• No results found

HOOFSTUK 2: DIE FASILITERING VAN DEELNEMENDE KOMMUNIKASIE DEUR

2.4 SOSIALE MEDIA

2.4.2.2.1 Die fasilitering van dialoog deur Facebook

Dialoog kan potensieel op Facebook tussen die volgende partye plaasvind:

 Dialoog tussen bladbestuurders en deelnemer: In hierdie geval sal ʼn plasing deur ʼn deelnemer of die bladbestuurder op die bladsy waarvan die deelnemer hou, gemaak word. Die dialoog kan dan tussen een spesifieke deelnemer en die bestuurders van die bladsy plaasvind.

 Dialoog tussen verskillende deelnemers: Dialoog kan ook plaasvind tussen deelnemers op ʼn spesifieke Facebook-blad. Hoewel die plasing (“post”) deur die bestuurders van die bladsy gemaak kan word, vind dialoog basies tussen die deelnemers wat van die bladsy hou, plaas.

 Dialoog tussen alle deelnemers: Dialoog kan ook plaasvind tussen alle deelnemers (bestuurders van die blad en deelnemers wat van die blad hou). In dié geval kan deelnemers met die organisasie, die organisasie met deelnemers en deelnemers met deelnemers in dialoog tree.

Hoewel dialoog in al die bogenoemde gevalle plaasvind, sal dit ideaal wees indien dialoog tussen alle deelnemers kan plaasvind.

Facebook besit verskeie meganismes wat dialoog kan fasiliteer. Deelnemers kan plasings maak waarop deelnemers kommentaar kan lewer en deelnemers kan op mekaar se kommentaar, kommentaar lewer.

Indien deelnemers beperk word om plasings te maak of kommentaar vanaf deelnemers verwyder word deur moderators kan dit dialoog verhinder. Hoewel Facebook beskik oor meganismes om dialoog te fasiliteer, is dit in werklikheid die inhoud wat op Facebook geplaas word wat gaan bepaal of dialoog op Facebook gaan plaasvind of nie. Inhoud van plasings kan daarom deelnemers aanmoedig om deel te neem veral indien dit kwessies aanspreek wat deelnemers raak.

Vir dialoog om op Facebook plaas te vind, moet die volgende eienskappe van dialoog teenwoordig wees:

 Onmiddellikheid van teenwoordigheid: Deelnemers moet binne 24 uur op mekaar se plasings of kommentaar reageer, anders kan deelnemers verveeld raak met die plasings en belangstelling in die gesprek verloor. Misverstande kan ook voorkom indien daar nie binne 24 uur op plasings en kommentaar gereageer word nie.

 Opkomende onverwagse gevolge: Deelnemers van verskillende kulture, gelowe, agtergronde en ouderdomme kan op Facebook gevind word. Dit impliseer dat daar ‟n verskeidenheid onderwerpe en sieninge op Facebook is wat veroorsaak dat dialoog op Facebook as onvoorspelbaar beskou kan word.

 Erkenning van die vreemde andersheid: Op Facebook kan ʼn verskeidenheid deelnemers gevind word wat in kultuur, geloof, agtergrond en ouderdom verskil. Deelnemers op Facebook moet mekaar se andersheid respekteer aangesien konflik oor verskille wat tussen deelnemers kan bestaan, as ʼn struikelblok vir dialoog beskou kan word. Dialoog op Facebook kan daarom gebruik word om gedeelde verstaan tussen diverse deelnemers te bewerkstellig.

 Gesamentlike geaardheid: Deelnemers kan van ʼn verskeidenheid bladsye of profiele hou. Deur dialoog kan daar ʼn gedeelde verbintenis tussen hierdie verskeidenheid ontstaan. Deur van ʼn bladsy te hou en aktief op die bladsy deel te neem, kan daar met tyd ʼn verhouding tussen deelnemers ontstaan.

