• No results found

HOOFSTUK 2: DIE FASILITERING VAN DEELNEMENDE KOMMUNIKASIE DEUR

2.3 TEORETIESE BEGINSELS VAN DIE DEELNEMENDE BENADERING

2.3.2 Dialoog

Ware deelname en pseudo-deelname kan moontlik die manier waarop belangegroepe met mekaar kommunikeer beïnvloed. Hoe deelnemers kommunikeer, wanneer konsultasie (pseudo-deelname) plaasvind, mag verskil van die manier hoe deelnemers kommunikeer wanneer hulle deelneem tot op die vlak van burgermag. Dit kan beteken dat wanneer pseudo-deelname plaasvind, deelnemers tot eenrigting- of asimmetriese tweerigtingkommunikasie beperk kan word, terwyl kommunikasie dialogies behoort te wees.

2.3.2.1 Freriaanse perspektief

Paolo Freire se bevrydingsteologie tot onderwys en kommunikasie is een van die belangrikste bydrae tot die konseptualisering van dialoog in die konteks van sosiale verandering. Freire beweeg in sy werk na ‟n

meer mensgesentreerde model wat die belangrikheid van interpersoonlike kommunikasie benadruk (Waisbord, 2001:19; Freire, 2005:54).

Freire se konsep van dialoog is sterk deur Martin Buber beïnvloed. Buber onderskei tussen ʼn “Ek-dit-“, ʼn “Ek-U-“ en ʼn “Ek-jou-verhouding”. “Ek-dit-verhoudings” is monoloë wat lei tot ongelykheid, objektiwiteit, losmaking en die vervreemding van mense met mekaar. Die verhouding word gekarakteriseer deur selfsugtigheid, misleiding, valsheid, dominasie, uitbuiting en manipulasie. In die “Ek-dit-verhoudings” poog die sender van ʼn boodskap om mag oor ʼn ander se standpunte uit te oefen. Die sender van die boodskap sien die ontvanger as ʼn objek wat gebruik of gemanipuleer kan word tot sy persoonlike voordeel. In die “Ek-dit-verhoudings” domineer een persoon interpersoonlike kontak en kommunikasie sodat die huidige magsbalans wat bestaan tussen deelnemers op ʼn ongelyke manier vergroot. Hiermee word bedoel dat een persoon meer mag in die kommunikasie interaksie besit en ʼn ander persoon min of geen mag kan besit nie (Johannesen, 1971:377; Thomas, 1994:53).

Die “Ek-U-verhouding” in teenstelling met die “Ek-dit-verhouding” word gekarakteriseer deur gelykheid, eerlikheid, spontaniteit, waarheid, die afwesigheid van valsheid, nie-manipulerende bedoelings, dialoog, gedeelde respek, openlikheid, ʼn gee-en-neem-verhouding en liefde in die konteks van verantwoordelikheid van een persoon aan ʼn ander. Die “Ek-U-verhouding” aanvaar en bevestig die “ek” wat ontmoet en die “U” wat ontmoet. In die “Ek-U-verhouding” word elke individu aanvaar as ʼn unieke individu. “Ek-U-kommunikasie” is die uitreik na die ander om ʼn gedeelde begrip te verkry, sonder om jou eie sieninge en opinies op ander af te dwing. Net deur wederkerigheid en die ontmoeting van ander deur dialoog kan mense se lewens betekenis en vervulling verkry (Johannesen, 1971:375; Thomas, 1994:52; Melkote & Steeves, 2001:299).

“Ek-dit-monoloë” is onvermydelik en kom in mense se lewens voor, maar kan eers as ʼn bedreiging beskou word wanneer dit dialoog uitsluit. Dit beteken dat daar ʼn moontlikheid bestaan vir ʼn “Ek-dit- verhouding” om in ʼn “Ek-U-verhouding” te verander. Dialoog moet dus lei tot die uitreiking en bevestiging van ander. Hierdeur versterk die verhouding deelnemers om tot aksie oor te gaan (Johannesen, 1971:377; Thomas, 1994:53).

Behalwe vir die “Ek-dit-“ en “Ek-U-verhoudings”, identifiseer Buber ook “Ek-jou-verhoudings”. Volgens Freire ontmoet deelnemers in dialoog mekaar in samewerking. Vir dialoog om dus plaas te vind is ‟n “Ek- jou-verhouding” nodig wat bestaan uit twee deelnemers wat saamwerk in plaas van ‟n subjek en ʼn objek (Freire, 2005:167).

