• No results found

HOOFSTUK 2: DIE FASILITERING VAN DEELNEMENDE KOMMUNIKASIE DEUR

2.3 TEORETIESE BEGINSELS VAN DIE DEELNEMENDE BENADERING

2.3.3 Bemagtiging

Daar bestaan basies twee hoofbeskouings oor mag, hoewel daar verskeie definisies van mag bestaan. Die „nul-som‟-siening van mag fokus op een persoon of groep se mag om ʼn ander persoon of groep te manupileer om iets teen hulle wil te doen. In die konteks word daar na „nul-som‟ mag verwys. Dit kom in kort daarop neer dat wanneer een persoon bemagtig word, ʼn ander persoon van mag ontneem sal word. „Nul-som‟ kom gewoonlik in besluitnemingsprosesse en in die konteks van konflik voor.

ʼn Ander beskouing van mag is dat mag gebruik word as ʼn aktiwiteit om die moraal van ander te verhoog. Dit impliseer dat beide partye oor dieselfde hoeveelheid mag moet beskik. Die mag wat een persoon beskik, mag nie ʼn ander persoon se mag verminder nie. Dus word mag eerder uitgebrei, sonder dat iemand van mag ontneem word. Hoewel mag nie noodwendig altyd lei tot onderdrukking nie, kan bevryding en bemagtiging nie plaasvind as onderdruktes oor geen mag beskik om hulself te bevry nie. In laasgenoemde beskrywing word mag gebaseer op leierskap wat strewe dat die groep hul potensiaal bereik. Die groep stel hul eie agenda op en daarom ontstaan daar nie konflik nie (Rowlands, 1995:101- 102; Nikkhah & Redzuan, 2009:173).

Vir bemagtiging om te kan plaasvind is dit nodig dat deelnemers in die gemeenskap gelyke mag besit, daarom kan dit nodig wees vir magsverhoudinge om geëvalueer te word en vir mag om herverdeel te word. Die herverdeling van mag is nodig om te verseker dat deelnemers in ʼn posisie is om beheer te kan neem oor hulle eie lewens en hierdeur hulself kan bemagtig. Bemagtiging is dus ʼn proses van bevryding waar deelnemers hulself en mekaar motiveer om hulle potensiaal te bereik.

Bemagtiging veronderstel dat elke individu in ʼn gemeenskap een of ander vorm van mag besit, hetsy dit mag oor persoonlike besluite of besluite oor die gemeenskap se omgewing is. Dit kan beteken dat bemagtiging oor ʼn langer tydperk sal plaasvind indien ʼn gemeenskap groot magsongelykhede ervaar (Nair & White, 1993:60; Freire, 2005:54).

Soos in die vorige paragraaf genoem, beskik elke deelnemer in ‟n gemeenskap een of ander vorm van mag. Volgens Rowlands (1997:13) en Melkote en Steeves (2001:36) kan daar onderskei word tussen verskillende vorme van mag, naamlik “mag-oor”, “mag-om”, “mag-met” en “mag-van-binne”. Elkeen sal vervolgens kortliks bespreek word:

 Mag-oor: In dié vorm van mag probeer ʼn persoon met mag ʼn ander persoon met minder mag deur middel van manipulasie beheer. “Mag-oor” verwys gewoonlik na diegene wat toegang het tot besluitnemingsprosesse in sosiale veranderingsinisiatiewe.

 Mag-om: Dié vorm van mag verwys na ʼn persoon/groep se mag om mag van ander persone/groepe te weerstaan of te bevraagteken. “Mag-om”, skep nuwe moontlikhede aan mense, aangesien mense hulself kan bevry van manipulasie. “Mag-om” kan daarom na ʼn persoon se mag om aan sosiale veranderingsinisiatiewe deel te neem, verwys.

 Mag-met: In dié vorm van mag word die groep sterker as die individu geag. Albei “mag-om” en “mag- met” is bemoeid met prosesse waar mense bewus word van hulle eie belange en hoe hierdie belange betrekking het tot die belange van ander. ʼn Voorbeeld van “mag-met” tydens sosiale veranderingsinisiatiewe kan wees wanneer onderskeie deelnemers (soos gemeenskappe, organisasies en ander belangegroepe) saam mekaar werk tydens alle fases van die sosiale veranderingsinisiatief.