 Gedeelde implikasie: Vir dialoog om plaas te vind op Facebook moet deelnemers se kommentaar en gesprekke op mekaar bou. Deelnemers moet dus nie net kommentaar lewer op ʼn plasing nie, die kommentaar moet ook in lyn wees met die dialoog wat plaasvind op die plasing. Dit is daarom nie genoeg dat deelnemers net op ʼn plasing kommentaar lewer nie, deelnemers sal ook die inhoud van die plasing en kommentaar vanaf ander deelnemers in ag moet neem, vir dialoog om plaas te vind.

Teoretiese stelling 5 – Die fasilitering van dialoog op sosiale media

Dialoog op sosiale media is ʼn proses waarin baie-tot-baie deelnemers realiteite vir hulself onthul en deur hulle kommunikasie bevestig. Die kommunikasie tussen deelnemers lei tot selfrefleksie en aksie wat gedeelde verstaan tot gevolg het. Vir dialoog om in Facebook plaas te vind, moet die kenmerke van dialoog gefasiliteer word, naamlik: onmiddellikheid van teenwoordigheid; opkomende onverwagse gevolge; erkenning van die vreemde andersheid; gesamentlike geaardheid; weerloosheid; gedeelde implikasie; tydelike vloei; egtheid en geloofwaardigheid deur plasings (“posts”) en kommentaar (“comments”).

2.4.2.3 Bemagtiging

In afdeling 2.3.4 is die konsepte mag en bemagtiging in die konteks van sosiale verandering bespreek. Na aanleiding van die bespreking is teoretiese stelling drie, geformuleer:

Teoretiese stelling 3 – Bemagtiging tydens sosiale verandering

Bemagtiging kan plaasvind wanneer deelnemers tydens sosiale veranderingsinisiatiewe gelyke mag besit met alle partye (mag-met). Dit sal beteken dat deelnemers kan deelneem (mag-om) tydens alle fases van sosiale veranderingsinisiatiewe, indien hulle die behoefte het (mag van binne), om aan alle fases deel te neem. Deelname vanaf deelnemers, moet dus nie geforseer of deur mense in magsposisies beperk word nie (mag-oor).

Vir bemagtiging om in die konteks van sosiale media plaas te vind, is dit belangrik dat magsongelykheid aangespreek moet word ten einde deelname en bemagtiging te fasiliteer. In sosiale media moet daar gepoog word om ʼn simmetriese sosiale sisteem te skep waarin mag gelyk verdeel is, sodat almal aan besluitnemingsprosesse kan deelneem (Fuchs, 2006:3).

ʼn Deelnemende sosiale sisteem is ʼn sisteem waarin mag op ʼn simmetriese wyse versprei word. In so sisteem word sosiale media (inligting- en kommunikasietegnologie), verhoudings, kennis en vaardighede gebruik om mense deur kommunikasie te bemagtig om aan besluitnemings en samewerkingsprosesse deel te neem (Fuchs, 2006:5; Fuchs, 2010:38). ʼn Deelnemende sosiale sisteem bemagtig nie net gebruikers/deelnemers om aan besluitnemings- en samewerkingsprosesse deel te neem nie, maar bemagtig ook individue om hulle eie sosiale sisteme te bestuur. Dit sal beteken dat deelnemers kan kies wanneer hul wil deelneem en aan watter gesprekke hulle wil deelneem.

Hoewel ʼn deelnemende sosiale sisteem ʼn ideaal is, waarna deelnemers in sosiale media moet streef, word die ideaal beïnvloed deur deelnemers wat die deelnemende sosiale sisteem deur moderering teenwerk. Op sosialemediaplatforms waar die platform deur ʼn spesifieke organisasie bestuur word, kan organisasies beskou word as moderators of bemiddelaars van inhoud. Moderators op sosiale media kan gewoonlik dien as hekwagters wat die vloei van kommunikasie monitor. Hulle tree gewoonlik in wanneer

deelnemers aan sosialemediaplatforms van die kommunikasieriglyne op sosialemediaplatforms afwyk. Daarom kan moderators as ʼn meta-deelnemer beskou word wat slegs deelneem indien dit nodig is. Dit gee moderators wel volkome mag oor die sosialemediaplatforms (Mergel, 2012:179; Dynel & Chovanec, 2015:9).