Freire maak die aanname dat mense bevry wil word van interne en eksterne vorme van onderdrukking. Mense besit die vermoë om hulself te bevry, daarvoor om te gebeur, moet mense die idee van subjek (“Ek-U”) en objek (“Ek-dit”) (magsverhoudings) verwyder en reflekteer oor hulle lewens totdat dit tot self- bewustheid en aksie lei. Freire beskou die proses van selfrefleksie en aksie as conscientisation. Volgens

Freire kan conscientisation slegs bereik word deur dialoog aangesien dialoog bydra tot selfrefleksie wat kan dien as katalisator tot aksie (Huesca, 2002:502; Freire 2005:65; 69; 87).

In Freire se pedagogie is aksie en refleksie nie aparte aktiwiteite nie; die wisselwerking tussen aksie en refleksie kan tot die proses van “conscentisation” lei. “Conscientisation” verwys na die waarneming van sosiale, politiese en ekonomiese teenstrydighede, sodat aksie geneem kan word teen elemente wat realiteit onderdruk. Dit sal beteken dat mense aan sosiale, politiese en ekonomiese aangeleenthede kan deelneem om te verseker dat hulle realiteit nie onderdruk word nie. In die deelname in voorgenoemde afdeling, is dialoog nodig, sodat deelnemers realiteite vir hulself deur middel van kritiese selfrefleksie onthul. Alle individue besit die kapasiteit om te reflekteer, abstrakte denke te hê, te konseptualiseer, besluite te kan neem, te beplan vir sosiale verandering en om alternatiewe te kan kies. Deelname kan daarom beskou word as ʼn vorm van bevryding, aangesien mense oor die vermoë beskik om te verander op hulle eie terme. Om wel die verandering te ondervind, het mense verhoudinge nodig. Dit sal beteken dat mense deur dialoog met mekaar kommunikeer, aangesien verhoudinge deur dialoog gekweek word (Thomas, 1994:51; Melkote & Steeves, 2001:228-229; Freire, 2005:35).

Liefde, nederigheid en vertroue is die beginsels waarop dialoog gebaseer is. Dialoog kan daarom beskou word as die horisontale verhouding wat gedeelde vertroue tot gevolg het. Die idee dat mense inherent goed is, dien as voorvereiste vir dialoog om plaas te kan vind, terwyl vertroue die gevolg van dialoog is. Indien dialoog daarom nie vir die regte redes gebruik word nie sal bevryding nie plaasvind nie. Die bevryding van beide die individu en die gemeenskap hang af van die groei in individue en gemeenskappe se bewustheid wat deur ʼn dialogiese leerproses ontwikkel word. (Thomas, 1994:50; Freire, 2005:91).

2.3.2.2 Kenmerke van dialoog

Buber se werk bied ‟n grondslag waaruit agt kenmerke verkry kan word om die konseptuele raamwerk vir dialoog te vorm. Hoewel nie alle kundiges in dialoog saamstem oor die kenmerke nie, gee die eienskappe ʼn basiese vertrekpunt van dialoog (Cisna & Anderson, 1994:13-15). Die kenmerke vir dialoog is: onmiddellikheid van teenwoordigheid, opkomende onverwagse gevolge, erkenning van die vreemde andersheid, gesamentlike geaardheid, weerloosheid, gedeelde implikasie, tydelike vloei en egtheid en geloofwaardigheid.

 Onmiddellikheid van teenwoordigheid: Om teenwoordig te wees, beteken om beskikbaar te wees. Onmiddellikheid van teenwoordigheid suggereer die hier en die nou dimensie van kommunikasie. Met “nou” word bedoel die huidige dimensie en nie die dimensie van die toekoms of verlede nie. Die “hier” is die teenwoordigheid as ʼn plasing in ruimte. Vir dialoog om plaas te vind, moet deelnemers teenwoordig wees in ʼn spesifieke ruimte hetsy dit ʼn fisiese ruimte soos ʼn vertrek of nie-fisiese ruimte soos ʼn “chatroom”.

 Opkomende onverwagse gevolge: die vereiste van dialoog stel dat kommunikasie nooit ten volle voorspel kan word nie. Dialoog is geïmproviseer en staan onafhanklik van die deelnemers en kan nie voorspel of beheer word nie. Deelnemers kan nie dialoog beplan nie aangesien enige iets tydens dialoog kan plaasvind.

