• No results found

HOOFSTUK 2: DIE FASILITERING VAN DEELNEMENDE KOMMUNIKASIE DEUR

2.4 SOSIALE MEDIA

2.4.2.1.5 Die fasilitering van deelname deur Facebook

Facebook bied aan deelnemers verskeie hulpmidelle/hulpbronne waarmee hulle kan deelneem op die sosialemediaplatform. Deelnemers kan profiele skep, van organisasies se bladsye hou, op ander deelnemers of organisasies se profiele plasings maak, op organisasies of deelnemers se plasings kommentaar lewer, van deelnemers of organisasies se plasings hou of selfs ʼn deelnemer of organisasie se plasing op hulle eie profiel deel. Facebook kan ook tydens sosiale veranderingsinisiatiewe gebruik word om deelnemers aan te moedig om aan die sosiale veranderingsproses deel te neem. Deelnemers kan op die volgende wyse aan alle fases van die sosiale veranderingsproses op sosiale media deelneem:

 Deelnemende kommunikasie-assessering: Deelnemers maak plasings op Facebook oor kwessies wat hulle lewens en gemeenskappe beïnvloed. Die inhoud van die plasings of kommentaar wat gelewer word, reflekteer die kwessies wat die deelnemer of sy gemeenskap raak.

 Kommunikasiestrategie-ontwerp: Deelnemers maak plasings of lewer kommentaar op Facebook waarin hulle oplossings probeer vind vir die kwessies wat hulle of hulle plaaslike gemeenskap beïnvloed. Die tipe inhoud wat met die fase gepaard gaan, is gewoonlik inhoud waarin deelnemers voorstelle maak oor wat hulle kan doen om sosiale verandering in hulle eie lewe of plaaslike gemeenskap teweeg te bring.

 Implementering van kommunikasie aktiwiteite: Deelnemers maak plasings of lewer kommentaar waarin hulle aandui hoe hulle besig is om sosiale verandering in hulle lewe teweeg te bring. Die inhoud van die tipe boodskap het gewoonlik te make met ʼn deelnemer wat besig is met die uitvoering van die aktiwiteit.

 Monitering en evaluering: Monitering en evaluering op Facebook kan deurgaans plaasvind met ʼn deelnemer en ander deelnemers wat kommentaar op mekaar se plasings of kommentaar lewer. Die plasings/terugvoer wat deelnemers deurgaans maak, skep geleentheid vir selfrefleksie en kan deelnemers lei tot ʼn besef of hulle ingryping ʼn impak maak.

Indien deelnemers op Facebook nie gelyke geleentheid om deel te neem kry nie, kan manipulasie of selfs dominering plaasvind. Dit kan beteken dat Facebook eerder dan pseudo-deelname as ware deelname sal fasiliteer. Daarom moet mag herverdeel word, sodat deelnemers gelyke geleenthede kan hê.

Pseudo-deelname kan op verskeie maniere plaasvind indien deelnemers nie gelyke geleentheid op Facebook kry nie. Wanneer deelnemers nie gelyke geleentheid op Facebook beskik nie, kan die inhoud van plasings op Facebook deur moderators of die blad se bestuurders eerder as deelnemers self bepaal word. Deelnemers sal dan nie aan die eerste twee fases van sosiale verandering kan deelneem nie, aangesien die inhoud deur die moderators of die blad se bestuurders bepaal kan word. Pseudo- deelname sal eerder plaasvind, aangesien deelnemers nie kan skryf oor kwessies wat hulle en hulle gemeenskappe raak nie.

Dit is wel belangrik om in ag te neem dat bladsye op Facebook wat spesifiek fokus op gesondheidskwessies en inligting rakende voorkoming van sekere siektes wel nie noodwendig deelnemers vrylik kan toelaat om plasings te maak op hulle Facebook-blad nie. Die rede hiervoor is dat inligting tussen deelnemers gedeel kan word wat nie akkuraat is nie en dit kan probleme vir ander deelnemers inhou. In só ʼn geval behoort maniere gevind te word, waarin deelnemers die inhoud van plasings bepaal, maar inhoud steeds gereguleer word sonder dat deelnemers van mag ontneem word. Deelnemers kan byvoorbeeld ʼn boodskap aan die moderators van die blad op Facebook stuur, sodat die moderator die geskiktheid van die inhoud bepaal. Indien die moderator bepaal dat die inhoud nie gepas is nie, behoort die moderator met die deelnemer in gesprek te tree.

