• No results found

HOOFSTUK 4: DIE IDEALE KIESSTELSEL – NORMATIEWE PERSPEKTIEWE

4.2 DIE BELANGRIKHEID VAN KIESSTELSELS

Omdat ʼn kiesstelsel, soos in die vorige hoofstuk onder punt 2.7.3 omskryf is, die stemme wat in ʼn algemene verkiesing uitgebring is, in setels in ʼn wetgewende liggaam omskakel, bepaal die keuse van die kiesstelsel effektief wie verkies word en watter politieke party die mag verkry. Anders gestel is die doel van ʼn kiesstelsel om die wil van die kiesers, soos uitgedruk by die stembus, om te skakel in verteenwoordigers in ʼn wetgewende liggaam (Newman & Bennett, 2006:2).

Die belangrikheid van die kiesstelsel in verkiesings, soos gestel in 2.7.3, is dat die kiesstelsel die werkswyse van ‟n verkiesing bestuur en beheer en indien die kiesstelsel meebring dat die verkiesing nie aan die beginsels van ‟n demokratiese verkiesing voldoen nie, dan is die kiesstelsel ondemokraties. In die vorige hoofstuk is ook

127

aangetoon dat verskillende kiesstelsels verskillend funksioneer, d.w.s. die werking van sodanige stelsels, en verskillende uitslae in verkiesings tot gevolg het. Die kiesstelsel het dus ʼn belangrike effek op die uitslag van ʼn verkiesing, want een kiesstelsel kan met die uitslag van ʼn verkiesing lei tot ʼn koalisieregering of minderheidsregering, terwyl ʼn ander kiesstelsel, met presies dieselfde verkiesingsuitslag, kan meebring dat ʼn enkele party die mag verkry en regeer. Hierdie effek wat die kiesstelsel het, maak die keuse van die kiesstelsel wat ʼn staat toepas, uiters belangrik (Reynolds et al., 2005:5).

Die effek wat die kiesstelsel op ʼn staat het, strek egter verder as om net te bepaal wie verkies word en watter politieke party die mag verkry. Die kiesstelsel het ook ʼn invloed op: (i) die partystelsel van ʼn staat (ii) die mate van konflik in gemeenskappe (iii) die psigologiese denke van kiesers (iv) die weerspieëling van die bevolkingsamestelling van ʼn staat, en (v) die demokratiese raamwerk van ʼn staat (Reynolds et al., 2005:6). Verdere bespreking van die genoemde invloede of impak van kiesstelsels is nodig om ʼn beter begrip te verkry van die belangrikheid van kiesstelsels.

4.2.1 Kiesstelsels en partystelsels

Die tipe partystelsel wat in ʼn staat ontwikkel, en meer spesifiek die aantal en grootte van partye in wetgewers, word sterk beïnvloed deur die keuse van ʼn bepaalde kiesstelsel. Kiesafdelinggebaseerde kiesstelsels ontwikkel gewoonlik ʼn swak partyorganisasie, terwyl ander kiesstelsels die teenoorgestelde ontwikkel (Toornstra, 2011:6). Sommige kiesstelsels moedig weer die vorming van politieke partye aan, en dwing dit selfs af, terwyl ander slegs individuele kandidate erken. Die kiesstelsel beïnvloed die interne binding (kohesie) en dissipline van partye. Sommige kiesstelsels mag faksievorming bevorder waar verskillende groepe (vleuels)26 van ʼn party gereeld in botsing is met mekaar, terwyl ʼn ander kiesstelsel partye kan aanmoedig om eensgesind te wees en uit een mond te praat en afvalligheid onderdruk. Kiesstelsels kan ook die wyse bepaal waarop partyleierskap optree en die wyse waarop politieke werwing

26 Waar verskillende standpunte deur ʼn groep lede van ʼn party verskil met ʼn ander groep in dieselfde party oor bv. beleid en aktuele sake, word daarna verwys as verskillende vleuels in die party.

128

gedoen word. Hierdeur help dit om die breër politieke klimaat in ʼn staat te bepaal. Kiesstelsels kan die vorming van koalisies en/of alliansies aanmoedig of ontmoedig. Dit kan partye aanspoor om ʼn breë beleid te volg en akkommoderend te wees vir ʼn groot deel van die bevolking of om ʼn nouer beleid te volg en hulle te beroep op etnisiteit (Reynolds et al., 2005:6).

