• No results found

HOOFSTUK 3: KIESSTELSELS: TIPOLOGIE EN WERKING

3.3.1 Bogdanor se indeling van kiesstelsels

Bogdanor se uitgangspunt is dat die kernfaktor wat een kiesstelsel van ʼn ander kiesstelsel onderskei, die metode is waarop die kiesstelsel stemme omskakel om verteenwoordiging te bepaal. Daarvolgens deel Bogdanor kiesstelsels in drie hoofgroepe in, naamlik (i) proporsionele kiesstelsels, (ii) meerderheidkiesstelsels met ʼn gewone meerderheid, en (iii) meerderheidkiesstelsels met ʼn volstrekte meerderheid (Bogdanor & Butler, 1983:1).

Wat die proporsionele kiesstelsel betref het Bogdanor dit verder in twee subkategorieë ingedeel. As kriteria vir hierdie subkategorieë gebruik hy die verskillende metodes waarop verteenwoordiging proporsioneel bepaal kan word. Die een metode is gebaseer op ʼn voorkeur stem in meerledige kiesafdelings en staan bekend as die enkel- oordraagbare stem. Die kieser plaas sy kandidate waarvoor gestem word in ʼn voorkeurvolgorde. Die ander metode is die lysstelsel gebaseer op partylyste. In die lysstelsel kan een stelsel vereis dat kiesers slegs vir ʼn party stem en kandidate word

75

verkies afhangende van die posisie op die betrokke partylys. In ʼn ander stelsel in die lysstelsel kan kiesers ʼn keuse gegee word om te stem vir kandidate op slegs een partylys of selfs vir kandidate op verskillende partylyste. Dit is volgens Bogdanor verkeerd om na ʼn proporsionele kiesstelsel te verwys asof dit een enkele tipe kiesstelsel is. Dit is in werklikheid ʼn generiese term wat ʼn aantal verskillende kiesstelsels aandui, maar met die gemeenskaplike doel om verteenwoordiging proporsioneel te bepaal. Ten spyte van hierdie gemeenskaplike doel kan die politieke gevolge van elke stelsel verskillend wees (Bogdanor & Butler, 1983:2).

Die meerderheidkiesstelsel is in Brittanje ontwikkel en was gekoppel aan verteenwoordiging van ʼn bepaalde geografiese gebied. Verteenwoordigers (parlementslede) was aanvanklik gekies om ʼn bepaalde geografiese gebied (kiesafdeling) te verteenwoordig en nie om ʼn sekere mening of politieke party te verteenwoordig nie. Elke geografiese gebied het een verteenwoordiger gekies wat ʼn enkellid-kiesafdeling gevorm het. Die enkellid-kiesafdeling het egter sy oorsprong in die grondwette van die kolonies in Amerika in die agtiende eeu. Die enkellid-kiesafdeling het die oorheersende basis van verteenwoordiging in Kanada, Australië, Nieu Seeland en die VSA (Britse kolonies) gevorm voordat dit as die norm in Brittanje aanvaar is (Bogdanor & Butler, 1983:3).

In die meerderheidkiesstelsel word ʼn verteenwoordiger verkies wanneer hy/sy die meeste stemme in ʼn verkiesing gekry het. Bogdanor verdeel die meerderheidkiesstelsel in twee hoofgroepe. In beide hoofgroepe word verteenwoordiging verkies in ʼn kiesafdeling met ʼn meerderheid van stemme in ʼn verkiesing. Gebaseer op die aard van die meerderheid stemme, naamlik of dit ʼn gewone meerderheid of volstrekte meerderheid is, verdeel hy dit in twee hoofgroepe. Een van die hoofgroepe is die meerderheidkiesstelsels met ʼn gewone meerderheid. In hierdie hoofgroep word een kandidaat verkies met ʼn gewone meerderheid van stemme, wat nie noodwendig die meerderheid van die uitgebragte stemme in die verkiesing is nie. ʼn Kandidaat in ʼn verkiesing kan byvoorbeeld deur slegs 34% van die stemme verkies word, hoewel die ander kandidate saam 66% van die stemme gekry het, maar individueel minder as 34%.