 Mag-van-binne: Dié vorm van mag verwys na spirituele mag en uniekheid wat binne individue plaasvind. Die basis van die mag is selfaanvaarding en selfrespek, wat deurgevoer kan word na respek en aanvaarding van ander as ons gelykes. “Mag-van-binne” kan plaasvind in sosiale veranderingsinisiatiewe wanneer deelnemers besluit om aktief deel te neem aan die sosiale veranderingsinisiatief. Deelnemers neem nie deel nie, omdat ander mense in die gemeenskap deelneem nie, maar omdat hulle self besluit het om deel te neem.

Bemagtiging is meer as net die deelname in besluitnemingsprosesse, aangesien dit die proses insluit wat mense lei tot die persepsie dat hulle bevoeg en geregtig is om hulle eie besluite te neem. Bemagtiging sluit die mag-om en mag-van-binne dimensies in, aangesien albei fokus op menslike potensiaal en vermoëns (Rowlands, 1997:14).

Daar bestaan drie oorvleuelende dimensies van bemagtiging. Die eerste dimensie is die persoonlike dimensie. In die dimensie handel bemagtiging oor die ontwikkeling vir die besef van jouself en

individuele selfvertroue en kapasiteit om die effek van geïnternaliseerde onderdrukking teen te werk. Die tweede dimensie is die nabye verhoudingdimensie waar bemagtiging bemoeid is met die ontwikkeling van vermoëns ten opsigte van onderhandeling en om die natuur van verhoudings en besluite wat intern gemaak word te beïnvloed. Die derde dimensie is bemoeid met die samewerking van individue om ʼn groter impak te bereik as wat hulle alleen sou bereik het (Rowlands, 1995:103; 1997:15; Melkote & Steeves, 2001:36-37).

Dit is duidelik vanuit die drie dimensies van bemagtiging dat die beginpunt van bemagtiging gewoonlik ‟n besef is wat ontstaan by ʼn individu/groep/gemeenskap oor hulle onvoldoende huidige omstandighede, hulle magteloosheid in ʼn sisteem of die relatiewe verwaarlosing van hulle behoeftes deur die samelewing (Melkote & Steeves, 2001:335). Eers wanneer dié besef by individue/groepe/gemeenskappe ontstaan, kan hulle reflekteer oor die situasie waarin hulle hulself bevind en uitgedaag word om op die situasie te reageer.

Bemagtiging dra ʼn psigologiese sin van persoonlike beheer of invloed binne sosiale invloed, politieke mag en wetlike regte oor. Party sien bemagtiging as die ontwikkeling van individue se vaardighede om hulself beter te kan bestuur, ʼn sê te hê in, of om met bestaande ontwikkelingsaflewerings-sisteme te onderhandel. Ander sien weer bemagtiging as ʼn meer politieke proses wat bemoei is met die instaatstelling van mense om te besluit om aksie te neem oor sosiale veranderingsbesluite (Rappaport, 1987:121; Oakley, 1995:5; Melkote & Steeves, 2001:36).

Vir bemagtiging om daarom plaas te vind in sosiale veranderingsinisiatiewe, is dit belangrik dat een deelnemer nie “mag-oor” ‟n ander deelnemer beskik nie, aangesien dit deelnemers se “mag-om” en “mag-van-binne” sal beïnvloed. Daarom kan dit belangrik wees dat alle deelnemers tydens sosiale verandering gelyke mag besit, sodat deelnemers kan deelneem volgens hulle eie behoeftes.

Teoretiese stelling 3 – Bemagtiging tydens sosiale verandering

Vir bemagtiging om plaas te vind is dit nodig vir mag om herverdeel te word, sodat deelnemers tydens sosiale veranderingsinisiatiewe oor gelyke mag beskik met alle partye (mag-met). Dit sal beteken dat deelnemers kan deelneem (mag-om) tydens alle fases van sosiale veranderingsinisiatiewe, indien hulle die behoefte het (mag-van-binne), om aan alle fases daarvan deel te neem. Deelname vanaf deelnemers moet dus nie geforseer word of deur mense in magsposisies beperk word nie (mag-oor).

Noudat die basiese beginsels van die deelnemende benadering bespreek is, gaan die volgende afdeling poog om vas te stel tot watter mate die beginsels van kommunikasie vir sosiale verandering deur sosiale media gefasiliteer kan word.