4.2.2 Kiesstelsels en konflikbestuur

In die oorgang van regerings na ʼn demokrasie is een van die belangrike vereistes die ontwikkeling van ʼn demokratiese kultuur. Konflik in die oorgang word grotendeels uitgeskakel indien die nuwe regering as legitiem deur die burgery aanvaar word. Legitimiteit word verkry deur die kiesstelsel waardeur die nuwe regering verkies word (Huntington, 1991:258-259). Verskillende kiesstelsels kan spanning en konflik in ʼn gemeenskap vererger of verminder. Sommige kiesstelsels kan verseker dat minderheidsgroepe billike verteenwoordiging in wetgewers kry, terwyl ander kiesstelsels sterk eenpartyregerings aanmoedig. Wanneer ʼn kiesstelsel as onregverdig beskou word en die politieke raamwerk nie toelaat dat die opposisie meen dat hulle met ʼn volgende verkiesing ʼn kans staan om die regering te kan oorneem nie, kan verloorders verplig voel om buite die stelsel te begin werk. Dit is wanneer groepe en gemeenskappe gebruik maak van ondemokratiese konflik en selfs gewelddadige taktieke. Die keuse van ʼn kiesstelsel bepaal die eenvoud of ingewikkeldheid van die stem-aksie. Dit het onvermydelik ʼn impak op minderheidsgroepe en minderbevoorregte groepe, maar veral in gemeenskappe waar daar ʼn beduidende aantal onervare en ongeletterde kiesers is (Reynolds et al., 2005:6).

4.2.3 Psigologiese aspekte van kiesstelsels

Duverger (1964:205, 216) onderskei tussen die werkende en psigologiese effek van kiesstelsels. Die werkende impak is die sigbaarste in die wyse waarop verskillende kiesstelsels neig om verskillende tipes partystelsels te bevorder. Meerderheidkiesstelsels neig om ʼn beperkende effek op die aantal partye te hê, terwyl

129

proporsionele kiesstelsels neig om meer en ʼn groter verskeidenheid partye tot gevolg te hê. Die psigologiese impak van kiesstelsels versterk hierdie werkende effek, byvoorbeeld onder die reëls van die meerderheidkiesstelsel “wenner-vat-alles”, word kiesers wat graag vir ʼn minderheidsparty wil stem, gekonfronteer deur die dilemma van hoe om te verhoed dat hulle stem “gemors” word, aangesien slegs een kandidaat in ʼn enkellid-kiesafdeling verkies kan word.27 Die gevolg van hierdie dilemma is dat baie kiesers nie vir hulle werklike keuse sal stem nie, maar eerder vir ʼn ander kandidaat (gewoonlik van ʼn meerderheidsparty) wat hulle glo ʼn realistiese kans staan om te wen (Toornstra, 2011:32). Kiesstelsels het dus ʼn bepaalde invloed op kiesersgedrag. Volgens Pickles (1970:122-123) bepaal politieke partye die aktuele onderwerpe wat in verkiesings aan kiesers voorgehou word. ʼn Pakket word aan die kiesers voorgehou en belangrike sake word nie bespreek nie. Dit bring mee dat sommige kiesers ongelukkig voel oor ʼn party, maar steeds daarvoor stem. Die algemene effek hiervan is dat groter partye versterk word ten koste van kleiner partye. Proporsionele stelsels of stelsels wat veelvoudige stemkeuses toelaat, daarenteen, is meer geneig om dit moontlik te maak dat kleiner partye verkies kan word waardeur die druk op kiesers om strategies te stem verminder word. Hierdeur voel kiesers dat hulle stem steeds sal tel, al is dit nie vir die sterkste party nie (Lijphart, 1994:77).