Al word die inhoud van plasings deur deelnemers bepaal, maar deur die organisasie geplaas, kan pseudo-deelname steeds op Facebook plaasvind indien deelnemers se antwoorde beperk word. Indien plasings gemaak word deur moderators of bladbestuurders, moet deelname vanaf deelnemers nie beperk word tot ʼn “hou van” of ʼn spesifieke antwoord nie. Deelnemers se kommentaar moet steeds in die konteks van die onderwerp onder bespreking val, aangesien lukrake kommentaar moontlike deelname vanaf ander deelnemers op die blad kan beïnvloed. Dit beteken nie dat deelnemers se plasings verwyder moet word nie, maar deelnemers moet eerder gewaarsku word dat hulle kommentaar nie noodwendig in die konteks van die blad val nie. Indien deelnemers agterkom dat hulle nie enige iets kan sê op die blad nie en dat daar ʼn moontlikheid bestaan dat hulle kommentaar verwyder kan word, sal deelnemers dalk kies om eerder nie deel te neem nie, aangesien hulle kan voel dat hulle bydraes in elk geval deur moderators verwyder gaan word.

Teoretiese stelling 4 – Die fasilitering van deelnemende kommunikasie op sosiale media

Vir deelname om plaas te vind in sosiale veranderingsinisiatiewe op sosiale media is dit nodig dat deelnemers tydens enige fase (d.w.s assessering, strategie-ontwerp, implementering, monitering en evaluering) kan deelneem. Deelnemers mag dus nie deur moderators beperk word nie, aangesien dit tot pseudo-deelname in sosialemediaplatforms kan lei. Gelyke geleenthede om plasings te maak is daarom op sosiale media nodig, sodat deelnemers betrokke kan wees by alle besluitnemingsprosesse oor kwessies wat hulle beïnvloed.

2.4.2.2 Dialoog

In afdeling 2.3.2 is dialoog as konstruk van kommunikasie vir sosiale verandering bespreek. Na aanleiding van die bespreking is teoretiese stelling twee, geformuleer:

Teoretiese stelling 2 – Dialoog tydens sosiale verandering

Dialoog is ʼn proses waarin twee deelnemers realiteite vir hulself onthul en bevestig deur hulle kommunikasie. Die kommunikasie tussen deelnemers lei tot selfrefleksie en aksie wat gedeelde verstaan tot gevolg het. Vir dialoog om plaas te vind moet die kenmerke van dialoog naamlik: onmiddellikheid van teenwoordigheid; opkomende onverwagse gevolge; erkenning van die vreemde andersheid; gesamentlike geaardheid; weerloosheid; gedeelde implikasie; tydelike vloei; en egtheid en geloofwaardigheid teenwoordig wees.

In hierdie afdeling gaan dialoog in die konteks van sosiale media bespreek word, aangesien sosiale media die manier waarop mense kommunikeer verander het. Waar tradisionele media uit monoloë (een- na-baie) bestaan het, bestaan sosiale media uit dialoë en multiloë (baie tot baie). Daar word verskeie kanale in sosiale media gebied om interaksie tussen individue te fasiliteer. Sosiale media kan dus deurlopend gebruikers in staat stel om inhoud, opinies en perspektiewe op ʼn kommunikatiewe wyse te deel. Klem word dus in sosiale media op die gedeelde ervaring van gebruikers/deelnemers geplaas (Chakrabarti & Berthon, 2012:156; Lim et al., 2012:1365; Marlin-Bennet & Thornton, 2012:493; Pitt, 2012:106).

Die eienskappe van dialoog, soos in afdeling 2.3.2.2 uiteengesit, dien as vertrekpunt vir die bespreking van dialoog deur middel van sosiale media. In die volgende afdeling gaan ondersoek ingestel word na die mate wat sosiale media dialoog kan fasiliteer deur die eienskappe van dialoog in sosiale media, te bespreek.

 Onmiddellikheid van teenwoordigheid: In die eerste plek verwys dit na deelnemers wat mekaar ontmoet op ʼn spesifieke nie-fisiese ruimte deur middel van sosiale media. Onmiddellikheid van teenwoordigheid verwys ook na die tydsaspek in dialoog. Hoewel sosiale media in-tyd gesprekke kan

aan sosiale media byvoorbeeld kies of hulle dadelik in gesprek wil tree of op ʼn latere stadium. Kietzman et al. (2011:250) argumenteer dat in-tyd gesprekke beter is, aangesien dit misverstande uit die weg kan ruim. Hoewel Vermeren (2015) meen dat die meerderheid (65%) deelnemers gewoonlik reageer binne 24 uur vandat plasings of kommentaar gelewer is. Juis om hierdie rede kan 24 uur as die norm beskou word vir terugvoer op enige sosialemediaplatforms.

