• No results found

HOOFSTUK 4: DIE IDEALE KIESSTELSEL – NORMATIEWE PERSPEKTIEWE

4.5 DIE IDEALE KIESSTELSEL

Die tien vereistes of kriteria vir ʼn goeie kiesstelsel, soos uiteengesit, is elkeen ewe belangrik in die bepaling van ‟n goeie kiesstelsel of nie. Omdat daar egter nie ‟n “beste” kiesstelsel is wat wêreldwyd toegepas kan word nie, moet elke staat se omstandighede

149

verreken word in die seleksie van ‟n gepaste kiesstelsel vir ‟n bepaalde staat. Dit is daarom nodig om ʼn noukeurige proses van prioritisering te volg van daardie kriteria wat die belangrikste is binne ʼn spesifieke politieke konteks voordat bepaal word watter kiesstelsel die mees gepaste kiesstelsel vir ‟n staat is. ʼn Bruikbare metode is om eers ʼn lys te maak van aspekte wat te alle tye voorkom moet word, soos ʼn politieke katastrofe wat die demokrasie sal laat verbrokkel. ʼn Voorbeeld is ʼn etnies verdeelde staat wat te alle tye sal wil verhoed dat etniese minderheidsgroepe van verteenwoordiging uitgesluit word. Die minderheidsgroepe word ingesluit om legitimiteit aan die verkiesingsproses te verleen en om die persepsie dat die kiesstelsel onbillik is, te voorkom (Reynolds et al., 2005:14-15).

Die prioriteitvolgorde sal bepaal wat bereik wil word, wat voorkom wil word, en in die breë, hoe die wetgewende en uitvoerende gesag daar moet uitsien. Daarna moet geoordeel word watter kiesstelsel of kombinasie van kiesstelsels maksimaal aan die vereistes kan voldoen. Die doelwit is om ʼn kiesstelsel te ontwikkel wat aan die eiesoortige behoeftes en omstandighede van ʼn staat voldoen en wat steeds maksimaal aan die vereistes van ʼn verteenwoordigende sowel as verantwoordbare regering voldoen. Soos ander state het Suid-Afrika sy eiesoortige omstandighede en behoeftes. Deel van die kritiek teen die Suid-Afrikaanse kiesstelsel is dat dit die verteenwoordigende aspek van regering versterk, maar swak voldoen aan die verantwoordbare aspek. Indien bogenoemde kriteria in Suid-Afrika toegepas word, kan die ideale kiesstelsel vir Suid-Afrika bepaal word (Reynolds et al., 2005:15).

4.6. SAMEVATTING

Kiesstelsels skakel stemme wat in ʼn algemene verkiesing uitgebring is om in setels in ʼn wetgewende liggaam en die keuse van die kiesstelsel bepaal effektief wie verkies word en watter politieke party die mag verkry. Die doel van ʼn kiesstelsel is om die wil van die kiesers, soos uitgedruk by die stembus, om te skakel in verteenwoordigers in ʼn wetgewende liggaam. Omdat die keuse van die kiesstelsels effektief bepaal wie verkies

150

word en watter politieke party die mag verkry, is die kiesstelsel wat ʼn staat gebruik belangrik om suksesvolle funksionering van ʼn demokratiese bedeling te bewerkstellig. Vir ʼn staat om demokraties te wees behoort die meerderheid kiesers se wil die regering te bepaal. Die kiesstelsel het egter ʼn belangrike effek op die uitslag van ʼn verkiesing, want een kiesstelsel kan met die uitslag van ʼn verkiesing lei tot ʼn koalisieregering of minderheidsregering, terwyl ʼn ander kiesstelsel, met presies dieselfde verkiesingsuitslag, kan meebring dat ʼn enkele party die mag verkry en regeer.

Die effek wat die kiesstelsel op ʼn staat het, strek verder as dat dit net bepaal wie verkies word en watter politieke party die mag verkry. Die kiesstelsel het ook ʼn effek op: (i) die partystelsel van ʼn staat (ii) die mate van konflik in gemeenskappe (iii) die psigologiese denke van kiesers (iv) die weerspieëling van die bevolkingsamestelling van ʼn staat, en (v) die breë demokratiese raamwerk van ʼn staat.

Verkiesings en kiesstelsels het ʼn bepaalde uitwerking op mekaar. Indien een van die twee nie aan demokratiese vereistes voldoen nie, kan dit die demokrasie van ʼn staat vernietig. As die reëls wat die werkswyse van die verkiesing beheer, veroorsaak dat die verkiesing nie aan die beginsels van ʼn demokratiese verkiesing voldoen nie, dan is die kiesstelsel ondemokraties, en andersom.

