• No results found

HOOFSTUK 4: DIE KOMMUNIKATIEWE DOELWIT VAN LOVELIFE MET FACEBOOK,

4.5 DIE AARD VAN BOODSKAPPE OP LOVELIFE SE FACEBOOK

4.5.3.1 Gelyke mag

Vir sosiale media om bemagtiging te fasiliteer, moet deelnemers toegelaat word om plasings te maak en op boodskappe van verskeie deelnemers te reageer, sonder dat hulle terugvoer gemodereer word. Hierdeur word deelnemers verseker dat hulle beheer kan neem van deelname op loveLife se Facebook- blad (soos bespreek in afdeling 2.4.2.3.1).

Besoekerplasingafdeling

 Mag op loveLife se besoekerplasingafdeling word nie beperk tot slegs moderators en bladbestuurders nie. Deelnemers op loveLife se besoekerplasingafdeling kan dus beheer neem oor hulle eie deelname deur plasings te maak en kommentaar te lewer, volgens hulle eie behoeftes. Dit beteken selfs dat deelnemers ander deelnemers kan adviseur rakende kwessies wat hulle lewens beïnvloed, sonder dat loveLife die plasings of kommentaar modereer. Daar is twee voorbeelde gevind waar deelnemers kommentaar gelewer het op plasings van deelnemers:

 ‟n Deelnemer het ‟n plasing gemaak waarin hy/sy aangedui het dat haar kêrel druk op haar uitgeoefen het om seks te hê, maar sy het geweier. Die deelnemer het toe aangedui dat hy/sy steeds lief is vir die persoon en nie kan aanbeweeg met sy/haar lewe nie (16 November 2015). Sien afdeling 4.5.2.2 vir kommentaar wat op die plasing gemaak is.

 Verder is ‟n plasing gemaak waarin ‟n deelnemer aangedui het dat sy swanger is en van die huis af weggeloop het. Nadat die pa van die kind die swangerskap ontken het, voel die deelnemer depressief en kwaad vir haarself (19 November 2015):

 Deelnemer 1: “Go back home cc we all makes mistake u need their support it will be hard at fist at it will be better”

Vanuit bostaande voorbeelde blyk dit of beide loveLife en deelnemers gelyke geleentheid beskik om op ander deelnemers se plasings te reageer en advies te bied. Dit is positief om te sien dat beide loveLife

en deelnemers op die deelnemer se plasing gereageer het. Soos bespreek in afdeling 2.4.2.3 word samewerking bo kompetisie op sosiale media platforms verkies. Die argument kan gemaak word dat deelnemers en loveLife in bostaande voorbeelde saamgewerk het om deur hul verskillende opinies en kommentaar, deelnemers te bemagtig om besluite te neem oor hul eie lewens. Die deelnemer wat die plasing gemaak het neem daarom eienaarskap, deurdat hy/sy besluit om loveLife te kontak of om die deelnemer se advies te volg.

Deelnemers op loveLife se besoekerplasingafdeling beskik oor gelyke mag met loveLife in terme van die inhoud wat op loveLife se besoekerplasingafdeling geplaas word:

 Daar was ‟n plasing gemaak waarin deelnemers aanmoedig is om by Successful Woman magazine betrokke te raak (12 November 2015).

 ‟n Plasing is deur ‟n deelnemer gemaak waarin hy/sy ander deelnemers aanmoedig om aan ‟n optog teen geweld teen vroue en kinders deel te neem (23 November 2015).

 ‟n Deelnemer het ook ‟n plasing gemaak waarin hy/sy ander deelnemers aangemoedig het om by ‟n boesakfondsinsameling betrokke te raak wat in Februarie 2016 sou plaasvind (14 Desember 2015). In bostaande voorbeelde het deelnemers self die inhoud van die plasings bepaal, ten spyte daarvan dat die plasings as irrelevant beskou kan word, aangesien die inhoud niks met loveLife se kernbesigheid te make gehad het nie. Soos bespreek in afdeling 2.4.2.3 kan moderators soms as hekwagters op sosialemediaplatforms dien, wanneer plasings of kommunikasie afwyk van kommunikasieriglyne of fokus van ‟n blad. Dit blyk wel asof loveLife deelnemers los om self die inhoud van plasings op loveLife se besoekerplasingafdeling te maak. Deelnemers word dus toegelaat om bydraes te lewer op loveLife se besoekerplasingafdeling wat hulle eie behoeftes reflekteer. Hierdeur kan deelnemers bemagtig word, aangesien hulle kan voel dat hulle bydraes saak maak.

