• No results found

HOOFSTUK 2: VERTEENWOORDIGENDE DEMOKRASIE EN KIESSTELSELS: ‟N

2.3 DIE LIBERALISME

2.3.1 Filosofiese vertrekpunte van die liberalisme

Op die fundamentele vlak is die ideologie van liberalisme gebaseer op bepaalde grondbeginsels. Hierdie grondbeginsels vorm die filosofiese vertrekpunte van liberalisme, naamlik individualisme, vryheid, natuur teenoor bonatuur, rasionele denke en die bestaan van menslike rede, gelykheid, verdraagsaamheid, instemming, en konstitusionalisme, wat vervolgens meer indringend verklaar word:

2.3.1.1 Individualisme

Individualisme is die kernbeginsel van die liberale ideologie. Dit behels dat die menslike individu voorop gestel word en belangriker is as sosiale groepe of gemeenskapsinstellings. Individue is dus belangriker as groepe. Menslike wesens word beskou as individue, wat beteken dat hulle gelyk is, en dat elkeen verskillende, unieke eienskappe en eie identiteite het. Met hierdie kernbeginsel is die doel van liberalisme die skep van ʼn gemeenskap waarin die individu kan floreer en ontwikkel, en waar elkeen, volgens eie definisie, „die goeie‟ kan najaag na die beste van elkeen se vermoë (Heywood, 2007:45-46). Die uitgangspunt is dat die mens inherent goed is en nie sleg en boos nie, en daarom wil elke individu die beste nastreef. Schapiro (1958:12) stel dit soos volg:

“Man, according to liberalism, is born ignorant, not wicked.”

Dit beteken die individu beskik oor die aard om die doelwitte van vrede, vryheid, regverdigheid en die goeie na te streef om „n „goeie samelewing‟ te skep (Burnham, 1964:50).

2.3.1.2 Vryheid

Voortspruitend uit die individualisme is individuele vryheid, oftewel vryheid, die kernwaarde van liberalisme, en dit geniet voorrang bo gelykheid, die reg of die owerheid. Dit is ʼn natuurlike uitvloeisel van die beskouing van die individu as die

25

belangrikste en die drang om te verseker dat elke persoon kan optree na willekeur en eie goeddunke. Individuele vryheid op byvoorbeeld ekonomiese vlak behels die vryheid om handel te kan dryf, om jou dienste aan te bied op die basis van individuele onderhandeling, vryheid van kontraksluiting en die vryheid van ondernemingskap. Die individu is dus vry om sy of haar eie bronne te gebruik om ʼn bestaan te voer volgens elkeen se onderhandelingsvermoë (Seliger, 1968:163). Liberaliste besef dat die vryheid van een individu die vryheid van ʼn ander individu kan bedreig en verkondig daarom „vryheid onder die reg‟. Liberaliste onderskryf die ideaal dat individue die grootste moontlike vryheid moet kan hê, maar in ooreenstemming hiermee, dat almal soortgelyke vryhede kan hê (Heywood, 2007:46). Pennock (1950:77-78) stel dit as volg:

“It is obvious that each individual‟s liberty must be subject to all sorts of restrictions both

in favour of the liberty of others and on behalf of other interest.”

2.3.1.3 Natuur teenoor Bonatuur

Teosentrisme, waar ʼn bepaalde Christelike godsdiensbeskouing die grondslag vir alle sosiale strukture en praktyke gevorm het, was ʼn dominante wêreldbeskouing in Europa. Die teosentriese uitgangspunt stel Bluhm (1974:30) soos volg:

“God was seen as the author of all things in the world, both animate and inanimate, and

His will and reason were therefore authority in all matters. Disputes about truth, about causality, about legitimacy of political authority were always referred in the last analysis to God. The chief medieval conception of authority was therefore the sovereignty of God.”

Hierdie uitgangspunt het die grondslag gevorm vir die opvatting dat elke koning se heerskappy gelegitimeer word deur ʼn Godgegewe sanksie. Die liberalisme erken egter ʼn ander bron van politieke gesag en beskou die natuur, eerder as die bonatuurlike, as die bron van politieke legitimiteit. Die natuurstaat word in die liberalisme beskou as die ideaal of voorbeeld wat nagestreef behoort te word. Die inhoud van die natuurreg is nie

26

sonder meer beskou as ʼn weerspieëling van die Goddelike Wil, en dus die uitsluitlike funksie van die kerk nie, maar dat dit in beginsel toeganglik is vir enige persoon wat dit deur rasionele analise en logiese beredenering probeer ontleed (Du Toit, 1987:41).

2.3.1.4 Rasionele denke en die bestaan van menslike rede

Liberaliste glo in ʼn rasionele samestelling van die wêreld wat ontdek kan word deur menslike beredenering en kritiese ondersoek. Die rasionele denkvermoë van die mens, eerder as sy geloof, was die sleutel tot sosiale en politieke vooruitgang (Du Toit, 1987:41). Hierdeur word die geneigdheid dat individue hulle vertroue in ander individue plaas om namens hulle besluite te neem, voorkom. Dit moedig ook liberaliste aan om te glo in vooruitgang en die vermoë van die mens om verskille te besleg deur debat en argumentering, eerder as deur bloedvergieting en oorlog (Burnham, 1964:53-56). Liberalisme was ʼn opstand teen leerstellinge (dogma) en die gesag van die kerk as die algemene beskermheer van die geloofsleer. Dit het begin met die stelling dat die individu die reg het om deur beredenering leerstellinge te bevraagteken. Liberaliste glo dat beredenering alles kan verduidelik deur die bestaan van rede. Dit beteken dat niks as waar aanvaar kan word wat nie bewys of gestaaf kan word deur die natuurwette nie. Die natuurwette word ontdek deur beredenering en die toepassing van die wetenskap. Die waarheid word uiteindelik verkry deur die grootste moontlike hoeveelheid verskillende menings wat beredeneer of geargumenteer word. Hieruit ontstaan byvoorbeeld die reg op die vryheid van spraak (Pennock, 1950:10). Die reg op vrye denke en meningsuiting is vir die liberaliste van die hoogste belang, aangesien dit as die belangrikste voorvereiste vir die ontplooiing van die mens se rasionele denkvermoë is (Du Toit, 1987:44).