4.2.4 Kiesstelsels en bevolkingsamestellings

Dit is belangrik om te besef dat ʼn bepaalde kiesstelsel se werking en uitkomste nie noodwendig dieselfde sal wees in alle state nie. Die effek van ʼn bepaalde tipe kiesstelsel hang grootliks af van die sosiopolitieke konteks waarin dit gebruik word. Byvoorbeeld, hoewel daar algemene konsensus bestaan dat meerderheidstelsels neig om die verskeidenheid wetgewende verteenwoordiging te verminder en proporsionele stelsels dit bevorder, wil dit voorkom of die konvensionele benadering dat meerderheidstelsels ʼn tweepartystelsel skep en proporsionele stelsels veelpartystelsels, verouderd raak. In die afgelope jare het die “wenner-vat-alles”-tipe meerderheidstelsel

27

ʼn Kiesafdeling is ʼn spesifiek afgebakende gebied vir verkiesingsdoeleindes waarin slegs die kiesers wat in die gebied woonagtig is, vir ʼn verteenwoordiger in ʼn wetgewer kan stem (Reynolds et al., 2005:175).

130

in Kanada en Indië nie die samevoeging van partye gehad wat tot ʼn tweepartystelsel gelei het nie. Proporsionele kiesstelsels het ook gelei tot die verkiesing van dominante eenpartyregerings soos in Namibië en Suid-Afrika (Reynolds et al., 2005:7).

Proporsionele kiesstelsels met ʼn lae drempel en groot kiesafdelings maak dit makliker vir verteenwoordigers om uit ʼn kleiner segment van die bevolking verkies te word. Hierdeur word klas, godsdiens en etnisiteit meer in heterogene bevolkings beklemtoon. Meerderheidkiesstelsel het weer die teenoorgestelde gevolg (Norris, 2004:101). Breedweg kan gesê word die effek of gevolge van die keuse van ʼn kiesstelsel word bepaal deur faktore soos hoe ʼn samelewing saamgestel is met betrekking tot ideologiese, godsdienstige, etniese, rasse-, streeks-, taal- en/of klasseverskille; of die staat ʼn gevestigde demokrasie, ʼn oorgangsdemokrasie of nuwe demokrasie is; of daar ʼn gevestigde partystelsel is, of partye in wording is en hoeveel „ernstige‟ partye daar is; en of ʼn bepaalde party se ondersteuners geografies gekonsentreerd is of oor ʼn wye gebied versprei is. Die effek van die kiesstelsel sal verskil na gelang van die homogeniteit of heterogeniteit van die bevolkingsamestelling van ʼn staat (Reynolds et

al., 2005:7).

4.2.5 Kiesstelsels in ʼn demokratiese raamwerk

In Hoofstuk 2 onder punt 2.7.3 is die kiesstelsel in ‟n verteenwoordigende demokratiese raamwerk bespreek. Daar is aangetoon dat die kiesstelsel moet verseker dat elke kieser se stem ‟n gelyke gewig en waarde in die uitslag van die verkiesing dra om sodoende politieke gelykheid deur stemreg te verseker. Dit is belangrik dat die kiesstelsel die aantal stemme wat partye in verkiesings kry, in verhouding ooreenstem met die aantal setels wat die partye in die wetgewende liggaam kry (Powell, 2001:2). Kiesstelsels moet nie in isolasie gesien word nie, maar as deel van ʼn staat se groter politieke stelsel. Die keuse en belangrikheid van die korrekte kiesstelsel spruit daaruit voort dat daar na die raamwerk van politieke instellings as geheel gekyk moet word: die verandering van een deel van hierdie raamwerk sal meebring dat aanpassings gemaak

131

sal moet word met betrekking tot die wyse waarop ander instellings daarbinne werk (Reynolds et al., 2005:8).

Bogenoemde vyf effekte van ʼn kiesstelsel beklemtoon die belangrikheid van die kiesstelsel. Hieruit is dit duidelik dat die kiesstelsel nie net die samestelling van die wetgewende liggaam bepaal en wie regeer nie, dit het ʼn groot effek op die totale samelewing van ʼn staat. Die effek van die kiesstelsel kan selfs bepaal hoe stabiel of onstabiel die samelewing is. Die kiesstelsel het selfs ook ʼn uitwerking op die denke van die kiesers ten opsigte van hulle keuse vir wie hulle in ʼn verkiesing gaan stem. Vir ʼn staat om demokraties te wees behoort die meerderheid kiesers se wil die regering te bepaal.

Die belangrikheid van kiesstelsels, soos hierbo aangetoon, beklemtoon dat kiesstelsels wat gebruik word in verkiesings, demokrasie kan verseker of nie. Vervolgens word bepaal aan watter vereistes ʼn kiesstelsel moet voldoen ten einde ʼn demokrasie te verseker en in stand te hou.