• No results found

HOOFSTUK 3: KIESSTELSELS: TIPOLOGIE EN WERKING

3.4 DIE WERKING EN GEVOLGE VAN VERSKILLENDE KIESSTELSELS

3.4.2 Proporsioneel verteenwoordigende kiesstelsels

3.4.2.4 Die enkeloordraagbare stem

Die doel van die enkeloordraagbare stem is om dit vir elke burger wat stemgeregtig is, moontlik te maak om vrylik en ten volle deel te neem om ʼn eie verteenwoordiger te kies met die besef dat dit die kern van ware demokrasie is (Lakeman, 1974:111). Die enkeloordraagbare stem gee die kiesers die mag om te kies tussen kandidate van

110

dieselfde politieke party, wat sterk verskil van die lysproporsioneel verteenwoordigende kiesstelsel. ʼn Kerneienskap van die enkeloordraagbare stem is dat dit ʼn ingeboude primêre verkiesing skep deurdat dit toelaat dat elke kieser wat ʼn lid of nie ʼn lid van die politieke party is nie, ʼn rol vervul in die verkiesing van die party se kandidaat. Dit verswak dus die rol van die party en sy leiers met betrekking tot die keuse van watter kandidaat verkies word en lewer ʼn hoë mate van proporsionaliteit, maar nie so hoog soos die lysproporsioneel verteenwoordigende kiesstelsel nie (Bogdanor, 1987:9-10).

Die enkeloordraagbare stemstelsel word in meerledige kiesafdelings toegepas, en partye stel soveel kandidate as wat daar setels is wat in elke kiesafdeling gevul moet word. Kiesers stem deur kandidate in voorkeurvolgorde te plaas soos in die alternatiewe stemkiesstelsel. Die voorkeurvolgorde is egter opsioneel en ʼn kieser het die keuse om vir net een kandidaat te stem. Kandidate word verkies indien hulle aan ʼn kwota voldoen. Die kwota is die minimum aantal stemme wat ʼn kandidaat moet kry om verkies te word, en die kwota word volgens die Droop-formule bereken. Die Droop-formule is:

Totale aantal stemme uitgebring

Kwota = ___________________________________ + 1 (aantal setels wat gevul moet word+ 1)

Byvoorbeeld, indien 100 000 stemme in ʼn kiesafdeling wat vier setels het en vier lede verkies moet word, uitgebring is, is die kwota 100 000/(4+1)+1= 20 001. Die stemme word getel ooreenkomstig eerste keuse van kiesers, en kandidate wat aan die kwota voldoen, word dadelik verkies. Indien nie al die setels gevul is nie, word die kandidaat met die minste stemme uitgeskakel en die kandidaat se tweede keuse word herverdeel, en die proses word gevolg totdat al die setels gevul is (Heywood, 2007:262).

Die voor- en nadele van die enkeloordraagbarestem-kiesstelsel is soos volg:

3.4.2.4.1 Voordele van die kiesstelsel

a) Die voordele wat in die algemeen vir proporsioneel verteenwoordigende kiesstelsels geld, geld ook vir die enkeloordraagbarestem-stelsel. Bykomend tot die algemene

111

voordele, is dit ‟n kiesstelsel wat ʼn keuse stel tussen politieke partye en kandidate van politieke partye. Die finale resultaat lewer ʼn aanvaarbare proporsionaliteit en indien kiesafdelings klein is, word die skakel tussen die kiesers en die verteenwoordigers behou (Reynolds et al., 2005:76).

b) Wedywering tussen kandidate van dieselfde party beteken dat hulle beoordeel kan word volgens hulle rekords ten opsigte van hulle standpunte oor sake wat oor partygrense heen strek. Die beskikbaarheid van verskeie verteenwoordigers in dieselfde kiesafdeling beteken dat kiesers ʼn keuse het ten opsigte van wie hulle met griewe en probleme kan nader (Heywood, 2007:262).

3.4.2.4.2 Nadele van die kiesstelsel

Die nadele is volgens Reynolds et al. (2005:77) dieselfde as die algemene nadele van proporsioneel verteenwoordigende kiesstelsels, maar het ook bykomende nadele wat hier vermeld word. Hierdie bykomende nadele is:

a) Die stelsel word gekritiseer op die basis dat voorkeurstemming in talle gemeenskappe onbekend is, en dat ʼn bepaalde geletterheid en syferkennis telkens vereis word.

b) Die ingewikkeldheid van die telling en bepaling van gekose kandidate in die stelsel is ʼn nadeel. Die stelsel vereis verskeie hertellings en die oordrag van die surpluswaardes maak dit baie ingewikkeld en daarom kan die tel van stemme nie by stemburo‟s in die kiesafdelings plaasvind nie, maar by ʼn sentrale telsentrum. Die tel van stemme by stemburo‟s word soms vereis om die legitimiteit van die verkiesing te verseker.

c) Die stelsel kan, anders as in die lysproporsionele kiesstelsel, druk plaas op politieke partye en fragmenteer omdat lede van dieselfde party in wese vir stemme teen mekaar wedywer, sowel as teen die opposisie. Dit kan meebring dat politici kiesers omkoop om vir hulle te stem.

d) Die stelsel kan ook meebring dat ʼn party met ʼn meerderheid van stemme, minder setels as sy opponente wen.

112

Deurgaans is die grootste voordeel van die proporsioneel verteenwoordigende kiesstelsels dat dit ʼn meer verteenwoordigende wetgewer verseker. Die proporsioneel verteenwoordigende kiesstelsel is inklusief, billiker en laat elke stem in ʼn verkiesing tel. Minderheids- en meerderheidsgroepe word in wetgewers opgeneem, wat daartoe lei dat sulke wetgewers die stem van al die burgers in ʼn staat word. Dit is bevorderlik vir goeie demokrasie. Elke kieser weet sy stem tel in die verkiesing en word nie gemors indien sy kandidaat of party nie die meeste stemme gekry het nie.

Die meeste kritiek teen die proporsioneel verteenwoordigende kiesstelsel is dat dit regerings onstabiel kan maak en dat verteenwoordigers nie verantwoordbaar is aan die kiesers nie. Die argument is dat kiesers nie weet wie hulle verteenwoordigers is nie, en dat die partyleiers te veel mag het, veral in die lys-proporsionele kiesstelsel. Die skakel tussen die kiesers en die verteenwoordigers is dus swak. Die kiesstelsel wat hierdie verantwoording en skakeling teenoor kiesers die beste akkommodeer is, volgens verskeie politieke wetenskaplikes, die wenner-vat-alles meerderheidkiesstelsel. Dit is egter belangrik dat Lakeman (1974:152) opmerk dat in ʼn Gallup-meningspeiling in enkellid-kiesafdelings in Brittanje in 1948, een uit elke drie persone nie geweet het wie hulle LP is nie. Dieselfde meningspeiling is in 1968 herhaal en toe het net 59 persent van kiesers die naam van hulle LP geken. Lakeman (1974:152) is uitgesproke deur te verklaar dat die argument dat die persoonlike verhouding tussen kiesers en verteenwoordigers die beste is in enkellid-kiesafdelings onder ʼn wenner-vat-alles- kiesstelsel, en daarom ʼn rede is vir die behoud van die kiesstelsel, soms ʼn groot mite is. Met die hedendaagse moderne tegnologie is daar sekerlik baie ander maniere om te verseker dat verteenwoordigers meer bekend is aan die kiesers.