn kiesafdeling, verstaan die kiesers nie altyd dat die stem vir die kandidaat minder belangrik is as die stem vir die party nie, want die stemme vir die party bepaal in die geheel die verteenwoordiging van die party in die wetgewer (Reynolds et al., 2005:95).

b) Hierdie kiesstelsel skep twee klasse verteenwoordigers, naamlik dié wat gebonde is aan ʼn geografiese gebied en die ander wat nasionaal verkies is. Dit kan ook sekere implikasies inhou vir die samebinding of kohesie van groepe van gekose partyverteenwoordigers (Reynolds et al., 2005:95). Verteenwoordigers in kiesafdelings word belas met kiesafdelingverpligtinge, terwyl die ander verteenwoordigers ʼn hoër status geniet met die vooruitsig om ʼn ministerspos te beklee (Heywood, 2007:261).

c) Kiesafdeling-verteenwoordiging en die skakel (verbinding) tussen kiesers kan benadeel word omdat kiesafdelings baie groter (gewoonlik dubbel) is as in die gewone kiesafdeling van die wenner-vat-alles-kiesstelsel (Heywood, 2007: 261). d) Politieke partye word meer sentralisties en partyleiers soms meer magtig onder

hierdie kiesstelsel want die party en/of sy leiers besluit nie net wie die sekuriteit kry om ʼn lyskandidaat te wees en wie ʼn kiesafdelingkandidaat moet wees nie, maar besluit ook waar op die lys die kandidate geplaas word (Heywood, 2007:261).

116

3.4.3.2 Parallelle kiesstelsels

Parallelle kiesstelsels pas ook beide die proporsioneel verteenwoordigende kiesstelsel en ʼn meerderheidkiesstelsel toe, maar, anders as in die gemengdelid- proporsionele kiesstelsel, kompenseer die proporsionele kiesstelsel nie vir die disproporsionaliteit wat ontstaan as gevolg van die meerderheidkiesstelsel nie. Soos in die gemengdelid- proporsionele kiesstelsel kan kiesers óf op een stembrief stem wat vir beide stelsels getel word óf op twee afsonderlike stembriewe wat afsonderlik vir elke kiesstelsel getel word. Parallelle kiesstelsels word in 21 state toegepas en die meeste pas die wenner- vat-alles-kiesstelsel as meerderheidkiesstelsel in enkellid-kiesafdelings toe. Enkele state soos Georgië en Kazakstan gebruik die tweerondte-kiesstelsel in kiesafdelings en state soos Andorra en Senekal gebruik die partyblokstem in kiesafdelings (Reynolds et

al., 2005:104).

Die balans tussen die aantal proporsionele setels en die aantal meerderheidkiesstelsel- setels verskil aansienlik. In Andorra, Rusland en Oekraïne is die verdeling van die setels 50:50. In Suid-Korea word 81 persent van die 299 setels deur die wenner-vat- alles-kiesstelsel verkies en net 56 lede word deur die lysproporsionele kiesstelsel verkies (Reynolds et al., 2005:104).

Die voor- en nadele van die parallelle kiesstelsel is soos volg:

3.4.3.2.1 Voordele van die kiesstelsel

Met betrekking tot disproporsionaliteit lewer parallelle kiesstelsels ʼn resultaat min of meer tussen proporsionele en meerderheidkiesstelsels. Een voordeel is dat indien daar genoeg proporsionele setels is, kleiner partye nog steeds verkies kan word wat andersins met net die meerderheidkiesstelsel uitgesluit sou gewees het (Reynolds et

117 3.4.3.2.2 Nadele van die kiesstelsel

Soos in die gemengdelid-kiesstelsel kan twee klasse verteenwoordigers ontstaan met die betrokke nadele soos reeds gestel. Parallelle kiesstelsels waarborg nie algemene proporsionaliteit nie, en sommige partye kan steeds uitgesluit word ten spyte van redelike hoeveelheid stemme in ʼn verkiesing. Die stelsel is ook relatief kompleks en kan kiesers verwar rakende die aard en werking van die kiesstelsel (Reynolds et al., 2005:112).