loveLife-plasings

Soos bespreek in afdeling 4.3 word deelnemers se plasings verskuif na die besoekerplasingafdeling . Die implikasie hiervan is dat dit blyk of slegs loveLife plasings op die organisasie se Facebook-blad kan maak, hoewel dit in realiteit nie die geval is nie. Deelnemers op loveLife se Facebook-blad beskik oor gelyke mag met loveLife, aangesien deelnemers die onderwerp deur hul kommentaar kan verander.  loveLife het ‟n plasing gemaak waarin hulle deelnemers aangemoedig het om positiewe gedagtes te

koester vir die week wat voorlê en die vorige week se foute reg te maak (16 November 2015). Een deelnemer het op die plasing kommentaar gelewer oor ‟n produk wat hulle gebruik het om gewig te verloor.

 Verder was daar ʼn plasing waarin deelnemers aangemoedig is om geweld teen vroue te beëindig (3 Desember 2015). Dit het voorstelle ingesluit oor wat deelnemers kan doen om dié geweld te

beëindiging. ʼn Deelnemer het op die plasing kommentaar gelewer waarin hulle, hulle blydskap deel oor Oscar Prestorius wat tronk toe gaan en hoe dit die eerste stappe is om vertroue in ons howe te herstel.

Hoewel loveLife die inhoud in bostaande voorbeelde bepaal het, het deelnemers ‟n invloed gehad op die rigting waarin die kommentaar op die plasing beweeg. Daarom besit deelnemers gelyke mag met loveLife om die gesprek te stuur in ‟n rigting wat dalk meer van pas is op die deelnemer se lewe.

Daar is ook plasings gemaak waarin deelnemers sterk opinies gehad het, wat nie noodwendig in lyn met loveLife se beginsels is nie:

 ‟n Plasing is gemaak waarin deelnemers gevra is om hulle opinie oor Charlie Sheen se aankondiging dat hy MIV positief is te deel (17 November 2015). Een deelnemer het op die plasing kommentaar gelewer waarin hulle gestel het dat die huwelik die enigste veilige konteks vir seks is.

 Op Wêreldvigsdag is deelnemers aangemoedig om ‟n ondersteunende boodskap te deel vir diegene wat geaffekteer word deur of geïnfekteer is met MIV/vigs (1 Desember 2015). ‟n Deelnemer het kommentaar gelewer en aangedui dat jongmense nie vandag meer “abstain” nie en dat mense getrou moet bly aan hulle maats en kondome moet gebruik. ‟n Ander deelnemer het weer gesê mense moet “abstain”.

Die deelnemers in bostaande voorbeelde het almal hulle opinies bekend gemaak wat nie noodwendig in lyn is met loveLife se opinies nie. So byvoorbeeld is die deelnemer van 17 November 2015 en die deelnemer van 1 Desember 2015 se voorstelle van seks in die huwelik en weerhouing (abstaining), persepsies wat nie deur alle deelnemers op die blad noodwendig aanvaar word nie. Dit is daarom positief om te sien dat deelnemers gelyke mag besit met loveLife deurdat hulle, hulle opinies en sienings kan openbaar, sonder dat dit deur die blad se moderators verwyder word.

4.5.3.1.1 Gevolgtrekking: gelyke mag

Deelnemers besit gelyke mag op loveLife se besoekerplasingafdeling om advies te verleen aan ander deelnemers in samewerking met loveLife. Verder is bevind dat deelnemers ook die inhoud van plasings op loveLife se besoekerplasingafdeling bepaal het. Deelnemers se bydraes en opinies in terme van advies en inhoud word dus in ag geneem deur loveLife wat ‟n aanduiding is dat loveLife en deelnemers in dié verband as gelyk beskou kan word. Verder is bevind, hoewel deelnemers nie noodwendig oor die geleentheid beskik het om plasings op loveLife se hoofblad te maak nie, deelnemers die gesprek op loveLife se blad kon verander. Vanuit die afdeling kan daarom afgelei word dat deelnemers aan loveLife se Facebook-blad eienaarskap kan neem oor gesprekke deur bydraes te lewer wat hulle behoeftes reflekteer.