 Opkomende onverwagse gevolg: Sosiale media bied ʼn platform waar daar ʼn wisselwerking tussen deelnemers kan wees. Deelnemers kry dus nie net geleentheid om met mense in hulle eie netwerke te kommunikeer nie, maar ook met mense buite hulle netwerke (Kent, 2010: 645). Op sosiale media is deelnemers soms ook geneig om met minder inhibisies op sosialemediaplatforms, soos Facebook, te kommunikeer. Dit beteken dat deelnemers soms geneig is om dinge op sosiale media te sê wat hulle nie noodwendig in ʼn interpersoonlike situasie sal sê nie. Dit maak kommunikasie op sosialemediaplatforms onvoorspelbaar. Die verloop van dialoog op sosiale media kan daarom nie noodwendig beplan of beheer word nie.

 Erkenning van die vreemde andersheid: ‟n Diverse groep mense gebruik sosiale media. Dit kan beteken dat ʼn wye spektrum onderwerpe, gedagtes, gevoelens en intensies op sosiale media kan plaasvind. Sosiale media bied daarom ʼn ruimte waar deelnemers deur middel van dialoog aan ʼn verskeidenheid realiteite en perspektiewe blootgestel kan word. Interpretasies van die realiteite kan dan aan mekaar gekommunikeer word om gedeelde begrip te bereik (Kent, 2010: 645). Dialoog kan wel ook bedreig word wanneer deelnemers nie ander deelnemers se vreemdheid of andersheid erken nie en uitvaar teen deelnemers van ʼn ander ras, kultuur of selfs geloof.

 Gesamentlike geaardheid: Deelnemers op sosiale media behoort mekaar te respekteer weens die verhoudinge wat op sosiale media bestaan en kan ontstaan. Sosiale media kan ʼn gedeelde sin van konneksie skep en het daarom die potensiaal om verhoudings te bou (Kent, 2010: 645).Weerloosheid: Deelnemers kan mekaar deur dialoog op sosiale media beïnvloed. Deur samewerking, kollektivisme en dialoog maak deelnemers hulself oop vir ander deelnemers se idees en daardeur die moontlikheid om te verander. Deelnemers herdink dus die manier waarop hulle dinge doen deur ontslae te raak van die valse beelde wat hul van hulself mag skep om as ʼn nuwe mens na vore te kom (Macnamara, 2010:316).

 Gedeelde implikasie: Deelnemers aan sosiale media moet deur dialoog mekaar se gedagtegange en behoeftes in ag neem deur terugvoer in hulle gesprekke te inkorporeer. Deur ander se uitsprake te interpreteer vind deelnemers, benewens die ander en die boodskap, iets uit oor hulself. Dialoog is dus ʼn interafhanklike skeppingsproses waarin die sender van ʼn boodskap en die ontvanger hulself, ander en die onderwerp van die boodskap skep. Hierdeur kan sosiale media dialoog op so mate fasiliteer dat ʼn transaksionele verhouding tussen deelnemers ontstaan ten opsigte van inligting, opinies en idees. Dit kan beteken dat dialoog op sosiale media kan lei tot ʼn gevoel van samehorigheid en ‟n

behoefte om die band tussen deelnemers te onderhou (Luca, 2011:26; Della Peruta, 2014:99; Weller et al., 2014:xiv).

 Tydelike vloei: Dialoog op sosiale media hoef nooit waarlik op te hou nie. Gesprekke in sosiale media kan op mekaar bou. Dit wat in die verlede gekommunikeer word kan weer in huidige gesprekke na vore kom.

 Egtheid en geloofwaardigheid: Verhoudings in sosiale media is vrywillig, kontingent en intiem. Die verhoudings word gewoonlik gebaseer op vertroue, wederkerigheid en selfopenbaring. Een aspek wat baie belangrik is, is selfopenbaring aangesien dit kan lei tot vertroue. Vertroue kan lei ot ʼn egte verhouding met ander gebaseer op geloofwaardigheid (Miller, 2008:388-389). Egtheid en geloofwaardigheid kan wel geskend word op sosiale media soos Facebook, aangesien alle deelnemers nie altyd outentiek is nie. In sosiale media bestaan daar deelnemers met valse profiele. Selfopenbaring vanaf die deelnemers is nie noodwendig outentiek nie en kan daartoe lei dat vertroue tussen deelnemers moeiliker gevestig word.

Dit is duidelik dat sosiale media dialoog kan fasiliteer, aangesien al die eienskappe van dialoog potensieel in sosiale media teenwoordig is. Vervolgens gaan die funksies in Facebook, wat moontlik dialoog kan fasiliteer, bespreek word.