2.3.1.5 Gelykheid

Die erkenning van individualisme het tot gevolg dat geglo word in fundamentele gelykheid, wat beteken dat alle individue met gelyke waarde gebore word. Dit word weerspieël in die liberale verbintenis tot gelyke regte en dit waarop ʼn mens geregtig is. Hierdie gelyke regte word gevind in juridiese gelykheid van „gelykheid voor die reg‟ en

27

politieke gelykheid van „een mens, een stem met een waarde‟ (Heywood, 2007:46). Die gelykheid van regte beteken wel dat elkeen geregtig is op gelykheid van lewe en vryheid, maar beteken nie dat ʼn persoon sy vryheid ontneem mag word nie. ʼn Voorbeeld is die misdadiger in die gevangenis. Met „gelykheid‟ word meestal bedoel die gelykheid van geleenthede teenoor absolute gelykheid (Pennock, 1950:81). Liberaliste erken dat nie almal oor dieselfde kwaliteite, intellek en vermoëns beskik nie, en aanvaar die „gelykheid van geleenthede‟ en ondersteun daardeur die beginsel van meritokrasie7

(Seliger, 1968:49-52).

2.3.1.6 Verdraagsaamheid

Liberaliste glo dat verdraagsaamheid ʼn waarborg is vir individuele vryheid en ook ʼn metode is van sosiale verryking. Verdraagsaamheid is die bereidwilligheid van mense om ander toe te laat om te dink, praat en op te tree op wyses waarvan jy mag verskil. Liberaliste beskou pluralisme in die vorm van morele, kulturele en politieke verskeidenheid as positief. Dit bevorder debat en intellektuele ontwikkeling deur te verseker dat alle standpunte getoets kan word (Heywood, 2007:46). Indien verdraagsaamheid nie bestaan nie, word dit nodig om te besluit watter standpunte toelaatbaar is en watter nie, en sal ʼn persoon of groep aangewys moet word wat onfeilbare kennis het van die waarheid en die goeie en word die individu sy denke ontneem (Koerner, 1985:158). Liberaliste is van mening dat daar ʼn natuurlike harmonie bestaan tussen teenoorgestelde standpunte en belange en verwerp die idee van onversoenbaarheid (Heywood, 2007:46).

2.3.1.7 Instemming

Die liberale beskouing is dat gesag en sosiale verhoudings altyd gebaseer behoort te wees op instemming of vrywillige ooreenkoms. Die regering moet daarom gebaseer wees op die „instemming van die wat regeer word‟. Instemming is die doktrine wat

7 ʼn Meritokrasie beteken om regeer te word deur die talentvolles. Die beginsel is dat beloning en posisies gegee en gevul word op die basis van bevoegdheid (Heywood, 2007:46).

28

liberaliste aanspoor om ten gunste van verteenwoordiging en demokrasie te wees (Seliger, 1968:70). Selfs sosiale verenigings of sportklubs word gevorm deur ooreenkomste met die instemming van individue wat hulle eiebelang bevorder. Hieruit ontstaan gesag van grondvlak na bo en is gevestig op legitimiteit (Heywood, 2007:46).

2.3.1.8 Konstitusionalisme

Liberaliste erken regerings as ʼn noodsaaklike waarborg vir orde en stabiliteit in die samelewing. Vir hulle is daar egter die gevaar dat die regering ʼn tirannie teen die individu kan word, en glo daarom in beperkte regering. Beperkte regering word bereik deur die fragmentering van regeringsgesag en die aanvaarding van ʼn geskrewe Grondwet (Konstitusie) met ʼn akte van menseregte wat die verhouding tussen die staat en die individu reël (Seliger, 1968:328-330).

Gesien vanuit hierdie filosofiese vertrekpunte op fundamentele vlak het liberalisme tot uiting gekom op die werkende vlak as ʼn opstand teen die dogma (leerstellinge) en gesag van die kerk as die bewaarder van dogmatiese geloof. In baie gevalle het dit gelei tot opstand teen alle geloof in die bonatuurlike. Dit het begin by die stelling dat die individu die reg het om, deur rasionele denke en rede, „gedwonge geloof‟ te kan bevraagteken. Hierdeur is aanvaar dat alles verduidelik kan word deur rede (rasionele denke) en dat niks as die waarheid aanvaar kan word indien dit nie deur wetenskaplike metodes deur natuurwette bewys kan word nie (Pennock, 1950:10).

Ten spyte van die enkelterm „liberalisme‟ het dit histories ontwikkel in twee vertakkings bekend as ekonomiese en politieke liberalisme (Hardin, 1999:41). Aan die ekonomiese kant was die liberalisme ʼn opstand teen die uitgebreide netwerk van ekonomiese beperkinge en bevoorregting van die Middeleeuse leenstelsel, bekend as die feodalisme. Die filosofiese vertrekpunt was weereens individuele vryheid wat op werkende vlak die vryheid om handel te dryf, vryheid van beweging om jou dienste aan te bied op die basis van individuele onderhandeling, vryheid van ooreenkomste sluit en die vryheid van ondernemerskap, behels het (Pennock, 1950:11).

29

Vir hierdie studie is die politieke liberalisme primêr van belang en word dit vervolgens meer omvattend bespreek.