Nie alle sosialemediaplatforms word op dieselfde manier gemodereer nie. Dit kan beteken dat hoewel ʼn sosialemediaplatform gemodereer word, die mag nie noodwendig volkome by die organisasie lê nie. So kan organisasies/eienaars programme gebruik om sosialemediaplatforms te modereer of gebruikers vra om die ruimtes te modereer (Kent, 2010: 645). Dit beteken nie dat organisasies of politieke partye nie moderering sal gebruik tot hulle eie voordeel nie, soos wanneer boodskappe wat teenstrydig is met hulle siening op ʼn sosialemediaplatform gekommunikeer word.

Volgens Bunting en Lipski (2000:176) kan organisasies in plaas daarvan om teenstrydige sieninge op sosiale media te modereer of uit te filter, eerder in dialoog tree met deelnemers. Dialoog kan verseker dat organisasies nie beskou word as opposisie nie, aangesien hulle deelnemers se alternatiewe siening erken (Bunting & Lipski, 2000:176; Henderson & Bowley, 2010:251).

Gebruikers/deelnemers beskik daarom ook tot ʼn mate oor gelyke mag met eienaars van sosialemediaplatforms aangesien hulle kommunikasie en deelname in die sosialemediaplatforms nodig is vir die voortbestaan van die platforms. Eers wanneer sosiale media nie gemodereer word nie of moderering beperk word tot samewerking, kan sosiale media ʼn deelnemende sisteem vorm wat kan lei tot ʼn inligtingsamelewing.

Fuchs (2010:24) meen dat ons sosiale media moet gebruik om ʼn inligtingsamelewing te skep. ʼn Volhoubare inligtingsamelewing is ʼn dialektiese samelewing wat deur deelname en samewerking ʼn goeie lewe vir alle mense skep. In die samelewing word samewerking bo kompetisie verkies en daarom word winste in die toekoms van mense, samelewing en die natuur belê (Fuchs, 2008a:114; Fuchs, 2008b:291; Fuchs, 2010:24,36).

Volgens Fuchs en Horak (2007:17) sal ontwikkelende lande nie net ekonomies baat by die inligtingsamelewing nie, maar kan dit ook lei tot politieke mag en kulturele vaardighede wat nodig is vir aktiewe deelname. Volhoubare produksie en gebruikerspatrone, gebruiklikheid, elektroniese- gesondheid, elektroniese-onderrig word alles as deel van die volhoubare inligtingsamelewing beskou. Sosiale media kan veral tot die bogenoemde bydra (Fuchs & Horak, 2007:27; Fuchs, 2008b:305).

In die konteks van sosiale media het die desentralisering van mag en bemagtiging meer aandag begin geniet. Gebruikers/deelnemers aan sosialemediaplatforms kan eienaarskap neem van hulpbronne en wil die kapasiteit bou om aan besluitnemingsprosesse op ‟n verantwoordelike en kritiese manier deel te neem (Fuchs, 2006:3; Wu Song, 2010:252; Chakrabarti & Berthon, 2012:156; Wyatt et al., 2013:153- 154).

Buiten vir die mag wat gebruikers/deelnemers in sosiale media beskik, is daar ʼn verskeidenheid inligting en opinies aanlyn beskikbaar. Die voordeel hiervan is dat gebruikers/deelnemers inligting van enige individu, groep of organisasie tot hulle beskikking het. Gebruikers/deelnemers kan deur beskikbare inligting bemagtig en bevry word. So kan sosiale media gebruik word om armer gemeenskappe te ondersteun, deur ʼn platform te skep waar hulle beheer kan neem van hulle eie ontwikkeling deur dialoog en hulself daardeur bemagtig (Moodley, 2005:9; Wu Song, 2010:252; Del Giudice, 2014:79).

Sosiale media kan ook lei tot ʼn gevoel van ontmagtiging weens ʼn tekort aan toegang of selfs ongeletterdheid. Dit is daarom belangrik dat die behoeftes van gemeenskappe in ag geneem moet word om die ontmagtiging te voorkom. In die opsig is dialoog in sosiale media tussen alle gehore belangrik om deelname en bemagtiging tot gevolg te hê (Stavrositu & Sundar, 2008:10).