Dit is daarom nodig om ʼn kriterium te bepaal vir ʼn demokratiese verkiesing en kiesstelsel. Huntington en Heywood het elkeen ʼn voorwaarde waaraan ʼn verkiesing moet voldoen om demokraties te wees. Albei se voorwaarde stem grootliks ooreen en die kern van die voorwaarde waaraan verkiesings moet voldoen om demokraties te wees, is dat die verkiesing vry en regverdig moet wees.

Standaarde vir „vry en regverdige verkiesings‟ is tans hoogs ontwikkel en verskillende state en internasionale organisasies het deklarasies opgestel en onderteken waarin kriteria vir of beginsels van vry en regverdige verkiesings neergelê word. Twee sulke organisasies is die Interparlementêre Unie (IPU) en die Suidelike Afrika

151

Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG). Suid-Afrika is lid van beide hierdie organisasies en is volgens ooreenkoms verplig om aan hierdie standaarde en kriteria te voldoen.

Omdat die kiesstelsel die stel reëls is wat die werkswyse van verkiesings beheer en kan meebring dat die verkiesing nie vry en regverdig is nie, en derhalwe nie aan die beginsels van ʼn demokratiese verkiesing voldoen nie, is dit belangrik om te bepaal aan watter voorwaardes of vereistes ʼn kiesstelsel moet voldoen om te verseker dat dit ʼn demokratiese kiesstelsel is.

Laski en Pickles stel sekere vereistes vir ʼn kiesstelsel om demokraties te wees. Hierdie vereistes bepaal onder andere dat kiesers minstens ʼn keuse tussen twee of meer kandidate moet hê. Volgens Pickles moet die omstandighede waarin die verkiesing plaasvind dit ook moontlik maak vir kandidate om op gelyke basis te kan meeding. Om ʼn gelyke deelname van kandidate te verseker stel Pickles verdere vereistes. Pickles se kriteria voldoen eweneens aan dié van Huntington en Heywood vir ʼn demokrasie. Pickles se vereistes voldoen ook aan die kriteria vir ʼn vry en regverdige verkiesing. Uit die verskillende kriteria en vereistes wat vir ʼn demokrasie, demokratiese verkiesings en demokratiese kiesstelsel gestel word, kan ʼn norm van minimum vereistes bepaal word waaraan ʼn goeie kiesstelsel behoort te voldoen. Politieke wetenskaplikes stem saam dat daar nie noodwendig ‟n “beste” kiesstelsel bestaan nie en dat alle kiesstelsels sterk en swak punte het.

‟n Goeie kiesstelsel wat legitimiteit aan ‟n parlement wil verleen om aan demokratiese vereistes te voldoen behoort egter sekere minimum vereistes na te kom. Volgens Reynolds, Reilly en Ellis behoort ‟n goeie kiesstelsel minstens aan die volgende minimum vereistes (kriteria) te voldoen om demokrasie te bevorder. Dit moet:

a) voorsiening maak vir breë verteenwoordiging (die gemeenskapsdiversiteit van die bevolking moet weerspieël word met betrekking tot geslag, taal, geloof en etnisiteit);

152

b) verkiesings toeganklik en betekenisvol maak (eenvoud en kiesergeletterdheid moet in ag geneem word);

c) versoening aanmoedig (dien as konflikbestuur in ʼn gemeenskap);

d) bydra tot ‟n stabiele en effektiewe regering (kiesers moet kiesstelsel as regverdig beskou);

e) die regering verantwoordbaar hou;

f) verantwoordbaarheid van individuele verteenwoordigers verseker; g) die bevordering van politieke partye aanmoedig (veelpartye); h) wetgewende opposisie en oorsig bevorder en versterk;

i) die verkiesingsproses volhoubaar maak (bv. koste en administratiewe vermoëns); en j) internasionale standaarde in ag neem.

Bogenoemde minimum vereistes stel ʼn norm waaraan ʼn kiesstelsel gemeet kan word om te bepaal of dit ʼn goeie kiesstelsel is en aan demokratiese standaarde voldoen. Die Suid-Afrikaanse kiesstelsel sal in hierdie studie aan hierdie minimum vereistes geëvalueer word.

Suid-Afrika is ʼn staat wat histories gekenmerk word deur verdeeldheid, rassekonflik en rasseskeiding. Die aanvaarding van die nuwe grondwet (1996) was afhanklik van ʼn onderhandelende skikking tussen die NP-regering en die ANC. Voortspruitend uit hierdie skikking is die bestaande Suid-Afrikaanse kiesstelsel aanvaar. Dit was egter 19 jaar gelede. Met toepassing van bogenoemde kriteria is die uiteindelike doel van hierdie studie om die geskikste kiesstelsel vir Suid-Afrika te bepaal wat aan die eiesoortige behoeftes en omstandighede van Suid-Afrika voldoen en wat steeds maksimaal aan die vereistes van ʼn verteenwoordigende sowel as verantwoordbare regering voldoen.

153

HOOFSTUK 5: DIE SUID-AFRIKAANSE KIESSTELSEL – „N HISTORIESE