 Erkenning van die vreemde andersheid: dialoog vind plaas wanneer deelnemers weier om aan te neem dat hulle ander se gedagtes, gevoelens, intensies of die beste gedrag ken. Mens word verras deur die fundamentele andersheid of die onbekendheid van ʼn siening (posisie) wat nie jou eie is nie. Vennote in dialoog lei van mekaar se realiteite en perspektiewe af, wat nie hulle eie is nie en kommunikeer dan tentatief die interpretasies. In dialoog erken deelnemers mekaar se bestaan en bereik gedeelde verstaan. Deelnemers in dialoog kan daarom in betekenisvolle gesprek tree om egte oplossings vir sosiale probleme te verkry.

 Gesamentlike geaardheid: Dialoog word gekenmerk aan hoë vlakke van kommer oor jouself (ten opsigte van jou eie posisie) en die van ander (die posisie bevorder deur ander). Dialoog veronderstel die omgee oor ander se toekoms en die verhouding tussen deelnemers wat moontlik kan vorm.  Weerloosheid: Dialoog gee deelnemers die kans om te verander. Deelnemers ontbloot nie net hulle

idees tot die ondersoek van ander nie, maar maak hulself oop vir ander se idees en daardeur die moontlikheid om te verander. In dialoog is ons bereid om ná ʼn ontmoeting as ʼn nuwe mens na vore te kom.

 Gedeelde implikasie: In dialoog beïnvloed deelnemers mekaar se gedagtegange deur terugvoer in gesprekke te inkorporeer. Deur ander se uitsprake te interpreteer vind deelnemers benewens die ander en die boodskap iets uit oor hulself. Dialoog is dus ʼn interafhanklike skeppingsproses waarin die sender van ʼn boodskap en die ontvanger hulself, ander en die onderwerp van die boodskap skep. Dialoog verg ʼn transaksionele verhouding tussen die “self” en die “ander”. Die teenwoordigheid van een persoon dien as ʼn definisie van ʼn ander se rol en omgekeerd. Die kommunikatiewe konseptualisering van “self” en “ander” deur gedeelde implikasie verskaf ʼn meer komplekse en holistiese perspektief van kommunikasiegebeure.

 Tydelike vloei: Dialoog verwag ʼn historiese kontinuïteit. Dialoog ontstaan vanuit ʼn verlede en vul die onmiddellike toekoms. Dialoog is ʼn proses waarvan segmente nie geïsoleer en apart geanaliseer kan word nie. Dialoog hou nooit waarlik op nie en bou op mekaar. Dit wat in die verlede gekommunikeer word kan weer in huidige gesprekke na vore kom.

 Egtheid en geloofwaardigheid: In dialoog word daar aangeneem dat ander vanuit ervaring praat. Die grondslag van dialoog is die veronderstelling van eerlikheid. Vir ware dialoog om plaas te vind is persone verantwoordelik om vanaf die ware plek van hulle bestaan te kommunikeer. Mense moet dus vanuit hulle wese kommunikeer eerder as om ʼn beeld aan te neem wat ander kan beïndruk.

Vanuit bogenoemde kenmerke kan ʼn basiese definisie vir dialoog verkry word. Dialoog is dus meer as net ʼn transaksionele proses waar boodskappe heen en weer gestuur word. Dialoog is kommunikatiewe proses waar deelnemers deur hulle kommunikasie nie net mekaar nie, maar ook hulself kan verander deur te sê wat hulle nog nooit vantevore aan gedink het of gesê het nie. Deur dialoog bemagtig deelnemers dus hulself aangesien dialoog tot dieper verstaan van jouself lei.

Teoretiese stelling 2 – Dialoog tydens sosiale verandering

Dialoog is ʼn proses waarin twee deelnemers realiteite vir hulself onthul en bevestig deur hulle kommunikasie, sonder dat een deelnemer mag bo ʼn ander uitoefen. Die kommunikasie tussen deelnemers lei tot selfrefleksie en aksie wat gedeelde verstaan tot gevolg het. Vir dialoog om plaas te vind moet die kenmerke van dialoog teenwoordig wees, naamlik: onmiddellikheid van teenwoordigheid; opkomende onverwagse gevolge; erkenning van die vreemde andersheid; gesamentlike geaardheid; weerloosheid; gedeelde implikasie; tydelike vloei; en egtheid en geloofwaardigheid.