76

Hierdie meerderheidkiesstelsel word as die eenvoudigste metode beskou om ‟n kandidaat te verkies (Toornstra, 2011:13). In hierdie hoofgroep onderskei Bogdanor ook twee subgroepe gebaseer op die aantal verteenwoordigers wat in ʼn kiesafdeling verkies moet word. Die een subgroep is dié waarin een kandidaat in ʼn enkellid-kiesafdeling verkies word met ʼn gewone meerderheid van stemme en is dit ʼn geval van “wenner-vat- alles”. Die tweede subgroep is dié waarin meer as een verteenwoordiger in dieselfde kiesafdeling verkies word, bekend as ʼn meerledige kiesafdeling. Die beginsel van ʼn gewone meerderheid geld steeds, maar die kieser het soveel stemme as die aantal verteenwoordigers wat verkies moet word. Indien drie verteenwoordigers verkies moet word, het die kiesers drie stemme en die drie kandidate met die meeste stemme word verkies. Dit staan bekend as ʼn blokstem (Bogdanor & Butler, 1983:4).

In die meerderheidkiesstelsel met ʼn volstrekte meerderheid20 moet ʼn kandidaat ʼn

volstrekte meerderheid van die stemme in ʼn verkiesing kry om verkies te word. Bogdanor deel hierdie kiesstelsel in as ʼn afsonderlike hoofgroep. Daar is egter twee maniere waarop die volstrekte meerderheid verkry kan word indien geen kandidaat ʼn volstrekte meerderheid in ʼn verkiesing gekry het nie. Gebaseer op die wyse waarop die volstrekte meerderheid verkry word, deel Bogdanor hierdie kiesstelsel in twee subgroepe in, naamlik die tweede stem en die alternatiewe stem. In die tweede stem word ʼn stemming (verkiesing) dadelik weer gehou na die eerste verkiesing indien ʼn kandidaat nie ʼn volstrekte meerderheid behaal het nie. Die twee kandidate wat die meeste stemme gekry het, neem deel aan die tweede rondte, en die een wat dan die meerderheid stemme kry, word verkies. In die alternatiewe stem word van ʼn voorkeurstem in enkellid-kiesafdelings gebruik gemaak. Die kiesers stem deur ʼn eerste keuse, tweede keuse ensovoorts te maak. Indien geen kandidaat ʼn volstrekte meerderheid behaal nie, word die kandidaat met die minste stemme se tweedekeuse- stemme verdeel onder die oorblywende kandidate. Hierdie proses word gevolg totdat daar ʼn kandidaat is met ʼn volstrekte meerderheid stemme (Bogdanor & Butler, 1983:5).

77

Bogdanor se indeling van kiesstelsels soos hierbo gestel word skematies soos volg in Figuur 7 voorgestel:

Figuur 7: Indeling van kiesstelsels volgens Bogdanor

Bogdanor gebruik die drie maniere waarop verteenwoordiging na ʼn verkiesing verkry kan word, naamlik deur stemme wat proporsioneel toegedeel word, ʼn gewone meerderheid van stemme en ʼn volstrekte meerderheid van stemme om hoofkategorieë te bepaal. Sy indeling van subkategorieë berus op die metode (formule) waarop die kiesstelsels stemme in verteenwoordiging omskakel. Kritiek teen die indeling is dat daar nie sterk klem gelê is op die werking en die verskillende uitkomste van kiesstelsels in die omskakeling van stemme om verteenwoordigers verkies te kry nie. Omdat die werking en verskillende uitkomste ʼn bepaalde invloed het op die samestelling van ʼn parlement is dit belangrik dat ʼn verdere indeling van kiesstelsels gemaak moet word om dit te verreken.

3.3.2 Gallagher en Mitchell se indeling van kiesstelsels

Gallagher en Mitchell deel kiesstelsels in vyf breë kategorieë en sewe spesifieke tipes in. Die eerste kategorie is daardie kiesstelsels wat gebruik word om verteenwoordiging te bepaal in enkellid-kiesafdelings. Dit beteken slegs een verteenwoordiger kan in ʼn kiesafdeling verkies word. Daar is verskeie maniere waarop ʼn enkele verteenwoordiger verkies kan word, maar omdat sulke stelsels rakende hulle werking en uitkomste baie

78

met mekaar gemeen het, kan hulle in een groep ingedeel word. In hierdie kategorie kan spesifieke tipes kiesstelsels geïdentifiseer word, naamlik die “wenner-vat-alles” enkellid- meerderheidkiesstelsel (gewone meerderheid), die alternatiewe stem en die tweerondte-kiesstelsel (Gallagher & Mitchell, 2005:5-6).

Die tweede breë kategorie is dié waarin sommige verteenwoordigers verkies word deur ʼn meerderheidkiesstelsel met ʼn gewone of volstrekte meerderheid, en ander deur die proporsionele kiesstelsel, wat Gallagher en Mitchell klassifiseer as gemengde kiesstelsels. Die gemengde kiesstelsels raak al hoe gewilder in demokrasieë. Die spesifieke tipes in hierdie kategorie is die gemengdelid- proporsionele kiesstelsel en die gemengde parallelle stelsel (Gallagher & Mitchell, 2005:6).

Beide die derde en vierde breë kategorie is dié waarin politieke partye lyste van kandidate in meerledige kiesafdelings voorstel. Die derde breë kategorie is die geslotelys- proporsionele kiesstelsel waarin kiesers nie ʼn keuse kan uitoefen vir ʼn individuele kandidaat nie, maar wel vir ʼn bepaalde politieke party. Die vierde breë kategorie is die voorkeurlys-stelsel waar kiesers wel ʼn voorkeur kan uitoefen ten opsigte van ʼn individuele kandidaat in ʼn meerledige kiesafdeling. Spesifieke tipes in die vierde kategorie is die oop lys en die buigsame lys. Die vyfde en laaste breë kategorie is die proporsioneel enkeloordraagbare stemkiesstelsel waar kiesers stem deur kandidate in meerledige kiesafdelings in rangorde volgens hulle voorkeur te plaas.

Die vyf kategorieë met die sewe spesifieke tipes kiesstelsels volgens Gallagher & Mitchell soos hierbo bespreek, kan skematies voorgestel word soos in Figuur 8 hieronder:

79

Figuur 8: Kategorieë- en spesifieke tipes kiesstelsels volgens Gallagher & Mitchell

Gallagher en Mitchell (2005:5-6) maak, soos Bogdanor (1983:1-5), in hulle indeling van kiesstelsels gebruik van die drie maniere waarop verteenwoordiging na ʼn verkiesing verkry kan word, naamlik deur ʼn gewone meerderheid van stemme, ʼn volstrekte meerderheid van stemme of stemme wat proporsioneel toegedeel word. Anders as Bogdanor wat hierdie drie maniere gebruik as indeling van die hoofgroepe van kiesstelsels, gebruik Gallagher en Mitchell die drie maniere as spesifieke tipes (sub- groepe). Hulle gebruik die tipe kiesafdeling (enkellid of meerledig) en proporsionaliteit vir ʼn breë kategorie-indeling. Gallagher en Mitchell se indeling sluit gemengde kiesstelsels as hoofgroep in wat hulle indeling meer gevorderd en gesofistikeerd maak as die van Bogdanor. In hulle indeling van spesifieke kiesstelsels maak Gallagher en Mitchell gebruik van die werking en die verskillende uitkomste van kiesstelsels. Dit word egter breed toegepas op die tipe kiesafdeling en proporsionaliteit.

80